{ARGIEF}

Studiegroepe is ‘n baie belangrike deel van Communitas se werk en opdrag.  Daar was oor die jare by Buvton ongeveer 25 verskillende studiegroepe wat oor ‘n verskeidenheid aspekte van die gemeentelike lewe of bediening werk gedoen het. Van die werk is mettertyd in verslae, artikels en boeke gepubliseer.

Die idee was dat `n studiegroep ooreenkom om vir `n periode van 3-4 jaar tweekeer per jaar bymekaar te kom en gefokus te werk op een of ander bedieningsaspek wat of probleme gee of geleenthede bied vir gemeentes.  Aan die einde van die periode het die groep gewoonlik van hul bevindings bekend  gemaak om deur ‘n verslag of deur ‘n program te ontwikkel.

Die gedagte is om – in aansluiting by die nuwe VBO-stelsel – die studiegroepe te omvorm tot sg “leer-gemeenskappe” (community of learning). Navorsing oor volwasse-onderrig wys dat leer-gemeenskappe nie net van die heel beste leer-metodieke is nie, maar dat hierdie gemeenskappe ook van die beste en mees oorspronklike produkte lewer.

Die plan is dat die VBO-kommissie in die volgende 18 maande in oorleg met ander kommissies, veral Gemeentebediening, gaan kyk na die vorming van sulke leer-gemeenskappe rondom die groot bedienings van die kerk asook sekere kwessies in die kerk.

As jy idees het waaroor daar navorsings nodig is of vrae waarmee jy sit en wat jy wonder of daar al hieroor navorsing gedone is, kontak gerus vir Coenie Burger by cwburger@mweb.co.za of 021-8083382 Hy is verantwoordelik vir die koordinering van navorsing by Communitas
Wanneer nuwe studiegroepe gevorm word, sal ons via die webtuiste en e-pos daarvan kennisgee.

Die studiegroepe wat steeds aangaan met hulle werk is:

Gemeente en Liturgie

Baie lidmate vra hoe sinvol en betekenisvol die gemeentelike erediens is. Dit is ook bekend dat tans baie wyd geëksperimenteer word met die vorm van die erediens. Dié groep doen dieptenavorsing oor die hart van die erediens, hulle kyk na allerlei vernuwingspogings in verskillende tradisies, en ontwikkel materiaal wat gemeentes kan leiding gee oor sinvolle erediensvernuwing.

Koördineerder:  Cas Wepener

Morele Oriëntering in en deur gemeentes

Dié groep fokus op wat geloofsgemeenskappe kan doen aan die enorme morele krisis wat ons land tans beleef. Ons hoop om gemeentes te help om effektiewer aan die karaktervorming van hul lidmate te werk. Die kerk se openbare verantwoordelikheid betreffende morele kwessies en morele waardes in die algemeen kry ook aandag.

Koördineerders:  Chris Jones en Coenie Burger

Ekklesiologie en Missionêre gemeente-wees

In lyn met die Suid-Afrikaanse Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes wil Communitas ‘n groter ”think tank” daarrondom organiseer. Hierdie groep sal hulle toespits op dieptenavorsing oor ekklesiologie. daar word beplan om in 2009 ‘n publikasie uit te bring wat Gestuurde pratrone in Suider Afrika identifiseer aan die hand van gemeenteverhale.

Koördineerders: Frederick Marais en Coenie Burger

Die plek van lering in die gemeente

In die Gereformeerde tradisie het lering nog altyd n baie sentrale rol gespeel. Na ‘n tyd waarin lering verwaarloos is, wil hierdie groep saam soek na praktyke en prosesse wat ons kan help om die rol van lering te herstel.

Koördineerder:  Coenie Burger

Armoedebestryding deur gemeentes

Een van die uitdagings vir alle gemeentes is om betekenisvol betrokke te raak by gemeenskapsontwikkeling. Dié groep wil predikante en gemeentes leiding gee oor hoe om plaaslike gemeenskapsprojekte te ontwikkel.

Koördineerder:  Pieter Grove

Vroue

Hoewel vroue deur die eeue ‘n reuse rol in gemeentes gespeel het, was hulle tradisioneel uitgesluit van die leierskap van die kerk. Dié groep fokus op die regstelling van die probleem deur hulle te beywer vir inklusiewe leierskap in gemeentes. Gemeentes moet bewus gemaak word van die unieke bydrae van vroue tot die geloofsgemeenskap.

Koördineerders: Marié Britz en Elna Mouton

Skakel na ou Buvton blad vir navorsingsgroepe