{ARGIEF}

Frederick, baie dankie vir jou kommentaar op die insetsel oor positiewe terugvoer. Ek is bly om te kan bevestig dat dit inpas by die POSPAR- kursus se benadering. Jy is reg: Die rede waarom ons goed kan voel oor onsself (‘n goeie selfkonsep kan hê) is omdat elkeen van ons na die beeld van God gemaak is. Dit maak nie saak of ons manlik of vroulik, lank of kort, wit of bruin, gesteld op fyn besonderhede of net op die groot prent, ‘n dromer of doener, jonk of oud,siende of blind, intellektueel flink of gestrem is nie. Ons kinders is ook na die beeld van God gemaak. Ons is net geneig om dit te vergeet en dan dink ons dat dit ons taak is om hulle te verander na die beeld van god. Ons verbeel ons dat daar in die Bybel staan: “Buig die boompie solank hy jonk is”. Die waarheid is dat ouers die voorreg het om die boodskap by kinders tuis te bring dat hulle beelddraers van God is en om hulle te ondersteun om te groei om al meer God se beeld te vertoon. As ons dit onthou sal dit ons help om te fokus op ons kind se sterktes (wat moontlik baie van die ouer s’n sal verskil, want God maak mense na sý beeld en dié beeld het baie fasette). Dit maak dit ook vir ons maklik om ons kinders lief te hê. Daar is die mooi definisie van ‘n liefdesgemeenskap (‘n huisgesin is ook so ‘n gemeenskap) wat sê: “Liefde is wanneer elkeen alles in sy vermoë doen om die ander te laat groei tot die maksimum van sy godgegewe potensiaal”. Christene dien mekaar.