Die Gees voer ons mee

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Ek verteer steeds aan die insiggewende boek deur Michael Welker (red), The Work of the Spirit – Pneumatology and Pentecostalism (resultaat van ‘n konsultasie van die John Templeton Foundation oor “spiritual realities” in 2004 wat bydraes uit mainline kerke, Pentecostal en Charismatic bewegings en wetenskaplikes en filosowe betrek het)

James Dunn (Durham, waar NT Wright ook vandaan kom) skryf daar oor die Bybelse prentjie van die Gees (Towards the Spirit of Christ: The Emergence of the Distintive Features of Christian Pneumatology) en wys uit hoe ‘n dinamiese prentjie dit van die Gees teken.

Hy wys uit hoe die term ruach verskillende betekenisse het in die Ou Testament:
• wind, ‘n onsigbare, misterieuse, magtige krag wat baie keer aan die idee van krag en geweld verbind word;
• asem (wind op ‘n kleiner skaal!) of gees, dieselfde misterieuse krag wat ons waarneem as die lewe en vitaliteit van menslike lewe, wat geaktiveer kan word in ‘n sekere rigting, gehinder of onderdruk kan word en weer lewe gegee kan word. Dit is ‘n dinamiese lewenskrag wat by tye laag kan wees (dit verdwyn by die dood) of kan opbeur in ‘n skielike opbruising van krag.
• Goddelike krag of Gees waar iemand meegevoer word, nie net deur ‘n natuurlike opbruising van energie nie, maar deur ‘n bo-natuurlike krag wat besit neem, soos ons sien in die vroeë charismatiese leiers (Ehud, Debora, Gideon, Jefta, Simson) en profete (Samuel, Elia, Elisa).

Sy gevolgtrekking is dat dit duidelik is dat ruach ‘n eksistensiële term is, dat dit gaan oor die ervaring van ‘n misterieuse awesome krag, wat alles ‘n manifestasie is van Goddelike energie. Soos Psalm 139:7 sê, dié kragtige teenwoordigheid van God is kosmies en onontwykbaar. Dit vul alles met lewe-gewende energie.

Geen wonder dat ‘n gemeente wat dan in die Kragveld van die Gees funksioneer ook ‘n dinamiese beweging word, en wat baie meer in gebed moet onderskei wat die Here besig is om te doen, as wat hulle maar net volgens ‘n agenda werk.

Die apostels in Handelinge 6 besluit saam met die gemeente dat hulle nie by die bediening van die tafels betrokke gaan wees nie, maar by die gebed en die bediening van die Woord, wat dié fokus op die dinamiese werk wat God voortdurend mee besig is fasiliteer.

Daarmee wil ek nou nie sê dat die sewe brugbouers wat gekies word vir die tafels, nie ook met ‘n dinamiese proses besig was nie, want hulle was immers ook vol van die Heilige Gees. Maar dit is interessant dat twee van hulle net na hulle verkiesing juis in die dinamiek van die getuienis teenoor ander geteken word. Stefanus voor die sinagoge van die Vrygemaakte Slawe en die Joodse Raad, en Filippus in Samaria en op die pad na Gase by die Etiopiese amptenaar.

Die punt is, waar die Gees werk, is daar onbeplande, verrassende, onverwagse goed wat gebeur … en ons moet doodgewoon luister totdat ons dit waarneem en daarby aansluit.

Trackback from your site.

Leave a comment