{ARGIEF}

In aanloop na die kursus – kultuurtransformasie van gemeentes – het ek, grappenderwys vir my vrou gesê: “Kan jy glo daar is steeds mense wat dink hulle kan my iets leer?”. Sy het met ‘n skalks glimlag opgemerk: “Daar skuil altyd ‘n bietjie waarheid in jou grappies”. En dit verklap seker iets van die gesindheid waarmee ek daar opgedaag het.
Sommer in die eerste sessie het ek tegelyk ontdek hoe baie die kerk al oor die afgelope 30 jaar verander het, maar ook hoe verskriklik min die kerk al verander het. Die ergste was om teenoor myself te moes erken dat die kutuurtransformasie wat daar in my en my gemeente plaasgevind het, ook maar net ten dele was. Nog erger was egter om te moes toegee dat hierdie ‘n gedwonge verandering was. Ek, die gemeente, die kerk is aan die hare gesleep tot hier. Die kultuurtransformasie wat wel al plaasgevind het, was nie uit eie oortuiging nie, maar die gedwonge gevolge van ingrypende sosiale -, ekonomiese – en tegnologiese transformasie in ons samelewing. Ja, ek (ons?) is nie kultuurskeppers nie.
Ons is navolgers!
Ons kultuur, synde die manier waarop ons lewe, ontbloot ons denke en waardes baie meer as wat ons sou verkies. Gemeentekultuur, synde die manier waarop ons dinge doen in die gemeente, is seker die sterkste aanduider van wat regtig binne die hart van ‘n gemeente leef. ‘n Gemeente se kultuur is ‘n openbare getuigskrif vir almal om te lees, terwyl ons dikwels elemente daarvan sou wou ontken.
Die vraag wat onmiddelik opkom is: hoe gaan die kerk oor 10 of 20 jaar lyk? En veral: gaan ons in hierdie proses weer slaafse navolgers wees, of gaan ons kreatiewe kultuurskeppers wees? Hierdie brandende kwessie en veral die vraag hoe ek as gemeenteleier hierin instrumenteel kan wees, is wat my betref grootliks beantwoord toe ons tot die slotsom gekom het dat:
• kultuurtransformasie plaasvind wanneer leiers die nuwe kultuur self moduleer;
• kultuurtransformasie gebeur waar leiers afstand doen van mag en lidmate geleentheid bied om belangrike rolle te vervul in bv. eredienste en die formaat daarvan;
• kultuurtransfomasie geskied wanneer gemeentes uitgedaag word om buite die gevestigde spirituele gemaksone te beweeg (mense verskuif gevestigde gebruike wanneer hulle emosioneel geraak word);
• kultuurtransformasie is ‘n dinamiese proses waar nuwe gewoontes voortdurend ingeoefen moet word.
Hierdie kursus het ‘n spieël voor my gehou en ek het nie altyd gehou van die prentjie wat ek daarin gesien het nie. Dit het my veral laat ontdek dat ekself, meer as enige iemand anders, die kultuur in die gemeente bepaal. En daarmee saam het ek geleer dat die gemeentekultuur slegs kan verander as ek as predikant verander. Die verandering van die gemeentekultuur begin in die finale instansie hier binne-in myself.
Dankie aan die kursusleiers, Frederick Marais en Leon Venter wat daarin geslaag het om nuwe grond te breek. Ek is seker daarvan hierdie kursus gaan ontwikkel word tot ‘n substantiewe diens aan gemeentes.