Nog gedagtes 1 Sam 17

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Dawid en Goliat se verhaal vat aan mens se lyf as jyself rug teen die muur staan. Jy’t kanker wat in jou groei; twee van jou kinders is in ‘n oogwenk in ‘n gru ongeluk dood; jy’t skielik, sonder waarskuwing, jou werk verloor, met hope onnodige skuld wat jou op alle maniere doodwurg ens.
Dan staan die magtige, onoorwinlike, koggelende Goliat met sy brutale, uitdagende mag skielik reg voor jou in die pad; enige tyd — dag en nag – middernag-sweet, maar veral in die oggend en aand [vers 16] as jy dalk probeer bid. En al wat jy kan doen is weghardloop [vers 24]. Ver weghardloop!
In plaas van bid en vertrou; raak ‘bargaining’ met die sigbare/meetbare, ‘n haalbare opsie. Die lokaas; wortel voor die neus [Mamon] gee bietjie hoop. Ons koop [omkoop] ons uit die moeilikheid. En wat kan Mamon se lokaas nie alles vermag nie [vers 25]? Die beste en duurste mediese behandeling; die oulikste terapeut en die knapste skuld-bestuurder ens.
Maar hoe ons ook al koop [omkoop] en “bargain”, die Here weet! dit help eintlik niks. Goliat is, met jou rug so styf teen die muur, net elke keer as hy oor en oor [40 dae woestyn-lank]verskyn, hopeloos te sterk. Trouens hy lyk elke keer net sterker en onoorwinlik groter! Die duur behandeling het, na die toetse uitgekom het, tog nie die verwagte uitkomste nie; die spoke van die ongeluk, na baie terapie, wil maar net nie uit jou kop nie—jy voel jy gaan mal word; die skuld probleem druk jou laaste asem al meer uit jou uit.
Alles wurg jou uit jou geloof uit! Die storie sê: só is dit gesteld met gelowiges; kinders van God – die linies van Israel. Die kragreuse van die ‘wêreld’ het oorgevat. En dieselfde gees van die wêreld manifesteer [vat oor] net op ‘n ander manier as die Goliat-gees, binne in ons!
Maar daar is ‘n ander Koers. Die Dawid Koers. Die Nuwe Lewe Koers [Koninkryk]. Iemand wat snaaks genoeg nie teen Goliat vaskyk nie. Iemand wat nie regtig vir Goliat bang is nie, maar “God vrees”. Want hy kan doodgewoon nie toesien dat Goliat met God-en-sy-mense so mors nie — hulle so vernietigend die skrik op die lyf jaag nie. Vir hom gaan die lewe, met al die Goliat-magte daarin geweef, oor God! God en God se eer is op die spel [vers 29; 45-47].
Dis erg dat sy eie mense [mede-uitverkorenis] nie dié Koers uit die gemors raaksien nie [soek eers die Koninkryk van God en wat reg is!]; dis nog erger dat hulle die Koers uit eie geledere teenstaan en probeer verydel [vers 28]. In plaas van eenheid, verdeeldheid! Dis sowaar die kerk van die Here wat nog altyd presies so lyk en doen! Flip Theron het eenkeer gepreek: Kerk en wêreld in dieselfde bootjie!
Maar die Dawid-Koers het geen keer nie. Wat ‘n troos?!! Dis sonder magsvertoon; dis lagwekkend gering. Dis heeltemal oudmodies. Dis klipvel-krag teen moderne atoomkrag! Dis so simpel soos kniel [bid] by ‘n stroompie; in afhanklikheid van God alleen, klippies optel en korrel en gooi en God wat alle mag in hemel en op aarde het, laat die klippie koersvat, dwarsdeur die sogenaamde ondeurdringbare wapentuig deur. ‘n Moderne, gesofistikeerde rekenaar-beheerde projektiel, kan nie so akkuraat wees nie! Die onmoontlike het gebeur. Goliat is dood! Morsdood.
En voor ons ons kan kry dink ons: Wat ‘n oulike knapie; die bloesende, oopgesig seun met sy groot geloof! En kan hy nie goed gooi nie? Ons wil ook so wees! Ons sal Dawid, met ons eie vreesaanjaende Goliat’s in ons pad, moet namaak.
Die storie sê: Moenie. Jy kan nie. Jy mis dan die eintlike Storie. Dis nie die oulike Dawid nie. Hy was nie oulik nie — luister daarvoor na sy hele lewensverhaal. Dis die Gees van God, wat God die Vader, Self op Dawid in oorvloed uitgestort het [16:13]. Dis God wat heeltyd kragtig by Dawid was [16:18]. Dis alles God se werke. Dit móét ons inderdaad glo; God hiervoor op sy Woord vat! Omdat ons niks ander kan doen nie. Rug teen die muur!
En die God-storie dwing/dring my/ons op my/ons knieë: Ekskuus Here; vergewe my asseblief, Here, my God, dat ek só wêrelds is; só maklik val vir die tipiese“Filistynse”omkoop-planne teen Goliat. En dit laat my smeek: Ek vat U op u Woord in die Storie, Here. Maar kom asseblief my ongeloof te hulp. Om kinderlik te glo is verskriklik moeilik. Destyds en vandag –my ongeloof; ons ongeloof, in die Nuwe Koers wat U in Christus met ons, deur die Heilige Gees gevat het …

Trackback from your site.

Leave a comment