Ook geluister na Ps 8

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

Psalm 8, God se poëtiese Woorde, draai my voete vanoggend ten minste oor twee dinge op die pad agter Hom [sy Koninkryk] aan. Uit myself sou ek nooit hiertoe wil omkeer; koerskry nie:

* Ons lewe maak net sin as alles daarvan; alles ewe belangrik in en om ons, net oor Hom gaan — aanbidding en lof!
* En wat is ‘n Bybelse manier om Hom só singewend in die erediens die week te loop prys, te loof en te aanbid?

Dis moeilik om verby die bedoeling van Ps 8 te kyk as mens die begin en einde van die lied saam begin sing: Die digter loof, prys en aanbid God! Hy weet: Dit is die sin van almal se lewe!

Maar die lof, prys en aanbidding val nie sommer uit die lug nie. Ons aanbiddingsboek, die Psalms, val nie sommer met hierdie lof en aanbidding weg nie. Ons is by Psalm 8 en nie 1 nie. Hierdie ‘erediens’ vir God word nie opgewek en stemmingsvol gekry deur lofprysing en aanbiddingsliedere nie! Dis onmoontlik. Waarvoor sal God sommer só geprys wil word? Die Eerste Gemeente se voete is op die aarde. Dis ‘n harde, stukkende aarde vol wrede vyande; vir baie voel dit of daar nie meer ‘n God oorgebly het nie! [Ps 3]. Die aand- en oggendgebede [Ps 4 en 5] wat die ritme van die Hebreeuse [Bybelse!] skeppingsdag bely [“dit was aand en dit was môre”] vertel van dieselfde gevaarlike; uitmergelende pad wat God se mense elke dag agter Hom aan moet loop. Ps 6 en 7 smag en kla in dieselfde idioom, na redding; na uitkoms.

Elke keer, só weet die Ou aanbiddingsgemeenskap egter, val hulle gesmeek/klagtes om hulp op die moeilike pad agter God aan, nie op dowe ore nie. Die kyrie eleison waarmee die erediens vir God begin, word dus verseker deur God gehoor!

En nou maak Ps 8 onmiskenbaar duidelik Wie die Eerste Gemeente se ware hulp in hulle ellende is. Daar is geen twyfel nie. Dis die wonderbare, grote God, die Skepper en Onderhouer van almal en alles. Die Een wat gedurig [uit liefde] aan mens en skepping dink en hulle besoek. Niks en niemand kan ‘n moment sonder Hom lewe nie! Hy is wonderbaar! En het Hy ons nie Persoonlik besoek en sommer by ons ingetrek nie?! Dis daarom dat die gemeente so eg vanuit hulle sonde en ellende getysterde lewens agter God aan [Ps 3-7], uitbars om Hom te loof, te prys en te aanbid.

Ek sal dus hierdie week, hierdie orde van die Psalmboek-openbaring duidelik moet onthou as ons saam aan die diensorde werk. Die ou liturgië begin nie toevallig met die kyrie eleison nie; nie met ‘praise and worship’ nie!

En die crescendo van die pryslied vir God, styg na mate die gemeente daarin ontdek, dat hulle wat só sukkel; ellendig voel en is, verrassend, amper onmoontlik!! maar tog Goddelik waar, Sy spesiale aangestelde, uitgesoekte, verkose mede-werkers [ampsdraers] is; dat Hy hulle so hoog ag; dat hulle sowaar sy ‘gekroondes’ is, om namens Hom sy Skepping [alles omvattend] al dienende te versorg. Dis ‘n mondvol — maar dis dié mondvol wat sy mense nie anders kan as om ‘uit te bars’ van lof nie! En dit alles gee hoop. Lof en dank aan God maak sy mense bly en hoopvol. Dis die Evangelie!

Trackback from your site.

Leave a comment