{ARGIEF}

Ek het ook gewonder of ek moet reageer op Johan du Toit se opmerking. Ek respekteer sy siening. Tog het dit so skerp en half ongevoelig vir my oorgekom; so beskuldigend en intolerend (vgl. Andries Cilliers se opmerkings oor Eks 20 hierdie week)as ek iets anders sou durf lees as net die Woord van die Here. Toe ek jou reaksie vanoggend lees Frederick, voel ek ek wil net ook graag my stem laat hoor.
Ek was ook al in die “woestyn” wat my bediening en my roeping betref (ek wonder hoeveel dominees beland nie soms daar nie?). Baie gewonder oor waarheen die Here my wil lei, wat Sy wil vir my lewe en die gemeente is. Dit het tye van afsondering geverg, nadenke gevra, bestekopname, geworsteling in gebed en die lees en nadenke van die Woord. (Die begrip “wandel in die Woord” het ek eers so onlangs as twee jaar terug leer ken). Oor die plek van die Woord in my lewe, my liefde vir die lees daarvan, kan ek nie genoeg getuig nie. Ek doen dit graag en leer graag lidmate in groepe die “wandel in die Woord”-beginsel. En tog…kan ek ook nie sonder my ander “gespreksgenote” – musiek,my boeke en ander naby mense – leef en werk nie. Ek glo van harte dat die Here in almal en in alles leef en werk. En daarom wil ek graag van die “ander tekste” se insigte kennis neem en iets daaruit vir myself haal. Dit is vir my belangrik om te hoor wat hoor hulle by die Here. Dit verryk my lewe. Daarom geniet ek so die huidige Leesrooster (en die destydse Woord teen die Lig-reeks) en die gedagtes wat weekliks op die werf daaromtrent verskyn, die verskillende bydraes deur mense en hoe verlustig ek my nie in die kundigheid wat die Here mense gee nie! Ek kan nie sonder ander “tekste” leef, werk en geestelik groei in my verhouding met die Here nie! Daarom kry ek so seer oor Johan se briefie. Miskien bedoel hy dit anders, maar ek ervaar hom verskriklik onverdraagsaam as ek dan nie ander leestof mag lees en dit selfs in my prediking kan inwerk nie.
Andre