{ARGIEF}

VBO 1: GEESTELIKE LEIERSKAP
11 – 13 MAART 2008
Schalk Kotzé – Oudtshoorn Moedergemeente
1. Wat het jy vir jouself geleer?
Die belangrikheid om my eie roepingsverhaal gereeld af te stof en ook na ander s’n te luister. Dit gee rigting, motivering en dankbaarheid in my bediening en help my om te sien hoe God besig is met my oor die tyd.
God is besig met my en die gemeente en wil hê dat ek saam met Hom besig moet wees. Daaglikse Stiltetyd is asemhaal.
Selfbestuur is ‘vital’ om koers te hou in die bediening.
Ek moet alles ingooi om lief te wees vir mense, veral in die gemeente (Leaders are lovers).
Dit is een van my prioriteite om ‘n mentor te hê, in spanne te werk en verantwoord-elik te bedien.
Maak tyd vir lees. Dis energerend.
2. Wat kan jy gemeente toe vat?
Ek behoort meer tyd aan leiers te gee. Meer tyd vir gebed en besig wees met die Woord (sonder om te probeer preekmaak). Ek moet oë oopmaak om besig te wees in die gemeente waar God aan die werk is met en tussen mense en daar wees en dien. Om te wees (Being) is belangriker as wat ek doen (Doing). Daarom moet ek baie aandag gee aan my wees-funksies. Ek is geroep om leiding te gee, maar dan spesifiek geestelike leiding. Ek gaan baie meer aandag gee aan selfdissipline en geestelike dissiplines. Ek gaan beslis meer tyd saam met leiers in die gemeente deurbring.
3. Waaraan sou jy graag saam met ander verder wou werk?
Ek sou graag meer rondom die taak van die predikant wou werk. Ek het ‘n vraag of medeleraarskap (soos tans binne die NG Kerk ‘bedryf’), met al sy verskillende nuanses binne verskillende gemeentes, nie dalk bydra tot ‘n konflikpotensiaal nie. Daar is wonderlike verhale van medeleraars wat mekaar aanvul en saamtrek, maar daar is (meer?) hartseer verhale. Ek het ‘n vermoede dit het ook te doene met ons ampsbeskouing – veral die amp van leraar. Bloot op sekulêre vlak sou ek my moeilik kon indink dat dit konflikvry sal gaan as twee persone op hoër bestuursvlak aangestel word in ‘n maatskappy met 60% dieselfde werksomskrywing. Dalk slaan ek die bal helemaal mis!
Coenie en Braam, baie dankie vir julle harde werk en toewyding. Ek weet die Here is hier besig met iets waaraan daar ‘n groot behoefte is in my eie lewe en in die lewe van baie van ons kollega’s in die kerk.