{ARGIEF}

Ek het onlangs Vincent Brümmer se boek What are we doing when we pray? gelees, wat moontlik ‘n antwoord in die regte rigting gee.

Hy fokus in die boek op gebed en die wese van geloofsvertroue. En hy identifiseer op uitstekende wyse die kompleksiteite wat inherent aan gebed en gebedsverhoring is (Die boek is ‘n hersiene en uitgebreide uitgawe deur Ashgate in 2008 van die oorspronklike boek van hierdie gebore Suid-Afrikaner, wat reeds in 1984 uitgegee is. Hy is ‘n afgetrede godsdiens-filosoof van Utrecht).

Vincent sluit aan by die gedagte van Gerard Ebeling dat gebed die sleutel is om die wese van God te verstaan. Hy werk met ‘n oop perspektief op God, wat sommige “open theism” noem, omdat hy reken dat gebed nie eintlik met ‘n ander perspektief, bv. dat God nie kan verander nie, nog gebed genoem kan word nie. Daarby voeg hy by dat gebed ook gesien moet word as die “language game of faith” op voetspoor van Anthony Thiselton.

In die afdeling, Asking an omnipotent God, haak hy dan aan by die idee van Geach, God and the Soul, dat gebed ‘n “two-way contingency” (voorwaardelikheid of gebeurlikheid) het, 1. God se antwoord is nie onmoontlik óf onvermydelik nie 2. Gebed is ‘n noodsaaklike maar nie ‘n genoegsame voorwaarde vir God se antwoord nie.

En dit is hier waar die pennie vir my drop!

Gebed is VIR ONS noodsaaklik, maar nog steeds onderworpe aan God se soewereiniteit.

Gebed is egter ook VIR GOD nodig, nie omdat sy wese onvolledig is en Hy dus ‘n aanvulling nodig het om volmaak te word nie, maar omdat Hy ‘n God is wat kan verander, ‘n mens sou selfs kon sê, wil verander, omdat Hy in ‘n egte verhouding, as ‘n persoon!, met ons is.

Dit beteken ook, dat só ‘n siening van die voorwaardelikheid van ons gebed, implisiet en eksplisiet die grense bepaal van wat betekenisvol van God gevra kan word. God kan bv. 1) nie logies-onmoontlike dinge verhoor nie (bv. om te vra dat iets beide wit as swart gemaak moet word) of 2) iets wat teen sy eie natuur is nie (bv. om te vra dat Hy sondig).

Aan die ander kant het God Homself ook beperk. Die feit dat God Hom in liefde aan mense verbind het, is ‘n illustrasie hierdie self-opgelêde beperking. God het Homself uit vrye keuse beperk in die mate van invloed wat Hy op mense kan uitoefen om met hulle in verhouding te kan lewe. Hy sal dus niemand dwing om met Hom in ‘n liefdesverhouding te staan nie, anders sal dit nie meer ‘n liefdesverhouding wees nie.

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent dan uit hoe gebed baie spesifiek die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het. (On)veranderlikheid is gevolglik altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede. Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra. Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word (hier werk hy met Eleonore Stump, “Petitionary prayer” in American Philosophical Quarterly 16 [1979] se gedagtes).

In verband met Intersessie maak hy eers die stelling dat hy God se optrede as die primêre oorsaak beskou wat Hy bemiddel deur sekondêre oorsake, waarvan die belangrikste mense se optredes is. Dit maak daarom van Intersessie ‘n gebed wat primêre optrede van God vra, maar ook ‘n gebed word wat die bidder beskikbaar stel om een van die sekondêre redes te word waardeur God die gebed kan beantwoord.

Dit beteken dat die gebed van meer intersessors meer effektief is, nie omdat hulle meer druk op God kan plaas nie, maar omdat dit meer mense intrek wat God se wil kan uitvoer! Nogal ‘n antwoord op die vraag wat sommige van ons vra oor uitsprake van gebedsaksies in ons land (Transformation, Jerigo Mure ens.).

Dit bring ons terug by sy idee van noodsaaklikheid en genoegsaamheid. Vincent haal John Lucas (Freedom and Grace) aan wat die briljante voorbeeld het wat ‘n metafoor vir hierdie samewerking tussen ons bemiddeling en God s’n verskaf, dié van Persiese tapytmakers.

In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant. Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers. Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Ons gebede is dus noodsaaklik vir God, nie omdat Hy in sy wese dit nodig het nie, maar omdat Hy in ‘n verhouding is met ons en ons dus nodig het om saam te werk aan die tapyt van die lewe wat Hy (en ons) weef. Maar ons gebed is altyd ook weer onderworpe aan God se soewereiniteit, en daarom net genoegsaam, as Hy dit so maak.

Lees ook my verdere opsomming van sy gedagtes by www.gemeentes.co.za/index.php . Chris van Wyk