{ARGIEF}

Petrus en Piet,
Dankie vir julle kommentaar wat kom uit ryk ervaring in die bediening.
Petrus, yy vra ‘n belangrike vraag: “hoe op aarde leer ek lidmate ken? En kan ek daarom toepaslik preek vir hulle as ek nie deur ‘n sistematiese program van huisbesoeke gereeld met hulle kontak het en na hulle kan luister nie”?
Jou belangstelling in huisbesoek is nie om as betaalde amptenaar “namens” die gemeente “alle aspekte van kerklosheid en selfs antagonisme tot geestelike ondersteuning van aktiewe lidmate self en alleen te doen nie”.
Ek wil graag onderskei tussen intensie en plan:
Ek deel die belangrikheid van jou intensie, nl dat leraars baie goeie kontak met lidmate – hou steeds van Heinrich se voorstel dat ons eerder praat van mense – moet hê om ander dele van hulle werk te kan doen soos bv om te preek. Ons hoef nie daaroor verder te praat nie. Almal stem daarmee saam. Daarom sê Piet Maritz, hang huisbesoek af van of hy en die ds darem saam kan tee drink na die kerk ens.
Wat wel die vraag is: Werk ons plan van geroetineerde besoek om juis dit te bewerkstellig? My artikel het beweer van nee. Die plan werk nie meer in ons huidige konteks so goed nie, want die konteks het baie verander. Wel daar is natuurlik plekke waar dit nie verander het nie en waar die plan nog goed werk. In baie gevalle het wyke ingeplof, is daar nie meer kerkraadslede vir die wyke nie, ens., ens. Sit dan nog die realiteit van sekuriteitsareas by waar jy nie sommer maklik inkom nie, die programme van mense en hulle mobiliteit en jy kom agter dat daar ‘n hele boel gewone dinge is wat huisbesoek moeilik en soms onmoontlik maak.
Maar ek dink daar is belangriker redes agter my artikel. Ons veronderstel lidmate wil dit graag hê as metodiek vir geestelike versorging. Ek bevraagteken daardie veronderstelling. Ek dink dit is nie waar nie. Ons sal dieper na lidmate moet luister. Die behoefte aan ‘n roetine besoek van 30 min een keer ‘n jaar, het oa geskuif na ‘n behoefte aan verdiepe verhoudinge, aan verdiepte spiritualiteit, aan groter eerlikheid en ‘n veilige ruimte waar ek my worstelinge op die tafel kan sit en deurpraat. Huisbesoek kan dit nie doen nie. Daarvoor moet ons ander planne maak.
So ek antwoord einlik met ‘n vraag: Is die belangrikste vraag, hoe kry die dominee kontak met die lidmate, of is die vraag, hoe ontwikkel ons koinonia, begelei ons lidmate tot dissipelskap en hulle identiteit in Christus?
In een sin: Dominees moet goeie kontak met mense hê waar hulle kan luister en leer oor die lewensomstandighede van die mense wat hulle bedien en ons sal in gemeentes planne moet maak om lidmate te begelei tot dissipelskap. Hoe hou ons aan altwee vas? Ons sal by mekaar moet leer en dit is oa waarom ons hierdie forums ontwikkel.
Nawoord: Piet- wat homself die Demas noem wat die teenswoordige wereld liefgekry het – gaan ons beter help om by die antwoord uit te kom as ons wat so diep binne-in die sisteem sit. So, kom aan Piet deel jou wysheid met ons.