Author Archive

W oensdag 28 November: `n Moeë November en `n Somerkersfees: Die Burger Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

In Novembermaand sit ons gewoonlik met `n land vol moeë en geïrriteerde mense. Ons is minder geduldig en raak vinniger kwaad. Teen Januarie voel die meeste mense na ’n breek gewoonlik beter en gaan dit beter met ons. Maar eers moet ons deur November kom. Wanneer ons moeg is, word ons ook makliker moedeloos. Die probleem is op die oomblik dat daar genoeg dinge in die weer is om ons in elk geval moedeloos te maak. Daar is die wêreldekonomie, die petrolprys, stakings en arbeidsonrus, ‘n wankelende betalingsbalans, `n mankolieke onderwysstelsel, `n groeiende gebrek aan vertroue, verhoudinge wat seergekry het, ’n wantroue in ons leierskap en “profete” wat aankondig dat die einde van die wêreld op hande is. Jy sou die lysie dalk op persoonlike vlak self veel langer kon maak. As ons egter moeg is, voel alles erger.
Iemand het vroeër in die jaar vir my gesê dat ons ons sitplekgordels moet vasmaak. Die pad na Mangaung gaan vol klippe wees. Ek het nie geweet dit gaan letterlik so wees nie. Tussen alles deur moet ons realisties bly en eerlik met onsself wees. Nou-die aand sê iemand by `n kerkraadsvergadering in `n gesprek oor hoop dat dit vir hom voel of ons onsself soms vrolik lieg!
Daar is egter ’n ander kant waaraan ons onsself in dié dae moet bly herinner. Noem dit maar die takkie in die duif se bek. Dit is die takkie wat Noag jare gelede opgemerk het en besef het dat daar tog in die wye oseaan om hom ‘n stukkie droë grond moet wees.
Die afgelope weke het ek tog `n paar sulke takkies raakgesien:
`n E-pos doen die rondte van `n saal vol produsente en arbeiders wat saam sit en bid vir vrede. Daar was die kalm, beredeneerde gesprekke van kerkleiers wat nagenoeg `n honderdduisend mense in die Wes-Kaap verteenwoordig. Die gesprekke was nie langs kleurgrense verdeel is nie. Dan was daar die berig oor ’n paar bruin seuntjies wat na die onrus die gemors in Bonnievale se strate op hul eie begin opruim omdat hulle sê dat hulle nie wil hê dat hulle dorp so lyk nie.
En dan is daar die wete dat ons oor `n week met Adventstyd begin. Gaan dit `n Somerkersfees wees? Gaan Mangaung dit verhoed? Gaan daar nog arbeidsonrus wees? Gaan die situasie in die Midde-Ooste ontplof? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat die profete van ouds vertel van `n volk wat in groot donkerte geleef het en `n Lig gesien het. Dit het in `n donker tyd ingebreek en onverwags en teen alle redelikheid in die geskiedenis kom herskryf. Die Kind in die krip was nie die antwoord wat die wêreld verwag het nie, maar Hy het `n nuwe weg kom wys.
Die profeet Jesaja het al gesê: sien asb. die takkie raak wat uit die oënskynlike droë stomp spruit. Skep moed, skep asem en gaan lewe vandag met hierdie fokus.

Vrydag 30 November: Bruin identiteit

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Ek sit in `n konfrensie op Stellenbosch wat in bree handel oor bruin identiteit in `n nie-rassige SA. Die menings is wyd en uiteenlopend. Van die kantlyn maak ek `n paar waarnemings:
Apartheid het bruin mense baie seergemaak en die seer lê in baie opsigte nog vlak onder die vernis.
Die vrees dat ons op enige manier iets van apartheid sal herhaal maak dit soms moeilik om eerlik en tot op die punt te praat.
Geen mens kan vorentoe sonder duidelike klaarheid oor sy of haar identiteit nie. Maar identiteit is nie enkelvoudig nie. Daar is my identiteit as gelowige. Daar is my kulturele identiteit wat iets anders is as my ideologiese identiteit. Daar is my nasionale identiteit en selfs my vasteland identiteit (Ek is `n Afrikaan). Daar is ook my geslagsidenteit, seksuele identiteit, politieke identiteit en veel meer. Sommige se hoogste identeit is dalk dat hulle Blou Bulle is!
Die uitdaging bly hoe ons verskillende identiteite op verskillende vlakke op menswaardige en ware medemenslike wyse in hierdie land sal kan laat saam leef.

Donderdag 22 November: Nog oor onrus in die Boland

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Soos die dae verbygaan groei die insig ook by `n mens self. Ek dink verder hardop.

Kom ons sê dit weer duidelik. Geen mens kan in die land `n hoopvolle menswaardige toekoms bou op R70 per dag nie, maar die vraag is of `n mens dit met R150 per dag kan doen?

Daarom bly die vraag hang: Wat gee aan `n mens lewenskwaliteit? Dit gaan hier oor veel meer as geld!

Maar ons kan ook nie sonder geld nie. Daarom stel ek voor dat die minimum loon verhoog word. Die slim mense moet eerklik die som maak oor wat bekostigbaar is. Dan moet die regering `n subsidie byvoeg. Dalk kan ons dan by R150 uitkom. As hulle, die regering eerlik is oor ordelike werkverskaffing is hierdie `n gulde geleentheid. Hulle hoef nie `n Marshall-plan te begin nie. Hierdie is van die min sektore waar hulle kan help om werk te skep vir mense met relatiewe min geskoolde vaardighede.

Alle vorme van rassisme en uitbuiting wat mense se menswaardigheid aantas moet ten sterste veroordeel word.

So ook alle vorme van geweld, saakbeskadiging en intimidasie.

Salarisse kan ook net verhoog word as produktiwiteit verhoog word.

Maar ten diepste sal dinge net verander as God ons almal, ja almal se harte verander….

Vrydag 16 November : Lanbou onrus in Boland

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Gister het twee afvaardigings van NGK en VGK moderature Ceres, De Doorns Grabouw, Villiersdorp, Robertson en Bonnievale besoek.

My persoonlike gewaarwordinge is die volgende:

GEWAARWORDINGE NA BESOEKE AAN GEAFFEKTEERDE GEBIEDE

  • Armoede skep die droeë gras wat dan maklik aan die brand gesteek word. Daar is baie mense wat sonder hoop en in groot ellende leef.
  • Hierdie is egter ook ’n nasionale welsyns-krisis wat dringende aandag verg.
  • Gesindhede en verhoudinge het baie skade gely.
  • Geweld en intimidasie, die beskadiging en vernietiging van eiendom is totaal onaanvaarbaar.
  • Daar is getroue en tevrede plaaswerkers wat in vrees lewe en geïntimideer word.
  • Daar is produsente wat uitnemende werkspraktyke toepas en aan hul werkers groot geleenthede gee en met menswaardigheid behandel.
  • Groot krisis is die seisoenwerkers wat wat vir maande van die jaar geen werk het nie. Die boere kan nie alleen vir hierdie probleem verantwoordelik gehou word nie. Dit is ’n nasionale probleem en uitdaging.
  • Ons is bevrees dat ’n tien of ’n twintig rand verhoging in daglone alleen, nie die volle omvang van die probleem gaan oplos nie. Sistemiese oplossings sal gevind moet word om ekonomiese geregtigheid te bewerk.
  • Daar sal ’n gesamentlike bolwerk gebou moet word van almal wat opreg ’n gelukkige gemeenskap vir almal wil sien.
  • Op die ou end soek ons weer ’n gelukkige, hoopvolle gemeenskap waarin Christelike waardes soos eenheid, mededeelsaamheid, versoening, wedersydse begrip en geduld, geregtigheid en vrede sal triomfeer.

Sondag 11 November: Marikana, De Doorns en Ds Brits

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die laaste paar dae het ek konstant met `n knop op die maag en `n gevoel van onrustigheid geloop. Dit het begin by `n besoek aan Namibië waar ek moes agterkom dat die stakings nou ook daar is en die minister van onderwys moes pleit dat die onderwysers terugkeer skool toe. Toe `n gesprek met boere in die Hantam, toe die nuus van ds Brits se dood (met die kinkel daarna) en tussendeur ook die naweek talle gesprekke met mense uit die gemeenskap van De Doorns en omliggende plaagemeenskappe asook gesprekke met landbou- en vakbondleiers. Tussen hakies. Die aanval op Danie de Wet en sy vrou Lesca (van De Wetshof) het nie eers behoorlik die nuus gehaal nie.

Ek het geen twyfel meer nie. Dieselfde virus loop regdeur, van Marikana tot hier in die suide. Dis kompleks, rou en seer, maar het die teelaarde vir geweld en rewolusie geword. Terselfdertyd skep dit hope geleenthede vir opportuniste. My hart bloei vir die armes en is moedeloos oor die sinlose geweld en die vernietiging van eiendom en bates: 250 000 werkdae se lone @ R100 p/d is vernietig. Wat tans in die mynbou gebeur sal ons nog behoorlik voel. Kyk maar wat met die betalingsbelans en ons skuld tot BBP die laaste maand of twee gebeur het…

Die tweede wat ek glo is dat die morele vesel van ons dierbare land aan flarde lê. Dit begin by ons president en vreet soos `n kanker aan elke lag van die samelwing. Ons het baie genade nodig, anders is wat ons tans beleef maar net die voorspel tot iets veel meer pynlik.

Woensdag 31 Oktober: Die soeke na die sin van die lewe – DB Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die vraag na die sin van die lewe is nie in die eerste plek `n wetenskaplike vraag nie en tog het heelwat wetenskaplikes al die vraag gevra – van Blaise Pascal tot Louw Alberts.

Dit is nie `n vraag wat dikwels by partytjies geopper word nie, maar dit word veral in nood en lyding en tydens krisisse gebore. Dit is nie ‘n teoretiese vraag nie, maar so het Prof. Hennie Rossouw ons herinner, `n vraag wat in die bestaanskrisisse van die lewe self gebore word. Die vraag teister jou wanneer die waarom- en waarheen vrae te veel word. Dit kom wanneer jy besef dat die lewe soos ‘n boek voor jou oop lê. Jy lees en lees, maar verstaan daar geen woord van nie. Jy sien nie die plot óf die ontknoping nie. Dit is nie `n vraag wat in laboratoriums geskep word of met die samevoeging van chemise stowwe opgelos kan word nie.

Dit is ook nie net dominees wat daarmee omgaan nie. Die stemme van Søren Kierkegaard, Franz Kafka, Fyodor Dostoyevsky, Jean-Paul Sartre en Albert Camus klink nog helder in ons ore. So het Camus ons byvoorbeeld weer op die mite van Sisifus gewys. Hy was die arme siel wat gedoem was om sy hele lewe ‘n rots teen `n berg op te rol, net om agter te kom dat dit weer afrol, net voor hy bo is. Klink amper soos die boek Prediker, nie waar nie?

Een antwoord op hierdie vraag, het mense egter oor eeue aangegryp. Dit het gekom in die persoon van die seun van `n eenvoudige timmerman van Nasaret. Self het Hy geen enkele boek geskryf of enige belangrike posisie beklee nie. Hy het geen toekenning ontvang nie en het eintlik geen CV gehad nie. Tog is daar elke dag op elke bladsy van die koerant `n indirekte verwysing na Hom: Die datum natuurlik!

John Ortberg skryf in sy Who is this man? (2012) dat, as ons letterlik alle verwysings na Hom uit ons wêreld sou wegneem, daar min sou oorbly. Elke kruis, elke kunsskat en hospitaal wat deur Hom geïnspireer is; elke welsynsorganisasie en elke universiteit of skool wat oorspronklik in Sy naam gestig is: Harvard, Princeton, Oxford, Cambridge, ja selfs die Universiteit van Stellenbosch. So ook ons kalender, name van stede regoor die wêreld en veel meer. Jare terug was Brutus en Caesar belangrike politici. Vandag vernoem ons honde en pizzas na hulle. Hy het as “misdadiger” aan `n kruis gesterf, maar vandag het Hy meer volgelinge regoor die wêreld as enige individu op twitter. Wie is die man?

Hy is díé een in wie miljoene mense steeds hul doel en sin in die lewe ontdek. Nee, dit word nie gevind in korrekte teologiese antwoorde en lesingsale nie, maar in `n persoonlike, intieme verhouding met Hom self. Vir wie dit sin maak, het die antwoord op die vraag na die sin van alles alreeds begin duidelik word.

Maandag 8 Oktober: Wat is en doen `n leier?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Daar het al feitlik duisende boeke oor leierskap verskyn. In my eie denke oor leierskap is ek baie lank gerig deur sommige van die meer klassieke temas. Hier dink ek aan dinge soos visie, spanbou, waardes en veel meer. Die volgende is uit die hart en die vuis geskryf tydens die verkiesing van die VGK se moderatuurslede by hul afgelope Algemene Sinode. Terwyl die kandidate verkies is, het ek myself afgevra: Wat is en maak van `n leier `n leier? Met dit as agtergrond, net die volgende:
1. Daar is altyd `n bykans ondefinieerbare “iets” aan leierskap. Hierdie “iets” kan setel in ouderdom, gewildheid, geliefdheid, wysheid, kennis, vertroue, moed, passie, energie en entoesiasme en charisma. Dit verskil van persoon tot persoon, maar daardie “iets” is altyd teenwoordig.
2. Leiers definieer die werklikheid. Hulle verstaan wat aan die gebeur is en kan dit verwoord. Te midde van kompleksiteit kan hulle `n weg aandui.
3. Leiers kan probleme oplos.
4. Leiers kan probleme antisipeer en die moeilikheid begin aanspreek voor dit te groot is.
5. Leiers kan motiveer en inspireer.
6. Leiers dien met integriteit en nederigheid.
7. Leiers lei met helderheid en moed.
8. Leiers raak die harte en denke van mense aan.
9. Ware leiers word deur mense gevolg wat hulle sal ondersteun, selfs al maak hulle soms foute.
10. Ware leiers kan goed kommunikeer.