Author Archive

GESPREK OOR BELYDENISSE IN DIE KERK NOU NODIG

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Kerkbode het my onlangs genader om kommentaar oor `n informele opmerking wat in `n skrywe aan NG-predikante van Wes-en-Suid-Kaap gemaak is oor `n moontlike afkondiging van `n status confessiones. `n Berig in hierdie verband verskyn in Kerkbode van 21 November 08. (Eerlike gesprek oor belydenisse nou nodig). My volledige antwoord aan Kerkbode volg hier:

Die gedagte is by my wakker gemaak deur `n sinnetjie in `n uitstekende artikel van  Dirkie Smit (prof) oor die aard, rol en funksionering van belydenisskrifte binne `n gereformeerde tradisie. Hy het dit reeds in 2006 geskryf, maar dit het onlangs weer op Communitas se webblad verskyn. Daarin sê hy ondermeer oor die konteks en omstandighede waarbinne `n status confessiones afgekondig word die volgende:

Wat vroeër en onder normale omstandighede adiaphora was – in Calvyn se eie woorde – iets relatief onskuldigs, iets neutraals, waaroor gelowiges normaalweg verskillende meninge kan huldig sonder dat dit die kerk verdeel, kan onder abnormale omstandighede sulke afmetinge aanneem, sulke verreikende gevolge hê, die kerk so verwar en verskeur en die gelowiges so meesleur en mislei dat dit nie langer bloot onskuldig is nie, maar by die naam genoem moet word as in stryd met die waarheid van die evangelie.

……. Ek het gewoon daaroor begin wonder. Sou ons dit ook van toepassing kon maak op die verwarring en verskeurdheid wat ons tans in die kerk aantref? Wat sou dit beteken? Hoe moet dit hanteer word? Daaroor moet gepraat word. Dit is egter belangrik om te verstaan dat dit `n voorlopige informele gedagte is waaroor daar nog geen formele besluit geneem is nie. Die moderatuur sou ook nog daaraan moet herkou. Daarom is dit ook nog nie wyer by ander sinodes getoets nie.

Daar is wel by my duidelikheid oor die volgende:

2. Daar is `n diepe besorgdheid by my oor die wyse waarop belydenisskrifte tans binne ons kerke hanteer word en funksioneer. Dit sluit die basiese inhoudelike kennis van ons belydenisskrifte in. Wat help dit as ons sê dat dit ons “belydenis” is as die meerderheid van lidmate nie meer behoorlik weet wat daarin staan nie? Ek dink dat hierdie situasie oor jare ontwikkel het en in die woorde van Prof. Smit se artikel, aanvanklik “iets relatief onskuldig” was. Ek oordeel dat ons nou die prys daarvoor begin betaal.

3. Ek dink dus nie dit is te veel gevra dat daar ten minste `n diepsinnige gesprek in die kerk tot stand moet kom oor belydenis en belydenisskrifte in die tyd waarin ons leef nie. Deur eerlik `n ondersoekende gesprek te voer oor die belydenisgrondslag waarop ons staan, is nie `n poging om geloof te relativeer nie, maar juis iets wat gedoen moet word omdat ons ons geloof en die konkrete uitlewing daarvan doodernstig wil neem. Ek meen dat die vraag met goeie reg gevra kan word of die bestaande belydenisskrifte van die NG Kerk ons genoegsaam en verstaanbaar genoeg in ons alledaagse lewe rig. Daaroor sou mense uiteraard verskil, maar moet oor gepraat word.

4. Intussen is ek `n sterk voorstander van die oer-Christelike belydenis: Jesus Christus is die Heer. Daaroor behoort ons nie te redekawel nie. Indien die belydenis regtig ernstig geneem word gaan dit baie ander dinge verhelder.

5. Ek verstaan al meer en meer dat ons sonder so `n dieper gesprek, moeilik tot `n verantwoordelike besluit oor die Belydenis van Belhar gaan kom. Ek het dit al meermale gesê. Daar is sekere dinge in die kerk wat nie uitgestry gaan word nie. Alleen `n dieper, genuanseerde, nie-bedreigende gesprek kan help. Alleen `n dieper gesprek oor belydenis, waarin etikettering nie die botoon voer nie, gaan ons help om `n volronde, objektiewe gesprek oor Belhar te voer. Terselfdertyd glo ek dat die gesprek oor die Belydenis van Belhar, die kerk inderdaad op `n vreemde manier kan help om juis ernstig oor dit wat ons glo, ons belydenis en belydenisse, te praat. In `n tyd met soveel uitdagings, krisisse en verwarring kan die kerk nooit genoeg tyd spandeer om seker te maak op watter geloofsbasis sy staan nie.

6. Daar was `n tyd, heel onlangs in die kerk, toe ons nog gestry het oor of ons Engelse of Afrikaanse liedere moet sing, of ons `n orrel of `n “band” moet gebruik. Dalk het die tyd nou aangebreek om weer doodernstig oor Jesus Christus en Sy kerk en wat ons van Hom glo te praat. Ek glo dat wanneer ons ons geloofsbasis herbesoek ons nie net nuwe helderheid sal kry oor wat ons glo en hoe ons met mekaar moet omgaan nie, maar veral ook nuwe energie sal kry om as gelowiges voluit te lewe. Die opmerking  van `n Amerikaanse teoloog, jare gelede, spook steeds by my. “Christianity has become a vague belief, firmly held.” Ons glo vir dood, maar is nie altyd seker wat ons glo nie…

Gaan Barack Obama `n nuwe wêreld orde inlui?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Daar is die afgelope dae met goeie rede in die pers groot ophef gemaak van die verkiesing van Barack Obama as eerste swart president van die VSA. Van die kommentaar het daarop gesinspeel dat hy `n nuwe wêreldorde gaan inlui. Is dit so? Vir eers het hy genoeg moeilikheid by die huis om op te ruim. Om nou te verwag dat hy die wêreld gaan verander is nogal baie gevra.

My beskeie mening is egter dat sy verkiesing beslis reeds `n nuwe era aankondig. Die vraag is nie of hy die wêreld gaan verander nie. Sy verkiesing is veel eerder `n duidelike teken dat die wêreld reeds dramaties verander het en steeds besig is om te verander. Laat ek een voorbeeld gee.

Om te verstaan wat gebeur het moet jy die rol van die Amerikaanse president as grootse simbool binne die Amerikaanse geskiedenis en demokrasie verstaan. Wie al goeie eerstehandse blootstelling aan die VSA gehad het, sal weet watter ongelooflike aansien hierdie simbool binne hierdie samelewing geniet. Wanneer hierdie samelewing na jare van wit dominansie dus op `n dag besluit om met `n oorweldigende meerderheid hierdie simbool aan `n swart persoon toe te vertrou, moet jy weet dat baie dinge dramaties verander het.

Ja, sou `n mens kon redeneer, George Bush het met sy ongewildheid baie stemme aan Obama besorg, en ja, sou jy kon redeneer, dit moet ook vir jou `n aanduiding wees dat die demografie van die VSA besig is om dramaties te verander. Dit is alles waar, maar dit is nie genoeg om hierdie dramatise en merkwaardige gebeurtenis te verklaar nie. Die wêreld is inderdaad besig om onder ons neus te verander…

GEWELD TEEN VROUE

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die afgelope tyd het daar onstellende statistiek rakende geweld teen vroue die lig gesien. Tussen `n kwart en `n derde van Suid-Afrikaanse mans het erken dat hulle al hul vrou of vriendin geslaan het. Sommige krisisse het die manier om af te skuif op ons agendalys tot dit later van ons onmiddellike agenda verdwyn, terwyl die pyn en krisis nie minder is nie. Geweld teen vroue is een van daardie sake.

Daar is `n hele paar redes waarom daar weer padlangs oor hierdie onderwerp gepraat moet word. Geweld teen vroue is nie net geweld teen vroue nie, maar die trauma van kinders wat die getuies daarvan is, kan moeilik verwoord word. Swak konsentrasie in die klas, afwykende gedrag en bednatmaak is maar enkele simptomatiese gevolge. Dié geweld is ook nie altyd net fisies nie, maar kan intens emosioneel van aard wees. Wanneer `n pa op `n ma skreeu, word dit baie traumaties deur ma en kind ervaar. Dit laat  letsels, wat soms jare neem om te genees. Vir baie vroue wat slagoffers is van gesinsgeweld, is selfveragting en selfhaat die letsels waarvan hulle die moeilikste genees.  Die man wat slaan, vertel dikwels vir die vrou dat sy die houe verdien, dat “sy dit oor haarself gebring het”. Dit is onaanvaarbaar. Mans wat slaan, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die geweld wat hulle pleeg en vir wat dit aan vroue doen.

Een van die groot probleme met geweld teen vroue is dat dit een van daardie euwels van ons samelewing is, wat agter “geslote deure” plaasvind en waaroor daar nie in goeie geselskap gepraat word nie. Daarmee saam vind daar vandag nog heelwat rasionalisering by mans daaroor plaas. “Ek was onder druk”, “Ons familie het maar `n bietjie van `n kort humeur”, “Vroue maak die lewe beslis nie vir ons mans altyd makliker nie.”

Kom ons sê dit duidelik vir mekaar. In `n samelewing wat deur hierdie probleem geteister word, kan daar beslis geen “neutrale omstanders” wees nie. Na `n besoek aan Zimbabwe het baie mense vir my gevra wat hulle aan die situasie kan doen. My antwoord was eenvoudig: Moenie stilbly nie. Behou jou sensitiwiteit vir die krisis. Moenie daaraan gewoond raak nie. Die lydendes kan nooit daaraan gewoond raak nie. Ek dink ons kan dit ook op gesinsgeweld van toepassing maak. Gesinsgeweld kan nooit `n private aangeleentheid wees nie.  Dit gaan oor onreg, `n onreg waarteen ons op grond van die Evangelie moet opstaan.

Wat kan ons doen? Sekerlik moet ons die moed hê om enige sodanige situasie waarvan ons bewus is, te help konfronteer. Daar moet `n vertroulike en veilige ondersteuningstelsel vir slagoffers wees. Terselfdertyd kan jy saam met my op jou knieë gaan en hard en ernstig bid vir al daardie anonieme moeders en kinders wat in vrees en stilte ly. As ek sien watter besondere hart Christus vir die vroue en kinders van Sy dag gehad het, behoort hierdie vir ons eintlik `n vanselfsprekende oefening te wees.

Onmin in die kerk. Waarheen nou?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Persberigte oor gebeure in die kerk die afgelope tyd het `n warboel en `n verskeidenheid van emosies by lidmate losgemaak. Verskil in mening oor sake en hoe die pad vorentoe moet lyk, duik oral op. Daar is onsekerheid by baie mense. Die beeld van die kerk het seergekry. Eenheid binne die kerk is broos. Dit alles gebeur terwyl die nasionale en internasionale situasie, ekonomies, sosiaal-maatskaplik en polities, ewe onseker is. Die vraag is hoe die pad vorentoe lyk? Mag ek een baie eenvoudige voorstel maak: Die kerk van Christus behoort die oer- en kernbelydenis van die kerk doodernstig te neem en helder in die dae te bely en te lééf. Jesus Christus is die Heer!

Laat ek eerlik wees. Daar was `n tyd in my lewe toe ek die belydenis as waar geag het, maar dit op die ou end vir my maar net nog `n mooi teologiese formulering was. Vandag verstaan ek van watter kardinale belang hierdie belydenis vir enige kerk is wat daarop aanspraak maak dat dit `n Christelike kerk is. Vir die vroeë Christene was dit nie net nog `n belydenis nie. Dit was hul anker, hul hoop, byna `n mantra wat hul die krag gegee het om aan te gaan te midde van ongelooflike aanvegtinge. Ek meen dat `n vars en nuwe aanvaarding van hierdie belydenis ons op geweldig baie punte kan help.

Terwyl ons in `n diverse wêreld met baie verskillende godsdienste leef het ons natuurlik `n verantwoordelikheid om met liefde na alle mense uit te reik. Ook mense van ander gelowe is tog mede-skepsels van God. Hierdie belydenis hef egter alle onsekerheid op oor wat ons oor die godedom glo. Jesus Christus is die Heer!

Terwyl ons wonder of sommige belydenisse onder ons polities van aard is of nie, is daar een belydenis waaroor ons nie hoef te twyfel nie. Dit het `n intense politieke betekenis. Jesus Christus is die Kurios, die Here, Koning van die konings.

Terwyl ons stry oor etiese kwessies wat dreig om die kerk in die middel deur te skeur, is daar een belydenis wat te midde van alles verenig. Daar is net een Here, Christus die Here.

Terwyl ons wonder oor die kontekstuele aard van gereformeerde belydenisse en bely dat almal `n historiese kontekstualiteit het, is daar een belydenis wat werklik  geldig is vir alle tye. Jesus Christus is gister en vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Hy is en bly en sal altyd die Here wees.

Terwyl gewone lidmate verward staan tussen die uitsprake van ou (tradisionele) en nuwe hervormers is daar een belydenis wat hierdie komplekse argumentasie, vreeslik eenvoudig antwoord: Jesus Christus is die Heer. Dit bely jy natuurlik moeilik as jy glo dat Hy net maar nog `n mens was en nooit werklik uit die dood opgestaan het nie.

Terwyl sommige beweer dat ons op die vooraand staan van die einde van `n tydvak in die geskiedenis, die einde van `n era, soos ons dit leer ken het, weerklink die belydenis van Petrus helder in ons ore. Christus is die Here! Hy is ewig die Here van alle eras.

Terwyl sommige mense sê dat die kerk wankel op die rand van `n afgrond, weet ek verseker dat ons, ook as kerk nie aan onsself behoort nie, maar aan dié Here.

Soos in die eerste dae sal die kerk nie gebou word op eie planne nie, maar veral op hierdie rots, hierdie belydenis.

Miskien is dit eerste tree op die pad vorentoe vir ons, om hierdie belydenis met ons hele lewe opnuut te bely en te lééf. Ek glo dit is waar. Dit is hoe ware volhoubare lewe en vernuwing sal begin en ook stewig in geanker sal wees. As ons dit doen, regtig met ons hele wese doen, sal ons ook eerlik en verantwoordelik kan wees in ons beoordeling van alle ander belydenisse wat op ons tafel mag beland.

Moeilikheid of moontlikheid?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die afgelope tyd se dramatiese gebeure in die internasionale finansiële wêreld het net weer kom onderstreep hoe broos ons wêreld is. Voeg hierby `n goeie dosis plaaslike politieke en sosio-maatskaplike onsekerheid en baie sou kon wonder waarheen ons oppad is. Krisisse was nog altyd deel van ons lewe en sal ook in die toekoms wees. Die vraag is hoe `n mens in so `n wêreld leef?

Die bekende dirigent van die Bostonse simfonie orkes, Benjamin Zander, praat graag oor die moontlikhede wat elke dag om ons bestaan. Ten einde dit raak te sien, is dit belangrik dat ons vertrekpunte of verwysingsraamwerk reg sal wees. Zander sê dat dit nie help om oor en oor vir jouself te sê “hoe dit was” nie. Dit maak jou dikwels net kwaad, bitter en depressief. Dit help ook nie om te sê “hoe dit behoort te wees” nie. Dit veroorsaak stres, omdat jy meestal `n magteloosheid ervaar as jy na die werklikheid om jou kyk. Dit help meer dikwels om gewoon te sê: “Dit is hoe dit is”. Dit is geensins `n fatalistiese opmerking nie, maar `n nugtere aanvaarding dat al wat ons het opgesluit lê in vandag. Dit geld vir ons gesondheid, finansies, verhoudinge, ja, elke duimbreedte van ons bestaan. Dit is egter nie waar dit stop nie.  Môre se moontlikhede is ook opgesluit in vandag.

Die toekomskundige, John Naisbitt, sê tereg dat weinig van wat in die toekoms gaan gebeur, se wortels nie alreeds in vandag lê nie. So is Lehman Brothers se moeilikheid sekerlik nie eers `n week terug gebore nie. Die beginsel geld vir ons moeilikheid, maar ook vir die positiewe moontlikhede wat ontsluit kan word. Die vraag is of ons dit raaksien? Naisbitt verwys na Einstein se teorieë en sê dat Einstein min formules self uitgedink het, maar in staat was om op die regte bestaande formules te bou.  Al wat ons het, is dit wat ons vandag het. Die vraag is watter wortels ons gaan koester en watter plantjies ons gaan natmaak om môre soet vrugte te eet?

Gelowiges verstaan dat daar veral een groot werklikheid is, wat deel is van vandag. Dit is die Drie-Enige God self. Jesus Christus is inderdaad gister en vandag en tot in alle ewigheid dieselfde (Heb 13:8). Dit is hierdie God wat ons help om die moontlikhede midde in die moeilikheid raak te sien en te ontsluit. Hy is die stabiliteit, belofte en moontlikheid wat in vandag opgesluit lê. Meer en meer stemme gaan op wat sê dat ons versigtig moet wees om ons eie planne met alle mag te probeer realiseer. Dit ontneem ons doodeenvoudig die geleentheid om die Godgewe moontlikhede om ons raak te sien. God is deel van vandag se werklikheid. Dit is hoe dit is! Mag Hy ons help om nie net probleme op te los nie, maar veral die moontlikhede te ontgin

Stukkende, seer mense

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Dalk is een van die grootste probleme van ons dag die feit dat die mensdom sukkel om te verstaan dat ons almal deel is van `n baie stukkende wêreld. Hierdie stukkendheid neem baie verskillende vorme aan. Ek besef egter al meer dat die wêreld met die illusie leef dat daar `n kortpad uit hierdie gebrokenheid is. As ons net die regte knoppie druk, sal ons daarvan bevry word. En watter knoppies word daar nie gedruk nie? Seks, geld, drank, dwelms en magsmisbruik staan natuurlik voor in die koor. Jy sien, so klink die mite, jy kan jou pyn versmoor in driftige genietinge. Ander dink dat jy dit met `n voorbeeldige lewe of hiper- godsdienstigheid kan systap. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek glo absoluut dat ons land sug na geloofsverdieping en `n nuwe terugkeer na God. Tog moet ons nie in die illusie verkeer dat dit al die fisiese, emosionele en sosiale gebrokenheid van ons dag in `n oogwink sal omkeer nie. Ons kinders se leed sal in ons lywe bly vassteek, armes en konflik sal daar altyd wees en siekte en dood sal nooit weggaan nie.

Die priester Henri Nouwen, wat `n suksesvolle akademiese loopbaan vaarwel geroep het om gestremde kinders te gaan versorg, het my gehelp om perspektief hierop te kry. Sy raad is kortliks: Moenie dink dat jy van gebrokenheid gaan wegkom deur daarvan weg te hardloop of dit te probeer ontken nie. Nee, leer om te aanvaar dat dit deel van die lewe is en dat gelowiges moeilik daarsonder groei. Ek worstel self daarmee, maar moes telkens in my eie lewe ontdek dat God veel harder en duideliker deur my pyn met my gepraat het as deur my plesier.Terselfdertyd kan jy dié God leer ken wat in jou gebrokenheid altyd by jou is en aan jou die krag gee om te dra wat jy moet dra. Daar sal jy, soms tot jou verbasing, ontdek dat `n diep vreugde kan groei, midde in jou gebrokenheid. Verder moet ons weet dat juis hulle wat bewustelik met hul eie verwondheid saamleef, soveel beter in staat is om die wonde van die stukkende mense om hulle te verbind.

Intussen weet ek dat Christus met sy eie kruisdood en lyding baie naby aan die lyding van hierdie wêreld gekom het. Daarmee het Hy in die woorde van Philip Yancey “aan alle lydendes `n nuwe waardigheid kom gee”.  Toe ek dus nou die middag deur die buurt draf en `n hawelose in `n vuilgoedblik sien krap, moes ek net `n oomblik by hom stop. Geld het ek nie by my gehad nie, maar sy glimlag na `n paar woorde se gesels en luister sal ek lank onthou.

Zimbabwe… die laaste uitweg

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

“In `n oorlog is die eerste wat sterf die waarheid”

Op hierdie stadium lyk dit nie of die mense van Zimbabwe Vrydag na die stembusse sal gaan om in `n opvolgverkiesing te stem nie. Wat wel seker is, is dat onsekerheid, spanning, geweld, onreg en lyding hoogty vier. Soveel stemme het die afglope tyd opgegaan wat die krisis in daardie land in die sterkste moontlike taal veroordeel het dat `n mens wonder of daar menslik gesproke nog iets nuuts gesê kan word wat werklik gehoor sal word. Resente ervarings het ons op hierdie punt diep ontnugter en moedeloos gelaat. Dalk is dit daarom juis nou nodig om vanuit `n geloofsperspektief oor Zimbabwe te praat.

Nou die dag loop ek `n dame raak wat lank in Zimbabwe gewoon het. Haar man is in die sewentiger jare daar in `n motorongeluk dood, maar sy was nog jare lank die skriba van die NG gemeente op Masvingo. Zimbabwe het van haar `n baie groot prys gevra. Sy het haar man daar verloor en so ook al haar finansiële sekuriteit. Tog straal daar uit haar `n sagte blymoedigheid wat jou skaam laat. Dit was egter `n opmerking van haar wat my weer diep laat dink het. “Ai ds, ons bid al soveel jare vir Zimbabwe. `n Mens wonder baie dae wanneer God ons gebede sal verhoor.”

Ek het dadelik twee dinge besef. Hier is iemand voor my wat al vir baie jare baie dieper en innniger vir Zimbabwe bid as wat ek ooit kan droom. In die tweede plek het ek net weer besef dat God sy eie tyd het. Ons verstaan dit moeilik en raak soms ongeduldig daarmee. Tog wys die geskiedenis vir ons dat geen onreg ooit permanent duur nie. Daarvoor sorg God self. In die geval van Zimbabwe sal dit ook nie anders wees nie. Maar ek kon nie anders om nog verder te dink nie.

Die afgelope tyd is daar soveel pogings aangewend om oproepe tot `n verskeidenheid van politieke leiers te maak om in te gryp. Enersyds is dit altyd moeilik om `n oor by dié besige mense te kry. Andersyds roep die oomblik ernstige vrae op oor hoe suksesvol dit was. Dan maak die getuienis van die oud-Zimbabwier nog gedagtes by my los. Daar is natuurlik `n Koning wat baie toeganklik is en dikwels juis op ons wag dat ons ons diepste versugtinge aan Hom sal openbaar, al ken Hy ons harte dikwels beter as wat ons dit self ken. Ja, al voel dit vir ons of alle opsies menslik gesproke uitgeput is, is God nog steeds God. Daarom lyk dit vir my of daar iets baie vanselfsprekend is wat nou in hierdie dae op gelowiges se tafel behoort te wees: Volhardende gebed vir Zimbabwe. Oor die hoe daarvan hoef ons nie voorskriftelik te wees nie, maar dat dit moet gebeur lyk vir my onverhandelbaar.

Laastens behoort daar ook vanuit die kerk `n profetiese stem aan alle leiers direk betrokke by die situasie te gaan. Dit mag kras klink maar moet gesê word. God oordeel en sal volmaak en regverdig oordeel. Niemand  kan dit ontduik nie. As die kerk dit nie meer sê nie moet ons `n groot deel van die Bybel nie meer ernstig neem nie. Dit staan nie teenoor sy liefde nie maar is juis `n werklikheid omdat Hy liefhet. Die onreg in Zimbabwe skreeu ten hemele. Ons hoef nie meer daaroor te wonder nie.  Enige regdenkende persoon sal dit erken. Van die uitsprake die afgelope tyd is nie net `n miskenning en uitdaging van basiese menseregte nie, maar ook basiese logika en intellek. Die mense van Afrika is nie dom nie. Hulle sien dit raak.

`n Laaste sensitiewe opmerking teenoor die leierskap, juis vanuit `n morele perspektief. Moet asseblief nie `n skaduwee gooi  oor die integriteit en morele hoë grond wat deur die bloed van mede-Afrikane in `n bevrydingsstryd verwerf is nie. Deur nou stil te bly oor die skreeuende onreg wat teenoor mede-Afrikane gepleeg word, kruisig julle dit waarvoor die wêreld jul eens geëer is.

`n Laaste word van hoop. Diegene wat onlangs daar was sal weet dat die land na die somerreëns so mooi is soos wat dit kan wees. Dit hou altyd die belofte van herstel in. Net soos wat seisoene kom en gaan sal God se nuwe somer ook weer in Zimbabwe aanbreek.  Onthou die nag is dikwels op sy donkerste voor die nuwe dag breek. Intussen weerklink die stille rouklag en geween  van Zimbabwe se mense steeds helder in my ore. Dit was juis die aanskoue en geween van mede-gelowiges daar wat by my die diepe oortuiging gelaat dat God dit sal hoor. Kom ons bid almal saam vir hulle.