Author Archive

Die kerslied

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Die kerslied is geskryf vir ‘n kerssandiens. Tussen die verskillende paragrawe kan liedere gesing word, relevante skrifgedeeltes gelees word, of dit kan saam gelees word deur verskillende voorlesers, soos ipv preek. in ons eie gemeente was dit positief ontvang. Mag ons kerslied vanwee sy diepte en opregtheid hierdie kersfees harte verander. Groete

Heel aan die begin:

Die Skepping

afgehandel, klaar en goed, baie goed

nog net die kroon

deur wie God op die aarde sou woon

liefde, seën en respek

die begin van ‘n  ewige gesprek

gesprinkel deur liefde, vreugde, lof

die Teenwoordigheid, woorde, oorgawe

het minute en sekondes

in die ewigheid laat verdof

harmonieus het vredevolle riviere gevloei

maar versluier het die teenstem begin groei

subtiel is grootsheid gesuggereer

julle verdien dieselfde eer

julle verdien kennis, selfstandigheid

het die stem gestreel

en uiteindelik hul vermoë om God te hoor, gesteel

die gesprek het eensklaps verstil

woorde is vasgevang in sekondes en tyd

eeue, mense, koud en kil

verswelg deur ewige stryd

die kroon het versteen, gefossileer

slegs vae dowwe herinnering

sou die loflied ooit weer terugkeer

sou die sonde-skemering

oorgaan tot uiterste duister

sou ons ooit weer na God luister

 

Die nuwe begin:

Die nag word skielik versteur

deur ʼn liefde wat die duisternis verteer

 dis nie ʼn stem waarin die woede knars

en ook nie ʼn oordeel wat oor mense losbars

die lig word gevul met nuwe harmonieë

klanke van die hemelstemme groei

riviere van liefde begin weer vloei

in die koue stilte van die nag

kom God se liefde verbasend sag

sou ons die hemelkoor

hierdie keer hoor

óf sou die afsydigheid van ons siel

keer dat ons weer aan God se voete kniel

sou die boodskap ons nou binne dring

wat die geskeurde hemel aan ons bring

 

Die vreemde begin:

Die lied het op vreemde plekke ʼn tuiste gevind

in die harte van vrouens

in die stem van ʼn kind

dit was in die herders se voetval

in ʼn dofverligte, stinkende stal

heidense wyse manne het die ster gesien

en verstaan watter lof hierdie kind verdien

van alle hoogmoed en pretensie gestroop

was hulle ook nou vir hierdie gesprek oop

soos hierdie harmonieë groei

begin die woorde weer vloei

Sy liefde keer deur die lied terug

Sy hart bars oop soos ʼn ryp vrug

wat saad in alle rigtings skiet

die rokende lamppit, die geknakte riet

word herstel en begin weer sing

die wat dors het, kan hul kruike bring

die lied dring deur elke dowe oor

vir almal om die boodskap te hoor

melaatses word rein

en mag weer in dorpe verskyn

die feit dat kreupeles loop

gee ook die blindes hoop

 en sonder dat iemand dit verdien

begin ons God se genade sien

hortend, huiwerend

breek ons die bande wat ons verstom

want God het na ons toe gekom

 

Die genesing  begin:

Nuwe harte begin nou blom

mense sien skielik mense

hulle reik uit oor alle grense

die lied weerklink uit die snaaksste oorde

nog vreemder is die nuwe woorde

geseënd is die armes, treurendes, sagmoediges

ja, hulle wat honger en dors na geregtigheid

én die wat barmhartigheid is,

geseënd is die reines en vredemakers

én die wat ter wille van sy Naam vervolg word

oor húlle sal God uiteindelik sy liefde stort

 

Die nimmereindigende lied:

Selfs in die donkerste nag

behou die loflied nou sy krag

selfs in die skrilste koue

weerklink die lied van kinders en vroue,

en as die donker skadu’s om my groei

en my weer aan my stil verlede wil boei

dán weerklink die lied van die Engelekoor

hiérdie keer kan ek ook my stem daarin hoor

Ere aan God, in die hoogste hemel  …

Sélfs my stem, bereik nou sy oor,

in die koue stilte van die nag

kom God se liefde, steeds, verbasend sag

Nagmaal Toewyding

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

By die onlangse Calvyn Konferensie was daar ‘n besondere aanbieding en gesprek oor liturgie/sakramente en daaruit voortvloeiende etiek. Ek het aanvanklik die Nagmaalgebed geskryf, maar in voorbereiding vir ‘n Nagmaal die responsoriese gedeelte bygesit. Veral met die oog op 25 Oktober 2009, probeer ek hierin iets na vore bring van die Gereormeerde spiritualiteit wat nie net myself/gemeente moet verander nie, maar ook die samelewing waarin ons woon. Dalk beteken dit vir iemand iets. Dit is so geskryf dat dit maklik op Power Point gesit kan word. Sterkte.

Nagmaal Toewyding

In die donker wêreld  waarin ons woon,

gee dit my hoop

dat u lig sedert my doop steeds op my skyn

en dat in hierdie doolhof van verwarring

u stem my steeds lei en stuur

Respons:

Laat u lig so helder op my skyn

Dat dit ook deur my

in die donker  wêreld sal inskyn.

In die bitterheid en geweld waarin ons ons daagliks vasloop,

kan ons rondom u tafel in u teenwoordigheid sit

en ervaar hoe U ons met liefde toevou

en  daar u gawes van  genesing geniet.

Respons:

Waar daar haat is, laat ek liefde bring

Waar daar bitterheid is, vergiffenis

Waar daar lyding is, verligting.

In die liefdeloosheid en verskeurdheid van die kerk,

staan U, ons Verlosser, en met u deurboorde hande

neem U ons hande, bind ons aanmekaar

en dwing ons om met nuwe oë na mekaar te kyk

Respons:

Vul ons met u liefde,

gee ons sagte, versorgende hande

En laat ons met nuwe liefde na mekaar

en die wêreld kyk.

Al die korrupsie en inhaligheid in die raadsale van die wêreld

kon nie keer dat U u hemeltroon verlaat nie

U het  onder ons u kruis  kom dra het

sodat ons ʼn kruis-kwaliteit lewe kan lei.

Respons:

Vul ons met u vergiffenis

Reinig ons van hoogmoed en selfsug

En gee ons knieë wat kan kniel.

In ʼn wêreld waar woorde hol simbole geword het

het dié Woord vlees en bloed geword,

vul die Gees elke woord met waarheid en ewigheid

en roep u mense terug na u veranderende teenwoordigheid.

Respons:

O Gees, vul ons woorde met redding en krag

En laat ons lewens mense nooi

In u helende teenwoordigheid in.

Dankie dat u lig steeds skyn, al begin my geloof kwyn

dankie dat ek met leë en bewende hande

steeds van U die brood en wyn kan ontvang

Realiteit  van geloof, hoop en liefde!

Respons:

Laat u lig tot in ewigheid in my skyn

Lewensbrood, voed my op my lewenspad asb.

En vul my met verwagting vir die Feesmaal van die Lam.   Amen

Nagmaalsgebed

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Nagmaalsgebed

In die donker wêreld  waarin ons woon, gee dit my hoop

dat u lig sedert my doop steeds op my skyn

en dat in hierdie doolhof van verwarring

u stem my steeds lei en stuur.

In die bitterheid en geweld waarin ons ons daagliks vasloop,

kan ons rondom u tafel in u teenwoordigheid sit

en ervaar hoe U ons met liefde toevou

en  daar u gawes van  genesing geniet.

In die liefdeloosheid en verskeurdheid van die kerk,

staan U, ons Verlosser, en met u deurboorde hande

neem U ons hande, bind ons aanmekaar

en dwing ons om met nuwe oë na mekaar te kyk.

In  die korrupsie en inhaligheid in die raadsale van die wêreld

het  U u hemeltroon verlaat

en onder ons u kruis  kom dra

sodat ons nou ‘n  kruis-kwaliteit lewe kan lei.

In ʼn wêreld waar woorde hol simbole geword het

het dié Woord vlees en bloed geword,

vul die Gees elke woord met waarheid en ewigheid

en roep u mense terug na u veranderende teenwoordigheid.

Dankie dat u lig steeds skyn, al begin my geloof kwyn

dankie dat ek met leë en bewende hande

steeds van U die brood en wyn kan ontvang

Realiteit  van geloof, hoop en liefde!

Amen

Finale woord

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

finale woord?

ʼn finale streep?

ooit  ʼn finale doodsgreep?

Kan Hy wat sy gees

in die hand van die Vader gee

die laaste asem uitblaas

kan ʼn lewe waaruit geweld

die laaste vergiffenis wring

verwelk wanneer  Hy sy ma

na ʼn ander seun bring

Kan ʼn dood wat die voorhangsel skeur

die lig finaal verbeur

is daar ʼn finale woord

oor dié liefde?

Vlugtige nuwe asem

gees in God se hand

streep in die sand

lig uit allerheiligheid

verswelg  die finale woord

teenwoordigheid verfyn tot ewigheid

tyd word nou gehou deur hemelse akkoord

vreugde is ʼn vry gedagte

gaan oor in lof vir duisende geslagte

wind waai oor ons laaste vraag

duisternis begin in ewigheid vervaag

gedagtes word verlig

wonderspel van liefde

begin sy wonders verrig

nuwe stemme, nuwe gedagtes

nuwe woorde, nuwe vrede

nuwe vreugde,

… nuwe mense …

goddelike kreatiwiteit ontplof

skiet finale woorde en dade

uitmekaar

genesende hand skuif

brokstukke in waar

dit pas in ʼn legkaart

van nuwe visioene

en bewegende beelde

van vars helende seisoene

wat grensloos  oormekaar skuif

tydens die kleurespel van reënbooglig

in die kleur en klank van ewige tyd

ontvang die lewe ligvoets

nuwe heiligheid

om te dans

oor enige finaliteit

Lewe, dood – Liefde

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Ek het by ‘n jong egpaar betrokke geraak wie se vroeggebore baba na 3 dae gesterf het. Hulle het lank gewag vir die baba en toe hierdie tragedie. Die ma het baie vrae oor godsdiens en geloof gehad. Ek wou vir hulle iets gee wat hul sou laat verstaan dat die tragedies ook met “goeie” mense gebeur en dat God in dit alles steeds teenwoordig is. Daarom eers die twee gedigte van Totius en Philander en toe my eie worsteling saam met hulle.

Totius (J.D. du Toit) (1877-1953)

o Die pyn-gedagte

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;

die skadu’s word lank en weer kort;

die drywerstem van my werk weerklink,

en ek gaan op my kruisweg vort.

*

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,

só, dat my lewe se glans verdwyn:

Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!

en – ek gryp my bors van die pyn.

o Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,

één straal het jou skone liggaam verskroei,

maar bliksemstrale sonder tal

laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ’n vlindertjie,

sy ’t lugtig omheen geswerf;

’n asempie wind kon haar vlerkies breek

en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,

dis één uit die tienduisend-tal,

en ag! dat dit sy was en ek moes sien

dat sy dood in my arms val!

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my;

die mense die sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

 

 

P. J. Philander (geb. 1921)

Haar uitvaart

Al oor my dak het hul gemaal …

dié voëltjies het vir haar kom haal.

Half-toegevoue vuisies klein

het ylings na die doodsgordyn

gegryp en dan weer moeg verslap …

die sweet het langs haar slapies afgetap.

Haar ogies sien ek duidelik nog,

hul het vir my gesmeek om tog

te help … die pyn te stil,

maar ek was magteloos teen Sy wil,

en halfweg na die hospitaal

het, asemloos, die dood ons ingehaal.

 

 

 

Lewe en dood – liefde?

 

Lewe en Dood

geskenk, genade, geneem

van alles gestroop

sonder toekoms en sonder hoop

arm en leeg van gees

kan God werklik  daarin wees?

Is die JA vir die lewe

werklik ‘n NEE vir die dood

is ‘n JA vir hoop

ook vir hierdie donker nood?

 

Verbyster, verslaan, verstom

waar sal ons troos vandaan kom?

Sy asem skenk lewe,

energie, handjies wat soekend gryp, bewe

realiteit wat skielik in ‘n wasige droom opgaan

dis so sinloos, kan ons dit verstaan

is daar werklik ‘n skakel

tussen gebrokenheid en ewigheid

tussen sinloosheid

en God se teenwoordigheid

 

Kan gestroop en verslae van Gees

werklik tot in ewigheid geseën wees

en die wat treur en ween

kom troos deur God se seën?

Energie en lewe wat eenmaal bestaan

kan nooit weer vergaan

dit kan wel van een vorm na ander transformeer

maar word steeds

deur God se teenwoordigheid beheer

selfs hoop en wysheid sal soms stom bly staan

maar God se liefde hou vir ewig aan

 

Daar in die stilte van jou nag

hou Hy geduldig en liefdevol wag

en wanneer jy wil skree en skel

omdat opstandigheid en pyn jou verteer

sal Hy ook dit absorbeer

as jou gedagtes rondtol

en jy tot op jou as vassit in die sand

onthou jou droom is nou in sy Vaderhand

ja, terwyl die lewe wel transformeer

word dit deur God se ewige liefde beheer

 

God se JA vir die lewe

Is juis vir ‘n gebroke wêreld in nood

Sy passie vir die lewe

breek die kettings van die dood

as die gordyn sak oor ons hoop

in die skemering van ons pyn

gaan God se arms vir ons oop

en laat Hy die duisternis verdwyn

energie, lewe, lig

is die wonder wat sy liefde in ons verrig

‘n lamp vir jou voet

en ‘n lig vir jou pad

Hy wil ook jou hand kom vat

 

Sy liefde sal voortdurend transformeer

omdat  Hy die lewe vir jou begeer

miskien voel jy verslae en verdwaas

soos ʼn kind

mag jy in sy Vaderarms jou tuiste vind

 

 

Potloodmens

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Viswater/Canyon

Hierdie was ‘n preek vir die begrafnis van ‘n baie goeie vriend wat selfmoord gepleeg het. Sy depressie het ons almal onkant gevang en sy dood was vir almal ‘n geweldige verlies. Sy lewe het sy dood oorskadu en ek het iets daarvan probeer weergee.

 

 

Fil 1:20-26

 

Ek sit skryf met  ʼn potlood, want Pieta ons is potloodmense

ons is nie wit en swart mense nie,

nie dié wat hou van afgehandelde argumente,

wit en swart afgehandelde oordele en laaste woorde nie

selfs met die teologie leef ons makliker saam met skakerings van grys

party strepies wil ons baie ligter trek as ander

sommige het ons met huiwering ingevul,

want ons het nie seker geweet nie, wou nog weer kon verander daaraan

daar was altyd die donkerder strepe wat meer vas gelê het as ander

die grootste hiervan was die liefde

ʼn kerk of gemeente wat nie die liefde uitleef nie,

moet in elk geval maar in ligte potlood oor sy bestaan skryf

nie te ernstig oor homself en sy dogmas voel nie.

Daar was ander donker strepe in my en jou saamwees,

nagte se geworstel met die balans van liefde en reg

die gewig van die welwese van die kerk teenoor die welsyn  van mense

potloodmens wat jy is, het ons altyd herinner dat ons nie so vinnig moet oordeel nie,

maar eers weer na nog  ʼn ander kant van die saak laat luister,

so kon jy met gemak aan weerskante van die argument stap

soms tot ons almal se hoogheilige verdriet,

want dit het ons vergaderings soms baie lank gemaak,

maar tyd was misterieus, want dit het nie net die besluit beter gemaak nie,

maar ook vir ons nader aan mekaar gebring.

 

Ek sou jou wou vra wanneer het die skakerings van grys, slegs in donker strepe verander

ek sou jou wou soebat om die potlood bietjie minder styf vas te hou

en die Goddelike kunstenaarhand toe te laat om bietjie ligter te teken

sommige van die strepe uit te vee, die teks bietjie meer digterlik te skryf

ek sou jou so graag op  ʼn afstand wou laat staan en laat sien

dat die donker strepe slegs  ʼn deel van die groter Godstekening van jou lewe is.

ek sou jou wou wys op die plesierige krulle van jou humor,

van hoe lekker jy oor jouself kon lag en stories  ten koste van jouself vertel

ek sou jou wou wys op die reguitrige vergesigte van al die argumente, gedagtes en drome

ons sou ons kon verstom in die passievolle argumente van die brekende golwe tydens die hoogwater

en weer balans kry in die twak praat en die rus en die plotsende klein golfies van die laagwater

ek sou jou jouself wys daar langs die viswater en myself daar langs jou wou inteken,

– jou aardsheid het so floreer in die opwinding en verwerking van  ʼn stinkende vis –

ek sou groot glibberige visse saam met jou wou vang –

soos die relevansie van Calvyn vir vandag,

is geloof so  ʼn seker saak, is geloof soos die dogmas dit verwoord en verhouding met God dieselfde ding,

sou liefde nie  ʼn beter beskrywing van ons verhouding met God wees as geloof nie.

Ons het probeer om van hulle te vang, maar soos geslepe visse het hulle baie keer weggekom,

maar ons is potloodmense ons dink en skryf maar voorlopig,

so ons teken hulle net so liggies,  ons sou altyd weer kon probeer.

 

Ek sou jou graag wou wys die subtiele verandering wat met die jare in jou tekening verskyn het.

Skakerings van grys het op subtiele wyse vir pastelfigure  begin plek maak.

Subtiel het liefde  ʼn nuwe sagtheid ingedra, jou familie en veral jou Alette, Pietman, Gerrit, Eduaan

is nie kleur wat jy op kleurkaarte kry nie, lewe, dinamika, humor – wonder-skakerings.

Mirakelagtig bly hulle ook nie op dieselfde plekke sit op daardie tekening nie.

Baie keer sit hulle selfs nie waar jy sou verkies nie, die Goddelike misterie van die gesin.

Jy sou egter oplet dat die meeste van die tyd hulle oë op jou gerig is, waar hulle ook al sit.

Ek sou jou wou wys hoe die mense in en uit deur jou lewe beweeg,

soms vaal en grys, met donker houtskool geteken en hoe hulle weer daar weg stap

met  ʼn bietjie kleur vir hul eie tekeninge, 

 ʼn bietjie meer moed, en hul eie potlood om te begin skryf of teken.

 

Ek sou jou weer wou vra wanneer het die skakerings van grys slegs in donker strepe verander,

ek sou jou wou soebat om die potlood bietjie minder styf vas te hou

en die Goddelike kunstenaarhand toe te laat om bietjie ligter te teken

sommige van die strepe uit te vee, die teks bietjie meer digterlik te skryf

ek sou jou hand in die Groot Kunstenaarshand wou sit

en jou laat ervaar hoe Hy ons potloodmense se deurmekaargeskryf

soms net uitvee, sy woorde oor die woorde skryf wie se houvas te groot raak,

wat ons ons potloodkarakter laat verloor:

vasgeloopte woorde van donker vervang met opsieryke woorde van lig

teleurstelling met verwagting

wanhoop met hoop

mislukking met sukses

verraad met vertrou

dood met lewe

duik is nie dieselfde as sink nie en

om jou asem op te hou, is nie dieselfde as om op te hou asem haal nie.

daar is wel ooreenkomste, maar in God se hand is daar wesentlike lewensverskille.

As ons dan ook soms verkeerde goed kwytraak,

weet die Groot Outeur ons praat of skryf soms voor ons dink.

Ek dink daar is meer genade vir ons soort en vee Hy dit uit voor dit te veel skade doen.

As ons dalk te hard druk en die skade staan ingegraveer op die bladsy,

skeur Hy dit uit en spyker dit aan die kruis van vergifnis vas,

die kruis van veroordeling is reeds vol, daar is nie meer plek vir ons nie my ou vriend.

 

Ons potloodmense was nog altyd meer verknog aan wandelpaaie as treinspore;

die sweet, die onverwagse en onvoorspelbare, die swaarkry met sy sprinkelinkie humor,

dis die kwinkslag-speserye vir  kampvuurfilosofieë. 

Die laatmiddagvrede langs die Visrivier Canyon

kabbel speels oor die droë kluite van ons afgestompte bar bestaan.

Jy en Alet het dit so vrygewig met ons ander stofverslane, bleeksiele gedeel.

Hoe is dit dat ons nie eers  ʼn bekertjie water vir jou kon aanbied nie?

Hoe is dit dat jy nou vir die eerste keer van  die wandelpad op die treinspoor gerangeer is,

die onverwagte plesier en die geure van die lewe vir dieseldampe en roet verruil het?

Hoe het dit gebeur dat die oop naghemel met al sy sterre en misterie

minder aantreklik as die donker tonnel met sy onafwendbare uitkoms was?

Hoe verruil  ʼn potloodmens sy potlood vir  ʼn pen

om die finale paragraaf onafwendbaar en onveranderlik te skryf?

Was die stryd so groot en so intens,

het dit jou so verdoof dat geen stem meer kon deurdring nie?

Nou is my potlood opgeskryf en as jy die pen kon opneem,

laat ek dit ook nou opneem en wat ek nou sê, kan maar onuitwisbaar staan. 

Ek was eers baie vies dat jy my 50 ste verjaardag gekies het. Vandag glo ek dat jy nie meer regtig die keuse self gemaak het nie. Die aand op Stellenbosch het ek en my broer en my pa oor jou gesels op daardie aand het ek werklik besef hoeveel jy my oor die jare gegee het:

Jy was lojaal teenoor ander

sonder om jou aan hul opinies te verbind;

omdat jy getrou teenoor jouself was

al het dit jou by jou eie vriende ongewild gemaak

het ek en ander jou vertrou;

jy kon afkeer en passie vashou

saam met liefde en die hoop

so kwaad soos jy was oor kerk se voetesleep oor Belhar

het jy jouself steeds voluit vir die kerk gegee;

terwyl jy so deur jou eie donker gestruikel het,

wou jy weet of daar nie iets is wat jy vir my kan doen nie;

jou grootste passie was vir die belangrike dinge in die lewe

al het ek soms goedkoop bokswyn by jou gedrink,

het julle jul warm harte oopgemaak en my ʼn tweede tuiste

in die gemeente gegee;

deur al die vuuroonde van beproewing

was jy bereid om saam met my daar te staan,

ons het wel soms gestry oor hoekom ons daar was,

maar jy was daar!

Daardie aand het ons op jou ʼn heildronk gedrink,

want niemand kan meer vra op sy vyftigste verjaardag nie, behalwe dat jy saam met my daar moes wees.

Vir jou is die lewe Christus,

 ʼn lewe en liefde wat nog in ons almal voortleef,

ʼn lewe wat in Christus toegedraai is,

deur sy krag en met sy liefde geleef is.

ʼn Lewe wat die mooi van die skepping kon indrink soos nagmaalwyn

en jou verenig met God.

Uiteindelik kon Jesus ook die gebrokenheid van jou liggaam

in sy gebroke liggaam opneem en die wins van sy sterwe, jou wins maak.

Jy het gewaak en waggehou, mag die volgende nou vir jou waar word

 

Hond van God –

Hewitt Visser (Vader Bonaventure Hinwood)

geen jaghond nie

net ‘n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ‘n bidmatjie voor die stoel

Christo van Heerden – 20 Maart 2009

 

Fluisterende Gees

Written by Christo van Heerden on . Posted in Skryfsels

Ek het hierdie al begin skryf tydens die vorige Algemene Sinode, maar dit toe eers later voltooi. Wat maak van die kerk, kerk?

 

Miskien klink hierdie vreemd op jou oor

maar kan jy my hoor?

kan jy saam luister

na wat die Gees vir ons fluister

kan ons maar saam begin sing

kan ons hierdie lied na die strate toe bring

en as my Hallelujavoete die ritme verloor

kom neurie weer die deuntjie in my oor

laat ons van die liefde sing

wat weer nuwe lewe in dowwe oë bring

 

As jy my uit die oog verloor

luister asb of jy my liedjie hoor

dalk sal jy my vind

waar ek kniel by ‘n verlate kind

waar hy in wanhoop en honger

dalk oor my liedjie wonder

as ek dalk langs die pad stil raak

is dit waarskynlik net te rou

die seer en die pyn

van ‘n mishandelde vrou

dalk het die woorde gestaak

toe sy hoopvol aan my raak.

 

Begin asb weer saggies sing

oor die hoop wat ons wil bring

ons moet die liefde wyer laat kring

laat ons weer ons lied na die strate bring

laat ons weer begin stap

al is die skote besig om rondom ons te klap

Ja, soms noem jy my Modern, Pre-Modern, selfs Primordiaal

maar onthou asb, Hy het ook vir my betaal

so laat ons eerder luister

wat die Gees nou vir ons fluister.

 

Soms sal die ritme versnel

sal die nood ons almal ontstel

die dromme sal al harder speel

die boosheid raak te veel

en as  ek die spoor verloor

kom neurie weer die deuntjie in my oor,

maar sal ons Hom hoor in die teologiese debat

waar elkeen sy opinie die hoogste skat

daar ons hoor Hom soms baie sleg

al dink ons almal  ons is reg

daarom  ek wil jou vra

Om my in liefde te verdra.

 

Die Gees sal oor die hart streel

wat met ‘n weeskind speel

maar terwyl ons praat en praat

en praat en praat en praat

is ons lied stil op die straat

en die Gees wat ons wys wat liefde is

word effektief deur die kerk geblus

So ek wil jou vra

as ek so swaar aan my dogma dra

wanneer ek ophou om sy stem te hoor

kom neurie weer die deuntjie in my oor

sodat ons harte kan oorloop en juig

terwyl  ons saam oor die krag van die opstanding getuig.

 

Ja, dalk klink dit vreemd op jou oor

maar kan jy ook die pyn en verlorenheid hoor

kan jy saam met my luister

na wat die Gees nou vir ons fluister

Ons moet die wêreld,

al is hul ook hoe verward

aan die Liefde bekendstel,

die onmeetlike diepte van God se hart

kom ons volg die Gees se beweging

kom ons laat die liefde uitkring

kom ons laat die lig skyn

sodat die duisternis kan verdwyn.

 

Kan ek jou vra

om my nog een keer te verdra

maar kan jy nog sy lied hoor

volg ons nog steeds in sy spoor?

Christo van Heerden