Author Archive

Die vorming van Geestelike leierskap vir Gemeentelike Bediening in die Suider-Afrikaanse Konteks

Written by Frederick on . Posted in GKS

 

2.    Die behoefte aan ‘n fokus op die vorming van geestelike leierskap vir gemeentelike bediening in die SA konteks
In die diskoers rondom teologiese opleiding neem die belangrikheid van ‘n fokus op karaktervorming van die student met ‘n fokus op gemeentelike bediening, toe. In 1999 skryf Robert Banks: “While most seminary teachers recognize that moral and spiritual formation begins at home and congregations, and continues in other contexts alongside seminaries, and develops afterwards in various ministry settings, there is ‘n growing concern that it must be an intentional part of seminary training, both inside and outside the classroom” (1999, 25).
Die dringendheid van hierdie saak vir denominasies waar studente aan universiteite opgelei word, is beklemtoon in ‘n onlangse studie deur Marilyn Naidoo oor die geestelike vorming van studente. Sy kom tot die volgende gevolgtrekking:
On the other end of the spectrum, the institutions with the highest scores (showing lower agreement with the spiritual formation) for all five factors were the Presbyterian and Reformed. Both denominations train in a university faculty and this formational mandate may clash with the focus of critical scholarship offered at universities. This finding highlights that a university setting presents more challenges in implementing a spiritual formational mandate. It would be difficult to seek to instil a specific habitus among theology students in a university classroom where similar ecclesial backgrounds or at least shared vocational trajectories cannot be assumed. The intention of spiritual formation may also be obscured by university accredit¬ation demands, the compartmentalization of theological disciplines and the marginalization of spirituality in die life van die university.
(‘n Empiriese studie oor geestelike vorming by Protestantse teologiese opleidingsinstansies in Suid-Afrika, aanvaar vir publikasie in Theology and Religion.)

Western Seminary in Michigan, VSA, het op hierdie behoefte gereageer met ‘n program getiteld Formation for Ministry (Vorming vir Bediening). Die VGK se eie beleidsdokument van 1997 oor teologiese opleiding, stel die doel van teologiese opleiding soos volg “…(is) om kandidate geestelik, intellektueel en prakties te vorm en toe te rus vir hulle diens in die kerk van Jesus Christus” (Acta 1997:718ff). In 2008 word bedieningsvorming eksplisiet omskryf: “Ministry formation, under die guidance of the Holy Spirit and for the glory of God, shapes leaders within URCSA by equipping them spiritually, intellectually and practically to serve the coming of the Kingdom of God in Southern Africa” (P 513 van Agenda). In the comprehensive work about theological training by Charles Foster et al., one of the distinctive challenges of clergy education is viewed as “The Pedagogy of Formation” (2006, pp100-127).

Daar is min twyfel dat die vormingsaspekte van teologiese opleiding sentraal behoort te staan in ‘n visie vir kerklike  bedieningsvorming. Dit sal die deurlopende tema en doel wees van die aanbevelings in hierdie memorandum.

3.    Die onderskeid tussen akademiese en kerklike vorming
Die memorandum lewer ‘n pleidooi dat ons beide akademiese opleiding én geestelike vorming in ‘n interafhanklike maar kreatiewe spanning met mekaar handhaaf.

Om hierdie spanning te verstaan, moet ons die onderskeid tussen akademiese opleiding en  bedieningsvorming, uitklaar.

•    Die kerklike bedieningsvorming van studente konsentreer veral op die vorming van geestelike leierskap binne die konteks van gemeentelike bediening. (Die voorstel is dat hierdie fokus toegepas word deur ‘n VGK- en NGK-Seminarie of ‘n Skool van Gereformeerde Teologie.)

•    Die akademiese opleiding van die Fakulteit Teologie volg ‘n ensiklopediese benadering wat aan studente akademiese opleiding bied in die verskillende teologiese dissiplines (Fakulteit Teologie).

Hierdie twee vormingsmodi behoort as komplimentêr beskou te word. Die akademiese opleiding van die Fakulteit voorsien die “boustene” vir die vorming van gemeentelike predikante in die SA-konteks en behoort in sinergie met  kerklike vorming ontplooi te word. Aan die ander kant sal die Seminarie se vormingsprosesse daartoe bydra om studente in staat te stel om hulle akademiese opleiding te optimaliseer. Die ideaal sou wees dat ‘n student gelyktydig geregistreer is by die Seminarie vir ‘n “Diploma in Kerklike  Leierskapsvorming” en by die Fakulteit Teologie vir akademiese kwalifikasies (BTh en MDiv).

4.    Kerklike vorming as ‘n Reis
a.    ‘n Vormende reis met mylpale:
Kerklike opleiding is die vorming van geestelike leierskap met ‘n fokus op gemeentelike bediening. In hierdie vormingsprogram onderneem die student ‘n “reis” met verskillende mylpale wat interafhanklike areas afbaken. Die reis word onderneem binne die konteks van ‘n gemeenskap van ondersteunende verhoudings, soos hieronder verduidelik word. Die program sal gemeet word volgens die behoeftes van die verskillende kerke vir aanvullende teologiese opleiding, wat byvoorbeeld die 100-uur riglyn van die VGK insluit.

Mylpaal 1: Roepingsontwikkelingplan

1.    Persoonlike volwassenheid en emosionele intelligensie: Tydens die eerste jaar voltooi studente ‘n reeks psigometriese toetse om insig in hul persoonlike samestelling te verdiep en om areas te identifiseer wat ontwikkel  kan word.

    Hierdie insigte word deurgevoer na vormings-, en indien nodig, terapeutiese prosesse, om die student se kapasiteit vir persoonlike groei en verrykte emosionele intelligensie uit te bou.

2.    Roepingsvorming: Tydens die eerste jaar neem studente deel aan ‘n Roepings-retrait, met die doel om hulle ‘n sin vir roepingssidentiteit te help ontwikkel. Die retrait dien ook as beginpunt vir ‘n voortgesette reis van roepingsontwikkeling deur die loop van die hele program.

3.    Geestelike vorming: Alle jaargroepe neem jaarliks deel aan ‘n gefokusde program van geestelike vorming waarin geestelike dissiplines in groepe beoefen word, onder toesig van ‘n geestelike mentor. Hierdie 100 dae van geestelike vormingsseisoene eindig elke jaar met Paasfees. In hierdie program word basiese geloofsvormingsgewoontes beoefen en bemeester. Die moontlikheid van ‘n weeklikse Seminarie-Eucharistie, waar studente en dosente saam Nagmaal vier as ‘n geloofsgemeenskap in die Seminarie-Kapél, kan ook oorweeg word.

Die persoonlike, geestelike en roepingsvormingsprogramme van die eerste twee jaar bied aan die student die inligting en vaardighede om ‘n Persoonlike Roepingsontwikkelingplan te ontwikkel. Die ontwikkeling en voorlegging van so ‘n ontwikkelingsplan geskied onder leiding van die Ondersteuningskomitee van elke student. Die plan word voorgelê vir goedkeuring teen die einde van die tweede jaar.

Mylpaal 2: CREDO

1.    Identifisering met gereformeerde teologie en tradisie: Kerklike opleiding het ten doel om studente te skool om te identifiseer met die gereformeerde teologie en ‘n tuiskoms in die gereformeerde kerktradisie. Dit sluit in kennis van die inhoud en geskiedenis van die vier Belydenisse van die twee kerke.

2.    Bybel/teologiese integrasie en die vorming van ‘n eie teologiese taal  wat toepaslik is die konteks: Die Fakulteit dra verantwoordelikheid vir die professionele akademiese opleiding van studente. Kerklike opleiding is gefokus op die integrasie van hierdie kennis met ‘n eie “taal”. Geestelike leiers moet in staat wees om ‘n boodskap te formuleer met hulle eie geloofs- en teologiese taal. Daarvoor benodig hulle ‘n begrip vir die “plot” van die Evangelie en moet hulle dit kan assimileer in ‘n taal en leefstyl.  
In die strewe na hierdie ontwikkeling moet elke student ‘n CREDO skryf waarin hulle akademiese kennis geartikuleer word in hulle eie persoonlike teologiese taal. Die CREDO moet voorgelê word vir goedkeuring aan die einde van die vierde jaar. Die ontwerp van die CREDO is nie ‘n werkstuk wat met verwysings na akademiese bronne opgestel word nie, maar eerder ‘n uitdrukking wat die student se ervaring in die bediening in eie persoonlike teologiese taal verwoord.

    Mylpaal 3: Persoonlike bemeestering van bedieningsvaardighede
Daar word deurlopend aandag gegee aan die praktyk en bemeestering van basiese bedieningsvaardighede. Die gemeente en mentor aan wie ‘n student toegewys is, doen verslag oor die student se ontwikkeling en bemeestering van hierdie basiese vaardighede. Die huidige program van denominasionele opleiding en die studente se eie beroepsontwikkelingsplan sal rigtinggewend wees aan die omvang van hierdie vaardighede. Dit sal die huidige program van bepaalde “weke” vir denominasionele opleiding omvorm tot ‘n meer deurlopende praktyk van bedieningsvaardighede en lei tot ‘n program van persoonlike bemeestering.

    Mylpaal 4: Ontwikkeling van ‘n nuwe missionale bediening

Kontekstuele en missionale bedieningskapasiteit: Die vorming van geestelike leierskap vereis ook dat studente die vermoë ontwikkel om hulle kontekste met oordeel te lees en in die nadenke daaroor  koninkryksgeleenthede te onderskei. Dit beteken dat hulle deeglike blootstelling aan die SA konteks sal moet kry, en dit met insig geloofsonderskeidend te kan analiseer. In die vyfde en sesde jare identifiseer studente ‘n “koninkryksgeleentheid” in die konteks. Tydens dié twee jare ontwikkel hulle ‘n nuwe bediening op so ‘n wyse dat die projek daarna onafhanklik kan voortgaan. Hierdie bedieningsontwikkeling mag nie slegs die handhawing van ‘n bestaande bediening in die gemeente wees nie, maar moet die vestiging van ‘n nuwe bediening behels. (In die MBA-omgewing byvoorbeeld, word studente aangemoedig om ‘n “new start-up” te ontwikkel.) Die verslag hieroor moet voorgelê word vir goedkeuring aan die einde van die sesde jaar vir NGK-studente en aan die einde van die vyfde jaar vir VGK-studente. Dit moet beskou word as die “sluitsteen” of voltooiingsprojek wat die vormingsprogram as geheel afsluit en integreer, soos by Northern Theological Seminary.

b.    Die Reis van Bedieningsvorming vind plaas binne ‘n gemeenskap van onder-steunende verhoudings

Vorming vind primêr plaas in vertrouensverhoudings. Met verloop van die vorming van geestelike leierskap ontwikkel die student die volgende verhoudings:

•    Gemeentes: Elke student is word geplaas by  ‘n gemeente. Fakulteitswerk diensleer-werkstukke kan ook in hierdie gemeentes gedoen word. Die gemeentes verskaf die basiese konteks waarin geestelike leierskap ontstaan en gevorm word. Die Seminarie onderhandel met gemeentes om te funksioneer as opleidingsgemeentes, soos daar onderwyshospitale is vir mediese opleiding.
•    Mentors: Elke student word toegesê aan ‘n predikant of kerkleier wat optree as mentor en met wie hy/sy gereeld, verkieslik weekliks, konsulteer.
•    Dosenterade: Dosente wat op Rade van die VGK/NGK dien, skakel ook met studente.
•    Medestudente: Studente ondersteun mekaar in ondersteuningsgroepe. Hierdie groepe is ook aktief tydens die 100 dae van geloofsvorming.
•    Ondersteuningskomitees: Elke student het ‘n ondersteuningskomitee wat bestaan uit sy/haar mentor, ‘n fakulteitsdosent, ‘n medestudent en ‘n uitvoerende lid van die Seminarie. Die komitee vergader een maal per kwartaal om die student se vordering te bespreek in terme van die mylpale.

c.    Aanspreeklikheid van die student

Studente is aanspreeklik vir hulle eie ontwikkeling in die nastrewe van hierdie mylpale – met die ondersteuning van bogenoemde verhoudings.

5. ‘n Seminarie vir Bedieningsvorming
Kerklike vorming behoort institusioneel opgeneem te wees binne ‘n “seminarie” wat die kerk se tradisies, ritmes en uitkomstes beliggaam. Die aanbeveling is dat die “Kweekskool” “her”-stig word volgens die voorbeeld van die Northern Theological Seminary van die VGK in Pretoria. So ‘n Seminarie sou funksioneer as ‘n kerklike-instituut onder supervisie van die Kuratoria van die VGK en NGK en akademies geakkrediteer word met die Fakulteit Teologie in ‘n Skool van Gereformeerde Teologie (waarvoor die Fakulteitsregulasies voorsiening maak). Die Seminarie behoort méér te wees as ‘n administratiewe skakel tussen die denominasie en die studente. Dit moet ‘n ruimte wees vir vorming. Die bedienings¬vorming wat hierdie memorandum voorsien, kan nie plaasvind in ‘n administratiewe verhouding met studente nie. Die studente moet geborge en veilig voel voordat sulke vorming kan plaasvind.
Die Kuratoria dien as bestuursliggaam van die Seminarie en stel “personeellede” aan vir die Seminarie:
Die “personeel” van die Seminarie kan die volgende rolspelers behels:
•    Die Kuratoria skakel met predikante in sinodale diens en/of gemeente-predikante omtrent dienslewering in die Seminarie in ‘n deeltydse hoedanigheid.
•    “Opleidingsgemeentes” word geïdentifiseer en gekontrakteer om as konteks te dien vir bedieningsvorming.
•    Mentors word opgelei en gekoöpteer.
•    Administratiewe personeel van die Kuratoria bied bestuurs- en administratiewe dienste aan die Seminarie.

6.    Moontlike volgende stappe
•    Die Kuratoria oorweeg, verbeter en keur die memorandum as ‘n raamwerk vir die implementering van die program vir Aanvullende Denominasionele Opleiding.
•    Die Kuratoria stel ‘n taakspan aan om die aanbevelings te implementeer en terug te rapporteer aan die Uitvoerende Komitees van die Kuratoria.
•    Die Seminarie word gestig in November 2011 tydens ‘n gesamentlike sitting van die Kuratoria
•    Eerste studente registreer by die Seminarie: Januarie 2012

 

Bibliografie:
Banks, Robert, Reenvisioning Teologiese Opleiding, Eerdmans 1999
Foster, Charles R (ed), Educating Clergy, Jossey-Bass 2006
Naidoo, Marilyn, An empirical study on spiritual formation at Protestant theological training institutions in South Africa (goedgekeurde artikel vir publikasie in Religion en Theology)
Western Theological Seminary, Formation for Ministry

Seminarium kalender Eerste semester 2012

Written by Frederick on . Posted in Seminarium

Seminarium kalender vir jaargroepe 1 en 2

1.    26 Jan -3 Febr: Eerstejaars verwelkomings/orienteringsweek.
2.    26 Jan-1 Febr  Verwelkomingsprogram van Studente by Fakulteit Teologie
a.    26 11:30 Dekaan ontmoet eerstejaars en ouers kuratoria lig ouers in oor Program in Bedieningsvorming.
b.    31 jan 12:30-14:00 Kuratoria ontmoet Eerstejaars
3.    2012 Inskrywing voor of op 6 Febr:   Eerste en tweedejaars skryf in vir Program in Bedieningsvorming by die Seminarium op of  voor 6 Febr 2011. Teologiese Dag 6 Febr:   Begin van klasse
4.    Kerklike opleiding vir 2012 se Derde-, Vierde- en Vyde-jaars volg die huidige program in Kerklike opleiding. Studente uit hierdie jaargroepe wat wil inskakel by die 60dae spiritualiteitsgroepe is welkom.
5.    Eerste en Tweedejaars: Roepingsvormingskamp  10-12 Febr 2012
6.    13 Febr-8 April 60dae geestelike vormingsgroep en individuele in-oefening loop tot Pase (8 April)
7.    Koppeling aan gemeentes:
a.    2012 se eerstejaars word in die Tweede kwartaal gekoppel aan Opleidingsgemeentes
b.    2012 se tweedejaars word reeds aan die begin van die jaar gekoppel aan ‘n Opleidingsgemeente en ‘n mentor. Daar word verwag van studente by die Seminarium verwag om jaarliks ten minste 100uur praktiese dienswerk in gemeentes te doen.
c.    Die diensleer van die Fakulteit sal in hierdie Opleidingsgemeentes plaasvind.
8.    Koppeling aan ‘n mentor:
a.    Studente kry elkeen ‘n mentor (leraar uit die kerk) met wie die student gereelde geprekke sal voer en prosesse deurloop.
9.    Uitreik: Eerstejaars gaan in Junievakansie (of neem deel aan ‘n uitreik wat deur die loop van die jaar plaasvind) op ‘n uitreik saam met hulle gemeente of ‘n ander gemeente van keuse
10.    Tweede Roepingsvormingsweek 16-23 Julie 2012

Die angs van die ewige prediker in ons

Written by Frederick on . Posted in Padlangs met gemeentes

Ek het die afgelope week Week van Gebed gehou in die Baai. Ek was van die begin af vasberade om nie te preek oor gebed nie, maar om in die week vir ‘n slag saam met mense te bid. “ Ons kan maar 20-30 wees” , stel ek die leraar (en myself) gerus, ek gee nie om nie, “ solank ons net die geleentheid gebruik om ‘n paar mense in die gemeente te leer om te bid.”

Van die eerste aand af is ons verras met die hoeveelheid mense wat kom en die klomp jong mense wat deelneem. Ons sit om tafels en stap vir stap oefen ons die gebed van die hart nie. Die ritme is eenvoudig. Ons doen die gebedsoefening van die aand klein treetjies soos om net asem te haal, reflekteer dan daaroor in groepe en dan sluit en die aand af met ‘n 3min van praktyk wenke en die gebedsopdrag vir die volgende dag.

Die gehoor reageer bo verwagting, hulle is gemotiveerd en doen die opdragte stiptelike, praat openlik oor hulle gesukkel om stil te word, probeer weer. Teen die drede aand begin die deurbrake te kom, mense begin spontaan te vertel van hulle diep konneksie met hulself en met God. “Ek wou net 10 minute stil word en toe word dit sommer ‘n halfuur”, vertel ‘n man van in die sestig. Dit is duidelik nuwe grond vir baie, maar hulle gaan dapper voort om die nuwe geloofsdissipline aan te leer….én steeds groei die groep.

In my is daar ‘n stryd wat afspeel. Ek ken die teorie van bemagtiging baie goed, minimum kennis, konkrete “ ant-steps”, herhalende inoefening, refleksie oor die praktyk, weer minimum kennis, konkrete “ant-steps”, weer inoefen, refleksie waarin die groep die pas bepaal. Hoeveel keer het ek dit nie al vir dominees probeer leer nie? Nou moet ek ditself doen en ek sukkel! Daar is ‘n verstekposisie in my wat my die hele tyd laat voel ek doen iets verkeerd ek behoort meer te praat en darem so tussendeur te preek ook.

Ten spyte van al die wonderlike terugvoer én die groeiende getal by ‘n Week van gebed! stoei ek die hele tyd met die stem in my wat wonder of ek nie darem maar meer moet verduidelik, so ‘n paar teorië oor gebed moet bysit, Eugene Petersen moet aanhaal nie. En toe tref dit my, ek is vervorm deur leermeesters wat my met woorde gevorm het, vol teorie gepomp het. Ons het ewig oor die teorie en selfs die praktyk gepraat- verstaan my reg meestal was dit goeie goed. Ek is byna nooit gevorm deur geloofs-afrigters wat my toegelaat het om self te probeer, in te oefen totdat ek die praktyke van die geloof kon bemeeester nie. Ons het byna altyd net oor die goed gepraat en dit weinig gedoen. Dit is waar my angs le.

Dit was ‘n wonderlike week, hande vol mense is diep geraak, ek wil selfs sê gevorm. In baie  gevalle het mense vir die eerste keer in hulle lewe geleer om in stilte op die Here te wag. Van almal is ek die een wat die meeste geleer het. Vir een keer kon ek die ewige prediker stil maak en geduldig saam met mense wag dat die deurbrake in hulle gebeur. Dink net wat ons alles sou gemis het as ek sou toegee aan die ewige prediker in my?

Dankie Eugene en Heinrich, julle was twee leermeesters vir my hierdie week.

Postmoderne mense is nie meer kwaad nie

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Ek dink daar is nog twee draaitjies wat ons kan byweef om die prentjie duideliker te maak. Ons sit aan die een kant ook met verskillende generasies in ons kerk. Boomer leraars sowel as lidmate by wie die gereformeerde tradisie en orde baie sterk figureer. Dit is ‘n kosbare skat wat, ten regte, bewaar moet word. Hulle het ‘n mooi en sterk lojaliteit teenoor die kerkverband en tradisie.  Aan die ander kant sit ons met X’ers en die generasie daarna wat baie meer pragmaties is en by wie die Gereformeerde tradisie nie so ‘n sterk rol speel nie. Hulle is lojaal tot die verhoudings wat hulle bou en nie die denominasie of tradisie nie. Hulle vra baie meer na die ortopraksie as na ortodoksie van geloof,- ‘n uitgangspunt wat nie gemaklik pas binne die gereformeerde teologie nie.

‘n Tweede draaitjie wat ek wil byweef is die skuif in die tydsgees. Ons kerk se DNA word gevorm binne die Modernisme. Ons skryf antwoorde op modernistiese vrae en ons liturgie is ingerig vir ‘n moderne mens. Nou word daar Postmoderne vrae aan ons gevra deur postmoderne mense in ‘n Postmoderne omgewing. Die ortodoksie wat vir ons so belangrik is, wat ons gehelp het om ‘n nuwe weg te baan na die reformasie, word bevraagteken en bevredig nie meer geestelik honger harte nie. Dit is dalk tyd dat ons weer Dawid Bosch en Lesslie Newbigin deeglik gaan lees. Hulle het hierdie uitdagings lank voor ons reeds raakgesien. Ryan Bolger (prof. by Fuller) maak ‘n interessante opmerking in ‘n onlangse onderhoud (http://vimeo.com/couchmode/33500507) , hy noem dat die Postmodernisme gevolg word “Global information culture” of “Participatory culture” wat gedra word deur die vooruitgang in kommunikasie tegnologie. Hierdie generasie is nie net gebruikers van inligting en kennis nie, maar is besig om inligting en kennis te skep, hulle neem deel. Hulle wil ook deel wees van ‘n Open Source kerk waar hulle help om die liturgie te skep en die teologie te vorm. Hulle wil deelneem aan die skep van geloofsbelydenisse wat kontemporêr en relevant is.

Ek dink egter dat ons nie moedeloos moet wees oor die uitdagings van ‘n Postmoderne wêreld nie. In Brittanje sien ek tekens wat my opgewonde maak. Die kinders van geharde ateïste en agnostici begin weer vra na geloof. Hulle is twee generasies verwyderd van geloof en die kerk, die struwelinge van die verlede leef nie meer sterk in hulle nie. My jongste dogter(9) vertel die vakansie van ‘n insig wat sy en haar twee boesemvriende in ICT (godsdiensonderrig) gehad het. Hulle het besef dat dit eintlik “baie strange is dat hulle drie vriende is, want, sê sy: “Max is nonreligious, Imogin is Catholic en ek is Christian” (Verskoon haar taal en teologie – die Engelse omgewing laat maar sy merke, maar ons werk aan albei!). Geloof is weer op die tafel, die geharde aggressiewe Rickard Dawkins generasie is aan die uitsterf. Hulle kinders en kleinkinders is nie meer kwaad nie, maar hulle soek sin in die lewe  en antwoorde vir hulle vrae.  Is ons reg om dit vir hulle te gee? 

Onder wie se tafel stoot Gereformeerdes hulle voete in?

Written by Frederick on . Posted in Transformasie

Ek skryf hierdie waarnemings terwyl ek Antjie Krog se Begging to be Black (lees ‘n opsomming van die boek hier) (lees ‘n opsomming van die boek hier) lees, en my verlustig aan hoe sy die Berlynse kultuur kontrasteer met die turbulensie van die post-apartheid kultuur in Suid-Afrika. Aan die een kant is sy onverwags tuis in die ge-ordendheid van die Duitse kultuur, terwyl sy aan die ander kant haar onlosmaaklik deel voel van Suider-Afrika se choas. Christo, die vraag is:Hoeveel van wie ons is, is gevorm deur die evangelie, of as jy wil deur die gereformeerde verstaan van die evangelie, of sommer net deur ‘n christelike verstaan van die lewe. En hoevel van wie ons is is gevorm deur die Noord-Europeses kultuur van die Nederlande en Duitsland, met ‘n duidelike ge-ordende uitkyk op die lewe.

Ek voeg ‘n eie staaltjie by die van Krog. Twee jaar gelede is ek en kollegas by ‘n konferensiesentrum van die PKN in Hydepark naby Zeist in Nederland. Ek bied ‘n kursus aan en meeste van my SA kollegas woon die kursus by saam met Nederlandse kollegas. Eeen woon ‘n ander kursus by. Die etes is netjies gereel, elke kursusgroep sit aan hulle eie tafel. Een SA’er is egter lus om met ‘n ander groep te eet en gaan sit aan hulle tafel. Met middagkoffie kom een van die Nederlandse kollegas en verklaar: Daar is spanning aan de Hydepark deze week! Na ‘n lang verduideliking begryp ek dat omdat een van die SA’ers by ‘n “verkeerde” tafel gaan sit het, het dit die Nederlanders onverhoeds betrap en het dit ‘n domino effek van onsekerheid regdeur die eetsaal van verwarde Nederlanders wat-nie-weet-presies-waar-hulle-moet-gaan-aansit-nie, veroorsaak. Toe ek die SA groep nader roep en betig- bars hulle onbedaard uit van die lag- en vergroot so my moeilikheid. Ek vertel die verhaal gereeld om die verskille in kulture te verduidelik en vind dat sommige Nederlandse kollegas dit nie as ‘n grap sien nie maar nog ‘n keer wil verduidelik waarom elke cursis tog maar aan die regte tafel moet sit.

Ek dink die vraag is onder wie se tafel stoot die gereformeerde tradisie haar voete in!! Wat dra ons in ons gemeentes oor, die DNA van die Noord-Europese ge-inkulturaliseerde evangelie, of het ons al ons voete onder die tafel van Afrika ingestoot? Ek dink ons is besig daarmee, soms vinniger as wat ons besef is dit eintlik met ons aan die gebeur, ons moet dalk net meer bewustelik daaroor wees. Dit is eintlik die punt van die Gosple and our culture beweging wata uit die toelogie van Newbigin ontstaan het.

Jy kan natuurlik nie ‘n gemeente wees sonder om jou voete onder die heersende kultuur se tafels in te stoot nie. Die wat dit ontken val dikwels die meeste ten prooi van daardie kultuur.

Christus as seën

Written by Frederick on . Posted in Preekstudies

Mag Jesus Christus self teenwoordig wees in jou lewe

en mag die wyse waarop Hy Homself openbaar het,

as volg seën bring in jou lewe…

  • mag Hy – as Immanuel – altyd God by jou wees;
  • mag Hy – as Jesus – jou verlos en vry maak;
  • mag Hy – as Vredevors – aan jou ware rus en vrede gee;
  • mag Hy – as Herder – jou versorg en na groen weivelde lei;
  • mag Hy – as Brood van die lewe – jou diepste honger stil;
  • mag Hy – as Lig vir die wêreld – jou lewenspad verlig;
  • mag Hy – as die Woord – jou iets van God se genade laat insien;
  • mag Hy – as Seun van God – jou van die Vader se liefde leer, en
  • mag Hy – as Gewer van die Gees – jou, deur die Gees, help om passievol te leef en lief te hê
  • Mag jy in Christus ‘n geseënde Christus-fees-tyd beleef.

    (Gerrie van Deventer – by Kerssangdiens 27 Nov 2011)

    Motivering:

    Miskien sou mens o.g.v. 2 Petrus 1:3-4 en Johannes 1:1-16 kon sê dat God in Christus Sy grootste seën gegee het, en dat ‘n mens in die Jesus-pakkie “al die kosbaarste en allergrootste gawes ontvang het” . Hierbo het ek sommer net iets daarvan in Sy selfopenbaring probeer saamvat.

    Zuma ontken die vrug van medemenslike Christene

    Written by Frederick on . Posted in Menswaardigheid

    Christene kan mense se harte verander en aan hul waardigheid gee. Die politieke kommentator Matthew Parris se artikel “As ateïs glo ek werklik Afrika het God nodig” (By van 21.2.2009) gee uit ‘n verrassende oord ‘n baie positiewe getuigskrif oor die Christelike geloof se impak op Afrika. Hy het as oortuigde ateïs onder die indruk gekom van die “enorme bydrae wat Christelike evangelisasie in Afrika lewer: dit is radikaal anders as die werk van sekulêre nie-regeringsorganisasies, regerings projekte en internasionale hulp pogings. Sulke pogings alleen werk nie. Opvoeding en opleiding alleen werk nie. In Afrika verander die Christelike godsdiens mense se harte. Dit bring geestelike transformasie. Die wedergeboorte is werklik.” Dis die vrug van die Christelike geloof: dienende medemenslikheid!

    Ons leef in ‘n wonderlike tyd. Daar is ‘n nuwe entoesiasme vir geestelike diepte in die Christelike geloof. ‘n Eietydse, verantwoordelike manier van glo, vernuwing en gestuurdheid is aan die ontwikkel . Dis nie orals aanwesig nie en ook nie noodwendig tot die kerk beperk nie.

    Medemenslik

    Dis hoog tyd om dit hardop te sê: “Baie Christene is medemenslik, het deernis en stry vir reg en geregtigheid”! Hulle is besorg oor die welwese van die fauna en flora op die aarde, erken hul afhanklikheid van die natuur en ondersteun volhoubare en eko vriendelike ontwikkeling. Hulle waardeer die ontwikkeling van die wetenskap. Hulle respekteer mense met ander geloofsoortuigings en sal as gelykes in gesprek met hulle tree. Hulle is gelowiges wat nie dogmas op ander afdwing nie. Hulle deel ‘n gemeenskaplike menslikheid met ander en word nie deur die verskeidenheid en andersheid van ander bedreig nie, maar ervaar dit as verrykend. Hulle streef daarna om humaan op te tree, hulle erken die regte en vryheid van ander mense en ondersteun met ander belange-groepe ‘n vry en demokratiese wêreld. Hulle is Christen humaniste. (John de Gruchy, 2006. Being Human – Confessions of a Christian Humanist)

    Apartheid

    Die oudste kerk in die land, die NG/VG Kerk het in samewerking met ander geloofsgemeenskappe steeds baie te bied. Die spirituele diversiteit onder eie geledere; die nuwe politieke klimaat in die land, en die kulturele andersheid onder die inwoners daag nie net die oudste kerk uit nie, maar alle geloofsgemeenskappe om nie ter wille van hulself en hul eie ideale te bestaan nie. Dis wat Christelike medemenslikheid beteken.

    Christene is in staat om met ander geloofsgemeenskappe versoenend te leef en geregtigheid te internaliseer en ander daarmee te bedien. Gelowiges is goed om mense met verskillende fisiese en emosionele seer pastoraal te ondersteun. Die herstel van menswaardigheid en geregtigheid geniet heelwat prioriteit.
    Dit is so dat beginsels, waardes, oor dit waarin mense glo en nie glo nie vir Christene belangrik is. Maar die Christelike geloof gaan oor meer, oor menswaardigheid, medemenslikheid, verlossing wat gelowiges nie meer godsdienstig maak nie, maar meer volledig mens maak.

    God word deel van die mensheid

    Dit is die nuwe mensheid van Christene wat ‘n erkende ateïs soos Parris raak en ‘n verskil in ‘n onmenslike samelewing maak. Dié mensheid van die Christelike geloof bepaal die waarde wat die Goddelike oorsprong definieer. God word deel van die mensheid en deur Christus kry die mense deel aan die Godheid. God word sigbaar deur ‘n mens en deur die mens se lewe word God sigbaar, som myns insiens die Evangelie in ‘n sin op. Dis veral in hierdie Kerstyd dat ons hiervan bewus is. Daar is dokters, verpleegsters, sielkundiges, beraders, onderwysers, gemeenskapswerkers, regslui wat onder haglike omstandighede op grond van hul Christelike geloof wêreldwyd mense dien. Nelson Mandela is ‘n Christen humanis. Hy was tydens sy studente jare aan die Universiteit van Fort Hare lid van die Studente Christelike Vereniging. Hy het Bybellesse aan mense in gehuggies gegee.

    Dis veral Christene en ander gelowiges wat weggooikinders en vergetebejaardes se waardigheid herstel. Ons kan gerus erkenning gee aan die verskil wat Christene aan mense se waardighed bring.

    Vee eers voor jou eie deur

    Dis jammer dat dat daar ouetehuise en kinderhuise is, dit is gewoonlik te geïnstitualiseerd en onpersoonlik. Wat moet ons doen as daar nie ‘n heenkome vir duisende noodlydendes en verstotelinge elders is nie, en mense boonop meer selfsugtig en geldgierig raak? President Zuma soek die oorsaak by die verkeerde plek, hy moet dalk eers voor sy eie deur vee, sy werf lê waarskynlik vol beendere van sy vorige feeste.