Author Archive

Ook geluister na Ps 8

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

Psalm 8, God se poëtiese Woorde, draai my voete vanoggend ten minste oor twee dinge op die pad agter Hom [sy Koninkryk] aan. Uit myself sou ek nooit hiertoe wil omkeer; koerskry nie:

* Ons lewe maak net sin as alles daarvan; alles ewe belangrik in en om ons, net oor Hom gaan — aanbidding en lof!
* En wat is ‘n Bybelse manier om Hom só singewend in die erediens die week te loop prys, te loof en te aanbid?

Dis moeilik om verby die bedoeling van Ps 8 te kyk as mens die begin en einde van die lied saam begin sing: Die digter loof, prys en aanbid God! Hy weet: Dit is die sin van almal se lewe!

Maar die lof, prys en aanbidding val nie sommer uit die lug nie. Ons aanbiddingsboek, die Psalms, val nie sommer met hierdie lof en aanbidding weg nie. Ons is by Psalm 8 en nie 1 nie. Hierdie ‘erediens’ vir God word nie opgewek en stemmingsvol gekry deur lofprysing en aanbiddingsliedere nie! Dis onmoontlik. Waarvoor sal God sommer só geprys wil word? Die Eerste Gemeente se voete is op die aarde. Dis ‘n harde, stukkende aarde vol wrede vyande; vir baie voel dit of daar nie meer ‘n God oorgebly het nie! [Ps 3]. Die aand- en oggendgebede [Ps 4 en 5] wat die ritme van die Hebreeuse [Bybelse!] skeppingsdag bely [“dit was aand en dit was môre”] vertel van dieselfde gevaarlike; uitmergelende pad wat God se mense elke dag agter Hom aan moet loop. Ps 6 en 7 smag en kla in dieselfde idioom, na redding; na uitkoms.

Elke keer, só weet die Ou aanbiddingsgemeenskap egter, val hulle gesmeek/klagtes om hulp op die moeilike pad agter God aan, nie op dowe ore nie. Die kyrie eleison waarmee die erediens vir God begin, word dus verseker deur God gehoor!

En nou maak Ps 8 onmiskenbaar duidelik Wie die Eerste Gemeente se ware hulp in hulle ellende is. Daar is geen twyfel nie. Dis die wonderbare, grote God, die Skepper en Onderhouer van almal en alles. Die Een wat gedurig [uit liefde] aan mens en skepping dink en hulle besoek. Niks en niemand kan ‘n moment sonder Hom lewe nie! Hy is wonderbaar! En het Hy ons nie Persoonlik besoek en sommer by ons ingetrek nie?! Dis daarom dat die gemeente so eg vanuit hulle sonde en ellende getysterde lewens agter God aan [Ps 3-7], uitbars om Hom te loof, te prys en te aanbid.

Ek sal dus hierdie week, hierdie orde van die Psalmboek-openbaring duidelik moet onthou as ons saam aan die diensorde werk. Die ou liturgië begin nie toevallig met die kyrie eleison nie; nie met ‘praise and worship’ nie!

En die crescendo van die pryslied vir God, styg na mate die gemeente daarin ontdek, dat hulle wat só sukkel; ellendig voel en is, verrassend, amper onmoontlik!! maar tog Goddelik waar, Sy spesiale aangestelde, uitgesoekte, verkose mede-werkers [ampsdraers] is; dat Hy hulle so hoog ag; dat hulle sowaar sy ‘gekroondes’ is, om namens Hom sy Skepping [alles omvattend] al dienende te versorg. Dis ‘n mondvol — maar dis dié mondvol wat sy mense nie anders kan as om ‘uit te bars’ van lof nie! En dit alles gee hoop. Lof en dank aan God maak sy mense bly en hoopvol. Dis die Evangelie!

Vir watter soort leierskap/gesagsuitvoering kies Salomo in 1 Konings 3?

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

* Die teksdeel hierdie week laat by ons geen twyfel hoe mense leierskap en gesag daagliks voor God behoort uit te leef nie.

* En Salomo kies wat God wil hê. Die Deutronomistiese geskiedskrywer maak seker dat ons dit nie dalk mis nie.

Die volgende praat duidelik met my:

– Salomo maak sy keuse in die raamwerk van aanbidding; van afhanklikheid; van oorgawe aan God [3:3-4 en 3:15]. Hy gee hom algeheel aan God oor. Hy bring duisend offers! Dalk 10x10x10= 3 keer volledig! En hierdie aanbidding word progressief intens [dalk beter?] want dit vorder van die twyfelagtige ‘hoogtes’ van aanbidding to in Jerusalem in die Tabernakel.
– In hierdie gees/gesindheid van aanbidding voor God, maak Salomo ‘n lewensbelangrik keuse. Hy kies teen die destydse [en huidige] vorms van leierskap/gesagsuitvoering: Hy kies teen mag [met sy liefling bedmaat geld] en die voorspoed/vooruitgang-kultuur [Deut 17:14-20].
– Hy kies daarvoor om net ‘n nederige slaaf-kneg van God te wees. Iemand wat soos ‘n kind [afhanklik] nie weet hoe om te maak nie[3:7]. En die uitstaande geaardheid van so ‘n nederige kind-kneg, is ‘n hart/gesindheid wat luister/gehoorsaam. Dit is wat wysheid is! So ‘n Kneg van God het eintlik net een posisie voor Hom: Luister fyn wat Hy sê en voer Sy plan uit [Die ‘kneg-wees’ wysheid wat 4 keer in die gedeelte herhaal word, is omtrent heeltemal wegvertaal in die huidige vertaling].

* Maar ons moet seker maak as ons luister. Salomo kies reg, maar binne ‘n breër raamwerk in die Koningsverhaal. [3:1 en 11:1-7]. Hierdie verhaal sê: Dis een ding om reg te kies; dis ‘n ander ding om dit reg uit te voer. En dis hier waar Salomo se dubbele hart duidelik word. Om net vir God te kies, is maar net nie menslik moontlik nie. Hy kies vir God maar hy maak sy koningskap in Israel eers ook stewig vas aan die leier-moondheid van die tyd, Egipte. En hy doen dit met ‘n gerieflikheidshuwelik. En al die ander kontrak-huwelike om die koninkryk van Israel nog stewiger uit te bou, wat volg, is uiteindelik Salomo se ondergang. Mens kan nie twee harte hê nie. Ons kan nie God en Mamon-Mag dien nie. Dit lei iewers tot vernietiging! Maar ai, lewenspolisse is tog noodsaaklik. Dit hou ons onaantasbaar!

* Daar is net een Koning wat radikaal vir God, sy Vader, gekies het: Jesus Christus — God se Kneg, wat niks gedoen het as Hy nie eers by sy Vader gehoor het wat Hy moes doen nie. Hy is regtig, regtig! ons enigste HOOP.

* Die verhaal spreek hard en duidelik binne-in die markplek in; alle vorme van regering; alle vorme van gesag, ook in 2009. Miskien moet ons die fynste in die kerk begin luister. Hoe lei dominees en ander gemeente-leiers? Hoe ‘belangrik’ is dit nie om by die ringsvergaderings, wat nou weer begin plaasvind, ‘n posisie-tjie te kry nie? En wat van ons sinodale leiers en al hulle magspeletjies, veral in die moderature? Word die Here se mense regtig gedien of nie? Dominees, is ons regtig die Here se knegte, ook as ons kerkraadsvergaderings lei en opdragte uitvoer? Is ons op ‘n baie fyn manier die hond wat die stert rondswaai of nie? Is ons “managers” in die gemeentes of sien die lidmate nederige diensknegte? Staan ons name op die gemeente-kalender heel bo; uitgesonder of sommer maar onder aan die lys van kerkraadslede? Onthou mense sien dieper as wat ons dink. En wat is die resultate hiervan oor baie jare?

Luister verder Joh 6:35-51

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

André, dankie vir jou besondere aanslag in die luister na die teks vir hierdie week. Die nagmaal-misterie het jou verseker aangegryp en jou bydrae help baie.

* Daar is egter ook ‘n ander misterie in die verhaal — God se uitverkiesing. Ongelukkig het die Revised Common Lectionary dit vir ‘n groot deel in ons luister na die verhaal uitgehaal — verse 35-40. Lina Hoffmann het dit ook nie aangeraak nie. Is dit dalk omdat dit te lastig vir moderne mense is? Onthou God se uitverkiesing maak mense magteloos gering! En moderne mense haat hierdie tipe ervarings!

*Nie minder as drie keer [dalk nie so vreemd vir Joodse luisteraars nie] word die misterie van die uitverkiesing in die verhaal herhaal. Dit is net diegene wat die Vader vir Jesus “gegee het” wat Hom “sien” en Hom “glo”. En dit is net die verkorenes wat die Lewensbrood eet en lewe!

* Ek reken hierdie verkiesende deel van die verhaal is juis die enigste bron van ware lewenskrag in die week se verhaal. Hierdie daad van God om sy mense na Hom te trek, is ons enigste ‘energie’ om Jesus te sien en Hom te glo en waarlik te lewe.

* En hierdie daad van God is die misterie van sy uitverkiesende liefde. Liefde wat nie spesifiek vir iemand kies nie bly vaag; is nie regtig vaste, betroubare liefde nie! Só, dat Hy op mense; sy mense “verlief” raak, en dan spesifiek kies, is die wonder van wonders. Verlief raak op gebroke sondaars! Die onmeetbaar grote God, ‘mal’ raak oor stippel-klein ‘stoffies’! Dit is Jesus van Nasaret in sigself! Wow!!

* Maar dis ‘n dubbele misterie. Dié op wie Hy “verlief raak” “sien” Hom en die vonk van wederliefde spring en hulle “glo” Hom.

* Om verlief te raak; om in liefde te “val” sal nooit verklaar kan word nie. Dis ‘n misterie. Niks kan dit ooit fabriseer nie. Dieselfde soort misterie dat ek en my vrou 47 jaar gelede op mekaar verlief geraak het en nog steeds in die liefde ‘gevalle’ is. Maar wat ‘n vreugde en energie om in die misterie te leef. Dit elke dag te eet en te drink …
Dis ‘n floue afskynseltjie van die misterie van God se liefde vir ons en ons wat Hom sowaar oor lief gekry het en Hom “eet en drink”.

Geloofsvorming

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

Dankie Jannie vir die saam luister wat jy aan die gang sit oor geloofsvorming.

Jou vertrekpunt dat die gemeente se geloofsvorming deur ‘n Persoon, Jesus Christus, plaasvind, artikuleer ek net bietjie meer. Dié Persoon is die Opgewekte Jesus, wat gekruisig is; die Lewende. Op die manier word ons dus genoop om weer na die opwekkingsverhale van Jesus in die Evangelies te luister om daarin te probeer hoor hoe Hy sy mense se geloof in die proses gevorm het: Geloofsvorming in die kragveld van Jesus se Opwekking uit die dood!

* ‘n Eerste ding wat ons in die verband, uit die verhale ontdek, is: Die Here se mense kon geen ‘greep’ op Hom as die Opgewekte kry nie. Hulle was meer in hulle “geloofsvorming” ‘gepuzzled’, as iets anders”. Terloops, die ‘gevegte’ oor die opstanding in die NG Kerk, is natuurlik direk ter sprake. In die verband skryf Eugene Peterson verhelderend, betreffende die kennis-aspek in die proses van geloofsvorming: “Two of our primary ways of dealing with reality are by understanding and by using. Understanding takes a new item of experience or information and makes sense of it by fitting it into all other things we already know. Using tests out the new experience or information in the actual routines of what can be or has to be done. But this resurrection is inaccessible to either of these. Understanding and using are displaced by sheer wonder, astonishment, amazement …” [Uit “Living the Resurrection”]

* Hieruit moet ons agterkom dat ons nooit in beheer van geloofsvorming, in die lig van Jesus as die Opgestane, kan wees nie. In dié verband is die volgende vir my rigtinggewend:

– Baie soorte ‘opwekkingsverhale’ het in die leefwêreld van Israel, en die hele wêreld van die Nabye Ooste, in die harte van die mense, in die tyd voor Jesus, geleef. Maar die dag toe God Hom tussen hulle uit die dood opwek, was die bes voorbereides heeltemal onkant gevang. Ons is nooit in ‘n posisie om te weet hoe geloofsvorming in die kragveld van die opgewekte Here plaasvind nie. Dit gebeur heeltemal buite die kategorieë van ons kennis, psigologiese ervarings en morele ingesteldhede. Hier is ook nie plek vir eksperte nie. Ons is en bly almal beginners in die buite-ons-beheer gebeure.
– Dit is ‘n verrassende openbaring dat die opwekkingsverhale fokus op Jesus en die gemarginaliseerdes in die samelewing; by uitstek die vroue. Hulle word die eerste geloofsgetuies. Maria Magdalena was seker die mees uitstaande randfiguur in die verband. Miskien moet ons ernstig kennis neem dat mense wat dalk vandag die meeste deur God in sy gemeentes vir ons geloofsvorming gebruik word, die armes, die wat nie tel nie, die noodlydendes, die uitgestotes , die digters en ander kunstenaars, die kinders, is. ‘n Wekroep, sou ek sê, vir multikulturele, oop kerkgemeenskappe; gemeentes wat regtig die samelewing waarbinne ons leef, verteenwoordig.
– Geloofsvorming in die opwekkingsverhale geskied eintlik in stilte. Hoewel daar baie energie aan die werk was in hierdie verhale, beskryf dit nêrens ‘n groot ‘show’ nie. Miskien moet ons maar weer diep nadink: Moderne kommunikasie tegnieke en geraas-musiek is dalk toe nie sulke goeie bykomstighede vir geloofsvorming nie!
– Geloofsvorming in die verskyning van die Opgewekte Here het alles te maak met ‘vrees’. Vrees is die mees uitstaande ‘geloofsrespons’ in die verhale. Ons ken dit al uit die Eerste Testament as die vrese-van-Here. En dit het alles te make met verwondering. Miskien druk die woord ‘awe’ dit dalk die beste uit. Onkant-gevangde-verwondering oor God wat net soveel meer is as wat mense in hulle beste vermoëns ooit kan bedink — dit is hoe God sy mense vormend ‘aangeraak’ het . Mense wie se harte brandend gemaak is deur die Woord; waar hulle saam geëet het [Nagmaal] en in die gemeenskap van “vriende” wat nou aan mekaar verbonde was as ingelyfdes in die Liggaam van Chrisus [Besnedenes/gedooptes]. Sonder hierdie verwondering, word geloofsvorming so maklik ‘n selfhelp besigheid. Geloofsvormingstegnieke word ontwikkel; ons help mekaar met allerhande vraelyste om ons gawes te ontdek; ons werk missie-doelstellings uit, ens. Ongelukkig is die meeste van hierdie goedbedoelde dinge niks anders as ‘n dekonstruktiese van ‘verwondering oor God’ se verrassende werking in ons in die Opgewekte Here nie.

* Die bydrae van Eugene Peterson, veral in van sy jongste publikasies: “Practice the Resurrection”; “Eat this Book”; “The Jesus Way”, is in hierdie verband van onskatbare waarde en dit is vir my baie aangenaam om hom ook op die manier erkenning te gee in sy ietwat eensame stryd teen die modernisme wat so diep in ons are vloei.

Ook nog geluister 2 Sam 5

Written by Martin Heyns on . Posted in Vorige kommentaar

God se nuwe Koers [lewe onder die Heerskap van God] kry ‘n nuwe momentum in hierdie verhaal van Dawid. God stel Dawid amptelik aan a sy prins [heerser] en as sy herder oor al sy mense. Die hele Israel is nou ter sprake. ‘n Prins is natuurlik nie self in beheer nie. Daar is net een Koning in beheer! ‘n Prins kan maar net in die Naam van die Koning optree, as hy daartoe gevra word. ‘n Herder is ‘n versorger; ‘n dienskneg; die afhanklike slaaf van Ps 123. Herders lewe net uit genade.

Maar wat ‘n voorreg; wat ‘n verantwoordelikheid dat God gewone mense so hoog ag om in sy Naam vir Hom diensbaar te wees, ter wille van Sy mense en die Sy hele skepping! Om hulle met liefde agter hulle te kyk; hulle op te bou en hulle in God se vrede [Jerusalem, Shaloom] te laat lewe…

Mens hoef nie ver te rek om onsself in die verhaal te ontdek nie. Ons wat op hierdie prins-en-herder-pad gevat is in Christus Jesus, die ware Prins van vrede [Jerrusalem] en Herder-versorger: “Soos die Vader-Koning, My gestuur het, stuur ek julle!” En die Heilige Gees rus julle toe om dit te doen. So blaas Die Skepper/Herskepper Gees toe mos hierdie Nuwe Lewe in ons in; sit ons amptelik, soos Dawid, op Koers [Joh 20].

Hoe respondeer mense op God se aanstelling? Die Lectionary wil lyk my, die verhaal ontduik! Hoekom is vers 5:6-8, wat die Lectionary betref, uitgelaat? Omdat dit een van die moeilikste tekste in die Bybel is, sê die meeste verklaarders?

Dit lyk my ons moet die week tog maar na die hele verhaal probeer luister. Die prins wat toe vir hom ‘n paleis-stad soek en van die Jebusiete gaan vat: Jerusalem; eintlik na die oorname, toe die “Dawid-stad” genoem. So het die meeste volke en konings in die omringende kulture gedoen? Is dit ‘n prins van die ware Koning wat só moet maak? Is dit nog ‘n prins dié, of is dit dalk ‘n prins wat klaar ‘n “koning” probeer wees? Ek kan nie help om hierdie ondertone in die verhaal van die skrywer te hoor nie. Onthou die Koningsboeke was onder meer kritiek op die herders wat despote geword het.

Wat hierdie ondertone baie sterker maak, is Dawid wat die “kreupeles en blindes”, wat hom gekoggel het, uit die Dawid-stad uitsluit, met ‘n ewige haat. Jerusalem se herder-prins sluit mense uit met ‘n ewige haat? Ek kan nie help om die eerste krake in die prins/herder se amptelike diensmondering, namens God te hoor nie. Lê Dawid dalk hier die eerste boustene van die Sionsteologie wat later verseker ontwikkel het en God se mense eintlik daarop laat roem het om “die-ander” uit te sluit? Die van-Koers-af-lewe wat al die ware profete en later Jesaja probeer nek omdraai het [Jes 56]?

Uit die God-stories van die Bybel en uit eie ervaring, lyk dit my dis al waartoe ons prinse en herders in staat is. Ons vat sommer oor asof ons in ons eie naam lewe en werk. Ons word van kleinsaf so geleer en die moderne tegnologie en wetenskap maak ons gode, wat wou prinse-herders! Ons vrek oor mag en beheer in plaas van die gewone simpel diensbaarheid vir die Koning. En die eerste tekens hiervan: Ons vorm ‘n kliek wat ander eerder uitsluit as insluit. Die ander bedreig skielik ons eie “koninkrykies”. Die voorbeelde is legio in die NG Kerk se geskiedenis en ons eie ‘sionsteologie’. En ons verniel mekaar tot in die grond en God se hele skepping [ekologie] daarmee saam. Die verhaal sê vir my: Luister mooi, só is mense!

Ons Hoop is net in die ware Prins, die Gekruisigde wat opgewek is en lewe! En kyk mooi hoe was die Vredevors, Prins-Herder van God, gekoggel, deur al wat leef. En Hy het toe niemand uitgesluit en daarvoor gehaat nie. Onthou, Hy het selfs vir die koggelaars by sy Kruis gebid: “Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”. Voorwaar Hy is ons Prins en Herder wat ons ware Jerusalem-vrede en -lewe gee.

Hel, ons moet Hom dien! Hom eer! Hoe kan ons anders?