Author Archive

Sondag – die Opstandingsfees

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Aanvanklik het hulle die opstanding elke dag gevier (Hand. 2: 46, 47). Dit was vreugdevolle vierings. Hulle het daagliks bymekaar gekom, saam geëet, gebid en hulle onderlinge verbondenheid was vir hulle kosbaar. Justo Gonzalez wys in sy boek “ The story of Christianity” daarop dat die eerste gelowiges nie op die “Goeie Vrydag” gebeure gefokus het nie, maar eerder op die opstanding. Daar het ʼn nuwe werklikheid vir hulle aangebreek en Christene het dit met albei hande aangegryp en dit hulle eie gemaak. In die vierings was die gemeenskaplike maaltyd altyd belangrik en was dit meer as bloot ʼn formele “nagmaal”. Die koinonia was  vir hulle belangrik. Hulle het die fees daagliks gevier, want dit was ook ʼn viering van die nuwe hoop. Christene het in die begin ʼn eenvoudige kalender gehad. Dit was ʼn basiese weeklikse kalender, waarop die eerste dag van die week die vreugdevolle feesdag geword het waarop die opstanding van die Here gevier is. Baie Joodse Christene het daarby  nog steeds die Sabbatdag op die 7de dag as rusdag gevier en dit gerespekteer, maar aanduidings was dat die bymekaarkom op die opstandingsdag was. HDA du Toit wys in sy destydse boekie “Laat ons dan feesvier” daarop dat die Sondagviering  die eerste tekens was dat die vroeë kerk hom wou losmaak van die Joodse tradisie en feeste. Jesus Christus het op die 1ste dag opgestaan uit die dood en dit is die grootste gebeurtenis wat die Christendom uniek maak.

'n Graf in Jesus se tyd

2. Van Opstandingsdag tot Sondag

Die oudste beskrywing van die Christene se viering van die eerste dag van die week, kry ons in Hand 20:7 waar Paulus op die eerste dag van die week nagmaal bedien het en die gemeente toegespreek het. In 1 Kor. 16:2 word Christene opgeroep om op hulle byeenkoms die eerste dag van die  week ʼn bydrae te gee vir ʼn arm gemeente in Jerusalem. By die eerste Christene het die  opstandingsdag bekend geword as die “dag van die Here”.  (vgl. Openb.1:10 ).

* Daar is geen wet of reël dat Christene nou die Sondag moes vier ipv die Sabbat nie, maar dit was duidelik dat die Christene uit die heidendom (dws. Christene van nie-Joodse afkoms) die 1ste dag van die week as dag van samekoms beskou het. Hulle het geen gevoel vir die Joodse Sabbat gehad nie. Hulle het dit ook nooit geken nie. Die Christene uit die Jode het natuurlik weer probeer vasklou aan die Sabbat, en tot in die 3de eeu N C was daar nog aanduidings dat hulle ook die Sabbat as rusdag (naas die Sondag) onderhou het. Sommige vroeë Christene het dus twee dae in week gevier nl. die rusdag op die Sabbat en die samekoms van gelowiges op die Eerste dag.

* Daar is baie bewyse uit die vroeë kerk dat die dag van samekoms van gelowiges op die eerste dag van die week was:

–   Du Toit verwys na Ignatius van Antiochië wat gesprekke met Polycarpus, die vriend van Johannes gehad   het, Hy skryf in 110 NC “ Laat  elke vriend van Christus die dag van die Here soos ʼn feesdag hou, soos die opstandingsdag, die koning van al die dae – die vernaamste   dag”

–   Barnabas, ʼn apostel van die Here skryf in 100 NC “ Daarom hou ons die eerste dag die dag met blydskap- die dag waarop Jesus  opgestaan het uit die dood”

–   Irenaeus skryf in 150 dat die opstanding van die Here op die dag gevier moet word.

–   Dit was egter  Justinus, die martelaar wat  in 150NC die eerste een gewees wat die eerste dag ʼn Sondag begin noem het.

3. Hoe is die Sondag as feesdag gevier?

Die eerste dag (Sondag) was nie ʼn vakansiedag soos wat ons dit vandag ken nie. Dit was ʼn gewone werksdag. Christene het op die opstandingsdag voor dagbreek en in die aand na skemer vir gemeenskaplike maaltyd bymekaar gekom, omdat hulle bedags moes werk. Met die oggend en aand bymekaarkomtye het hulle ook teruggegryp na die Joodse gebruike om soggens vroeg en in die aande saam te bid. Nie in die Skrif of by die vroeë kerkvaders kry ons  ʼn gesindheid om arbeid te staak op die Sondag nie.
Christene het eers 300 jaar NC vir die eerste keer ʼn “Christelik gesinde owerheid ” gekry. Konstantyn vaardig in 337 ʼn wet uit wat van Sondag ʼn vrye dag maak vir alle amptenare, sodat hulle tyd kan kry om bymekaar te kom. Eers later in die Middeleeue word Sondag ʼn amptelike rusdag.

Uit Hand. 2: 46, 47 is dit duidelik wat die kenmerke van die bymekaarkoms was. “Hulle het elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom (leitourgia), van huis tot huis die  gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet(koinonia) en elke dag mense wat gered word  by die gemeente gevoeg (kerugma). Vers 42 : Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels (didaché), en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd (koinonia) en die gebede. Dit is vandag steeds die elemente  wat ons eie eredienste kenmerk.

Volgens Gonzalez was die mees uitstaande kenmerk van die vroegste bymekaarkoms en gemeenskaplike maaltye, die feestelikheid daarvan. Dit was  eerder gekenmerk deur die viering van  genade en vreugde, as wat daar gedink was oor somberheid en bekering. Die nagmaal was ook deel van ʼn
volle maaltyd. Gelowiges het elkeen (in eenvoud)gebring wat hy kon om te eet en dat het hulle spesiale gebede gebid voor hulle wyn gedrink en brood geëet het. Hoewel die vreugde en feestelikheid van die geleenthede nooit getaan het nie, het dit in die 2de eeu NC meer simboliese “nagmaal” etes geword. Vanaf die tweede eeu het die “Nagmaalsdiens”  uit twee dele bestaan: Eers is daar uit die Bybel gelees en gebid en gesing en dan is die “gemeenskaplike maal” geëet met nog gebede daarna. Ons moet onthou dat almal nie Bybels gehad het nie. Die Sondag byeenkomste was gebruik om die Bybel te verklaar en te leer ken.

4. Nog interessanthede oor die Sondag as feesdag.

Aanvanklik het hulle in huise bymekaar gekom, maar later het dit te klein geword en het sekere  huise spesiale plekke van aanbidding geword. Hoewel Frank Viola in “Pagan Christianity” ʼn saak uitmaak dat kerkgeboue eers vanaf Konstantyn se era begin het, was daar baie vroeër aanduidings dat Christene plekke van aanbidding gehad het in lyn met die Joodse agtergrond van tempels en sinagoges. Nêrens lees ons in die Nuwe Testament van  ʼn wet dat hulle Sondae bymekaar moet kom nie. Hulle het dit spontaan gedoen omdat hulle die opstanding wou vier. Dit is net in Heb. 10:25 waar daar ʼn opdrag is om die onderlinge byeenkomste by te woon.

Sondae  is nooit in die vroeë kerk met die 4de gebod verbind nie. Dit is eers deur die kerkvaders Chrisostomos (344- 407) en Ambrosius(339-397) gedoen. Miskien was dit juis die  oorsaak waarom latere Christene die indruk gehad het dat die wette oor die Sabbat ook vir die Sondag gegeld het. Die vierde gebod het nie met die Sondag iets te doen nie. Daar is nooit sprake in die Nuwe Testament van rus op ʼn Sondag nie. Die Sabbat is die sewende dag, ʼn rusdag , maar die Sondag is die eerste dag, ʼn feesdag, waar Christene deur die eeue die opstanding van Jesus vier! Johan Heyns verduidelik in sy boek “Die nuwe mens onderweg” dat die Sabbat nie die verlenging van die Ou Testamentiese Sabbat is nie, tog is die twee nie sonder enige verbindingslyne nie. Die Sabbat was die teken van God se verbond met Israel. Die Sondag is ʼn teken van God se verbond met sy nuwe volk. Die Sabbat het sy motivering in die skepping en verlossing gevind- hierdie motiewe speel ook ʼn rol by die Sondag. Die Sabbat was ʼn feesdag , die Sondag ook. Christus verklaar self dat Hy nie die gebooie ophef nie, maar vervul. Heyns noem dan die kriterium vir die Sondag: “Hoe om die beste fees te vier ter herinnering aan die verlossing deur Jesus Christus “

Dit is ook van belang om op te let dat die eerste Christene, asook die vroeë kerk nie ander feeste gevier het nie. Gonzalez vertel dat elke Sondag vir die vroeë Christene ʼn feesdag was waar die opstanding gevier is en dat hulle Vrydae bymekaar gekom het om die hartseer en die sonde te bely (nav van die kruisiging). Later het hulle een spesifieke Sondag in die jaar afgesonder om die opstanding te herdenk. Die enigste fees wat die vroeë Christene gevier het, was die opstandingsfees (die fees op ʼn Sondag).

Maarten Luther het sterk aksent daarop gelê dat die ou verbond niks met die nuwe te doen het nie en dat die Sabbat afgehandel is. Calvyn het weer klem daarop gelê dat daar wel kontinuïteit tussen die twee bestaan. Die Joodse wyse om in die aande ook bymekaar te kom, het ook meer byval by die Calviniste as by die Lutherane gevind.

5.   Hoe moet ons nou die Sondag vier?

Daar is twee uiterstes en iewers moet elkeen vir homself  ʼn gebalanseerde en Skriftuurlike weg vind.
Die een uiterste wil ons weer onder die juk van die wet plaas. Selfs in Paulus se tyd het hy sulke mense geken (Gal 4:9,10). Hulle wil weer hê daar Sondae reëls moet wees wat mag jy en wat mag jy nie(soos by die Sabbat). Paulus was hieroor nie onduidelik nie:  Kol. 2:16 en 17. “Daarom moet julle nie dat iemand  vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie: die werklikheid is Christus”.

Die ander uiterste wil weer  niks doen nie en geen fees vier nie. Dit is ook nie na voorbeeld van die Nuwe Testament nie (Hand 2:46, 47 ). Dit is duidelik dat gelowiges gereeld op die eerste dag bymekaar gekom het. Heb. 10:25 vermaan gelowiges wat dit nie doen nie.

Persoonlik handhaaf ek die volgende 4 beginsels:

Ek dink ons is bevoorreg dat Sondag steeds ʼn dag is waarop ons nie met alledaagse dinge hoef voort te gaan nie. Dit is egter ʼn dag waar ons nie vir mekaar moet reëls maak nie, maar vir mekaar aan Jesus se opstanding kan herinner. Dit moet net oor Jesus gaan(1 Kor. 2:2). Hy het opgestaan. Die Satan is oorwin!

•    1. Dit is in eerste en belangrikste plek  ʼn feesdag – die opstandingsdag. Die dag wanneer Christene kerk toe moet gaan om fees te vier.  (Die opdrag kry ons  in Heb. 10:25 dat ons wel op die dag as gelowiges moet saamkom). Hy leef. Dit is vir my die een groot prioriteit om  saam met medegelowiges Sondae te kan feesvier!
•    2. Ek beskou dit ook as ʼn belydenisdag. Dit is ʼn belydenis dat die dag anders is as ander dae. Hy is nie heiliger nie maar anders, daarom probeer ek dit anders inrig – Ek wil van die dag ʼn persoonlike en simboliese belydenis maak: Ek wil vir almal sê:    “Hierdie   dag is ʼn dankbare dag wat ek weekliks wil vier. Nie omdat ek moet nie, maar omdat ek wil!”  Dit is dus vir my ʼn belydenisdag – ʼn   simboliese dag.
•    3. Dit is vir my ʼn rusdag van die normale sodat ek meer fees kan vier: Onthou Saterdag en Sondag is in die hedendaagse wêreld albei rusdae. Ons het in die Westerse  wêreld ’n 5 dag werksweek, danksy die Industriële revolusie.
•    4de saak. Een saak wat ek van die Jode af oorgeneem het, is dat ek dit as ʼn familiedag beskou. Ek probeer in die gejaagde lewe ʼn punt maak om my gesin aandag te gee en bymekaar te kry. Ons probeer meeste saam kerk toe gaan en saam eet en saam kuier! Dit is vir my  baie kosbaar.

Vir die eerste Christene was Sondag – opstandingsdag, die enigste fees wat ons moet vier!  Kom ons doen hulle dit na!

 

ʼn Spiritualiteit van Tevredenheid

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Die wêreld met al sy ekonomiese krisisse is die gevolg van ʼn lewensingesteldheid van onvergenoegdheid. Dit is geen geheim dat die wêreldwye krisis te wyte is aan die gierigheid van die mens nie. Tog het die  krisis baie mense weer genoop om na te dink oor hulle  ingesteldheid teenoor geld, besittings en wie hulle voor die Here is. Dit het my weer laat dink oor die woord -tevredenheid. Tevredenheid is ʼn leefwyse en spirituele ingesteldheid oor hoe die mens voor die Here leef!

In Psalm 131 getuig Dawid dat hy die punt bereik het van tevredenheid. Hy vertel dat hy geleer het om nie meer homself te verhef en besorg te wees oor groot dinge nie. Hy het kalmte gevind. Hy het die tevredenheid van ʼn baba bereik. Dit is ironies dat dit juis in Ps. 31 is waar hy getuig dat sy “tye” in die hand van die Here is. 
Om ʼn lewenshouding van tevredenheid te hê, is die grootste getuienis dat jy aan die Here behoort! Dit is die geloofwaardigste bewys dat jy in die krag en heerskappy van God oor jou lewe glo! Tevredenheid is die praktiese bewys dat jy glo dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy oor alles regeer. Dit is ʼn belydenis dat jy glo dat God die wysheid het om te weet wat die beste vir jou is ! Dis die grootste bewys dat ek en jy Jesus vertrou! ʼn Ontevrede ingesteldheid ontwikkel waar jy dink jy in beheer van jou lewe en besittings is en jy alleen daarmee te vertrou word. 
Jou reaksie van hoeveel jy betaal word, jou reaksie oor jou huis en inhoud. Selfs jou reaksie oor teleurstellings – dit alles vertoon jou ingesteldheid teenoor God. Tevredenheid plaas as’t ware die seel op jou geloof! Tevredenheid is die bewys dat jy in die heerskappy van God glo. Dit is die bewys dat jy die krag van die genade van God glo en jou geloof uitleef! In Fil. 4:18 verklaar Paulus “Nou het ek alles ontvang en het ek meer as genoeg!”
Ek dink ons moet gereeld vir onsself afvra of ons die genade van Christelike genoegsaamheid uitleef! Dit is ʼn goeie gewoonte(dissipline) om gereeld selfondersoek te doen of jy vrede en tevredenheid vir jou siel het? Soms leef ons onvergenoegd en word deur ʼn onrustigheid gejaag om meer tyd, geld, besittings en plesier te wil bekom. Dit is ook hierdie lewenshouding wat mense toestemming gee om alewig krities te wees en oor alles te kla. 
Jy sien, tevredenheid kan nie net ʼn paar leë woorde wees nie. Dit is ʼn lewenstyl, ʼn innerlike vergenoegdheid! Jou geloofsbelydenis dat God in beheer van jou lewe is en ʼn lewe van tevredenheid is dieselfde ding! Dit is ʼn vertroue in die almag en beheer van God. Dit is om die belydenis van Ps. 23:1  te leef! “Die Here is my herder. Ek kom niks kort nie”
Ons moet egter onderskei wat Geestelike vergenoegdheid nie is nie:

Tevredenheid beteken nie selfvoldaanheid nie (asof jy gearriveer het nie), nie sonder ambisie nie, nie arrogansie nie, maar ʼn hartsgesindheid van vergenoegdheid. Dit beteken ook nie dat ons ophou om hard te werk nie. Diens aan God behoort ons enigste motivering te wees vir harde werk! Indien jy strewe om meer geld te maak moet dit ook onder andere daarom gaan om vir God se werk ʼn groter tiende te kan gee! Dit behoort vir die gelowige oor God te gaan! Dit is God met jou lewe tevrede moet wees!  Tevredenheid is nie tevrede met die wêreld nie maar tevrede in die wêreld!

Ontevredenheid doen 2 dinge aan ʼn mens:
Aan die een kant maak dit jou blind vir al die geskenke/gawes wat God jou gegee het – jou familie, jou huweliksmaat, jou lewe, jou gawes. Ontevredenheid laat jou nie jou eie gawes raaksien nie! Jy sien net die onvoltooide en onvergenoegdheid in almal. Ontevredenheid maak van jou ʼn ondankbare mens, ʼn selfsugtige mens, wat dink sy sukses is sy eie en nie ʼn gawe van God nie!
Die tweede ding wat ontevredenheid doen: dit sorg dat jy nie groei nie. Niemand groei deur te verwyt of te kla nie. Jy begin geestelik groei en ontwikkel die oomblik as jy dinge begin aanvaar: Die oomblik wat jy jou huweliksmaat aanvaar, die oomblik dat jy jou omstandighede aanvaar. Daardie oomblik groei jou liefde.
Tevredenheid is ʼn vergenoegdheid oor God se teenwoordigheid in jou lewe vandag en nie eers in die toekoms nie. My gebed is dat julle sal weet dat God jou liefhet soos jy is !

Quintus

Wat is die doel van geestelike dissiplines?

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Ons almal ervaar een of ander tyd geestelike droogte in ons lewens, ja selfs dominees! Hiervoor kan daar baie redes aangevoer word. Maar die een saak waaroor ons saamstem is – ons hou nie daarvan nie.
Ons eie oplossing is dikwels om baie goeie voornemens te maak. Ons stel planne op, gaan gym toe, volg ʼn dieet en stel ʼn klomp geestelike doelwitte op soos – om meer gereeld kerk by te woon, meer Bybel te lees, by ʼn groep in te skakel ens. Dit mag dalk ʼn rukkie werk, maar kort voor lank besef ons dat daar weer in ʼn klomp ou gewoontes ingekruip het! Al die besluite en pogings wat ons geneem het, help gewoonlik net ʼn rukkie. Na die eerste paar maande van die jaar is die gym weer leeg en die kerk weer halfvol.

Nou wat moet ons dan doen?

Die antwoord is: Net mooi niks! Paulus leer vir ons in Rom. 3 dat ons van nature so geneig is tot die kwaad dat self ons beste pogings om ons lewens te herstel,  gedoem is. Die skrywer Heinie Arnold het gesê: “Solank as ons dink ons kan onsself red, maak ons ʼn fout. Hoe harder jyself probeer, hoe sterker maak jy die bose in jou”.

Daar is maar een uitweg: Mat 11:29-30
“Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.”

Ware rus en vernuwing is in Christus.

Maar steeds sukkel ons soms. Richard Forster het 3 redes gegee waarom gelowiges sukkel om volhoubaar naby God te leef:
1.    Hulle twyfel of ʼn dieper geestelike lewe en ʼn lewe naby God enigsins moontlik is. Hulle eie onvolmaaktheid wil hulle laat glo dat hulle maar tevrede moet wees met ʼn middelmatige lewe. Uit die Woord weet ons dat dit nie waar is nie. Paulus self bid vir die Efesiërs dat hulle geestelike diepgang sal ontvang.
2.    Die 2de probleem is dat hulle dink geestelike volwassenheid gaan maklik kom. Daarom is mense so lief vir resepte en programme. Ten diepste besef ons dat niks wat regtig ʼn invloed op jou lewe het kom maklik nie, maar glo dit nie altyd nie. Dit is op hierdie punt waar mense leer om oppervlakkig te wees.
3.    Die 3de probleem is dat ons mense net nie weet hoe nie.

Wat moet ons doen vir geestelike vernuwing ?

Moet ons nou weer ʼn wilsbesluit neem soos mense soos bv. ons nuwejaarsvoorneme? Nie heeltemal nie. As ons volhoubare geestelike vernuwing in ons lewe begeer, moet ons God toelaat om self ons lewens te vernuwe op sy eie manier en tyd. Hoe laat ek Hom toe? Deur jou hart en lewe vir Hom oop te maak dat Hy dit kan vernuwe.
Ons doen dit deur geestelike dissiplines of nuwe geloofsgewoontes aan te leer. Deur ʼn nuwe leefwyse maak ons die deur van ons hart vir God oop om ons te verander soos Hy wil.
Geestelike dissiplines is nie maar nuwe wette nie, dit is ʼn lewenstyl in die teenwoordigheid van God.

Richard Forster (Celebration of discipline.)praat van 3 groepe dissiplines:
Dissiplines na binne – soos gebed, meditasie, vas en studie;
Dissiplines na buite – soos eenvoud, diens, oorgawes, en
Gesamentlike dissiplines, soos kerkgang, aanbidding, musiek en feesvier

Adele Calhoun  (Spiritual Disciplines Handbook) verdeel die dissiplines in 6 groeperinge (met ongeveer 60 dissiplines): Aanbidding, oopstel vir God, uitwissing van eie valsheid, jou lewe met ander deel, luister na die Woord, uitleef van Jesus se liefde en gebed.

Dallas Willard (Renovation of the heart) noem 6 veranderinge waardeur jy moet gaan nl. Verander van denke; gevoel, hart, liggaam, sosiale lewe en siel.

Kent Ira Groff (Active Spirituality)praat van die dissipline van die geloofsgemeenskap; dissipline van afsondering; dissipline van hart en verstand; dissipline van diens; en dissipline van roeping .

Trevor Hudson (Signposts to Spirituality) lig  10  bakens uit vir ‘n lewe naby God. Die volgende word o.a. genoem: Christelike geheue; ontvanklik wees vir die koninkryk; liefde vir ons naaste; om God se roeping te ontdek; beoefening van die teenwoordigheid van God ens.

Met hierdie kort samevatting van die boeke, doen ek eintlik ʼn onreg aan die ongelooflike geestelike rykdom van elkeen van die skrywers. Dit is die moeite werd om elkeen (daar is ook heelwat ander) deeglik te bestudeer. Almal het een boodskap in gemeen.  Jy moet Bybelse geloofsgewoontes aanleer wat jou lewe vir God beskikbaar stel- sodat Hy jou al hoe meer kan vernuwe.

Ek dink dis belangrik om nooit uit die oog te verloor dat dit hulle persoonlike geestelike reis is wat hulle met ons deel nie. Jy kan nie maar ʼn ander persoon se geestelike reis net so dupliseer nie. Jy sal ʼn fout maak as jy iemand anders se geestelike reis slaafs probeer navolg. Dan is jy maar weer waar jy was toe jy uit jou eie probeer het.
Die enigste ware dissiplines of geloofsgewoontes wat jy volhoubaar gaan beoefen, is die wat jy self deur die werking van die Heilige Gees en deur gebed – in die Woord van God gaan ontdek.

Begin dus om erns te maak met die Bybel en gebed. Dit is hier waar jy die dissiplines en geloofsgewoontes gaan ontdek wat die Heilige Gees vir jou vernuwing nodig het !!!!

Nuwejaars-liefde

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Met die wind wat hierdie Desember onophoudelik stormsterkte in Pringlebaai waai en die baie reen in die binneland, is ek oorbewus van die ongelooflike oorweldigende natuurelemente! Indien iets opmerklik oorbeklemtoon word, neem mens bewustelik daarvan kennis. Ek dink dis met die res van die lewe ook die geval. Sodra iets oorbeklemtoon word, raak jy meer daarvan bewus. Die liefde is nie anders nie. Hoe meer ons mekaar se liefde ervaar en sien, hoe meer sal dit die ingesteldheid oor liefde by mekaar inskerp. Hoe meer ons van God se liefde bewus word, hoe meer groei ons toegeneendheid daarna.  Dalk moet ons die nuwejaar, liefde in oormaat uitleef dat Jesus al hoe meer in ons lewens sigbaar kan word!

Bernard von Clairvaux (1090-1153) het in sy bekende werk “On the Love of God”  vier  grade van liefde beklemtoon:

1. Liefde vir jouself ter wille van jouself: Hierdie is die natuurlike selfliefde. Die menslike natuur is swak en is van nature geneig om slegs homself lief te he.

2. Liefde vir God tot voordeel van jouself: God wat alles gemaak, het Homself so gemaak dat ons Hom wil liefhe. Hy beskerm ons en maak ons gelukkig. Sodra die mens in nood is draai hy na God en vra om hulp. Die mens wil dus God liefhe  tot voordeel van homself.

3. Liefde vir God ter wille van God: In hierdie 3de graad van liefde kom die mens tot die besef dat hy God liefhet ter wille van God. Dit is ook nie die mens wat self tot hierdie oortuiging kom nie, maar God se ongelooflike liefde wat hom daarna dwing. God oorlaai ons so met genade, vreugde en liefde dat ons oormatig daarvan bewus word. God se liefde is so oorweldigend dat die mens op die einde nie anders kan om God se liefde raak te sien nie. Gelowiges raak bewus van God se liefde en begin hulle lewens aan God wy en vir Hom leef!

4. Liefde vir jouself ter wille van God: Hierdie ongelooflike geseende fase van liefde is waar gelowiges tot die besef kom dat hulle hulself moet liefhe omdat God hulle gemaak het vir Homself. Hierdie toppunt van liefde ervaar jy nie gereeld nie, omdat ons telkens terugval na die ou natuur. Hoe meer jy egter in gebed verkeer en in God se teenwoordigheid leef , hoe meer gaan jy jouself begin liefkry ter wille van God. Jy gaan besef dat jou gawes, talente en roeping daar is om God te dien en Hom te behaag! Sodra jy die soetheid van God se genade deur gebed gesmaak het , sal jy net vir God wil leef en jou volle potensiaal vir Hom wil bereik!  Met hierdie graad van liefde is jou eie voordeel nie eers in jou gedagte, as jy met jou gawes hoogtes bereik nie – alles gaan slegs oor God!

My gebed is dat ons elkeen in die komende jaar gereeld hierdie 4de graad van liefde sal bereik en ons volle potensiaal vir God sal gee omdat ons vir Hom so lief is!

Quintus Heine

Hoe berei ek vir my gebed voor?

Written by Quintus Heine on . Posted in Spiritualiteit en lewenstyl

Ek het die afgelope paar dae op my knieë op die vloere van my huis rondgekruip om sement af te skuur(toemaar ek is met verlof…). Ek is besig met voorbereiding van die vloere om dit te seel met ʼn sementseellaer. Dit is regtig ʼn groot werk. In die aande is my rug af, knieë deur, arms lam, my gesig en hare wit van die sementstof, my neus toe van al die sement. Ek moet letterlik elke klein kolletjie verf afskuur wat die verwer gemors het, anders wys dit in die finale produk (dit ten spyte van die voorsorg van grondseile, mooi vra ens. -het daar tog ʼn paar fyn druppels deurgekom!). Ook moet al die los stukkies sement afgekrap word. Vir die wat weet, sementvloer maak ongelooflik baie stof – jy kan dit onmoontlik so skoonmaak dat daar geen stof meer is nie – daarom moet dit geseël word. Ek sit nie teels, matte of enigiets op die vloere nie, maar wil graag die ruwe “earthy” eindproduk hê. Dit is eintlik baie ironies, want die voorbereiding is baie harde werk (4 dae) terwyl dit my moontlik ʼn halfuur sal neem alles een laag met die verfroller te seel. Ek sou ook iemand kon inhuur om dit te doen!

Om te preek is gewoonlik binne twintig minute verby, terwyl jy moontlik agt ure plus se navorsing en dinkwerk gedoen het om daar uit te kom. Hoe beter die voorbereiding  hoe beter die preek! Ons gebedslewe is nie anders nie. Jy bid (kommunikeer) beter as jou geestelike voorbereiding goed is. As jy ʼn spirituele leefstyl het, en geestelike dissiplines toepas en afhanklik van God lewe, bid jy meer en makliker. Enige (sukses) eindresultaat word voorafgegaan deur voorbereiding- so ook jou gebedslewe. Hoe meer jy tyd aan die Woord spandeer, hoe meer jy in afhanklikheid van God leef, hoe meer jy ʼn dankbaarheidslewe lei, hoe beter vir jou spiritualiteit. Gebedsvoorbereiding is jou lewenstyl voor God- Daar is nie kortpaaie nie.

Afrika het Vredemakers!

Written by Quintus Heine on . Posted in Wêreldbeker Sokker 2010

Daar was een insident wat my veral bygebly het. Reg voor ons het 3 persone gesit. ‘n ondersteuner van Engeland, ‘n Xhosa sprekende Kapenaar en ‘n Algerier. Met die verloop van die aand het die Engelsman en Algerier, wat  aanvanklik goed oor die weg gekom het, se gemoedere vir mekaar begin ontvlam! Wie was die vredemaker? – Die Xhosasprekende Suid Afrikaner!  Ja dit is nog altyd my ervaring van Suid-Afrikaners- ons is vredemakers! Dit is een rede waarom ons, met al ons verskille steeds kan saamleef. Daar is altyd genoeg vredemakers onder ons!   Mag die positiewe gesindheid en die welwillendheid  van Suid-Afrika se, mense, die Here se seen dra!

Wat vertel jou gebedstaal oor jou verhouding met God?

Written by Quintus Heine on . Posted in Gebed en Spiritualiteit

In ʼn onlangse artikel van Stefan Joubert praat hy oor die geloofstaal wat ons in die kerk gebruik. Hy maak die geldige punt:

– dat die tipe geloofstaal wat jy as kerkleier gebruik, iets van jou beskouing van kerk en koninkryk kommunikeer. As jou taalgebruik vol tradisionele gelade woorde is, sal jy moontlik ʼn tradisionele siening van gemeentewees hê. Die teenoorgestelde is ook waar. Hy vra daarom dat leiers ʼn koninkrykstaal moet gebruik wat getrou is aan ons daaglikse lewe voor God.

Hierdie opmerkings het my laat dink oor ons geloofstaal tydens gebed. Wat verklap die taal wat in ons gebede gebruik word, van ons siening oor God? Is dit enigsins sinvol om gebede so te ontleed en daaruit afleidings te maak of moet ons anders oor gebed oordeel?

In my soeke op die Internet het ek bitter min artikels oor die taalgebruik in gebed, geloofstaal  of gebedstaal gekry. In die algemeen word die term gebedstaal sinoniem met “spreek in tale” beskou. Op slegs een plek het ek ʼn artikel oor taalgebruik in gebed raakgeloop. Dit was by die Mormone. Hulle maak ʼn groot saak daarvoor uit dat jou gebedstaal aandui hoeveel respek jy vir God het. Jy mag God nie sommer “you” nie, maar moet Hom “Thou” en “Thee”, anders toon jy te min respek. Trouens dis vir hulle so belangrik dat hulle president persoonlik daaroor ʼn riglyn gestel het. Volgens hulle verklap jou gebedstaal of jy vir God respekteer of nie. Dit was egter vir my verblydend dat min ander skrywers enigsins oor die onderwerp geskryf het. Ook in verskeie boeke wat ek geraadpleeg het, kon ek nie die tema raakloop nie. Daar kan dalk wel elders iets daaroor staan dat ek dit mis, maar die gebrek aan die onderwerp vertel vir my dat dit vir die meerderheid Christene nie belangrik is nie.

Myns insiens moet ons in gebedterme nie praat van taalgebruik of geloofstaal nie, maar van hartetaal.

Het Jesus nie in Mat 6:7, 8 gesê: “ Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ʼn stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader sal weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra”

In die onderig oor gebed in Mat 6 het Jesus dit duidelik gestel dat dit nie jou uiterlike woorde is wat belangrik is nie, maar jou hart! Dit wat jy in jou hart wil sê, is wat tel, nie hoe dit by jou mond uitkom nie. In Mat 15:16 verduidelik Jesus hoe dit wat in jou hart is die belangrike is. In Mat 23 spreek die Here Jesus ook die Fariseërs aan oor hulle skynheiligheid, omdat uiterlike vertoon vir hulle so belangrik is. In Luk 18 skep die Fariseër die indruk dat sy gebed vir mense se ore bedoel is en nie vir God nie. Sy skynheiligheid om iets anders voor God en mense te wees, word aangespreek. Ek dink die antwoord op die vraag: Watter taal ons in gebed moet gebruik, in ons hartsgesindheid opgesluit is. Indien gebed in opregtheid en eenvoud gedoen word, maak dit nie saak watter woorde of watter terme jy gebruik nie. Die Here hoor jou hart! Rom. 8:26 gaan self sover om te sê:” Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie” Indien die taalgebruik of tipe geloofstaal van gebed enigsins vir ons belangrik word, dan gaan dit oor mense en nie oor God nie. Indien gebed oor God gaan en dit wat in jou hart is, dan maak dit nie saak of jy tradisionele taal, charismatiese taal, gereformeerde taal of postmoderne geloofstaal gebruik nie. Dit is jou hartsgesindheid wat tel! Enige reël oor taalgebruik of  teologiese afleiding vanweë jou taalgebruik, is nie so belangrik soos jou eie hartetaal nie.

Verklap ons geloofstaal tydens gebed, ons siening oor God? Dit mag dalk so wees, maar ek is huiwerig om sulke afleidings te maak omdat gebed nie vir my ore bedoel is nie, maar vir God. As ons mekaar se gebedstaal begin ontleed is ons presies daar waar die Fariseërs was- ons oordeel op die uiterlike. Wie se teologiese woorde gaan uiteindelik die norm wees wat gebruik word om so ontleding te evalueer? Ek dink ons moet volstaan dat  jou geloofstaal (tydens gebed) ʼn saak tussen jou en die Here is! Miskien sal ons moet oefen om nie te luister na die geloofstaal wat ander tydens gebed gebruik nie, maar na die opregtheid van hart!

Daarmee gesê, dink ek wel dat ons daarom versigtig moet wees dat daar nie soms onwetend ʼn opgesmuktheid of  verhoogmentaliteit by ons gebedstaal insluip nie. Baie keer sal mense opmerk dat hulle sommige predikante en geestelike leiers deur hulle gebedstaal kan eien. Ek dink predikante en leiers moet daarop let dat hulle nie deur hulle gebedstaal of gebedstyl, vir ander mense ʼn struikelblok in hulle verhouding met die Here is nie. As jy bid moet jou stemtoon en woorde nie skielik hoogdrawend en anders wees as wat jou gebruikstaal is nie. As die Here Jesus daagliks in jou lewe is, en deel van jou lewenstyl is, sal jou gebedstaal nie verskil van jou daaglikse leefstyl nie. Jou gebed moet ʼn verlengstuk van jou lewe voor God wees. Jesus se woorde waarmee Hy tussen sy dissipels geleef het, was ook die woorde wat hy in gebed gebruik het!

Egtheid van gebed word altyd deur eenvoud gekenmerk. Eenvoud beteken gestroop van alle pretensies, opgesmuktheid en mensgemaakte formulerings. ʼn Eenvoudige gebed kom uit jou hart uit en moet daarom hartetaal praat.