Author Archive

Verder Geluister: Open 21:1-6 ~ Jerusalem vir Ubuntu!

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 28 April 2013 ~ Vyfde Sondag van Paaastyd ~ Openbaring 21:1-6 ~ Jerusalem vir Ubuntu!

Wat is “eenheid” in Zoeloe? vra ek die ouderling nou die dag. Dis ubunye, sê hy. En hoe is dit nou verskillend van ubuntu? vra ek. As allemaal hulle ubuntu saam in die kraal jaag, dan is daar ubunye, sê hy.

Ons lees in Openbaring 21:1-6 hoe Johannes sy kragtigste en mees skouspelagtige visioen beskryf. Die goue stad, Jerusalem, daal uit die hemel neer en word die nuwe aarde.

En nou het ons die gewoonte om aan hierdie stad, hierdie nuwe Jerusalem, te dink as iets gouds en groots, met skatte en ‘n goddelike lig van heerlikheid wat alles omstraal. ‘n Mens is amper geneig om aan die nuwe Jerusalem te dink as ‘n plek sonder mense.

Maar ek dink die nuwe Jerusalem is eintlik eerder ‘n baie menslike plek. ‘n Medemenslike plek. Dit gaan ‘n plek wees waar ‘n mens juis ten volle mens kan wees, omdat jou medemense, soos jy, goeie waardes gaan hê. Dis nou waardes soos eenheid, vrede, hoop en … lewe! Dis waardes wat mense inderdaad sal kan laat saamwoon soos mense!

Die hoofkenmerk van die nuwe Jerusalem gaan natuurlik wees dat dit radikaal getransformeerd gaan wees. Radikaal hervormd. Radikaal herskep. Radikaal omskep. Radikaal nuut.

Maar wat wil die nuwe Jerusalem omskep? Wat was fout met die oue, en gaan reg wees met die nuwe?

Die ou goed wat die nuwe Jerusalem gaan regstel, is die dinge waarteen die profete die volk so lank gemaan het. Vergrype (oftewel sonde); geweld teen mekaar; swak leierskap; en ongeregtigheid. En dan was daar natuurlik ook die vergrype, die geweld, en die ongeregtigheid van die Romeinse regering teenoor die Christene van daardie tyd.

Dit alles gaan verander, sê Openbaring 21:1-6.

Kom ons kyk na die volgende vier dinge wat gaan verander:

  • Die nuwe Jerusalem is ‘n heilige stad (vers 2). Nou hou ons nie eintlik vandag meer baie van die woord “heilig” nie, want “heilige” mense, veral hoogheiliges, gee ons geloof partykeer ‘n slegte naam omdat hulle nie die werklike lewe in die gesig wil kyk nie, en hulle soos mense uit die baie ou tyd wil gedra wat regtig ‘n bietjie belaglik in ons dae is. Maar “heilig” hier beteken gewoon dat die nuwe Jerusalem sonder die vergrype van die vorige bedeling sal wees. Sonder die “sonde” wat mense mekaar aandoen met korrupsie, skinder, steel, verbale geweld, en nouja, al die ander sondes wat ons maar te goed ken. Hier is die verwysing na die dinge waaraan mense hulle vergryp ten koste van ander mense, en die samelewing. Die nuwe Jerusalem sal heilig daarvan wees.
  • In die nuwe Jerusalem sal daar goeie leierskap wees. Want God sal onder die mense woon (vers 3). God sal nie daarbo, daarbuite, daar ver woon nie. Hy sal onder mense woon. Daar sal ‘n noue verhouding tussen God en mens wees. Hy sal leiding en leierskap gee. En mense sal saam met Hom stap. Hulle sal deel in Sy heerlikheid.
  • Daar sal gevolglik nie meer geweld van mens teenoor mens wees nie (vers 4). God sal ons trane afdroog. Nouja, toe. Dit wil gedoen wees. ‘n Leier wat die mense se trane afdroog. Hoe het ons dit nie in ons tye nodig nie!
  • In die plek daarvan sal daar LEWE wees. God, ons leier, sal aan ELKEEN te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe. Verniet. Nie net vir die rykes en die magtiges nie. Maar vir hulle ook. Nie net vir die verskoptes en verstotenes, die mishandeldes en mense met “gebreke” nie. Maar beslis vir hulle ook.

Ja, “lewe” sal beteken geen diskriminasie, geen ongeregtigheid, geen onbehoorlike mag nie. Wie hierdie waardes aanhang, sal lewe.

In Johannes se tyd het “lewe” beteken om “mag” te hê. Ander se lewens was niks werd nie. Hulle lewens was, in die oë van die magshebbers, ook nie die moeite werd nie. Christene is gemartel, aan die brand gesteek en gekruisig.

Hierteenoor sal die nuwe Jerusalem ‘n kontra-kultuur vestig. Dit sal ‘n plek wees waar God woon. Dit sal ‘n “heilige” plek wees, waar mense hulleself nie vergryp aan mekaar en aan besittings en mag nie. Dit sal ‘n plek wees waar almal kan deel in die “heerlikheid”, in die goeie waardes wat van God uitstraal. Dis ‘n plek waar almal sal kan lewe in hoop, in volhoubare hoop, hoop wat nie ‘n “pie in the sky” is en mense mislei nie.

Ons is nou in die 6de Sondag na Paasfees. Met Pase het hierdie nuwe bedeling aangebreek. Met Christus se opstanding uit die dood is ‘n kontra-kultuur hier gevestig. Die tyd van die nuwe Jerusalem het aangebreek. God woon onder ons. En ons moet werk om hierdie nuwe Jerusalem al hoe meer en meer hier op aarde te vestig.

Radikale transformasie, weg van vergrype af. Goeie leierskap. Volhoubare hoop. En eenheid. Ubunye, die saamwees van medemenslikheid.

Dis die nuwe Jerusalem waarnatoe ons nou moet leef.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2021_1-6.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/730_8b23c2c36ac49da9bff3dd03102789c4

Verder Geluister: Openbaring 7:9-17

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

21 April 2013: Vierde Sondag van Paastyd – Goeie Herdersondag: Openbaring 7:9-17

In die aktualisering van die gedeelte moet op ‘n paar sake gelet word. Eerstens waar dit in Openbaring se vertelling inpas, tweedens hoedat dit dien as troos vir die lesers daarvan en derdens hoe dit Johannes se eskatologiese visie verwoord.

● Eerstens, waar pas die gedeelte in Johannes se profesie in? Na aanleiding van Openbaring 1:19 (”Skrywe nou neer wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur”) deel Richard Bauckham vir Openbaring as volg in:

A. Inleiding (1:1-8)

1. “Wat jy gesien het” – Jesus se verskyning aan Johannes (1:9-21)
2. “Wat nou daar is” – Sewe briewe aan sewe gemeentes (2:1-3:22)
3. “Wat hierna gaan gebeur”
Die visioene van Johannes (4:1-22:5)

B. Die slot (22:6-21)

Openbaring 7 is dus deel van ‘n reeks visioene (4:1-22:5) wat vanuit Johannes se perspektief wat nog gaan gebeur beskryf. In die aanloop tot hoofstuk 7 het Johannes vir God op sy troon gesien (hfst 4) en die geslagte Lam wat waardig is om die boekrol oop te maak (hfst 5). Daarna het God se oordeel aanbreek met die oopmaak van die eerste ses seëls (hfst 6). Dié oordeel was so erg dat Johannes in 6:17 gevra het wie staande sal kan bly in die lig daarvan. Om dié vraag te antwoord ontvang Johannes in Openbaring 7 ‘n blik op die kerk se toekoms voordat die sewende seël oopgemaak word. 

● Dit is dus tweedens duidelik dat Openbaring 7:9-17 ten doel het om die lesers van die boek te vertroos. Openbaring is nie riller nie, maar ‘n troosboek vir gelowiges.

In 7:1-8 kry Johannes eers die versekering en troos dat die kerk op aarde (vers 1) deur God verseël is (vers 3). Alle gelowiges – die 144 000 dui op die 12 stamme wat die OT simboliseer x die twaalf wat die NT kerk simboliseer x die getal van volkomenheid (1000) – sal veilig bewaar word.

In 7:9-17 word Johannes verder verseker dat die kerk wat reeds in die hemel is ook veilig is. Sowel die aardse as die hemelse kerk is dus veilig in die tyd waarin God se oordeel oor die aarde uitgeroep word. Openbaring 7:9-17 antwoord met ander woorde die vraag na hoe dit met die verheerlikte/hemelse kerk gaan.

Die doel van die evangelie – ook soos verwoord deur Openbaring – is dus nie om mense te verskrik nie, maar eerder om hul te troos en te verseker. Die troos en versekering vra egter van hulle om in lyn met die eise van die evangelie te leef (hulle moet hulle laat reinig).

● Die gedeelte gee ook, derdens, ‘n besonder blik op die herstel wat God gaan bewerkstellig. In vers 9 sien Johannes ‘n ontelbare skare wat uit elke denkbare stam, taal, volk en nasies afkomstig is. As sodanig is hulle Abraham, die vader van baie nasies (Gen. 17:4–6), se beloofde ontelbare nageslag (Gen. 16:10). Hulle is veilig, gereinig en geregverdig deur die Lam (gesimboliseer deur hulle wit klere). Vervolgens vier hulle die oorwinning van God en die Lam (gesimboliseer deur die palmtakke in hulle hande) deur hard uit te roep dat hulle deur die Lam gered is. Die oorwinning wat hulle vier is hulle redding uit die groot verdrukking.

Dit is belangrik om in die uitbeelding van die verheerlikte kerk raak te sien dat die herstel van die wêreld nie vir Johannes neerkom op die uitwissing van die verskille tussen alle mense nie. Hulle is steeds verskillende nasies met verskillende herkomste en verskillende tale. Dié verskille is nie iets waarvan mense gered moet word nie. Hulle word eerder deur God gered en geheilig soos wat hulle is.

In vers 11-12 aanbid die verheerlikte kerk saam met die engele, ouderlinge (kerk) en vier lewende wesens (die skepping) vir God (gesimboliseer deur op hulle gesigte op die grond te val – in die NAV met “kniel” vertaal) en sing hulle ‘n nuwe weergawe van Rigters 5 en Eksodus 15 as ’n oorwinningslied tot eer van God. Dan vra een van die ouderlinge vir Johannes wie die mense met die wit klere is en waar hulle vandaan kom (vers 13)? Johannes sê hierop vir die ouderling om sy eie vraag te antwoord. Hy doen dit dan ook deur daarop te wys dat hulle uit die groot verdrukking kom (wat Aune vertaal as die “eskatologiese oorlog”). Die groot verdrukking verwys in Openbaring na die voltrekking van God se oordeel (vgl. Dan 12:1; Matt 24:21) voordat die finale einde aanbreek. Hulle het dié tyd oorleef omdat hulle die offer van die geslagte Lam aanvaar het – hulle het hul in sy bloed laat reinig. In Openbaring vlek Jesus se bloed nie mense en hul klere nie, maar haal eerder sondevlekke uit (Aune noem dit ‘n paradoksale metafoor). Daarom het hulle wit klere aan, gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam (vers 14). Hulle klere pas by hulle nuwe werk – hulle dien God dag en nag in sy tempel (die hele hemel is ‘n tempel). Hulle het ook die ongelooflike troos dat God by hulle bly (Eseg. 37:27) en danksy die Lam se teenwoordigheid is daar geen meer honger, dors, sonsteek of hartseer is nie. Jesaja 49:10 se voorspelling word dus hier verwesenlik. As regverdiges ondervind hulle die volkome teenwoordigheid van God deur die Lam wat hulle herder is. Hy troos hulle deur hul trane af te vee (vers 17) en deur aan hulle die ewige lewe te gee (gesimboliseer deur die fontein van die water van die lewe).

Die kerk op aarde kan dus moed skep. Tydens tye van swaarkry kan hulle weet hulle is reeds deur God verseël en dat hulle ewige erfenis veilig vir hulle voorberei is. Hulle moet egter onthou dat hulle van hul sonde en onreinheid gered word en nie van hulle identiteit gestroop word deur God nie. Verlossing is eerder vernuwing en verheerliking as verandering van wie ons is. Elke stam en nasie en taal word vernuwe – hulle is egter steeds herkenbaar vir wie hulle is. Hulle word nie verander in ‘n generiese eendersheid nie (een taal met een nasie nie). Die visie dat God nie alleen die verskeidenheid wat die wêreld kenmerk geskep het nie, maar ook verlos het, behoort die teenswoordige bediening van die kerk ook te rig. Ons moet net mekaar help op te vernuwe, eerder as om ander te wil verander om soos ons te word.

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2007_9-17.doc

Verder Geluister: Openbaring 5:11-14

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

14 April 2013 ~ Derde Sondag van Paastyd ~ Openbaring 5:11-14

Openbaring 5 is een van dié belangrikste Christologiese tekste in die Nuwe Testament. Dit gee ‘n besondere blik op die heilswerk van Jesus (Hy is die Lam wat geslag is), wie Hy waarlik is (die Een wat saam met God aanbid moet word) en wat Hy bereik het (Hy het die ganse skepping verlos). Dit begin met ‘n beskrywing van God wat op sy troon sit met ‘n geseëlde boekrol wat aan beide kante volgeskryf is wat verbeeld dat die heilsgeskiedenis sowel afgesluit (volgeskryf) as verseker (verseël) is. Jesus word vervolgens uitgebeeld as die geslagte Lam wat waardig is om dié boekrol te neem en die seëls daarvan te verbreek. Dié boekrol – die heilsgeskiedenis – word dus nie deur ‘n kragdaad oopgeforseer nie, maar deur ‘n daad van selfopoffering. Jesus is naamlik eerder die geslagte Lam as die gevreesde Leeu van Juda (5:5).

In reaksie op die ontsluiting van die heilsgeskiedenis breek die hemelse inwoners in beurtsang uit. Die ganse skepping, die kerk en die engele besing saam die lof van Jesus. Net soos die Lam die boekrol ontvang het, ontvang Hy ook die lof van die ganse skepping (die werkwoord in beide verse is dieselfde). Eers sing die kerk (gesimboliseer deur die 24 engele) en die skepping (die vier wesens) in vers 8-10, dan die menigte engele in vers 11-12, gevolg deur die ganse skepping (vers 13 – alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is) voordat die ouderlinge (die kerk) die beurtsang afsluit deur die Lam en God te aanbid (vers 14). Dié loflied van die skepping dien as ‘n belangrike aanduiding dat die dood van Jesus nie net goeie nuus vir individue is nie – maar ook vir die skepping en alle skepsels. Alles en almal in die hemel en op, onder en bo die aarde besing saam die lof van Jesus. Die verkondiging van die Evangelie is daarom ten diepste om saam met dié koor oor die volle verlossing van alles en almal deur Jesus te sing. Die heil mag daarom nooit verskraal word tot die verlossing van die siele van gelowiges nie.

Die loflied, wat die aanbreek van Jesus se Messiaanse koningsheerskappy besing, bevat sewe elemente (wat op volmaaktheid dui) naamlik mag, rykdom, wysheid en sterkte, eer, heerlikheid en lof. Die eerste vier elemente is hoedanighede wat die Lam besit, en die laaste drie, wat volgens die OT alleen aan God toekom, word deur die bewoners van die hemel en aarde aan Jesus toegesê. In Openbaring word die eer wat God alleen toekom (om bv. op die troon te sit) telkens met Jesus gedeel. Só word die woord vir lof (verbuigings van εὐλογία) in 7:12 op God van toepassing gemaak en in 5:12 op die Lam, maar in 5:13 op beide God én die Lam. Jesus verplaas egter nie God nie, maar deel in sy heerlikheid en mag. Die aanbidding van God in hoofstuk 4 en van die Lam in hoofstuk 5 word dus hier gekombineer en sluit die aanbidding van beide die Lam en die Here deur die ouderlinge in vers 14 die deel van Openbaring (hoofstukke 4-5) af.

In die wêreld van vandag is die boodskap van Openbaring 5 ‘n besonder belangrike een.

● Eerstens beklemtoon dit dat God se herskepping van alles nie deur dwang geskied nie, maar deur liefde en selfopoffering. Jesus is die Lam wat geslag is en nie die Leeu wat verskeur en verower nie. Dit is daarom geweldig belangrik dat diegene wat dié boodskap van die verlossing deur Jesus verkondig dit op dieselfde wyse sal doen as waardeur Jesus dit bewerkstellig het. Nie deur dwang en vrees nie, maar eerder deur liefde en lyding. Al te dikwels het die kerk in die geskiedenis daarvoor gekies om eerder volgeling van die Leeu as die Lam te wees.

● Tweedens beklemtoon die gedeelte die besondere status van Jesus. Ten diepste deel Hy in die status wat alleen God toekom. Daarom vra die navolging van Jesus nie alleen die instemming tot sy wêreldbeeld asof Hy net ‘n filosoof of profeet was nie. Dit vra ook om die aanbidding van Hom as die een aan wie alle eer en lof toekom.

● Derdens maak Openbaring 5 dit duidelik hoe omvattend die heil wat deur Jesus bewerk is. Dit raak sowel die aarde as die hemel. Dis nie net die aarde wat in Openbaring nuut word nie, maar ook die hemel. Alles wat deur God geskape is – die wat in, onder en op die aarde woon, asook die wat in die hemel woon, word vernuwe. Daarom mag die evangelie nooit tot ‘n enkele faset verskraal word nie (bv. net die verlossing van die siele van gelowiges of die herstel van die natuur nie). Die Evangelie herstel alles. Alles en almal word ingetrek in die dank- en loflied vir die werk van die Lam. Om die Lam te besing is ook nie om ‘n solo te sing nie, maar eerder om deel van ‘n koor te wees.

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2005_11-14.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/724_c89344cc1eedd66fdb9a77d7b22630e9

Verder Geluister: Openbaring 1:4-8

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

7 April 2013 ~ Tweede Sondag van Paastyd ~ Openbaring 1:4-8

Vir die volgende 5 Sondae word daar uit die Leesrooster oor Openbaring gepreek. Dit sal dus goed wees indien die prediker ʼn inleiding kan gee oor Openbaring en die hoorders kan begelei om die boek beter te verstaan. Dit kan help dat die vreemdheid daarvan aangespreek word, asook die verkeerde lees van die boek.

Let op die volgende punte:

  • Genre:
    Openbaring is ʼn brief, ʼn boek en ʼn apokaliptiese skrywe. (Verduidelik die verskille en hoekom dit juis die skrywe dalk moeilik maak om te lees.)
  • Wat is Openbaring nié?
    Dit is nie ʼn toekomsvoorspelling nie! Op vele wyses in die geskiedenis verkeerd gebruik en dit verwar mense.
  • Wat was die bedoeling van hierdie skrywe?
    Dit is ʼn Getuienis met die oog op troos – dus is die vraag: Wat sê die getuienis vandag vir ons? Hoe troos dit ons? Hoe roep dit ons op?

Baie het die boek met vrees en bewing gelees, maar dit is ‘n verkeerde verstaan daarvan. Openbaring hoort nie onder wetenskapfiksie of rillers in die biblioteek nie. Sien, in Openbaring is dit nie soseer die hekke van die hel wat oopstaan nie, maar die hekke van God se troonsaal in die hemel waar Hy as die almagtige Heers. Johannes word egter nie hemel toe geneem om na die hemel soseer te kyk nie, maar om vanuit die hemel na die aarde te kyk, om ‘n nuwe perspektief te kry op dit wat God deur Jesus verrig het (As apokaliptiese profeet (1:1) maak Johannes die wil van God en die geheime van die hemel en aarde aan sy lesers bekend. By apokaliptiese profete (bv. Jes 24-27; Dan 7-12) kom die hele wêreld in fokus en is daar ’n sterk aksent op die toekoms. )

Ons kyk gewoonlik na ʼn storie of program op televisie – apokaliptiek wil ons agter die skerms neem, om vanuit die hemel en God se perspektief, vir ons ʼn blik te gee op wat tans aan die gebeur is. Dit is nie ʼn voorspelling nie, beelde en simbole word vanuit die Ou Testament en die werklike gebeure van die dag gebruik om sin te maak van wat met die hoorders en lesers hiervan aan die gebeur is.

Vers 4 tot 5 – Openbaring is in wese ‘n boek oor die Triniteit (Daar is ‘n geweldige debat oor die rol van die Heilige Gees in Openbaring. Dit is nie vir alle uitleggers so duidelik dat Openbaring veel van die Heilige Gees maak nie.) (van Hom wat is, die sewe Geeste en van Jesus Christus) soos duidelik gemaak deur Johannes se seëngroet aan die begin (as sulks is die Trinitariese groet uniek in die NT).

Om die boek Openbaring deur te lees as ‘n geheel, is soos om op ‘n hoë plek te gaan staan en om sodoende jouself te reoriënteer ten opsigte van jou rigting. Net so wou die brief die gelowiges 100 nC help om opnuut hulleself te reoriënteer m.b.t. tot hulle geloof en lewe. Daarom bied dit ook aan ons ‘n uitsig oor wat God in Jesus alles in die verlede vir ons gedoen het, asook ‘n vorentoe blik om te kan sien wat God nog in die toekoms vir ons gaan doen. Die belangrikste is egter dat Openbaring sodoende aan ons perspektief gee ten opsigte van ons hede. Op die oog af het die Christene slegs twee opsies gehad; hulle kon kompromieë aangaan ter wille van hulle politieke en sosiale situasie, of hulle kon hulle onttrek van die samelewing. Johannes wil aan hulle ‘n derde opsie gee: ‘n lewe as getuies vir God in die hede op grond van ons verlede en toekoms in Jesus. Wanneer ons as gelowiges leef uit ons verlede (Jesus se offer as die Lam van God) en op grond daarvan verseker is van ons toekoms (wanneer Hy as die Lam weer kom), kan ons nie anders as om opgewonde te raak oor die hede nie.

Saam met die verteller van die verhaal in Openbaring gaan die gelowige op ‘n reis na ‘n simboliese wêreld om die alledaagse wêreld so beter te kan verstaan. Wat is die hart van die boodskap? Die hart van Openbaring se boodskap is dat God die Alfa en die Omega is. Die begin en die einde; dat Hy wat in ons die goeie werk begin het dit sal voltooi. Johannes wil aan ons hoop en geloof gee sodat ons in die hede – die Suid-Afrika van vandag – volheid vir God kan leef. Geloof, deurdat ons ‘n sekere kennis het van en ‘n vaste vertroue het in die werk wat Jesus alreeds vir ons volbring het. Hy het alreeds die dood oorwin en vir ons die Ewige Lewe geskenk. Daarin kan ons glo.

Hoop, deurdat ons ‘n sekere kennis het van en ‘n vaste vertroue het in die werk wat Jesus nog vir ons sal volbring. So seker as wat Hy uit die dood opgestaan het (tans die kern van ons vieringe) en opgevaar het na die hemel, sal Hy weer kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Daarom kan ons nou reeds daarop hoop, en glo wat Hy reeds volbring het. Ons kan voluit lewe, want ook die hede behoort aan Jesus, ja, vandag. Openbaring roep gelowiges op om nie kompromieë met die bose aan te gaan nie en ook nie om te onttrek van die wêreld nie, want dit behoort ook aan God. Nee, ons word opgeroep om te getuig, al kos dit ook ons lewe op die aarde. Hoe ook al, ons moet ons verantwoordelikheid begin nakom. (Wat is hierdie verantwoordelikheid? Hoe lyk dit in my werk, my besigheid, my skool, my gesin, my alledaagse verhoudinge?)

Slegs tweehonderd jaar nadat Openbaring geskryf is, het die Christelike geloof die amptelike geloof van die Romeinse staat geword. Waarom? Omdat gelowiges, soos Johannes, hulle verantwoordelikheid nagekom het en getuig het van Jesus wat die Alfa en die Omega is – die begin en die Einde, Hy wat was, en wat kom die Almagtige.

Die vraag vir ons vandag is dus: Hoe getuig ons aangaande die Alfa en die Omega in ʼn wêreld waarin dinge ook uitmekaar val, onsekerhede, etc., etc.? Hoe kan Johannes se blik vanuit die hemel ons vandag help met ons blik op die verlede, die hede en die toekoms? Wat is die gemoed van die mense in jou konteks? Hoe getuig hulle gedrag van dit wat hulle glo? Uiteindelik bevestig, of ontken ons gedrag juis dit wat ons glo. Jesus Christus is die Alfa en die Omega.

Jampie Nel

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring%2001_4-8.doc

Seisoen van Luister Powerpoint: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/04/Openbaring1_4-8.jpg 

 

Verder Geluister: Paasfees ~ Sondag 31 Maart 2013 ~ Joh 20:1-18

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Paasfees ~ Sondag 31 Maart 2013 ~ Joh 20:1-18

Dit kan hartseer wees oor die dood van Jesus, dit kan skok wees oor die feit dat Sy liggaam nie in die graf is nie, dit kan ontsteltenis wees oor die moontlikheid dat Sy liggaam gesteel is, maar Maria herken Hom nie. Sy misgis haar en dink Hy is die tuinier. Sy kyk, maar sien nie. Moontlik ook nog omdat sy ‘n dooie liggaam verwag en nie ‘n Lewende nie. Haar “prentjie” het die werklikheid gekleur om dit vir haar verstaanbaar, bevatlik te maak.

Wie ore het om te hoor laat hulle hoor en wie oë het om te sien laat hulle sien. Christus het opgestaan!

Tog, hoe moeilik is dit nie vir ons moderne wetenskaplike mense nie. “Seeing is believing” en ons was nie daar nie. So al wat ons raaksien is dooie liggame en geweld en aardverwarming en vooroordeel en veroordeling en tuiniers en tuiniers en tuiniers.

Die opstanding is ‘n geloofswaarheid. ‘n Belydenis in en ‘n afhanklikheidsverklaring aan ‘n Drie-enige-God. Dit is om jou sekerhede wat bewys en geboek kan word, weg te gee vir ‘n lewende verhouding met die Lewende God sodat jy nie die tuinier vir Jesus aansien nie, maar in elke tuinier Jesus raaksien.

Om te glo in die opstanding van Jesus is om ook te breek met al die wetmatighede wat ons so kan vashou. Nie net die van tyd en ewigheid nie maar ook die wet-matig-hede van wettisisme en rassisme en seksisme en kapitalisme wat ons ons aanmatig en wat ons in die “graf” hou. Dit laat ons opstaan uit die mag van geld, aansien, posisie en uit die roem van Griek, Jood, slaaf, man, vrou en uit die verleiding van die eie-ek.

In Sy opstanding bied Jesus ons ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe kyk na die lewe en na mekaar en na die werklikheid in sy volle omvang. Dan sien ek Sy sorg en liefde in die hond wat in die pad langs sy maat gaan lê wat deur ‘n motor getref is. En in die pa-voëltjie wat die wurm na die ma-voëltjie bring wat dit eers verpulp voordat sy dit in die bekkie van die kuiken voer. En in die son wat in die oggend opkom en lig maak wat die donker verdryf. En mense wat mekaar help om ‘n afgebrande hut weer op te bou. En ouers wat hulle kinders troos. En kinders wat hul ouers eer. En mense wat mekaar vergewe. En ‘n gemeente wat instandhouding verruil vir gestuurdheid. En ou muwwe reuke van ‘n toe graf wat verdring word deur die vars lug van ‘n oop graf.

Dan besef ek dat God se liefde en genade op geen beter manier gewys kan word nie, as dat Hy die dood vir die lewe geruil het nie. Ook my dood en my doodsheid.

(Kyk ook na die verhale in Stories vir die lewe, saamgestel deur Piet Naude. Die Rabbi se geskenk, p 100 en Wanneer is dit dag, p 103.)

Pierre Goosen

Preekriglyn in Argief – 1: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/03/Johannes%2020_1-18.doc

 Preekriglyn in Argief – 2: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/43-Johannes/Johannes%2020_1-18.htm

 Seisoen van Luister Powerpoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/718_24acce9f11dcff77e2b959fa08ba8de8

Verder Geluister; Joh 18:1–19:42 Goeie Vrydag 29 Maart 2013

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Goeie Vrydag ~ 29 Maart 2013 ~ Joh 18:1–19:42 

Die afgelope naweek het die Wes-Kaap se Stormers duidelik 80 minute rugby teen die Brumbies gespeel, en só die wedstryd oortuigend gewen. As ondersteuners het ons al baie keer gekla dat hulle juis nie al hul wedstryde voluit speel nie en is die kritiek dat hulle dikwels net 40 minute speel. Goeie Vrydag is die eerste helfte van die hoofwedstryd – die Paasnaweek-wedstryd, waarvan Paassondag die tweede helfte uitmaak. Christus Jesus word gekruisig om die verlossingswerk (ons van sonde te verlos), te inisieer en Hy sterf op Goeie Vrydag, maar staan dan juis die derde dag uit die dood uit op om die verlossingswerk te voltooi. Sonder die opstanding is die wedstryd nie afgehandel, het die kruis nie betekenis nie en word ons enersyds geroep om te glo in Jesus as die Seun van God en andersyds om onsself voluit diensbaar in sy Koninkryk te stel. Dit is soos Adrio König op Kruis en Dwars verlede Sondagaand oor die opstanding sê: “al relevansie van die opstanding vir ons vandag is dat die evangelie waar is.”

Wat die kruisdood ons wil leer is om die volle wedstryd van verlossing te speel – bedoelende ons moet ons ten volle toewy aan die verlossingsverhaal. Ons word geroep om enduit ons deelname aan die verlossing wat Jesus kom bewerk het, op te neem. Christenskap kan nie halfhartig aangepak word nie en ons getuienis kan nie deeltyds uitgedra word nie. Ons moet in die voorbeeld van Jesus wat enduit gegaan het, volg.

Die kruisdood van Jesus moet in ons hele lewe, ten spyte van ons besige programme, voluit tot uitdrukking kom. Jesus se kruisdood bevestig dat ons nie pyn en lyding in ons getuienislewering kan vermy of omseil nie, of net sekere tye van toepassing kan maak nie.

Veral in ons moreelvervalle en geweldgeteisterde samelewing kan ons nie bekostig om Vrydag-christene of Saterdag-christene te wees nie, nee ons moet volle Paasfees-christene wees, ons moet elkedag-christene wees, ons moet kontekstuele en praktiese Christene wees, Maandag-tot-Maandag-christene wees. Dit kan ons wees juis omdat ons weet Sondag kom, die opstandig-sondag kom, die leë graf kom, die oorwinningsdag kom.

Dit beteken dat ons in ons eie persoonlike lewe dié dinge moet kruisig wat ons geloofslewe in vertwyfeling bring, moet ons dié dinge kruisig wat die geloofwaardigheid van ons Christenskap onder verdenking plaas, moet ons afsterf van die dinge wat mense aanstoot gee tot die opneem van die kruis van Jesus en hulle verhinder om volle oorgawe aan die man aan die kruis te maak.

Die Duitse teoloog, Bonhoeffer, herinner ons in sy boek ‘The Cost of Discipleship’ dat “when Christ calls us, He calls us to die.” Vir my beteken dit ek moet die volle wedstryd van Christenskap speel, ek moet tot die einde volhard – alles gee. Ek moet bereid wees om die prys daarvoor te betaal, naamlik opoffering, oorgawe, volle vertroue, hoop op die opstanding en die vooruitsig van die ewige lewe.

Kruisiging bring wel die realiteit van pyn, lyding, God-verlatenheid en selfs dood aan die orde, maar hou ook die realiteit van hoop, van oorwinning en opstanding in ons visier. Daarom kan ons moed skep om die lewensiklus van Christenskap heelhartig op te neem, dit onder moeilike omstandighede van eensaamheid, verworpenheid, geweld, korrupsie, armoede en noem maar op, te vergestalt – juis omdat Christus nie net verneder was nie, maar verhoog was; nie net uitgelewer was nie, maar herenig was; nie net gekruisig is nie, maar ook opgestaan het; nie net dood was nie, maar lewend gemaak is. Dit behels die volle wedstryd van Christenskap en kan ons dit enduit speel wanneer Christus, Here van ons lewe en ons sterwe word en ons daardeur in staat gestel word om ook ons deelname enduit by te dra. Moenie tou opgooi nie. Moenie ‘n slagoffer word van mismoedigheid, neerslagtigheid en wanhopigheid nie, want ‘Vrydag’ gaan verby en ‘Sondag’, dié Sondag van die Opstanding, Paassondag, die Sondag van hoop en lewe, die Sondag van Oorwinning kom, ja die Sondag van die Here se verskyning kom. Amen.

Donald Katts

Seisoen van Luister powerpoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/715_ad73f9b30ffdad6d68e037136b7264fe

Verder Geluister: Fil 2:5-11

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

24 Maart 2013 ~ Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag ~  Fil 2:5-11

Die bekeerde gevangene is steeds in ‘n proses van rehabilitasie, vertel hoe bang hy op ‘n stadium in die tronk was dat sy mede-gevangenes hom liggaamlike leed sou aandoen. Sy groot behoefte was om iemand te hê wat vir hom sal “uitkyk”.  Hy hoor toe van Here, maar dit is nie vir hom goed genoeg nie, want sy angs was te groot om op iemand te vertrou wat hy nie kan sien nie. Hy wil iemand hê wat hy kan sien.

Dit laat my ook dink aan jare gelede toe ‘n persoon wat haar man aan die dood afgestaan het in haar seer en eensaamheid gesê het dat sy weet die Here is altyd by haar en dat Hy haar nooit sal vergeet of verlaat nie, maar dat sy na haar eggenoot verlang … iemand met ‘n lyf.

Die student wat vir die terminaal siek pasiënt sê:  “onthou die Here is altyd by jou en Hy hou jou vas”.   Maar as hy dan daar wegstap dink, “ so what”, want daar lê die pasiënt nog steeds hygend, sterwend alleen.

Die wonderlike teologiese waarheid is dat God toe wel ‘n lyf gekry het. Dat Hy in die vorm, gestalte, lyf van ‘n mens ‘tussen ons’ kom woon  het,  Jesus van Nasaret. Die Here vereenselwig Hom so met ons en ons nood dat Hy Sy goddelike alomteenwoordigheid opskort, “on hold” plaas.

So bemoei die Almagtige Hom met die gevangene en vertroos Hy die pasiënt .

Die praktiese waarheid hiervan is dat mede-gevangenes, vriende, verpleegkundiges, beraders, familie, gelowiges, mense met lywe die tussen ruimte vul sodat God se mensheid gestalte kry. Dit vra natuurlik van ons om ons ‘onsheid’, die eie-ek, in navolging van Christus ook op te skort.  Ook nederig genoeg te wees om die persoonlike voordeel of aansien of klop-op-die-skouer of standpunt of posisie  wat ek dalk uit die situasie kan kry, af te gee.  Om ‘n ware dissipel (vs lidmaat) van Christus te wees.  Soos die spreekwoord sê: “to put your money where your mouth is”.

>>>>>>>>>>>>>>>>>>>

Daar is die (bekende?) verhaal van die man wat die brug oor die kanaal moet laat sak sodat die trein daaroor kan ry. Op ‘n kritieke oomblik beland sy kind tussen die ratte wat die brug laat sak en het die man die  verskriklike keuse om of sy kind te red of die honderde wat in die aankomende trein is. Sy keuse om sy eie kind te offer, ruk my elke keer as ek die storie hoor. Ek het immers self kinders en kleinkinders.

Hoekom word ek nie elke keer geruk as ek Fil 2 lees nie?! Het ek dit te gewoond geraak. Is dit dalk net te groot om waar te wees? Is daar so veel godestories en fabels dat mens dit van ‘n god kan verwag? Is ek dalk nie bang genoeg, alleen genoeg, verwonderd genoeg, nederig genoeg nie?

Gaan Goeie Vrydag net maar verby gaan as 29 Maart 2013?

Pierre Goosen

Riglyne in Argief:

http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/03/Filippense%2002_5-11.doc

Seisoen van Luistr Powerpoint: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/03/Filippense2_5-11.jpg