Author Archive

Verder Geluister: Nehemia 8: 1-3, 5-6, 8-10

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 20 Januarie 2013 ~ Derde Sondag ná Epifanie: Nehemia 8: 1-3, 5-6, 8-10

Jerusalem se mure is opgebou. Die gemeente vra dat die wet van Moses waarin die Here se bevele opgeteken is, aan hulle gelees word. Die gemeente het ’n behoefte aan die stem van die Here.

Hulle word met diep ontsag gevul wanneer die Woord gelees word. Eers staan hulle op, steek die hande in die lug en dan kniel hulle en buig diep terwyl hulle luister na die Woord. Die Leviete lees, en lê uit sodat die mense kon verstaan.

By die aanhoor van die Woord raak hulle aan die huil. Moontlik ’n teken van verootmoediging en belydenis. In elk geval duidelik dat hulle aan die hart gegryp word wanneer hulle die wet van Moses, die stem van die Here hoor.

Elke Sondag gaan die gemeente na die kerk (leraar) om die Woord te hoor. Ek wonder wat is die ingesteldheid van die gemeente? Ook ’n diep ontsag? (Dit is in elk geval al ’n goeie vraag wat ons in vandag se tyd met die betekenis en relevansie van die Woord gemaak het.) En dié van die leraars? Ook so dat die gemeente kan verstaan?
Ek wonder of die gemeente (ons) vandag nog aan die hart gegryp word as hulle (ons) die boodskap hoor? Met die wonderlike vermaak van kuns en musiek en sport; die aaklighede van geweld, korrupsie, uitbuiting, en verdagmaking – hét ons nog die emosionele energie oor vir die inhoud en impak van die Woord? Kan die Woord, en laat ons toe dat die Woord, ons so in kontak met onsself bring dat ons selfs ontsteld of bly kan raak? Watter woord, boodskap, sal ons so kan beweeg?

Die wet, as ’n teken van God se ooreenkoms/verbond en trou aan ons behoort ons ook te beweeg. Beslis behoort dit die boodskap van God se genade te wees wat ons aangryp. Die boodskap aangaande die Een in wie die wet volbring is. Die Beliggaamde van die belofte van ’n Nuwe Jerusalem (nie net ’n herboude-Jerusalem nie).

NT Wrigt skryf in sy Boek, Hope dat die Bybel op sy beste is (my woorde) wanneer dit gelees word vanuit die perspektief van die nuwe skepping. Die Bybel vertel ons nie net van die nuwe skepping (die nuwe Jerusalem) nie, maar is inderdaad die instrument wat die Gees gebruik om ons te transformeer sodat ons ook nuut, verwonderd, hoopvol kan wees.

“It is the book whose whole narrative is about creation, that is, about resurrection, so that when the gospels each end with the raising of Jesus from the dead, and when Revelation ends with new heavens and new earth populated by God’s people risen from the dead, this should not come as a surprise, but as the ultimate fulfillment of what the story had been all along.” (p295)

Vatbaar vir die werking van die Gees van God sal die Woord ons help om diepte te vind in ons verhouding met God en ander en onsself en die lewe. Soos ’n boom met ’n diep penwortel wat die lewegewende water ver gaan haal.

(Bogenoemde sluit aan by die NT Wright se bespreking van Act Five, sy beeld van die tyd waarin ons nou leef waar ons saam met God en Sy Woord medeskeppers is aan die nuwe skepping.
NT Wright: The Last Word
Artikel van John Piippo: www.johnpiippo.com waar hy Act Five bespreek
Communitas wat ook ’n handleiding en CD’s oor Act Five uitgewerk het)

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/16-Nehemia/Nehemia%208_1-10.htm

Seisoen van Luister:  http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/688_55a0f5701b5c43e7469aac9102ae067a

 

Verder geluister: Jesaja 62:1-5

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

20 JANUARIE 2013 ~ Tweede Sondag ná Epifanie ~ Jesaja 62:1-5

Dit wil vir my voel Suid-Afrikaners moet Jesaja verstaan, moet ten volle empatie kan hê met die gemeenskap vir wie Jesaja preek en profeteer. Inteendeel, as mens die eksegese van die leesrooster in ag neem, besef jy dat die oorheersende gevoel van daardie tyd moedeloosheid en onsekerheid was. Teleurstelling. Daar was nie hoop nie, net vrees. Met hierdie gevoel kan ten minste twee-derdes van die mense op aarde identifiseer. Dis absoluut relevant vir die groeiende getal armes en werkloses die wêreld oor. Selfs die rykes en die maghebbers is benoud vir 2013… want die wêreld se ekonomiese sisteem is op bitter dun ys. As dit inplof en ʼn resessie tref die wêreldekonomie, wil niemand weet wat die rampspoedige gevolge gaan wees nie. Nasies begin oorloë om so ʼn totale verlamming te voorkom.

Is daar hoop? Is daar ʼn verlosser? Jesaja 62 sê met volle oorgawe aan ʼn moedelose volk wie en hoe God is. Hy het hulle lief. Daar is ʼn alternatiewe toekoms. Transformasie, ʼn totale ommekeer van omstandighede is moontlik. Kyk na die ander skrifgedeeltes wat die bespreking noem. In Jesus Christus se koms, in die “dans van die Drie-eenheid” waar God deur die Heilige Gees “alle mag in hemel en op aarde” beskikbaar stel, is God met ons. Immanuel.

Hoekom realiseer dit dan nie?
Kyk na die groter prentjie, na vier taferele. Eerstens: die geskiedenis van Israel self. Die profete en Jesus self verduidelik oor en oor die waardes van die Koninkryk van God wat vrede laat deurbreek en voorspoed vir almal bring. Dit spel uit wat die afgode is waardeur al die ellendes kom. Vat dan drie of vier taferele uit ons eie geskiedenis: Die kolonialisasie van Suid-Afrika, die boere-republieke, die boere-oorlog. Volgens watter etiese waardes het die rolspelers in dié geskiedenis te werk gegaan? Afrikaners sal die motiewe van die Britse Ryk in sy hebsug na die land se minerale rykdom nie vergeet nie – ook nie die lyding wat dit teweeg gebring het nie (en die scenario speel hom by herhaling oral in Afrika af: VANDAG). Toe kom die apartheidsera. Was die politieke motiewe en stelsel van die Afrikaanse regering eties, Bybels korrek? Min mense het terugskouend daaroor onduidelikheid. Laastens: kyk na die ANC-era sedert 1994, in die besonder die Zuma-jare. Wie het twyfel oor die verregaande korrupsie en magspel wat in en deur die regering gepleeg word? Min mense is bewus van ʼn vyfde tafereel, die neo-liberale kapitalisme wat globaal in ʼn groot mate die spel van onreg voortsit op ʼn skaal wat die wêreld voorheen nog nie geken het nie. Hier is die groot kanonne meestal onsigbaar agter rekenaarskerms en somme maak.

En steeds is daar hoop. Jy kan Jes 62:1-5 lees en glo. Jy kan dit in gesinne en gemeentes en dwarsdeur die geskiedenis bewys sien: Waar gelowiges die Koninkryk van God se waardes volg, God as hulle Vader/Moeder en Verlosser en Leidsman volg, waar mense en gemeentes soos ʼn bruid net oë en hart het vir die Bruidegom, daar verander alles. Dit kan uitkring van om jou eie lewe, van om jou eie gesin, van om jou eie gemeente. Dit begin altyd klein. In Jesus Christus se koms het dit begin. Johannes het Jes 62:1-5 in Johannes 3:16 in sy eie woorde herhaal.

Ons het ʼn nuwe Naam nodig. ʼn Nuwe handelsmerk. Christene se Naam moet weer Christus as inhoud kry – en geleef word. Dis ʼn lewe van gee, nie van vat nie; van diens, nie van bedien word nie.

Jurgens Hendriks

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/23-Jesaja/Jesaja%2062_1-5.htm

Seisoen van Luister:
http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/685_6a78acf20b6b8b9a696364ee766a107f

 

Verder Geluister: Wat om te doen terwyl ons vir Kersfees wag ~ Lukas 3:1-6

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

16 Desember 2012  ~ Derde Sondag van Epifanie

Wat om te doen terwyl ons vir Kersfees wag: Lukas 3:1-6

Die groot en slim wetenskaplike, Albert Einstein, het glo eenkeer gesê:  Waansin is om oor en oor dieselfde ding te doen en verskillende uitkomste te verwag. Of, in lekkerder Afrikaans, jy is mal as jy dink jy kan dieselfde goed oor en oor doen, en dan verwag dat iets nuuts daaruit sal kom.

Dit klink amper asof Einstein besig is om die tyd voor Kersfees te beskryf. Dis omtrent ’n tyd van waansin. Mense jaag na vakansieplekke toe, koop presente wat hulle nie kan bekostig nie,  hou ewigdurende partytjies, drink te veel en eet massas ongesonde kos. En, soos elke jaar, verwag hulle dat dit hulle gelukkig moet maak. Verlede jaar het dit nie gewerk nie. En die jaar voor dit ook nie. Maar hierdie jaar, dink hulle, gaan al die geroesmoes skielike, ewigdurende geluk bring.

Lukas 3 vertel ons wat gebeur in die tyd voordat Jesus met sy bediening begin het. Johannes die Doper, ’n rondreisende prediker, het die mense opgeroep om hulle van hulle sondes te bekeer, en om gedoop te word. Eintlik, sê Lukas, het hy die mense kom gereed maak vir Jesus se boodskap. Johannes het die pad gelyk kom maak vir Jesus. En hy het die mense aangemoedig om hulleself reg te kry vir die Verlosser wat oppad is. Netsoos Jesaja  voorspel het, sê Lukas, en dan haal hy aan wat ons vandag as Jesaja 40:3-5 ken. In hierdie stuk word daar vier opdragte vir die mense gegee om hulle voor te berei vir die Here wat kom; en dan word daar drie beloftes gemaak van die wonderlike dinge wat sal gebeur.

Ons vier ons lewens lank al Kersfees. En altyd min of meer op dieselfde manier. En kom daar ooit iets nuuts van? Kom ons kyk nou in hierdie tyd voor Kersfees weer na die vier opdragte wat Jesaja en Lukas die mense gegee het om hulle vir die Here se koms voor te berei. En dan verlustig ons in die drie beloftes wat gemaak word. En wie weet, dalk bring hierdie Kersfees vir ons iets nuuts en wonderliks.

Tussen hakies, en net so vinnig, kan ons daarop let dat ons vier dinge kan doen, vir drie uitkomste van God se kant af. So, ons en God is saam in hierdie ding. Maar dis nie asof ons nou God se wonder in Christus moet verdien nie. Nee, ons moet onsself voorberei om ons aan God se geskenk aan ons in Christus te verwonder, te verlustig en diep betekenis in ons lewe te vind.

Die eerste ding dan wat ons moet doen in die tyd voor Christus se koms, boodskap en bediening is … “Berei die weg van die Here“ (Lukas 3:4c). Sjoe, sal julle sê, dis ’n bietjie breed gestel! Hoe moet ons die weg van die Here voorberei?

Ek sou sê ’n mens moet jou van vooraf weer aan Kersfees verwonder. Nie aan die kersboom, die geskenke en die gesellighede nie – alhoewel al dié dinge ons ook op ’n besonderse manier aan mekaar bind gedurende hierdie tyd. Ons moet ons daaraan verwonder dat Christus iets nuuts bring. In plaas van net gewoonweg aan te hou haat en skinder, kan ons ons verwonder aan liefhê en uitreik. In plaas van die gewone negatief wees en kla, kan ons ons daaraan verwonder dat Jesus hoop in ’n wêreld gebring het wat in ’n gemors was. Die wêreld is nou ook min of meer in ’n gemors. Dis hoekom ons nou nuut moet dink oor hoop, en hoe ons daarmee die pad vir Kersfees gaan oopmaak.

Die tweede ding wat ons moet doen, is ons moet vir Jesus die pad reguit maak. Nou, vervlaks, hoe doen mens dit? Ek dink dis soos om met ‘n GPS te ry en reguit op jou bestemming af te ry, want jy weet waarheen jy gaan, al ken jy nie self die pad soontoe presies nie. Ons maak dinge tussen ons en God reguit wanneer ons met gesonde waardes lewe, met reguit waardes. En ons ken hierdie waardes wat mense nog altyd op die reguit pad gehou het:  eerlikheid, jou word hou, ander respekteer, tyd hê vir ander mense, en hulle menswaardigheid respekteer, ook op kantoorpartytjies en in die druk verkeer om die Fonteine Sirkel.

Die derde ding wat gedoen moet word, is “elke dal moet opgevul word”, soos die ou vertaling sê. In ons taal vandag, sal ons  sê:  Elke slaggat moet opgevul en reggemaak word. Watter slaggate moet ons regmaak voor die pad na Kersfees vir ons ooplê dat ons Christus en sy boodskap daarop kan ontmoet?

Miskien moet ons hier kyk na die pad wat ons as gemeente saam stap. Watter gate het ingeval op die pad wat ons saam stap? Miskien het ons vergeet om te groei? Miskien het ons al ‘n ring-saak of twee teen mekaar gemaak. Miskien bring die gebrek aan geld groot spanning in die gemeente. Miskien is daar een of twee mense wat baas speel in die gemeente en die kerkraad oorheers. Miskien het ons net sommer vergeet om mekaar te geniet. Miskien is daar iets aan die dominee wat ons irriteer, of kan ons nie die orrelis uitstaan nie. Of miskien is daar soveel vernuwing in die gemeente dat daar nie meer ’n orrelis is nie. As hierdie goed slaggate geword het, moet ons die opvul en regmaak voor Kersfees.

Die vierde ding wat moet gebeur voordat ons Jesus oppad na Kersfees toe kan ontmoet, is dat “elke berg en heuwel moet wegsak“ – weer eens volgens die ou vertaling. Wat is “obstacles“ nou weer in Afrikaans? Dinge wat ons pad blokkeer. Dinge wat maak dat ons nie verby kan kom nie, dat ons nie kan vorder nie. Dis waarvoor ons hier moet uitkyk. Wat staan tussen ons en Christus, dat ons ons nie ten volle aan hom kan verwonder, en sy boodskap nie heeltemal kan verinnerlik, en dit terwyl dit Kersfees is nie? Miskien het ons net belangstelling verloor, en vergeet wat uniek en lewe-gewend aan Christus se boodskap is. En dit is tog dat ons hier op aarde ’n lewe kan lewe wat betekenis het, wat waarde het, en wat ’n toekoms het, selfs na die dood. Ja, miskien is belangeloosheid, of gewoonte of afgestomptheid die dinge wat ons pad na Jesus toe en ons pad na Kersfees toe blokkeer. Of miskien kan julle nog ander noem.

Wanneer ons nou die slaggate opgevul en die versperrings uit die pad gehaal het, kan ons die wonder van saamwees met Christus met Kersfees geniet. Die eerste ding waarna ons kan uitsien, is dat “die kromdraaie ’n reguit pad sal word“ (Lukas 3:5c). Ons sal vrede kry oor dinge wat ons angstig maak, soos kromdraaie wat maak dat ons nie kan sien wat aan die kom is nie. Wanneer ons die pad met Jesus loop, kan ons sonder angs wees, want die sorg wat ons kry, is selfs groter as wat ons nodig het.

Nog ’n ding gebeur wanneer ons ons voorberei het op Christus hier voor Kersfees. “Die skurwe plekke sal gelyk paaie word”. Die skurftes van die lewe word weggeveil. Die goed wat krap, word onbelangrik. Die skurftes verloor hulle invloed op ons lewens.

En dan, die grootste wonder wat vir ons voorlê as ons ons reg voorberei vir Kersfees:  “Ons sal almal die heil van God sien.“

En dit is waaroor Kersfees gaan. Om die heil, die wonder, die goedheid, die bevryding van God te sien en te geniet. Daarvoor kan ons graag die pad gelyk maak.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2012/12/Lukas%2003_1-6.doc

 

Verder Geluister: Lukas 21:25-38

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

2 Desember 2012 ~ 1ste Sondag in Advent ~ Lukas 21:25-38

In beide die liturgiese riglyne en die preekvoorstel beklemtoon die skrywers dat eerste Adventsondag bekend staan as “Sondag van hoop”. Die tekste nooi die gemeente om ʼn “nuwe jaar” te begin en bring die gemeente van aangesig tot aangesig met die verwagting van Christus se wederkoms en die hoop wat daar by gelowiges oor die toekomstige verlossing leef.

As ʼn mens gaan kyk na die tyd waarin die sinoptiese skrywers hierdie apokaliptiese gebeure beskryf waarbinne die onderskeie lesers opgeroep word om te bly hoop, naamlik in die tyd van die verwoesting en vernietiging van Jerusalem, kry ʼn mens ʼn baie beter perspektief op die impak van die oproep. Om die hoorders van eerskomende Sondag “in kaart te bring” – sal dit nodig wees om moeite te doen om vir ʼn tydjie by hierdie “haglike omstandighede” van die eerste lesers stil te staan. Of dit nou Markus se beskrywing is (dus direk na die val van Jerusalem) en of dit ʼn tydjie na die gebeure is, soos in die geval van Lukas se beskrywing – die impak en omvang van die gebeure het ʼn enorme effek op hierdie eerste-eeuse gelowiges gehad.

Myns insiens sal dit die moeite loon om ʼn bietjie langer stil te staan by verskillende aspekte wat verband hou met gebeure wat as “apokalipties”ervaar word. ʼn Mens sou jou self kon afvra, wat is hier vanuit ekologiese, ekonomiese en psigologiese perspektiewe aan die orde? Wat is die impak van hierdie tipe gebeure op die psige van die mens (vrees, angs, onsekerheid), watter impak het dit op mense se hoop vir die toekoms as die “sentrum van hulle wêreld” letterlik in duie stort? Waar laat dit jou as jou “plausibility structure” weggekalwe word deur gebeure waaroor jy geen beheer het nie en wat jou psigies, moreel en self fisies laat kwyn?

Dit is nie moeilik om op die oomblik parallelle in ons eie konteks vir hierdie “apokaliptiese gebeure” te vind wat Lukas met groot grafiese detail binne sy konteks beskryf nie. Dit hang natuurlik af van waar jy jou self in die land bevind. As jy in die Noorde is, kan die Marikana-gebeure gebruik word om iets van die tragiek van ons eie ervaring van angs, onsekerheid en hooploosheid, te beskryf. Nie alleen die visuele detail van wat gebeur het (deur die TV in ons woonkamers ingebring) maar veral die emosionele en sosiale trauma wat daarmee verband hou, behoort van nader bekyk te word. Die indink in die situasie van ʼn moeder wat by ʼn graf staan en totsiens moet sê aan ʼn kind wat die broodwinner was. Die groter sistemiese ongeregtigheid wat hierdie tipe gebeure voorafgaan en die enorme impak wat dit laat op jou vooruitsigte en vertroue in die toekoms.

Indien jy jouself in die Wes-Kaap bevind, sou die impak van die opstande en onluste wat die vrugte- en wynbedryf tot gevolg gehad het, as verwysingsraamwerk kon dien. Weereens dink ek dit is nodig dat daar gepoog moet word om vrae te vra na wat die onderliggende faktore vir hierdie gebeure is? Wat motiveer mense om tot sulke dade oor te gaan? Hou dit met interne party-politieke kwessies verband, ʼn ANC-regering wat die provinsie wil destabiliseer omdat hulle nie die mag het nie? – of gaan dit oor die onbeheerbare instoming van seisoenale werkers uit buurlande met niks om te verloor as hulle begin plunder nie – of hou dit werklik verband met ʼn dagloon wat dit vir mense onmoontlik maak om in die basiese daaglikse behoeftes te voorsien? – of is dit materialisme en ʼn verbruikerskultuur wat tot gevolg het dat ons reken dat ʼn klomp goed ons toekom, en as ons dit nie kry nie, dan vat ons dit deur geweld? Jy sal weet wat die vrae in jou konteks is.

Dit is ook nie moeilik om aansluiting te vind by wat in die VSA ʼn maand gelede gebeur het met die storm “Sandy” wat veral New York geheel en al lam gelê het nie. Daar is aangrypende en ontstellende foto’s op die internet van hoe een van die grootste stede in die wêreld voor die geweld van die natuur swig en die enorme impak wat dit op mense se lewens gehad het. Om toe te sien hoedat dit wat jy jou lewe lank aan bou en bymekaar maak in sekondes vernietig word, gryp ʼn mens aan die hart.

Die feit bly, ons kan eers ons koppe begin oplig oor die moontlikheid dat die evangelie goeie nuus vir ons aankondig en dat die Verlosser vir ons redding bring, as ons bewus is van ons magteloosheid voor gebeure waaroor ons nie beheer het nie. Soos Ronell Bezuidenhout tereg in die preekstudie (p.10) skryf: “Wanneer die lewe lekker is, dink ons verlossing is onnodig. Maar God se uitkoms is goed vir mense wat nood het. Vir mense vir wie die lewe slegte nuus is. As jou lewe onderstebo is, wil jy uitkoms hê. As jy ʼn daaglikse lewe van geweld moet trotseer, of dit nou fisieke mishandelinge in ʼn gesin is of uitsigloosheid as gevolg van armoede, sulke mense hou vas aan hoop.”

Apokaliptiese gebeure stroop ons dus van baie pretensies en dwing ons om te reflekteer oor wat werklik belangrik is, nie net vir onsself en ons eie mense nie, maar vir ons gesamentlike oorlewing en voortbestaan hier aan die Suide van Afrika waar God ons roep om ons koppe op te lig en die oproep te hoor “bly waaksaam”. Hierdie waaksaamheid hou volgens Ronell verband met die feit dat ons “nou” – verstaan moet word as deel van God se koninkryk. En as ons mooi kyk sien ons dalk tussen die rommel van die hede die groen spruite van nuwe lewe, die nuwe lewe van ʼn nuwe jaar en die moontlikheid van ʼn nuwe verbintenis aan Hom wat reeds in die toekoms vir ons wag. Wat ʼn voorreg om die draer van hierdie goeie nuus te wees!

Ian Nell

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2012/11/Lukas%2021_25-36.doc

 

Verder Geluister: Neem beheer oor jou omstandighede

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

25 November 2012 ~ Sondag van Christus die Koning ~ Neem beheer oor jou omstandighede
Daniël 7:9-18

Daniël het ‘n droom.  Dis nie ‘n droom soos wat ek of jy sal hê nie.  Wanneer ons droom, het ons òf ‘n nagmerrie wat ons laat wakker skrik, òf ‘n soet droom wat ons behaaglik laat wakker word.  En sommer die hele dag by ons bly.

Daniël se droom begin met ‘n nagmerrie, en eindig met ‘n pragtige toneel van heers en in beheer wees.  Eintlik noem ons dit nie ‘n droom nie, dis ‘n visioen.  Dit kom met ‘n betekenis. 

Daniël sien vier diere uit ‘n stormagtige see opkom.  Die eerste een lyk soos ‘n leeu met die vlerke van ‘n arend.  Die tweede een lyk soos ‘n beer, en die derde een soos ‘n luiperd met vier vlerke en vier koppe.  En toe kom daar ‘n monster van ‘n vierde dier. 

En dan verander Daniël se nagmerrie in iets groots en duiselingswekkend pragtigs.  Trone word uitgesit, en op die hooftroon gaan sit die Oue van Dae, soos die ou vertaling hom noem. Die nuwe vertaling noem hom  “Hy wat vir ewig lewe” (vers 9).  Hy is stralend van gesag.  En hy spreek ‘n oordeel uit oor die vier diere.

Maar dan gebeur daar nog ‘n ding.  Uit die wolke uit kom daar die Seun van die Mens, en word voor die Oue van Dae gebring.  Die nuwe vertaling noem die Seun van die Mens “iemand soos ‘n menslike wese”.  Anders as die diere wat uit die see opkom, kom die Seun van die Mens uit die wolke;  anders as die diere wat veroordeel word, ontvang die Seun van die Mens ewige heerskappy oor al die volke en nasies.

Wat beteken dit alles, vra Daniël nou vir een van dié wat daar staan, seker ‘n engel.  Dié lê die visioen vir hom uit:  Die vier diere is vier magtige koninkryke wat sal vergaan, maar die “heiliges van die Allerhoogste” sal aanhou heers vir ewig (vers 18).

Sjoe, van wie word nou eintlik hier gepraat? sal ‘n mens wonder.  Die vroeë Christene het gedink dat die Oue van Dae na God verwys, en die Seun van die Mens na die Messias, dit is, na Jesus Christus.  En natuurlik is dit ‘n belangrike moontlikheid om hierdie visioen so te lees.  En juis is dit nou Sondag Christus-die-Koning-Sondag waarop ons vier dat Christus ons Koning is en oor die wêreld heers.  Jesus verwys dan ook dikwels in die Nuwe Testament na homself as “die Seun van die Mens”.

Daar is miskien ook ‘n wyer interpretasie moontlik.  Die “Seun van die Mens” is eintlik ‘n manier om na mense in die algemeen te verwys.  En wanneer die engel vir Daniël die visioen uitlê, sê hy dat die Seun van die mens na die “heiliges van die Allerhoogste” verwys.  Met ander woorde, na gelowiges soos ek en jy.

En dis nou wonderlik om te dink dat God ons bemagtig het om te heers.  Netsoos hy Jesus Christus bemagtig het.  En on sweet Jesus is nie ‘n politieke heerser nie.  Hy het ons kom leer om oor die wêreld te heers met ons geestelike waardes.  Hy het ons siele verlos om ewig met God te wees;  hy het ons ook kom verlos van die wêreldse waardes van haat en harde materie.

Hoe heers ek en jy elke dag met die wêreld en ons omstandighede wat ons wil insluk en wegsluk?  Ek loop nou die dag ‘n stukkie raak onder die opskrif “The 12 symptoms of spiritual awakening” van ene Adam Jones.  Ek dog toe daar staan dinge in wat ons Christene lankal weet.  Kom ons kyk weer daarna.

Wat is dit om “geestelik wakker”, “geestelik sterk” te wees?  Met ander woorde, wanneer is jou geestelike sterkte jou sterkste sterkte?

Een.  Jy is geestelik sterk, en heers oor jou omstandighede, wanneer jy dinge laat gebeur sonder dat jy altyd voel dat jy dinge moet laat gebeur.  Ek hou daarvan.  God het jou in beheer geplaas.  Jy hoef nie te voel jy knak wanneer jy nie alles kan beheer nie.

Twee.  Jy wys jy’s geestelik wakker wanneer jy spontaan aan die glimlag raak.

Drie.  Jy is geestelik sterk, en word al hoe sterker, wanneer jy verbonde voel aan die mense en die natuur om jou.

Vier.  Jy toon geestelike sterkte deur waardering teenoor ander te betuig, en sommer dikwels ook.  En dit kom spontaan.  En wil nie sommer weggaan nie.

Vyf.  Jy is geestelik sterk wanneer jy spontaan dink en doen, en nie altyd eers teruggryp na jou vorige ervarings en vrese nie.

Ses.  Jy is inderdaad geestelik wakker wanneer jy die vermoë ontwikkel het om elke oomblik van die lewe te geniet.

Sewe.  Geestelike wakkerte is om jou nie te bekommer nie.

Agt.  Geestelike sterkte is om belangstelling in konflik te verloor.

Nege.  Geestelike wakkerte is om belangstelling daarin te verloor om ander heeltyd te interpreteer.

Tien.  Geestelike wakkerte is om belangstelling daarin te verloor om ander te veroordeel.

Elf.  Geestelike wakkerte is om belangstelling daarin te verloor om jouself te veroordeel.

Twaalf.  Jy is geestelik sterk wanneer jy kan liefhê sonder om liefde terug te verwag.

Nouja, daar het ons dit.  Miskien kan ons die lysie uitbrei.  Wanneer voel jy sterk?  Wanneer voel jy dat jy die beheer oor jou omstandighede kan uitoefen wat God jou gegee het?

Hierdie Sondag vier ons Christus-die-Koning.  Ons vier dat God op die troon sit.  Ek en jy sit nie op die troon nie.  Ons staan voor die troon en kry ons sterkte van die Troon af.  Ons is sterk gemaak om oor die terugslae van die lewe te heers.  Om met liefde en geregtigheid oor mekaar en oor die natuur te “heers”.  Soos ons Koning Jesus Christus gedoen het.

Christina Landman

Preekstudie in Argief:
http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/27-Daniel/Daniel%2007_9-14.htm

Seisoen van Luister

Daniël 7:9-10, 13-14 – Sondag van Christus die Koning – Feesdiens – 25 November 2012

Daniel7 9-10 13-14In Familietyd kan jy via die storie van Oskar Schindler, soos in die fliek Schindler’s list vertel, die konsep van Christus se vrederyk verduidelik. Dit dek die tafel vir die boodskap van die boek Daniël wat die gordyne voor die ewigheid ooptrek sodat gelowiges die eintlike drama in die wêreldgeskiedenis kan raaksien. Ons leer dat die wêreld – ten spyte van alles wat op die teendeel dui – aan God behoort, in God se hande is, en voor God se troon sal eindig. Daardeur word ons bemoedig, omdat ons die dreigende gebeure in die wêreld kan gadeslaan en moedeloos raak. Deur op die werklikheid van God te fokus, bemoedig die boek Daniël ons egter. God troon oor die wêreld geskiedenis. Die werklikheid van God gee ons hoop.

Daniël 7:9-10, 13-14.ppt     1.15 MB Nov 05, 2012 11:32 Download  
Daniël 7:9-10, 13-14.pptx     955.9 KB Nov 05, 2012 11:30 Download  
Daniël 7:9-10, 13-14.doc     106.5 KB Nov 05, 2012 11:30 Download  

 

Verder Geluister: Mark 13:1-12

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

18 November 2012 ~ Vyf en twintigste Sondag in Koninkrykstyd ~ Mark 13:1-12

Ek bel Vrydag my NG Kerk dominee-vriend op De Doorns om te hoor wat alles daar aan die gebeur is. Wat hy vertel is aangrypend. Die NG kerk in die hoofstraat en al die besighede is toe. Die skole is toe. Die armes is al erg honger. Baie van die lidmate se vroue en kinders was die afgelope paar nagte elders, in Worcester, in strandhuise. Die mans het agtergebly en pas die wingerde en huise en skure op. Hulle moes hulleself organiseer en hulp inkry. Hy gee detail. Die plaaswerkers wat “vir die boere” wou help is so geslaan en verinneweer, gedreig en geïntimideer dat ook hulle nie naby die plaas en hulle huise kan kom nie. Die polisie is ge-Marikana. Hulle is te bang om te skiet en het hier en daar hard probeer keer, maar wil geen geweld gebruik nie – die gevolg is dat die skares doen wat hulle wil. Hulle steek die wingerde aan die brand en plunder – al kyk die polisie toe. Daar is groot getalle werklose mense in die De Doorns vallei. Nuwe en groeiende plakkerskampe is aan die orde van die dag en baie van hulle is onwettige immigrante, veral van Lesotho. Die mense word opgestook deur groepe wat ingery is soontoe. Daar is ANC politici wat die chaos misbruik om verlore stemme te probeer terugwen, hoogs onverantwoordelik. Die gerug loop sterk dat Julius Malema op pad is…. en so vertel hy.

Ek is skoon verslae na die lang gesprek. Ek wou hom vra wat preek hy Sondag. Ek is kwaad. Dis duidelik dat die uiters swak regering en korrupsie en basiese onbekwaamheid besig is om ons land te ruïneer. Die armes word armer en kom amper noodgedwonge in opstand.

Saterdagoggend lees ek die Preekstudie – Markus 13, Ek onderstreep die eksegese.

En toe begin die Bybel vir my preek. Later is ek skoon skaam. Ek lees die Message vertaling naas die Afrikaans en besluit mens moet dit tot ten minste vers 12 lees en gebruik. Skrefies lig breek deur. Ek sien geen finale oplossing vir SA se politieke gemors nie, maar wel genoeg om te weet die Here praat met my, maak nie saak wat ek vir Aktuele Kommentaar gaan skryf nie. Ek besef:

•    Jesus het sy dissipels gewaarsku om nie te skrik vir die soort chaos nie. Die Message vertaal dit so goed en kontekstueel “This is routine history, and no sign of the end.” “Geboortepyne van ʼn nuwe tyd” in die Afrikaans laat my diep dink. Wanneer kom dit? – of het dit al gekom, is dit net onsigbaar omdat ons dit nie wil sien nie?
•    Die dissipels is lief vir hulle kerk. Ek dink daaraan dat hulle by die hemelvaart nog vir Jesus vra wanneer Hy die “Koninkryk van ISRAEL” gaan oprig. Hulle tempel, hulle koninkryk. Die oorsaak van al die chaos en die totale vernietiging van daardie wonderlike tempel is eie koninkryke, eie kerke. En.. dit is  routine history. Niks nuuts nie!
•    Die Message vertaal: “Watch out for doomsday deceivers. Many leaders are going to show up with forged identities claiming, ‘I’m the One.’ They will deceive a lot of people.” Hoe waar is dit nie! Hulle foto’s en spotprente met stortkoppe en nog meer is oral. En hulle is voorwaar hopeloos. Maar dan staan daar ook in die Afrikaans: En julle moet teen julleself op julle hoede wees. My eerste reaksies op De Doorns se chaos kom helder in die getuienisbank voor my staan.

Ek besef die dominee op De Doorns het tog iets gesê wat ek nie toe wou hoor nie, ek was te kwaad. Jesus wil my Olyfberg toe vat sodat ek op ʼn afstand kan kyk na ons godsdienstige erfenis en die routine history wat dit baar. Verstaan ons iets van die Koninkryk van God, van Markus se  “evangelie van Jesus Christus, die Seun van God?”  

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Matt 24:1–2; Luk 21:5–6)
13  Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”
2  Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”
Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Matt 24:3–14; Luk 21:7–19)
3 Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: 4“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”
Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 6Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.
“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 8Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.
9  “En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal ’n getuienis voor hulle wees. 10En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. 11Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. 12Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 13Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”

DOOMSDAY DECEIVERS
13 As he walked away from the Temple, one of his disciples said, “Teacher, look at that stonework! Those buildings!”
     Jesus said, “You’re impressed by this grandiose architecture? There’s not a stone in the whole works that is not going to end up in a heap of rubble.”
     Later, as he was sitting on Mount Olives in full view of the Temple, Peter, James, John, and Andrew got him off by himself and asked, “Tell us, when is this going to happen? What sign will we get that things are coming to a head?”
     Jesus began, “Watch out for doomsday deceivers. Many leaders are going to show up with forged identities claiming, ‘I’m the One.’ They will deceive a lot of people. When you hear of wars and rumored wars, keep your head and don’t panic. This is routine history, and no sign of the end. Nation will fight nation and ruler fight ruler, over and over. Earthquakes will occur in various places. There will be famines. But these things are nothing compared to what’s coming.
     “And watch out! They’re going to drag you into court. And then it will go from bad to worse, dog-eat-dog, everyone at your throat because you carry my name. You’re placed there as sentinels to truth. The Message has to be preached all across the world.

Jurgens Hendriks

 Geen Preekriglyn in Argief

Seisoen van Luister Powerpoint

Markus 13:1-13 – 25ste Sondag in Koninkrykstyd – 18 November 2012

Markus13 1-8In Familietyd kan die konsep van die wederkoms vir kinders oorgedra word aan die hand van talle voorbeelde waar pyn die blydskap voorafgaan: ‘n baba wat tande kry, atlete wat hard werk om uiteindelik ‘n medalje te wen, verbeteringe wat aan ’n huis gedoen word of die roerende verhaal van Pippie Kruger wat ’n veloorplanting gekry het na erge brandwonde. In die preekriglyn word by die voorbeeld van die Iranse vlugteling M. in Afganistan aangesluit wat Jesus aangeneem het en ten spyte van erge brandwonde wat sy neef hom toegedoen het, hom laat doop het met die woorde: “Wat hulle ook al aan my doen, ek het Jesus lief. Ek volg Hom.” Dit gee ’n inleiding vir die teks van Markus 13 om oor die gestalte van die toekoms vir die volgelinge van Jesus Christus te gesels. Dit is duidelik dat die toekoms ook vir Sy volgelinge die vorm van ’n kruis het. Die gawe van die Heilige Gees versterk en troos ons tot dié dag waarop ons wag, aanbreek.

Markus 13:1-8.ppt     633 KB Nov 05, 2012 10:55 Download  
Markus 13:1-8.pptx     449.68 KB Nov 05, 2012 10:53 Download  
Markus 13:1-8.doc     108.5 KB Nov 05, 2012 10:48 Download  

 

 

Verder Geluister: 1 Konings 17:8-16 – God seën die oophand weduwees

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

11 November 2012 ~ Vier en twintigste Sondag in Koninkrykstyd ~ 1 Konings 17:8-16

God seën die oop-hand weduwees en bevestig hul menswaardigheid

Die teksgedeelte vir Sondag fokus op die hoop wat oophand-geringstes vir ander gee en self God se seën, deernis en barmhartigheid ervaar.

Menswaardigheid
Ons was pasgetroud: ‘n Jong weduwee van die tuisland (ou Suid-Afrika) het eenkeer per week ons wasgoed gestryk en ander huishoudelike takies gedoen. Met ‘n groot glimlag bring sy eendag ‘n geskenk vir ons. Dit was toegedraai in gekreukelde tweedehandse geskenkpapier. Die geskenk was ‘n gebruikte skoongewaste toiletoortrekstel en ‘n voetmatjie. Sy het nie in haar huisie lopende water en ‘n spoeltoilet gehad nie, maar wou graag in haar eenvoud met meer bevoorregtes haar “rykdom” deel. God, so glo ek, het haar oophand geseën, en deur haar gesindheid die skat van mede-menslikheid en -waardigheid gegee.

God werk deur mense en seën die geringstes – veral diegene wat onvoorwaardelik self hul laaste gee. Jesus se preek op die berg herinner my aan die gelukkiges wat elke dag uit God se hand leef en regtig vir ander mense omgee. God sal aan diegene wys hoeveel Hy/Sy vir hulle omgee (uit Mat 5, Die Boodskap).

Weduwee opgegrawe
Dit is koninkrykstyd en die teksdeel uit die boek Konings is waarskynlik nie toevallig nie. Dit is toepaslik. God is by mense se stories betrokke. Maar hoe betroubaar is die stories in die Bybel?  

Argeologiese ontdekkings wat pas in Jerusalem bekend gemaak is, werp nuwe lig op die fel gedebatteerde vraag oor hoe betroubaar die Bybel as historiese bron is, skryf Leopold Scholtz.

In die Israeliese argeologie is daar, oorvereenvoudig, twee skole, bekend as die minimaliste en die maksimaliste. Die meeste argeoloë bevind hulle êrens tussen die twee uiterste pole, maar neig tog in die een rigting of die ander.
Die minimaliste – mense soos die Deen, Thomas Thompson, of die Israeli, Israel Finkelstein – meen die Bybel is óf onwaar, óf grotendeels onwaar. Andersyds het die absolute maksimaliste soos wyle Yigal Yadin en William Albright, wat meen die Bybel is 100% waar, plek gemaak vir ander wat sê die Bybel is grotendeels waar, mense soos onder andere William Dever en Eilat Mazar.

Mazar maak daarop aanspraak dat sy die oorblyfsels van koning Dawid se paleis in Jerusalem ontdek het, en sê reguit sy werk met die Bybel in die een hand en ’n graaf in die ander. Nie omdat sy die Bybel religieus benader nie, maar as Homeros as bron kan dien by die opgrawing van Troje, waarom kan die Bybel nie dieselfde rol in Jerusalem vervul nie?
Die debat tussen die twee rigtings sal ongetwyfeld nog lank en heftig gevoer word. Maar onlangs het die argeoloog prof. Yosef Garfinkel, van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem, ’n perskonferensie gehou waarin hy nuwe ontdekkings bespreek het wat ’n opskudding veroorsaak het.

Garfinkel het in 2008 begin grawe by Khirbet Qeiyafa, sowat 30 km suidwes van Jerusalem. Dit was duidelik ’n militêre vesting wat nie langer as sowat 30 jaar bewoon is nie.

Garfinkel het die vesting op grond van die koolstofdatering van olyfpitte wat daar gevind is, op omstreeks 1 000 v.C. gedateer. Dit is dus bewoon in die tyd van koning Dawid (wie se bestaan trouens deur sommige minimaliste ontken word).

Aangesien die poort van die vestingmuur in die rigting van Jerusalem geleë is, lei hy af dit was ’n Israelitiese grensvesting wat teen die bedreiging van die Filistyne daar gebou is.

In 2008 is ’n potskerf gevind, en twee jaar later is vasgestel dit bevat ’n inskripsie in ’n soort ink. Die onduidelike skrif is vroeg-Kanaänities, ’n skrif wat later deur die Israeliete oorgeneem en verder ontwikkel is, maar die taal is duidelik vroeg-Hebreeus.

Daar word nog oor die teks gedebatteer, maar daar is konsensus dat dit na ’n “koning” verwys, plus ’n opdrag om geen maatskaplike onreg te pleeg nie.

Enersyds dui dit daarop dat die wortels van die Ou Testament se maatskaplike etos – om die “weduwee en die wees” teen willekeur te beskerm – baie ver teruggaan. Maar, belangriker, die verwysing na ’n “koning” dui daarop dat daar destyds wel deeglik ’n sentraal-geleide koninkryk was – iets wat deur die bestaan van die vesting bevestig word.
http://bibleforums.org/showthread.php/2390 1-Nuwe-argeologiese-ontdekkings-by-Jerusalem.

Jesus gister en vandag

In Markus 12:38–44 lees ons van twee geleenthede waar Jesus oor weduwees gepraat het.

  • In vers 40 gebruik Hy die weduwees as voorbeelde van arm of magtelose mense wat uitgelewer is aan die magsmisbruik van die skrifgeleerdes met hulle swierige klere. Jesus veroordeel hulle optrede teenoor die arm weduwees.
  • In vers 43 plaas Jesus ‘n weduwee in die sentrum van sy dissipelskool. Die dissipels moet by haar kom leer. Jesus plaas nie net die arm weduwee (wat deur die skrifgeleerdes veronreg is) voor sy dissipels as voorbeeld nie – Hy herstel haar menswaardigheid. Sy is nie iemand om op neer te kyk nie. Die dissipels moet na haar opkyk soos wat dit God se mense betaam om na senior persone op te kyk.

In die tyd wat Markus skryf, was die weduwees dié voorbeeld van mense wat in armoede verval het. As gevolg van kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede kon hulle bitter min aan hulle eie lot doen. As die familiestruktuur hulle nie opgevang het nie, was hulle van gunste en gawes afhanklik. Daarom kon dit so maklik gebeur dat hulle misken, veronreg en selfs verder verarm is.

In ons tyd en land het MIV en vigs tot gevolg dat weduwees en wese dikwels nie deur familiestrukture en die staat se welsyns-dienste opgevang word nie – daar is net te veel van hulle! Vir hulle word dit ‘n daaglikse oorlewingstryd.
Die stigma wat ons gemeenskap aan MIV en vigs gee, het verder tot gevolg dat mense wat siek word en wat bekend word as vigslyers, so maklik deur ander misken en verwerp word. Vir baie is hierdie verwerping selfs erger as die terminale siekte self.

Tog is dit juis hulle by wie ons dikwels kan leer. Ons kan begin deur hulle menswaardigheid te ontdek. http://www.cabsa.org.za/content/weduwees

Geen preekriglyn in Argief

Seisoen van Luister

1 Konings 17:8-16 – 24ste Sondag in Koninkrykstyd – 11 November 2012

1Konings17 8-16In Familietyd kan gewerk met word met die Louis L’Amour storie van Desert Pete, wie se waterpomp in die onherbergsame Armargosa-woestyn eers deur die begraafde bottel water gevoer moes word, voor dorstige reisigers self water kon drink of water vir hulle eie waterbottels kon kry. Jy moes dit net glo! Met die verhaal van Danny Simpson wat ‘n bank beroof het met ‘n handwapen wat baie meer werd was as die geld wat hy gebuit het, word die drie verhale van 1 Konings 17 op die tafel gesit, wat ons wil oortuig dat ons in God alles het wat ons nodig het om van te lewe. Daarom het ons ook nooit te min om te gee nie. Wat ons moet gee, het ons klaar in ons hande. Ons beskik oor wat ons nodig het om vir God bruikbaar te wees. Daarom kan ons dit altyd waag met God.

1 Konings 17:8-16.ppt 758 KB Nov 05, 2012 10:05 Download
1 Konings 17:8-16.pptx 624.79 KB Nov 05, 2012 10:04 Download
1 Konings 17:8-16.doc 96 KB Nov 05, 2012 10:03 Download