Author Archive

Kinders meet kragte met ouers

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

2.  Luister eers empaties en met volle aandag na jou kind voordat jy, saam met hom, die probleem probeer oplos. Plaas jouself in sy of haar skoene en probeer verstaan waarom hy weier om die speelgoed op te tel en waarom sy weier om verskoning te vra. Op dié manier dra jy die boodskap oor dat jy waarde heg aan jou kind se siening en dat jy sy of haar redes respekteer. ‘n Mens kan nogal verras wees as jy by die rede “agter” jou kind se gedrag uitkom. Dit het geblyk dat die dogtertjie wat geweier het om verskoning te vra van mening was dat sy sou jok as sy verskoning vra. Sy was nie jammer oor haar gedrag nie, want haar boetie het haar dikwels getreiter en sy was bly dat sy ook ‘n slag met hom kon afreken!

Hoewel dit soms moeilik is om by jou kind se motiewe vir die ongewenste gedrag uit te kom, weet ouers wat die POSPAR-KURSUS voltooi het dat dit help  as jy eggo. Begin deur met ‘n belangstellende stemtoon alles wat die kind sê te herhaal:

  • Kind: “Ek wil nie die speelgoed optel nie”.
  • Ouer (met ‘n kalm, simpatieke stem): “Jy wil nie die speelgoed optel nie?”
  • Kind: “Ek wil nie en ek sal nie!”
  • Ouer, belangstellend: “Jy wil regtig nie die speelgoed optel nie”.
  • Kind: “Nee”.
  • Ouer: “Nee?”
  • Kind: “Hoekom moet ek dit nou optel en in die kamer bêre as ek netnou weer wil speel?”

Dan bevestig/ “validate” die ouer: “Ek kan verstaan dat jy dit nie wil optel as jy netnou weer wil speel nie. Kom ons maak ‘n plan. Sal dit help as ek vir jou ‘n doos gee om dit in te pak, want ek is bang as dit hier bly lê trap iemand dit stukkend. As jy ‘n ander plan het, kan ons dit bespreek.”

Met die laaste respons bekragtig / “validate” die ouer. By implikasie sê sy dat die kind ‘n punt het en dat sy dit respekteer (selfs al dink sy anders daaroor). Vervolgens gee sy ‘n rede waarom dit belangrik is om die speelgoed op te tel. Sy doen ook ‘n moontlike oplossing aan die hand en luister indien hy ‘n alternatief aanbied. So maak hulle saam ‘n plan om die saak op te los. Beide trek voordeel uit so ‘n oplossing- die ma, omdat die speelgoed opgetel word en die seuntjie omdat sy beswaar in ag geneem is en die speelgoed moontlik op ‘n plek is waar hy dit makliker in die hande kan kry.

3.  Neem die kind se ouderdom is ag. Jong kinders hou meesal nie daarvan om ‘n taak soos speelgoed optel alleen uit te voer nie. Dit help dikwels as die ouer aan die hand doen dat sy dit saam met hom sal doen.

4. Besluit wie se probleem dit eintlik is. Daar kan byvoorbeeld besluit word dat klere of speelgoed wat in ‘n kind se kamer rondlê sy probleem is en dat die ouer nie sal inmeng nie, maar wanneer dit in die woonvertrek rondlê is dit die ma se probleem, want dit is vir haar belangrik dat die vertrek netjies moet wees.

5. Lewer positiewe kommentaar as ‘n kind ‘n taak verrig. Noem wat gedoen is en gee ‘n rede om aan te dui waarom dit goed is: “Jy het jou speelgoed/ klere/ boeke/ CD’s opgetel. Dankie. Dit lyk netjies”. Ons is geneig om aandag te vestig op ongewenste gedrag en aanvaar dit as vanselfsprekend as take wel uitgevoer word.

Ek vertrou dat die wenke sal help om die klein rakkers se weerstandigheid te beheer. Dit sal gaaf wees as ouers kommentaar lewer en ook hulle wenke vir ons stuur.

Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

 Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Die afgelope week was ‘n hartseer tyd. Dit gons in ons land en die moord op  Eugene Terreblanche is ‘n gespreksonderwerp in bykans elke huis. Mense soek na  ‘n simplistiese oorsaak daarvoor: Is hy vermoor  omdat ‘n leier ‘n liedjie gesing het wat ruimte skep vir die minagting van mense se lewens? Het dit gebeur omdat mense wat betaal moes word, nie betaal is nie?  Was alkohol die oorsaak van die tragedie? 

Ouers se bespiegelinge en uitsprake oor die aangeleentheid sal ‘n blywende indruk op hulle kinders maak. Afhangende van wat hulle sê, sal hulle bydra tot die skep van óf ‘n versoenende óf ‘n haatdraende gesindheid in hulle gesinne. Die gesindheid wat geskep word sal ook soos suurdeeg verder versprei, want elke gesin beïnvloed ook ander mense en gesinne.  Wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid het ouers.

‘n Ontstellende berig soos die moord op Eugene Terreblanche kan egter ook ‘n geleentheid wees om saam met ons gesinne introspeksie te doen binne ons godsdienstige perspektief. In ons gesin het ons geworstel en gepraat en ons eie gesindheid onder die vergrootglas geplaas. Om sin te maak uit  die ontstellende gebeure was ent-ent ‘n pynlike proses. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n gebrek aan respek teenoor mekaar moontlik een van die oorsake van die tragedie was: As ‘n mens nie respek vir ander het nie, sing jy liedjies soos  “Kill the boer, kill the farmer” en “Bobbejaan klim die berg” om mekaar te tart. Ons het die hand in eie boesem gesteek en erken dat ons ook nie altyd genoeg respek teenoor alle ander mense betoon nie. Eindelik het  ons by die punt gekom waar ons ooreengekom het dat ons graag ‘n klein bydrae tot die voorkoming van geweld in die land wil maak. Ons  het twee voornemens vir onsself geformuleer:

1. Ons gaan daarna streef om alle mense met respek te behandel – selfs al handhaaf ons verskillende standpunte.

2. Ons gaan mense respekteer deur nie onsself hoër as enige ander mens te ag nie.

OORLAAIDE OUERS ERVAAR SPANNING

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

 

Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers voel asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee.

Toe ek baie jare gelede ‘n kind was, het ek skool toe en terug gestap en namiddae self gesorg dat ek by buitemuurse aktiwiteite uitkom – ook te voet. Selfs wanneer daar saans aktiwiteite by die skool was, het ons gestap. Ouers was nie bekommerd oor ons veiligheid nie. Gedurende daardie tyd was ma’s oor die algemeen tuisteskeppers van beroep en baie min van hulle het buitenshuis gewerk.

Tye en omstandighede het intussen ingrypend verander. Vandag beklee beide ouers gewoonlik beroepe. Om eerlik te wees verkies die meeste van ons die nuwe bedeling – ook om ons konfyt en vrugte in blikkies te koop. Daar is egter ook ‘n skadukant: Ouers is besiger, nie net omdat beide werk nie, maar ook omdat dit nie meer vir kinders veilig is om alleen op straat te beweeg nie en hulle vervoer moet word. Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee. Dit is onrusbarend hoeveel medikasie gebruik word vir toestande wat aan spanning gekoppel kan word, soos hoofpyne, buikpyne, slaaploosheid, hartkloppings en brandpyne in onder andere jou nek en skouers.

Die antwoord vir die probleem is nie om:
•Op die bank te gaan lê en slaap nie.
•Sommer net lui te wees nie.
Ontspanning is:
•‘n Doelbewuste aksie.
•Dit word die beste gedoen terwyl jy helder wakker is.
•Daar is verskeie ontspanningstegnieke en dit kan
aangeleer word.

Ouers kan nie altyd die spanning vermy nie, maar kan leer om die negatiewe gevolge uit te skakel.

Ek deel met julle ‘n aantal kits ontspanningstegnieke Besluit self wat vir jou die beste werk.

•Trek jou asem diep in; hou dit vir ‘n paar sekondes en sug dit uit.
Trek weer jou skouers op tot by jou ore terwyl jy jou asem diep intrek en in hou; buig die skouers agtertoe totdat dit voel asof jou blaaie aan mekaar raak. Sug jou asem uit en laat jou skouers slap val. Jy sal aangenaam rustig en ontspanne voel en die nare brandpyn in jou nek en skouers sal mettertyd verdwyn.

•Aan die agterkant van jou nek is loop twee senings van jou skedel na jou skouers. Aan die buitekant, alkante daarvan, is twee holtetjies. Gebruik jou middelvingers en vryf liggies, met sirkelbewegings in die holtetjies. Daar sal ‘n ontspanne gevoel deur jou hele lyf versprei.

•Gebruik jou duime en voorvingers om net bokant jou oorbelletjies met sirkelbewegings te vryf.

•Klem jou vingers ineen en plaas jou geklemde hande agter jou nek. Hou jou kop regop en trek jou ken in. Trek jou asem diep in en hou dit so. Beur teen jou hande, so hard as wat jy kan, vir ‘n paar tellings en laat skiet terwyl jy terselfdertyd jou asem uit sug. Herhaal 10-keer.

 

Kwaliteit Tyd lesse van die Obamas

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

Ons gesels hierdie keer oor die planne wat ‘n baie besige gesin maak:

In die Oktober 2009 uitgawe van die “Reader’s Digest” kry ons ‘n kykie in die gesinslewe van die Amerikaanse president en sy gesin. As dit by kinders kom, verskil hulle nie so baie van die meeste van ons nie: Hulle is ook werkende ouers met ‘n besige skedule en hulle kinders het dieselfde basiese behoeftes as ons s’n – selfs al woon hulle in die Wit Huis.

Dit blyk dat om kwaliteit tyd saam met hulle kinders deur te bring, vir hulle ‘n hoë prioriteit is.

  • Hulle baljaar saam met hulle kinders op rollerskaatse.
  • Sasha, die jongste, “snuggle” op haar pa se skoot terwyl hulle na haar sussie se sokkerwedstryd kyk. Sokker, kan jy glo! Dit is net dapper ouers wat hulle dogter toelaat om sokker te speel. Pa Obama kan wel nie by alle wedstryde wees nie, maar hulle ma maak ‘n punt daarvan om beskikbaar te wees.
  • Op die eerste skooldag word soentjies en drukkies links en regs uitgedeel.
  • Ma Michelle beplan rituele vir die kinders wanneer hulle pa (wat amper as ‘n naweekouer beskryf kan word), weens werksverpligtinge heel dikwels nie tuis is nie. Hulle hou byvoorbeeld “snuggle time”. Gedurende dié tyd kuier ma en dogters heerlik in die bed en gesels ‘n hond uit ‘n bos.
  • Die President is nogtans nie onbetrokke nie. Hy het al sewe Harry Potter boeke hardop vir sy dogter Malia voorgelees. Al die saamlees het tot gevolg dat die kinders nou ywerige lesers is.
  • Hulle probeer om die meeste van die tyd saans saam eet. Blykbaar is dit makliker vandat hulle in die Wit Huis woon, want Pa se kantoor is in die onderste verdieping van hulle “huis”. Hulle het ook ‘n vaste tyd om in die bed te wees. Eenvoudige, herhalende rituele soos hierdie, wat te make het met eet- en slaaptyd, laat kinders veilig voel, selfs al rebelleer hulle soms daarteen.
  • Hulle ouma speel ‘n belangrike rol in hulle lewens en vandat hulle in die Wit Huis woon is sy amper soos ‘n derde ouer. Haar portefeulje is naskoolse afsprake, tuiswerk, musiek oefen en ander buitemuurse aktiwiteite.
  • Toe die Michelle Obama die Wit Huis se binnenshuise versiering laat doen het, was een van haar kriteria dat dit moontlik moes wees om van die rusbankkussings ‘n fort te bou. In hulle gesin is dit ‘n heerlike aktiwiteit vir ‘n reëndag.

Het dit u ook getref dat nie een van die aktiwiteite geld kos nie?

Vir meer inligting oor die Obama familie kyk hier

 

Maak tyd vir kwaliteit tyd

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

Ons kan deelnemende ouerskap vergelyk met ‘n pad wat tot ‘n eindbestemming lei waar goeie verhoudings en positiewe waardes gevestig is. Elke POSPAR ouer stap met die pad. Langs die pad gee POSPAR noukeurige aanwysings wat gevolg kan word om veilig by die eindbestemming aan te kom. Daar is egter ‘n vangplek: Die pad het ‘n stewige basis of fondament nodig, anders ontstaan daar slaggate wat vordering belemmer of selfs onmoontlik maak. Ouers wat op pad is met deelnemende ouerskap is self vir die instandhouding van die basis verantwoordelik. Hulle doen dit deur kwaliteit aandag aan hulle kinders te gee – kwaliteit tyd ís die fondament van deelnemende ouerskap.

Die waarheid is dat ouers gewoonlik nie tyd het daarvoor nie. Hulle moet dit skep, maar hoe?

  • Eerstens is dit nodig dat ouers hulle lewens sal vereenvoudig en
  • tweedens is dit nodig om te beplan of begroot vir tyd vir aktiwiteite met kinders (oor hierdie een gesels volgende keer).

‘n Eenvoudige(r) leefwyse (ek sukkel daarmee en dit sal my help om saam met u daaroor te besin)

Gordon Mc Donald gebruik in sy boek, ‘n Tyd vir orde, die volgende slagspreuk: “Pasop vir die leegheid van ‘n besige leefwyse”. Willem Nicol sê in sy boek, Rykdom in eenvoud: “Daar is verskeie sake in ons oorvol lewe wat ons nie sal doodmaak as ons minder aandag daaraan gee nie.”

Hoewel dit net ‘n ouer self is wat sal kan vasstel wat die sake is “wat nie sal doodmaak” as hy of sy minder aandag daaraan gee nie, kan ons mekaar aan die dink sit oor moontlikhede. Ek noem daarom voorbeelde van hoe ouers daarin geslaag het om hulle lewens te vereenvoudig om tyd te maak vir kwaliteit tyd met kinders:

Pieter vertel hoe hy sy spogtuin met ‘n inheemse tuin vervang het. Die tuin het nie net ‘n kwart van die aandag nodig wat die vorige tuin geverg het nie, dit benodig ook feitlik geen besproeiing nie. Tot sy verbasing stel sy kinders ook baie meer belang in sy nuwe tuin, raak opgewonde oor elke nuwe blommetjie en soek oral na inheemse plantjies. In die verlede was die baie aandag wat hy aan die tuin gegee het tot nadeel van sy verhouding met sy kinders, nou bring hulle daar kwaliteit tyd deur.

Anida vertel dat sy haar huishouding vereenvoudig het om meer tyd vir haar kinders te maak deur op te hou om ure lank te stryk. Sy probeer om klere te koop wat nie te sleg lyk as dit nie gestryk word nie en het opgehou om te wonder : “Wat sal die mense sê?” Klere word nou net netjies opgevou en weggepak. Sy stryk ook nie meer lakens en slope nie, want sy weet van niemand wat iets oorgekom het as hulle op ongestrykte lakens slaap nie.

Jeanne kon nooit nee sê nie en het aan tien verskillende organisasies behoort, almal voortreflike sake. Sy het dit verminder tot twee en het nou meer tyd vir haar gesin.

Liewe ouers, help asseblief met nog voorbeelde!

Die geheim van ouerskap

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

Dit is ‘n windstil maanligaand. Ons kuier op die stoep; luilekker  na ‘n ete van gebraaide witstompneus, rogbrood, suurvykonfyt en moerkoffie. Dit is rustig, ons gasheer en gasvrou se  kinders is al “uit die hand uit”.  Die twee kinders verskil van mekaar soos die ooste van die weste, maar dit gaan goed met hulle, baie goed. Ten spyte van verskillende geaardhede en belangstellings is die kinders geheg en lojaal aan mekaar. Ons gesels oor baie sake en later ook oor ouerskap. Die ouers het Pospar gedoen toe die oudste 3 jaar oud was – 16 jaar gelede en is steeds van oordeel dat dit hulle geweldig baie gehelp het met hulle ouerskap. “Vertel vir my,” sê ek vir Gasheer en Gasvrou, “van julle ouerskapsiening. Wat is vir julle die heel belangrikste?” Hulle deel hulle siening wat ons so kan saamvat:

Gasvrou: “Die heel belangrikste is om jou kind onvoorwaardelik te aanvaar. Jou kind moet altyd weet hy of sy is vir jou uniek. Die Liewe Vader was so gaaf om hom te vorm presies is soos jy hom wou hê. Hy mag maar hy wees. Jy wil hom nie verander nie en sal enigiets doen om hom te help om te groei tot die maksimum van sy godgegewe potensiaal”. ‘n Bietjie  aangedaan voeg sy by: “Dit is wat my pa aan my gedoen het. Hy het nooit vir my laat voel dat ek nie goed genoeg was nie. Ek het altyd geweet dat ek vir hom reg is soos wat ek is.”

“Die ander saak wat net so belangrik is , is dat jou kind altyd moet weet jy is “daar” vir hom. Dit beteken nie dat jy moet spring as hy sy vingers klap nie, maar dat jy daar is om te deel in vreugdes. Jou skouer is ‘n veilige plek om op te huil. Hy kan met jou redeneer as hy helderheid oor ‘n saak nodig het. Jou oor is daar vir al sy sorge en jy sal niks wat vir hom belangrik is afmaak as onbenullig nie.”

Gasheer: “Jou kind moet weet dat jy in haar glo. As jy nie in haar glo nie, kan jy kwalik verwag dat ander mense sal. Sy moet ook weet jy glo nie net in haar as dit goed gaan nie, maar as sy ‘n gemors van ‘n saak maak, sal jy nog steeds in haar glo – sy hoef dit nie vir jou weg te steek nie. Dit is belangrik dat jy dit vir jou kind sê en dat jy dit aan haar bewys as sy depressief is, dwelms gebruik, swak vaar met studies of nie as haar liefdeslewe in skerwe lê.”

Hy voeg by: “Jy moet vir jou kind kan sê: “Jammer”. ‘n Ouer is ook maar net ‘n mens en dit is deel van menslikheid om foute te maak. As jy merk dat daar besig is om ‘n afstand tussen jou en jou kind te ontstaan, is dit nodig om saam te gaan sit – ‘n geleentheid te skep – om te praat oor wat jy gedoen het wat hinder. Deur “jammer” te sê vir iets wat jy wetend of onwetend onlangs of lank gelede gedoen het, help jy om die klonte van verbittering of verontregting wat jou kind van binne opvreet, op te los.”