Author Archive

Geldige kritiek erken konsekwente kriteria vir gespreksgenote:

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Vanjaar word die geboortejare van verskeie invloedryke mense gedenk. Braille, Calvyn  , Darwin  en ook Simone Weil (1909-1943).  Hierdie suster van Andre Weil, `n toonaangewende wiskundige van die twintigste eeu,  is dalk minder bekend as die ander drie, maar  tog baie betekenisvol. Binne die konteks van hierdie reeks nagedagtes (kritiek op en binne die kerk) is veral haar “Letter to a Priest” (1942) van belang. Hierin noem sy `n hele aantal  sake wat volgens haar `n hindernis vorm tussen haar en die kerk, in die geval die Rooms-Katolieke kerk. Sommige van hierdie sake nooi ons uit tot `n herbesoek, bv. “Christianity was responsible for bringing this notion of progress, previously unknown, into the world; and this notion , became the bane of the modern world, has de-Christianized it. We must abandon the notion. We must get rid of our superstition of chronology in order to find Eternity.” En  “”Nothing has contributed more towards weakening faith and encourage unbelief than the mistaken conception of an obligation on the part of intelligence. All obligations other than the one of attention which itself is imposed on the intelligence in the exercise of its function stifle the soul-the whole soul , and not the intelligence only.”  Ander van die sake bv. dat dogma nie beskou moet word as instrument van ekskommunikasie en diskriminasie , maar as voorwerp van aandag, respek en liefde, verkeer in `n sekere spanning met wat sy van die priester verwag.

In die inleidingsgedeelte vra sy uitsluitsel oor die sake wat sy aanhangig maak. Sy sê sy wil uitsluitsel hê oor die ” compatibility or incompatibility of each of these opinions with membership of the Church…I do not ask for a quick answer …All I ask for is a categorical answer.” Vir haar is die nadenke oor die sake nie `n akademiese speletjie nie, want oor sommige van hierdie sake voel sy so sterk dat as dit nie versoenbaar is met lidmaatskap van die kerk nie “I do not see how I can avoid the conclusion that my vocation is to be a Christian outside the Church.” Sy sê dan ook dat oor sommige van hierdie sake het sy al vir jare met al die intensiteit van liefde en aandag waartoe sy in staat is, nagedink . ” This intensity is a wretchedly feeble one because of my imperfection which is very great…”.

Oor die sake skryf sy verder: “If I express them in the indicative mood it is only because of the poverty of language; my needs would require that the conjugation should contain a supplementary tense. In the domain of holy things I affirm nothing categorically….I look upon a certain suspension of judgement with regard to all thoughts whatever they may be, without any exception, as constituting the virtue of humility in the domain of the intelligence.”

As iemand wat bekend is vir haar puntenerige intellektuele eerlikheid en nederigheid, nie kategoriese uitsprake wil maak oor heilige dinge nie, hoe kan sy dit van die kerk verwag of van `n ampsdraer van die kerk? Die moment wanneer die priester kategories uitsprake  waag , bring dit hom in stryd met haar oortuigings t.o.v. bv. die dogma.  M.i. het ons hier te make met `n  versoeking vir  baie  wat met erns nadink oor heilige dinge. Ons wil ons eie voorlopige denke ondervang hê  in `n  kerklike (intersubjektiewe) finaliteit, ons eie onsekerheid besweer hê deur kerklike sekerheid. Vir onsself gee ons die ruimte van voorlopigheid, selfs van onsekerheid, die kerk word dit ontsê.

Van Weil kan ons dit dalk nog verstaan, want sy beskou haar nie as deel van die sigbare kerk nie, nog nie. Ek en jy bely egter dat ons van die kerk `n lewende lid is en altyd sal bly. Wat vir my, vir ons geld, geld ook vir die kerk. As ek dus voorlopig en stamelend praat oor die grote en geheimnisvolle God en sy geheimnisvolle dinge, gun ek dit vir elkeen en vir almal wat ook hieroor moet praat, al verlang  ek van harte kategoriese sekerheid.

Tallie van den Heever

Mensliewende kritiek is kritiek sonder verdagmakery

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

In `n boekie “Verontrusting en Verantwoordelijkheid” skryf GC Berkouwer in die laat 1960`s `n hoofstuk oor verdagmaking. Hy gee hieraan aandag n.a.v. die waarheidseis t.o.v. gesprekke binne die kerk. Hy verstaan verdagmakery o.a. as karikaturisering en mistekening van ander se standpunt. Hy skryf “… dat in een collectieve sfeer van verontrusting, van actie en reactie allerlei verschijnselen kunnen optreden, die maar moeilijk van de verdachtmaking -als mistekening- vallen te onderscheiden.” Dit kan wees omdat ons ander se standpunt nie goed verstaan nie. Ons bedoel dalk goed genoeg, maar ons luister en lees nie goed genoeg nie. Of ons eis vir onsself goeie motiewe op, maar ander se bona fides word ontken.

Elke konflik roep die demone van die verwydering op wat konstruktiewe gesprek verydel. Hulle is legio, maar die volgende tel hieronder: Onbillike tipering en etikettering o.a. deur ongenuanseerde gebruik van suggestiewe woorde soos “dwaalleer”, “relativisties”, “fundamentalisties”, “vrysinnig” en “modernisties”; voortydige onderbreking van gesprek (voordat besinning voldoende gekristalliseer het); onvermoë om te onderskei tussen feit en eie interpretasie; vae , suspisieskeppende en kontekslose verwysings , bv. “Ek het `n kweekskooldosent hoor sê dat…!” en negering en verswyging van kontra-informasie, dit is om die oë te sluit vir inligting wat nie jou standpunt ondersteun nie. In die wetenskap is dit professionele selfmoord, in `n gesprek dikwels karaktermoord.

Berkouwer verwys na die integralisme ,`n anti-modernistiese beweging aan die begin van die neëntiende eeu in die Rooms-Katolieke kerk. Sy bron beskryf dit as georganiseerde waaksaamheid, vol ongegronde verdagmakery, stelselmatige begripsvertroebeling, liefdelose sameswerings en `n stelselmatige lasterveldtog. Wat begin as waak oor die suiwere leer en dalk selfs liefde vir die waarheid, ontaard a.g.v. die demone van verwydering, in `n liefdelose lasterveldtog. Berkouwer waarsku teen die trek van `n goedkoop parallel, maar sê hy wil slegs wys op die gevare “die juist de strijd om de zuiverheid kunnen bedreigen in niet zorgvuldige analyse…, in vermoedens en achterdocht, de niet kloppende en daarom niet apellerende aanklachten in onproportionele gestalten en informatie.” Dit begin dan in die kerk lyk soos `n woestyn sonder lafenis.

Juis wanneer ingrypende vrae en verskille aan die orde kom, is uitvoerige gesprek nodig en moet die verskille getoets word sonder “enige mistekening, generalisering en suggestie.” Pastoraal sluit Berkouwer sy hoofstuk af deur te wys dat die pad van die geloof gevaarlik is. “Maar we moeten het elkaar niet moeilijker maken en we mogen elkaar niet in de reactie drijven door achterdocht en verdachtmaking.” Daarvoor is die opdrag tot dra en beskerm van die waarheid te diep, te wyd en te ernstig.

Kritiek met liksens is beide waarheids- en mensliewend. Dit is nou maar die aard van die waarheid wat in die kerk ter sprake is.

Tallie van den Heever

Wanneer gemeentes dien, mag hulle bid

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Wanneer Barth die dag na sy verjaardag ‘n oggend oordenking formuleer, kies hy om oor die gemeente van Christus as ‘n dienende gemeenskap te besin. Vir hom is dit onmiskenbaar die wesenlike karaktertrek van die kerk dat God haar in die lewe geroep het om as diakonale gemeenskap te bestaan ter wille van en vir die wêreld waarin sy teenwoordig is. Wanneer die kerk dit begin vergeet is sy besig om haar diepste lewensmoontlikheid prys te gee. Sou die kerk met baie ander dinge besig wees en diens aan die swakke, noodlydende en veronregte in die wêreld nalaat, is sy besig om haar ware identiteit te verloën en in der waarheid ‘n soort verbloemde praktiese ateïsme te bedryf. God is God in sy liefde vir sy skepping en al die mense wat daarin woon. So laat Hy Homself ken in die drievoudigheid van sy openbaring. Daarom het Hy die Seun van sy liefde gestuur (Joh 3:16) en daartoe het Hy die Gees van liefde uitgestort (Rom 5:5). Vir die mense wat Christus se Naam ken en bely om dus by hulle ewe mense se praktiese en konkrete omstandighede van sukkel en swaarkry verby te leef, terwyl hulle probeer om God te aanbid is ‘n teologiese onmoontlikheid. Dit grens aan waansin vanweë religieuse sinsbedrog. Slegs wanneer Christus se gemeentes die swaarkry en seerkry mense van die wêreld dien, mag hulle tot die God van liefde en genade bid. ‘n Gemeente se liturgie rus op haar diakonie en haar diakonie impliseer dat haar liturgie eg is. Hierdie twee dimensies van gemeente-wees is wedersyds impliserende werklikhede.

Vir Barth is dit belangrik dat hierdie onverhandelbare wete tog nie maar net ‘n gedagte is wat teoloë met mekaar oor sal gesprek voer nie, maar dat dit die lewenspraktyk van elkeen van die lede van die gemeente sal wees. Immers ‘n mens dien mos nie ‘n ander mens sonder om met lyf en lippe, hande en voete en vermoë en energie by hulle lewens en lot betrokke te raak en iets aan hulle ervaring van die lewe te probeer verander nie.

Wanneer dienende gemeentes bid is dit dan moontlik om met oorgawe, oortuiging en ook weerklank “‘n nuwe lied” te sing te midde van al die wanklanke wat op soveel plekke opklink. Dis klaarblyklik juis omdat Barth op 10 Mei, die dag van sy verjaardag, oor Openbaring 4 vers 9 se “nuwe lied”  nagedink het, dat hy op die eerste dag van sy nuwe lewensjaar, met passie skryf oor die noodsaak dat gemeentes wat wil bid tog sal weet en onthou dat hulle allereers bedoel is om diensgemeenskappe in die Naam van die Here wie hulle aanbid  te wees.

Jan Woest

Kritiek vereis geestelike volwassenheid

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Daar is seker min mense wat by die kerk betrokke is wat nie klippe in hulle kerkskoene het nie. Onthou jy dalk nog Ferdinand Deist se boekie met die titel “ Klippe in my Kerkskoen”?  Voor ons egter ons leerlingliksense gebruik, moet ons eers oor algemene voorwaardes vir opbouende kritiek nadink.

J Overduin het in “Worden als een Man” met die subtitel “ over de geestelijke volwassenheid” oor die saaklike ingesteldheid geskryf dat dit beteken om deur die saak aangegryp te wees en dus nie oor eie belang , eer en erkenning gaan nie. Diegene wat persoonlik ingestel is, dien dalk die saak, maar t.w.v. hulleself, eie erkenning en selfbevrediging. Dit maak opbouende kritiek onmoontlik. Hy sê : In ons onvolwassenheid verabsoluteer ons ons eie struktuur, posisie , aanleg, oortuigings, afkoms en milieu. Sodoende gun ons nie lewensruimte aan diegene wat anders is nie. Ons oordele word dan heel gou vooroordele en dit is afbrekend. Predikante en teoloë maak hulle soms  skuldig aan geestelik onvolwasse persoonsgerigte opmerkings wat nie die saak dien nie. Adresspesifieke kritiek kan nog steeds saaklik wees.

Dink eers diep na oor wat die bedoelde en veral onbedoelde gevolge van jou kritiek gaan en kan wees wees. Dit is nodig, want selfs Asaf gaan aan die praat en moet dan selfkrities bely “ as ek so sou aanhou praat , sou ek die verloën wat aan U behoort.” (Ps. 73:15) “Die wat aan die Here behoort” is mos die kerk. Dikwels het geregverdigde kritiek onbedoelde negatiewe gevolge vir die kerk , vir die mense van die kerk. Ek kan een voorbeeld dink: Die kerk se omgang met die Skrif. As die gesprek daaroor nie omsigtig in die pastorale situasie van die gemeente of eerder nog die kleingroep hanteer word nie, kan dit onbedoeld lei tot `n verloëning van die wat aan die Here behoort.   

Die waarheid oor en binne die kerk is dikwels veelkantig en val nie altyd uit te druk in kategoriese uitsprake nie. Noordmans skryf elders: “ De gehele waarheid Gods is gevaarlik…In de waarheid Gods gaat men altijd tussen twee afgronden. Maar het is Gods weg. Tijdelijk het gevaar van de ene of andere waarheid na voren te brengen, kan eis zijn van de omstandigheden. Het mag nooit blijvend zijn.” Hy verwys dan na groei in die genade van die Here.

So sien ons dit ook by Paulus in sy brief uit die tronk aan die Fillipense. Bedaard skryf hy oor regte en verkeerde motiewe en sê : “Maar wat maak dit saak? In elk geval…op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly” (1:18).  

Saaklike, oorwoë en waarheidsdienende kritiek vereis geestelike volwassenheid.

Tallie van den Heever

Kritiek met of sonder liksens?

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

In sy boek met die stekelrige titel “Het Algemeen Betwijfelde Christelijk Geloof” skryf Kuitert `n hoofstuk oor die kerk wat hy nog stekelriger betitel met “De kerk als samenvatting van alle frustraties” en skryf daarin “we kunnen er niet met en niet zonder”.  Prof Willie Jonker se boek “ Selfs die kerk kan verander” sou aanvanklik `n ander titel gehad het, iets soos “Ek kla my Moeder aan”. Annes Nel skryf “…die kerk is my ma … ek is bekommerd oor my ma.” in die eerste hoofstuk van sy boek “Op soek na God… buite die kerk?” By hierdie skrywers ervaar ons `n solidariteit met die kerk.

Uit ander bekendes se gepubliseerde onbehae met die kerk en uit gesprekke met lidmate wat nie meer die plaaslike kerk as geestelike tuiste ervaar nie, blyk dit dat ten minste vir sommige van hulle die kerk bloot `n samevatting van alle en allerhande frustrasies is, want hoor ek:
as die kerk moet praat , swyg sy; as sy moet swyg, praat sy en dan boonop uit meer as een mond; as sy seker moet wees , is sy onseker; as sy versigtig moet wees, is sy arrogant selfversekerd; sy lei nie met `n ferm hand nie; sy gee nie ruimte vir eie inisiatief nie; sy vereenselwig haar met sekere groepe se belange; sy vereenselwig haar nie met die haglike lewensomstandighede van sommige mense  nie; sy verander nie of dan in elke geval te stadig; sy verander maar dit is eerder deformasie as reformasie; in die kerk gaan alles te demokraties; die kerk behandel mense as onmondiges…

En nou :
Ek weet die beste stuurman staan altyd aan wal, maar ek vergeet dit so dikwels. Ek vergeet dit wanneer ek naywerig ander hulle spesifieke en daarom beperkte gawes misgun en nie aanvul met my spesifieke en beperkte gawes nie. Ek vergeet dit wanneer ek `n sondige behoefte aan selfregverdiging vir sekere versuime of sekere wyses van optrede laat seëvier.

Ek weet hoe algemener die kritiek is, hoe skerper, liefdeloser en nutteloser. Kritiek op die kerk sonder `n duidelike plaaslike adres en sonder konkrete inhoud, sê meer oor myself as oor die kerk. Ek vergeet dit so dikwels.

Ek weet dit is waar wat Noordmans iewers oor die kerk skryf: “Als contemporaine verschijning heeft ze geen gedaante of heerlijkheid. In die historie imponeert ze altijd.” Ek vergeet dit handig op sekere tye. Ek weet dit is soos wat Rykie van Reenen gesê het: “Net iemand wat sy kerk so liefhet soos Willie Jonker, het liksens om so oor haar te skrywe.”

As jy ook so vergeetagtig is, hoop ek jy het ten minste `n leerlingliksens!

Tallie van den Heever

Om ondermynend besig te wees

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

‘n Paar jaar gelede het ‘n vriend my ‘n kopie van ‘n hoofstuk uit Eugene Peterson se boek, “The Contemplative Pastor” met die opskrif “The Unbussy Pastor” gegee om te lees. Dit was destyds my eerste kennismaking met Peterson en ek onthou die stuk, wat inhoud en styl betref, het my nogal diep aangespreek. Ek het terstond begin om Peterson se werke te soek en te lees. In die proses het ek ook die opvolgende hoofstukke van die genoemde boek gelees. Die feit dat Peterson ‘n drieledige ideaal en perspektief op die identiteit en rol van ‘n “pastor” soos hy verkies om genoem te word, uitspel, te wete “Unbussy”, “Subversive” en “Apocalyptic” is baie treffend.

Vir Peterson is dit baie duidelik en ononderhandelbaar dat ‘n volgeling van Jesus Christus, die “Groot Ondermyner”, uiteraard en noodwendig ook met subversiewe aktiwiteite besig sal wees. Immers die ondermynende aard van die radikale liefde van God in Christus laat elke volgeling besef dat die bestaande en algemeen aanvaarde orde van sake in die wêreld verkeerd is en omvergewerp moet word. Dit kan nie anders nie want die enigste leefbare alternatief wat die lewende God self in die plek van die dekadente en futlose opgerig het moet eerder gepraktiseer word. Daarom moet die “klein ondermynertjies” onophoudelik besig wees om te werk en te werskaf vir die deurbreek van die nuwe lewe. Dit word nie gedoen deur ‘n militêre revolusie aan te stig of ‘n demokratiese verkiesingsproses te fasiliteer nie. Allermins is dit die weg van evangeliese ondermyning.

Om ondermynend besig te wees beteken in Peterson se woorde: “Prayer and parable are the stock-in-trade tools of the subversive pastor.” Om aanhoudend te bid en altyd weer die verhale van die Opgestane en Lewende Here met oortuiging te vertel, dis die onopvallende en nie-sensasionele aktiwiteite van ondermyning. Op subtiele wyse bring dit bietjie-vir-bietjie die bestaande orde aan wankel, maak dit maghebbers onseker van eie vermoëns  en ontmasker dit  die valse selftevredenheid waarmee die sogenaamde markleiers en samelewingsregeerders hulleself in stand probeer hou.

Peterson is eerlik wanneer hy verklaar dat om ‘n ondermyner te wees, nie so maklik is nie, veral nie omdat dit so maklik is om verlei te word deur die oënskynlik meer effektiewe en sensasionele aksies en programme waarmee meeste pastors “ a church run” nie. Tog reken hy: “Words are the real work of the world – prayer words with God, parable words with men and women. The behind-the-scenes work of creativity by word and sacrament, by parable and prayer, subverts the seduced and seducing world.” Baie dae sedert ek sy boekie die eerste maal gelees het, wonder ek of ons dit regtig glo en bereid is om ondermyners te wees en dan bid ek dat die Here ons tog genadig sal wees. Nie dat ons uitgevang sal word met waarmee ons besig is nie, maar dat ons inderdaad die moed sal hê om daarmee aan te hou.

Jan Woest

Hoe belangrik is die kerk – en wat die kerk doen – regtig?

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

  • By die konferensie oor gebed wat in Februarie gehou is het Dirkie Smit in sy lesing verwys na `n stelling wat Karl Barth in sy Gifford-lesings van 1937–1938 gemaak het.
    Terwyl almal besorg was oor die politieke onweerswolke wat aan die opsteek was, wat sou uitloop op die Tweede Wêreldoorlog en gewonder het wat polities gedoen kan word om die krisis af te weer, praat Karl Barth in sy lesings oor die kerk, oor die erediens en oor gebed. In die proses maak hy die ongelooflike stelling: “The church service is the most important, momentous and majestic thing which can possibly take place on earth.“

Die stelling het my diep laat dink oor ons eie verstaan van die kerk en sy taak. My bekommernis is dat `n klomp goed wat skeefloop by ons dalk te doen mag hê daarmee dat ons die kerk en sy werk nie ernstig genoeg neem nie.

In die tyd van die konferensie het die verskillende politieke partye hul kandidate vir die verkiesing begin aankondig en die name van drie bekende kerkleiers op die lyste het heelwat bespreking uitgelok. Dit was interessant om die redenasies rondom die figure se moontlike toetrede tot die politiek te hoor. Van die mense wat positief was oor hulle toetrede tot die politiek, het gemeen het dat hulle dalk meer vir die land kan beteken in die politiek as in die kerk.

Terwyl ek die redenasie verstaan en `n mens nie altyd-geldende reëls vir sulke situasies moet probeer maak nie, meen ek tog dat so `n redenasie die belangrikheid van die kerk en sy werk totaal onderskat.

Ons moet oppas dat die krisis van die kerk in die Weste die afgelope klompie dekades, nie maak dat ons self ook vertroue in die evangelie en die kerk verloor nie. Dit is een ding as mense buite die kerk dink dat die kerk nie juis `n belangrike rol het om te speel nie. Dit is iets anders as kerkmense en predikante begin twyfel aan die belangrikheid van die kerk en sy werk.

Barth se sterk stelling is nie uit die lug gegryp nie. Barth vertolk maar net wat hy hoor in die Nuwe Testament. Sy stelling het my laat dink aan wat Paulus skryf in Efes 3:10 naamlik dat dit God se voorneme is om die geheimenis van die evangelie, van die ryke verskeidenheid van sy wysheid, aan elke mag en gesag in die hemelruim bekend te maak deur die werk en die getuienis van die kerk!

In die heilsplan van die Here neem die kerk `n baie wesenlike rol in. Een van die groot verrassings van Pinkster was dat die Gees uitgestort is op die kerk en op gewone mense omdat Christus besluit om die kerk in te skakel by die ontplooiing van sy heilsplan op aarde. Ons getuienis, ons gehoorsaamheid, ons gebede, ons liefde, ons hoop kry in `n plek in die proses waardeur die evangelie geproklameer word op aarde en waardeur God sy koninkryk laat kom.

Dat die kerk soms gefaal het in sy taak, soms  bitterlik gefaal het, moet ons nederig en afhanklik van Here maak, ja. Maar dit mag ons nie moedeloos en negatief maak oor die kerk nie. Dit mag nie maak dat ons vertroue in die evangelie en in God se plan met die kerk verloor nie. Dat ons gefaal het in die verlede, sê nog niks oor die toekoms nie.

Ek is oortuig – saam met baie ander in Suid-Afrika en buite Suid-Afrika – dat die kerke `n deurslaggewende rol kan speel in die toekoms van Afrika en in besonder Suid-Afrika.

Maar dan sal ons kerk moet wees soos wat die Here dit van ons vra en sal ons helder moet onderskei tussen kerk en politiek. As Christene en gereformeerdes is ons nie negatief oor die politiek nie. Alles behalwe. Maar ons glo dat die kerk die politiek die beste dien deur in die eerste plek sy kerklike taak absoluut ernstig op te neem.

Wat beteken dit? Wat is die taak van die kerk tov die politiek?  Ek sou ten minste drie dinge wou noem:

  • Ons moet nie huiwer om teenoor die poltici die waarheid te praat nie – die waarheid van die evangelie, maar ook die waarheid oor hoe ons die werklikheid rondom ons beleef en sien. 
  • Ten minste net so belangrik is dat ons gereeld en volhardend vir die politiek en die staat by die Here in gebed sal intree. Iemand soos Hendrikus Berkhof sê dat dit eintlik die eerste taak van die kerk teenoor die staat is. Dit was ook die breër strekking van Barth se stelling bo.
  • Derdens, dien die kerk die politiek en die mense rondom ons die beste as ons fyn en getrou luister na die stem van die Here en daagliks bid vir moed en krag om ons Here onvoorwaardelik en stip te gehoorsaam. Die kerk help mense – alle mense, lidmate en nie-lidmate – en ook die politiek die heel beste as ons nie mense (lidmate of nie-lidmate) of politici probeer behaag nie, maar daarna soek om ons Heer alleen te behaag en te gehoorsaam.

Coenie Burger