Author Archive

Die evangelie wat geglo, maar ook geleef en gedoen moet word…

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Verlede week was ek – saam met Robert Vosloo – betrokke by die aanbieding van die VBO-kursus “Calvyn 500 – wat kan ons vandag nog van hom leer?”  Dit was `n baie goeie ervaring en ek het veel geleer – uit die leeswerk voor die tyd, maar ook uit die gesprekke in die groep en met Robert.

Die afgelope tien jaar het ek redelik gereeld werke van en nuwer werke oor Calvyn gelees.  Dit het my gehelp om `n ander prentjie van Calvyn te kry as die een waarmee ek grootgeword het en wat `n mens rondom jou optel.  Een van die verrassende ontdekkings wat ek al `n tyd terug gemaak het, is dat Calvyn en sy hele teologie `n baie sterker gerigtheid op die praktyk het as wat die meeste dominees besef. 

Vir hierdie rondte – met die oog op die kursus – het ek probeer om twee of drie nuwe boeke oor Calvyn te lees. Twee van die boeke het oor Calvyn se lewe en optrede gegaan – om hom te plaas teen die agtergrond van sy tyd en om vir die leser `n idée te gee van wat hy wou doen. Die boeke het inderdaad vir my bevestig dat ons Calvyn nie net moet sien as `n dogmatiese teoloog nie, maar beslis ook as `n pastorale en `n praktiese teoloog.  Robert Kingdon (wat heelwat werk oor Calvyn se konsistoriegesprekke gedoen het) formuleer dit absoluut raak as hy iewers skryf dat as `n mens Calvyn regtig wil verstaan, jy nie net moet lees wat Calvyn geskryf het nie, maar ook moet kyk na wat hy gedoen het!

Ek het met my leeswerk besef dat Calvyn se besluit in 1536 om as gemeentepredikant in Genève te gaan werk, `n meer fundamentele rol in sy teologie gespeel het as wat ek tot hier gedink het.  Hoewel Farel se dreigemente sekerlik ook `n rol gespeel het om hom die “beroep” na Genève te laat aanneem, meen ek dat sy teologie en verstaan van die evangelie dalk nog meer fundamenteel vir sy besluit was.

Calvyn het van vroeg af geglo dat die evangelie nie net iets is wat mooi wil klink op papier nie, maar dat dit by uitstek `n praktiese saak is wat vra om geleef en gedoen te word.  As ons ernstig is oor die evangelie, vra dit dat ons nie net boeke daaroor sal skryf nie, maar ook dat ons sal probeer om lewende gestaltes daarvan in die praktyk op te rig – soos gemeentes wat die evangelie probeer leef en doen! Ek glo dat iets van hierdie gedagtes meegespeel het toe Calvyn die besluit oor Genève moes neem!

Dit word bevestig deur `n paar sake:
Niemand wat Calvyn se verhaal goed lees kan wonder daaroor dat sy sentrale identiteit en taak was dat hy die pastor van Genève was nie.  Dit was die spil waarom sy denke, skryfwerk en aktiwiteit gedraai het. In die kursus wat ons nou aangebied was die sentrale tema “Calvyn, die pastor van Genève”.

Calvyn het baie goeie dinkwerk gedoen oor die gemeente, die organisering van die gemeente en veral oor die bediening in die gemeente van Genève. `n Baie groot deel van Calvyn se teologiese werk was uiteindelik gerig op die gemeente – op wat in die gemeente moes gebeur en wat nie! Bucer het waarskynlik baie hiermee te doen gehad. Dit is duidelik dat Calvyn in sy tyd in Straatsburg baie oor gemeentewerk van Bucer geleer het en dat hy by sy terugkeer in Genève gepoog het om dié goed op `n eie manier daar toe te pas.

Twee prosesse wat my op die vlakke baie geïnteresseer het was Calvyn se nadenke oor en herstel van die ampte en oor die vergaderings (of instansies of strukture) wat hy rondom die ampte georganiseer het.

Die herstel van die ampte het oa daaroor gegaan dat jy mense (lywe!) nodig het as jy van gedagtes en idées wil oorgaan na dade in die praktyk. Calvyn het dit verstaan en daarom aandag gegee aan die herstel van die vier ampte. Dit was `n nuwe idée vir die tyd want van die ampte het heeltemal in onbruik geraak. Tipies van Calvyn werkwyse is dat hy teruggryp na die Nuwe Testament. As jy moet reformeer doen jy dit ooreenkomstig die Woord van God! Iemand vertel dat Calvyn dikwels na vergaderings gevra het “wie gaan nou wat doen?” Dit is `n goeie praktiese teoloog wat so praat!

`n Mens sien dit nog duideliker as jy agterkom dat Calvyn rondom elkeen van die vier ampte en hul werk uiteindelike strukture of instansies staan gemaak het wat met die uitvoering van die werk moes help. Rondom die predikante organiseer hy die sogenaamde “Company of Pastors”, `n weeklikse samekoms van die leraars wat waarskynlik die voorloper van ons “ring” was. Rondom die ouderlingsamp organiseer hy die “Konsistoriebyeenkomste” waar lidmate vermaan en getug is deur die leiers van die gemeente. Langs die diakens skep hulle ook aksies en strukture wat moet help met die uitvoering van die werk ten behoewe van die  armes. En ter uitvoering van die lering of doseer-amp skep hy die skool of akademie. Weereens sien `n mens iemand wat besef dat as ons wil hê die evangelie moet lewend gestalte kry onder ons, kan jy nie net praat nie. Jy het mense nodig – en planne en strukture of institute! – om te help met die praktiese uitvoering.

Ek het weer verstaan dat dit ook is wat eintlik agter Kerkordes sit – in elk geval in Calvyn se gedagtes! As ons sê dat ons iets glo, moet ons ook dink en planne maak oor hoe ons dit gedoen gaan kry in die praktyk! Kerkordes was hierdie praktiese planne.

Dit alles word bevestig as `n mens hoor dat Calvyn op sy sterfbed oor Genève gesê het dat toe hy daar gekom het, daar net prediking in die gemeente was maar geen reformasie nie.  Die bedoeling was kennelik dat prediking sonder reformasie in die gemeente nie veel werd is nie en dat hy hom ook sterk bemoei het vir daadwerklike reformasie!

Vir my was hierdie perspektief op Calvyn `n bron van inspirasie! Ons kàn die evangelie glo en vertrou tot op die punt dat ons dit gehoorsaam en gaan doen in die praktyk van lewe! 

Dit is veronderstel om regtig te werk!  Dit moet werk!  Dit is al hoop wat ons het!

As ons weer `n kerk kan word wat so in die evangelie glo!   

Coenie Burger

Geestelike Begeleiding

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Die goeie nuus oor geestelike begeleiding is dat balans moontlik is

Wat my aandag gevang het by die eerste kyk na ‘n redelik onbekende boek deur ‘n nog meer onbekende skrywer was sy akkurate beskrywing van al die goeie goed wat in gemeentes gedoen word om mense se geloof te vorm en die kerk van die Here op te bou. Ek het die boeke van Peter Scazzero toevallig deur die aanbeveling van ‘n vriend in die hande gekry en begin deurblaai. Toe ek stilstaan by sy verduideliking rondom die vraag: Wat probeer die kerk en bedienaars ten beste vir mense leer met betrekking tot ‘n lewe as mense van die Here? en agterkom dat al die dinge wat hy uitwys baie positiewe en belangrike goed is, het ek nuuskierig geword om agter te kom oor hoekom die dinge dan nie die gewenste resultate het nie.

Hy lys ‘n klomp praktyke as dinge wat gemeentes en hulle dominees met oorgawe doen om lidmate op te bou en geestelik te laat groei, naamik hulle leer lidmate:  Woon baie gereeld eredienste by vir aanbidding, Woordverkondiging en sakramente;  hou daag-liks (verkieslik soggens) stiltetyd;. neem deel aan kleingroepe vir geestelike versorging, geloofsgemeenskap en Bybelstudie;. vertrou die Here deur finansieel by te dra vir sy werk; probeer om by die werk, huis, skool en samelewing op te tree soos ons dink Christus van ons verwag; ontdek en gebruik persoonlike geestelike gawe(s) binne die kerk en lewer diens daarmee;  neem deel aan sosiale aksies en diensleweringsprogramme van die gemeente;  evangeliseer ongelowiges deur hulle te vertel van Christus en te nooi na kerk;  woon konferensies en geleenthede by, lees boeke en luister bande om aan te hou groei in die geloof. Voorwaar is hierdie ‘n hele mondvol baie prysenswaardige dinge om vir gelowiges te leer.

Ten spyte egter van al hierdie baie goeie goed wat in gemeentes gebeur, vra Scazzero dan die tergende vraag of jy dalk van die volgende mense in gemeentes herken?:
Die kerkraadslid wat nooit sê, “ek is jammer, ek was verkeerd” nie; Die kinderkerkleidster wat gedurig ander lidmate kritiseer; Die orrelis wat buierig is en vies word vir enige versoeke; Die dominerende kleingroepleier wat nie verskillende standpunte kan verdra nie; Die middeljarige pa van 2 kleuters wat heimlik te veel drink; Die 35-jarige eggenoot wat baie in die gemeente doen onbewus van sy vrou en kinders se eensaamheid by die huis;  Die aanbiddingsbegeleier of kollega wat enige konstruktiewe voorstelle as persoonlike kritiek en verwerping ervaar; Die kategeet wat baie negatief teenoor die dominee is, maar te bang is om dit te bespreek; Die voorbeeldige helper wat altyd “volunteer” om in vier verskillende bedieninge te help, maar nooit tyd vir hom/haarself neem nie; Twee getroue voorbidders wat gebedsbyeenkomste gebruik om die pynlike werklikhede van hulle huwelike te ontvlug; Die mense in kleingroepe met wie dit altyd vreeslik goed gaan en nooit hartseer word en swaarkry nie; en nog ‘n hele klomp ander soorte lidmate.

Die punt wat hy maak is dat die baie belangrike dinge wat die kerk en bedienaars vir mense probeer leer oor ‘n lewe in die geloof, blykbaar nie voldoende is om mense in geestelike volwassewording en lewensheelheid te begelei nie.
Sy rede vir hoekom die kerk se mense, – leiers en lidmate – so baie simptome van ongesonde geestelike lewe vertoon soos: Om “God” te gebruik om vir God te vlug; emosies soos woede, vrees, hartseer, skuld, skaamte, pyn en angs ignoreer en/of onderdruk; probeer om te sterf aan heeltemal die verkeerde dinge in ons menswees; die verlede se invloed op die hede ontken; die lewe opdeel in kompartemente – sakraal en sekulêr – en aan geestelike skisofrenie ly; baie dinge vir God doen in plaas van net naby aan God te wees; probeer om konflik en spanning te vermy en te besweer  met aangeplakte geestelikheid; gebrokenheid, swakheid en mislukkings weg te steek vir ander; leef sonder erkenning van eie beperkinge en grense op ‘n ongedissiplineerde manier en krities en negatief oordeel oor ander gelowiges se geestelike reis; is omdat ons hele benadering ongebalanseerd en dus mank is.

Scazzero se positiewe antwoord op hierdie mankheid in die bediening werk hy uit in sy boek “Emotionally healthy Spirituality”. Dit is naamlik dat gemeentes en bedienaars net  mense se lewens kan help vorm sodat hulle as toegewyde dissipels van Jesus Christus daagliks uit die krag van sy liefde leef, wanneer ‘n integrale balans in die proses van geestelike volwassewording herstel word, naamlik: Emosionele gesondheid en Kontemplatiewe spiritualiteit. Hierdie twee groeiprosesse is die 2 kante van die goue munt van geestelike volwasse wording in Christus en die kerk het die opwindende uitdaging om dit begelei. Ekself het net by die lees van hierdie dinge besef waarom die hoofstroom kerke so ongelooflik vasval en sukkel. Geen mank en ongebalanseerde benadering het nog ooit op enige terrein van die lewe voldoen aan die verwagting wat daarvoor gestel is as haalbaar nie. Die benadering van balans in emosionele gesondheid en geestelike verdieping maak op ‘n manier net wêrelde oop vir bediening in gemeentes.

Jan Woest

Calvyn oor Christus

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Ek het die laaste maand of so lekker gelees aan John Edmondson se proefskrif met die titel Calvin’s Christology.  Edmondson is `n historikus wat sy werk onder Serene Jones by Yale gedoen het.  Ek is te min van `n Calvynkenner om te sê hoe goed die boek regtig is, maar vir my was dit baie handig om op hierdie manier `n bondige oorsig oor `n belangrike faset van Calvyn se teologie te kry.

Blykbaar is daar minder oor Calvyn se Christologie geskryf as wat `n mens sou dink. Edmondson sluit aan by Obermann wat gesê het dat Calvyn se Christologie gaande weg al hoe meer beweeg het na `n sterk klem op Christus se werk of ampte (teenoor `n klem op sy nature) “converging towards a Mediator-theology”.  Dit is ook die koepelnaam wat hy gebruik vir sy studie “Christ as Mediator” – met as subafdelings die drie ampte van priester, profeet en koning.

Oor die drie ampte was dit vir my baie interessant dat Edmondson geen twfel het dat Calvyn aan die priesteramp die heel meeste aandag gegee het en dit as die primêre amp gesien het nie.  Dit is ewe interessant dat die profeetamp die laaste een is wat bygebring en ontwikkel is deur Calvyn – soveel so dat sommige mense meen dat dit dalk beter sou wees om te praat van twee eerder as drie ampte (Edmondson verskil hiermee!).

Die drie hoofstukke wat onderskeidelik oor die drie ampte handel was werklik `n plesier en `n geloofsversterking om te lees.  Dit was ook vir my as teoloog en predikant goed om sien hoe Calvyn met hierdie sake omgaan.  Ek sou drie sake wou uitlig wat opnuut vir my duidelik geword het:

  • Eerstens: vir Calvyn het die kern van die evangelie gegaan oor wie Christus is en veral oor wat Hy vir ons gedoen het. Die hele Skrif het `n fokus op Christus en kan sonder Christus nie verstaan word nie.  Die skopus van die teologie en alle werk wat ons in die kerk doen het een doel en dit is om mense te help om hulle verlossing in Christus alleen te soek (Edmondson p6 en Inst II,16,1).
  • Edmondson begin sy boek met `n pragtige aanhaling van Calvyn wat die punt wonderlik duidelik maak: “Bernard’s admonition is worth remembering: the name of Jesus is not only light but also food; it is also oil, without which all food of the soul is dry; it is salt without whose seasoning whatever is set before us is insipid; finally it is honey in the mouth, melody in the ear, rejoicing in the heart, and at the same time medicine.  Every discourse in which his name is not spoken is without savor.”
  • Tweedens: Die hoofstuk wat my waarskynlik die meeste geraak het was die een oor Christus se priesterskap. Ek het nie besef dat Calvyn soveel oor God en Christus se liefde geskryf het en dit met soveel patos en emosie gedoen het nie.  Edmondson meen dat Calvyn beide aan die objektiewe en subjektiewe versoeningsleer vashou. Natuurlik is die objektiewe versoeningsleer primêr (met `n sterker klem as Anselmus op God se liefde en Christus se lyding vir ons), maar omdat hy mense wou help beweeg tot geloof in God en sy liefde is daar, meen Edmondson, by Calvyn ook spore van Abelardus se subjektiewe versoeningsleer.
  • Calvyn het geweet, skryf Edmondson, dat dit nie net die skuld van ons sonde was wat ons van Christus weggehou het nie, maar ook ons instinktiewe vrees vir God (91). In die manier waarop Calvyn skryf oor hierdie vrees vir God, hierdie twyfel of God ons kan liefhê na alles wat ons gedoen het, het ek weer sy diepe mensekennis waardeer.  “Christ’s meaning was that forgiveness of sins ought not to be sought from a distance for he exhibits it to men in his own person, and as if it were in his own hands.  So strong is our inclination to distrust, that we never venture to believe that God is merciful to us, till he draws near, and speaks familiarly with us”.
  • Edmondson gee ook aandag aan die ou vraag of dit uiteindelik die gehoorsaamheid en versoeningswerk van Christus of die liefde van die Vader is wat ons red.  Hy lê die verband baie mooi. Agv die werklikheid van ons sonde en die skeiding wat dit maak tussen ons en God kan ons God se liefde nie sien en ervaar nie.  Daarom moes Christus dit eers kom wegneem deur sy versoeningswerk voordat ons die Vader se goedheid en liefde kan sien en omhels!
  • Derdens: Edmondson maak veel van die pastorale ingesteldheid en gerigtheid van Calvyn se Christologie (trouens sy hele teologie). Calvyn wou nie net reg praat oor God terwille van getrouheid aan die waarheid nie, maar ook omdat hy mense wou help om tot geloof te kom.  Hy haal Serene Jones aan wat sê dat Calvyn se styl gekenmerk word deur `n dubbele doel: “It seeks to witness to the revelation of God in scripture and it seeks to do so in a language capable of moving the hearts, minds, and the wills of its audience toward an ever-deepening life of faith” (p122). Hierdie dubbele passie van Calvyn kry meerkere in die boek goeie aandag.
  • Edmondson sê dit ook op ander manier: Calvyn se christolgie het twee karakteristieke nl “its concern for history and for relationality”.  Wat met Christus gebeur het is meer as net innerlikheid.  Dit is geskiedenis.  Maar dit het die bedoeling om ons in te nooi in `n nuwe verhouding.  “Christ’s mission is not simply to save humanity, nor to cover our sins; rather it is to effect a relationship…” (228).

Ons het mekaar toe nie regtig leer ken nie …

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Ek het dit so `n agtien maande terug vir die eerste keer begin registreer.  Hoewel die verskillende ras- en taalgroepe in ons land sedert die 1990’s baie meer kontak met mekaar het, het ons mekaar nie regtig op `n dieper vlak leer ken nie.

My indruk is dat ons heelwat kontak oor rassegrense heen het, maar dat die ontmoetings feitlik deurgaans oppervlakkig en funksioneel is.  Ons sien mekaar by die werk en by winkels, maar kry selde die geleentheid om mekaar as mense dieper te leer ken.

Ons besef dit nie altyd nie, maar daar is `n reuse verskil tussen kontakontmoetings en dieper verhoudings.

Kenners sê dat ons tussen vier soorte verhoudings kan onderskei.  Jy kry publieke verhoudings en sosiale verhoudings waarin die interaksie redelik oppervlakkig is.  En dan kry jy persoonlike verhoudings en intieme verhoudings waar mense mekaar dieper leer ken.  Onnodig om te sê: daar is `n groot verskil tussen publieke verhoudings en bv persoonlike verhoudings. Daar is goed wat kan gebeur in persoonlike verhoudings, maar wat nooit in publieke of bloot sosiale verhoudings sal gebeur nie.

My indruk is dat ons interrassige kontak, in bg terme, meesal publiek is, soms sosiaal – maar baie selde meer as dit.

Dat ons meer kontak met mekaar het as in die verlede is natuurlik `n wins. Maar dit hou ook gevare in. Dit kan ons mislei om te dink dat ons mekaar ken, terwyl ons – in werklikheid – van mekaar se binnekante, van mekaar se dieper menswees bitter min verstaan.

Dit is baie jammer dat dit so is.  Die opvlamming van rassevooroordeel wat ons nou weer in ons land sien, sou dalk minder dreigend gewees het, as ons mekaar teen die tyd `n bietjie beter geken het.

Ek is veral hartseer dat die kerke nie `n beter rol in die verband kon speel nie.

Ons moes dit kon doen.

`n Groot deel van die evangelie van Jesus Christus gaan juis hieroor.  As ons verhouding met God regkom, begin dink ons ook anders oor ander mense.  Ons raak meer oop, meer genadig, meer versoenend, meer aanvaardend.

As ek dit sê, kom twee verhale by my op. Toe die NG Kerk in 2004 lid geword het van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ek die eerste keer `n byeenkoms van die Raad bygewoon.  Ek was nie doodseker wat om te verwag nie. Ek het  my gereed gemaak dat daar seker weer heelwat oor apartheid en die verlede gepraat gaan word.

Daar was diè dag baie min daarvan. Van die heftigste gesprek het gegaan oor matriekafskeide!  Daar was `n voorstel waarin gevra is dat kerke iets moet probeer doen aan matriekfunksies waar kinders te veel geld spandeer en te veel drink!  Terwyl ek na swart moeders se besorgde pleidooie vir hulle kinders geluister het, het ek besef: hierdie is mense soos ons.  Dis gewone ouers wat, soos ons, drome droom vir hulle kinders. En wat, soos ons, dikwels bekommerd is oor hulle kinders.  Dis ouers wat, soos ons, saans wakker lê en bid vir jou kinders as hulle uit is en die Here dank as hulle veilig by die huis kom.

Dit is ongelooflik jammer dat ons nie meer kans kry om die kante van mekaar se lewens te sien nie.

Die tweede verhaal gaan oor `n wit gesin waar een van die kinders gediagnoseer is met `n ongeneeslike siekte.  Terwyl dokters gedoen het wat hulle kon, was dit vir die familie `n groot troos dat baie vriende vir hulle gebid het in die tyd.

Die beste verrassing was toe die ma eendag by `n vriendin hoor dat daar `n groep huiswerkers is wat ook – sonder dat sy daarvan geweet het – vir haar kind bid.

Die vriendin het die storie by hààr huishulp gehoor.  Een van die vroue wat saam met haar werk toe ry, het die huishulp gesê, het hulle vertel van die familie waar sy werk se kind wat baie, baie siek is.  Hulle was so geraak deur die familie se nood dat hulle begin bid het vir die kind. Elke oggend as die taxi hulle aflaai, het iemand in die taxi gebid vir die wit kind wat siek is.

Daar is seker harde, ideologiese rassiste in ons land aan wie min salf te smeer is. My ervaring is dat die meeste mense in ons land nie so is nie. Daar is `n basiese welwillendheid en menslikheid by die meeste van ons mense.  As ons mekaar beter kan leer ken, glo ek, kan rasseverhoudings ingrypend verbeter.

As die Here sy kinders in die land se oë kan oopmaak om mekaar raak te sien en regtig te leer liefkry, kan dit `n groot verskil maak…

Coenie Burger

Dissipelskap

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Dit wil my lyk of die konsep van dissipelskap weer stadigaan terugkom in die woordeskat van sommige gevestigde kerke.  As dit so is, sal ek baie bly wees.  Dit is die soort Christenskap wat ons nou nodig het in ons kerke.

Dissipelskap as die fokus van teologiese opleiding

Ek het die sterk klem op dissipelskap in die laaste tyd op een of twee verrassende plekke gesien. In Dorothy Bass en Craig Dykstra se nuwe boek oor teologiese opleiding For Life Abundant word in een van die artikels `n passievolle pleidooi gelewer dat getroue dissipelskap in die sentrum van alle praktiese teologie en teologiese opleiding sal lê. Hulle skryf: “The basic task that orients practical theology is to promote faithful discipleship” (p 67).

Hulle sien alle opleiding – in elk geval in praktiese teologie – as’t ware in konsentriese sirkels lê rondom hierdie sentrale fokus op die navolging van Christus. Dit geld van die verstaan van bediening wat oorgedra word, maar ook van die leermetodiek, navorsing, ens. In alles wat gedoen word moet hierdie fokus nl dat ons mense wil help tot `n getroue navolging van Christus, deel van die groter prentjie wees.

Is dit ekstreem?  Vir mense wat geleer het om teologie te doen binne `n Westerse universitêre sisteem kan dit dalk vreemd klink.  Maar van die kant van die kerk en geloof gesien is dit eintlik logies – natuurlik mits `n mens dissipelskap in sy breë en diep Bybelse verband sien.  As `n mens verstaan dat die konsep van dissipelskap sentraal is aan die Christendom en die Christelike teologie – en die argument sal nie moeilik wees om te maak nie – kan jy eintlik nie dink dat `n mens Christelike teologie regtig op enige ander manier behoorlik kan bedryf nie.

Hulle is reg.  Dissipelskap is nie bloot `n praktiese saak nie.  `n Mens het dissipelskap ook nodig om teologie reg te kan doen.  Die mees wesenlike kante van die evangelie kan moeilik verstaan word van buite die geloof om.  John Stott het graag verwys na Joh 14:21 waar Jesus beloof het om Homself te openbaar aan mense wat Hom liefhet en sy opdragte uitvoer!

Dissipelskap veronderstel `n lewende, teenwoordige Christus

Om die term dissipelskap meer gereeld te gebruik het nog `n voordeel. Dit dwing ons ook om na te dink oor Christus en oor sy teenwoordigheid en werk onder ons.

Dissipelskap veronderstel duidelik `n verhouding. Jy is Iemand se dissipel.  Die woord “navolging” wat dikwels saam met dissipelskap gaan, sê dit nog duideliker. Jy kan net navolg as daar Iemand anders is wat voor jou uit loop!

Daarmee is ons by die belangrikste vraag wat aan Westerse Kerke gevra kan word op hierdie stadium.  Dit is die vraag hoe ons dink oor die lewende Christus, oor sy teenwoordigheid by ons en sy werk onder ons.  Onder die druk van sekularisasie en moderniteit het dit vir baie mense, ook Christene, moeilik geword om te dink aan `n persoonlike God en ‘n lewende Christus wat werklik onder ons teenwoordig is.

Daar is tans `n lewendige gesprek hieroor in die teologie.  Die groep prominente teoloë wat duidelik praat ten gunste van konfessionele geloof in die Triniteit, die werklikheid van die Opstanding en werklikheid van Christus se teenwoordigheid by ons deur die Heilige Gees raak al hoe groter.

Ek is baie dankbaar dat ons hierdie klem op Christus se werklike teenwoordigheid en werk onder ons ook duidelik hoor by die missionêre-kerk-beweging. Sending begin nie met ons uitbeweeg in die wêreld nie, maar met die missie van God en van Christus. Daarom word daar in die kringe baie gepraat oor onderskeidingsvermoë – dat ons tyd sal neem om te luister na God.  Ons kan nie maar gaan werk waar ons wil of lus is om te werk nie. Ons moet eers luister en kyk waar God aan die werk is onder ons – en Hom dan navolg.

As ons sê dat dissipelskap belangrik is, moet dit ook in ons bedienings aandag kry

Dit is vreemd, sê Dallas Willard, dat kerke aandag probeer gee aan die eerste deel van Jesus se opdrag in Matt 28:18-20 nl dat ons moet uitgaan en die evangelie verkondig, maar dat ons die tweede deel van die opdrag heeltemal verwaarloos.  In vs 20 word gesê wat dissipelskap beteken en inhou.  Dit is dat die ons mense “leer om alles te onderhou wat Jesus ons beveel het”.

Die soort dissipelskap het raar geword in Westerse kerke.  Daar is in die meeste Westerse kerke tans `n mite in die rondte, sê Dallas Willard, dat dit moontlik is om vir 40-50 jaar lank `n Christen te wees sonder dat jou lewe enigsins hoef te verander. Dit klink hard as Willard dit so skerp formuleer maar as jy mooi daaroor dink weet jy dat hy presies reg is. Dit is nie wat ons wil sê nie, maar ons sou mense wat diè indruk kry, nie kon kwalik neem nie.

As jy dieper na die verskynsel kyk, sê Willard, lê die grootste probleem nie by mense wat nie wil verander nie, maar dalk eerder by kerke wat nie genoeg met mense praat oor hoe die Gees van Christus mense soos ons se lewens kan verander en vernuwe nie.

Hierdie tema word die inhoud van sy uitstekende boek Renovation of the Heart.  In die boek waag Willard dit om te skryf oor die venuwingswerk van die Gees in ons lewens.  Hy kyk na ses vlakke van ons mensheid: ons gedagtes, ons gevoelens, ons wil (of keuses), ons liggaam, ons verhoudings, en ons siel en probeer naspeur wat ons in die Bybel leer oor hoe hierdie vlakke van ons lewe verander word deur die werk van die Gees.

Sonder om te sê dat ek saamstem met elke besonderheid van Willard se uiteensettings, meen ek dat hierdie die temas is wat ons tot nadeel van ons gehoorsaamheid en getuienis afgeskeep het die laaste paar dekades.

Die boek van Willard is ook op DVD en in `n 12-weke-programformaat beskikbaar en ek weet van gemeentes in ons kerk wat dit met groot seën gebruik.

Die punt is: as ons ernstig is oor dissipelskap en mense  wil leer om alles te doen wat die Here Jesus Christus beveel het, sal ons meer moeite moet doen om oor praktiese dissipelskap te preek en te praat.

Die Lewende, Regerende, Doenende Christus

Written by coenie burger on . Posted in Nagedagtes

Dit gaan in die kerk en in die bediening nie oor ons en ons planne nie, maar oor Christus – die lewende, regerende, doenende Christus. Jesus is nie dood of weg nie – Hy is hier en deur die Heilige Gees sit Hy die werk wat Hy begin het voort en sal Hy dit ook klaarmaak.

Dit is die boodskap van Dr Andrew Purves, professor in Pastorale Teologie van die Pittsburgh Theological Seminary, wat tans in Suid-Afrika op besoek is.

Dr Purves se teologie en verstaan van die bediening wentel om twee oortuigings.  Die eerste is dat Jesus Christus ook in ons dag en tyd `n lewende werklikheid is – nie net as `n raamwerk of beginsel of `n goeie voorbeeld nie, maar as `n lewende Persoon.  Hy glo dat Christus in elke situasie waarin ons kom, reeds teenwoordig is en besig is om sy werk te doen.

Dit is interessant dat Hy bewustelik kies om meeste van die tyd van Jesus te praat. Hy is bang, sê Hy, vir Name wat te veel rus op ons konstrukte en interpretasies – asof ons nie regtig die historiese verhale oor Jesus kan vertrou nie.  Hy meen dat ons in ons denke oor Jesus ons moet laat lei deur die verhale en oortuigings van die NT.

Die tweede oortuiging agter sy pastorale teologie hang saam met die werk van die Heilige Gees wat kom om ons as gelowiges aan Christus te bind.  Dit was vir my `n goeie verrassing om te sien hoeveel Dr Purves skryf oor die gelowige se vereniging met Christus.  In sy voordragte werk het hy baie met Joh 15 se beeld van die wynstok en die lote en Paulus se uitdrukking “in Christus” – wat in varierende vorms blykbaar rondom 160 keer in Paulus se briewe gebruik word.

Daarmee wil hy beklemtoon dat ons as gelowiges en bedienaars van die evangelie nie in die eerste plek geroep word om Christus te imiteer (na te boots) of sy voorbeeld na te volg nie, maar eerder om in `n diep verhouding met Christus te leef waarin ons “deel word en deel kry” aan Hom en aan al die gawes wat Hy vir ons verkry het.

Hy het diè gedagtes pragtig uitgewerk in sy boek Restructuring Pastoral Theology. Ek het die boek drie jaar terug met groot verwagting gekoop omdat `n groot deel van my werk op die oomblik is om saam met predikante na te dink oor hulle bediening.

Die boek was in alle opsigte `n goeie verrassing.  Die eerste verrassing was dat Purves eers in die tweede helfte van die boek oor ons as predikante se bediening begin skryf!  Die eerste deel van die boek gaan oor die Bediening van die Lewende Christus. Hiermee gryp Purves terug na die oortuigings van die Vroeë Kerk (oa Athanasius en die Kappadosiers), die Reformasie (veral Calvyn), maar, glo hy, ten diepste na die boodskap van die Nuwe Testament.  Die goeie nuus van die evangelie is dat Christus na sy Hemelvaart nie regtig weg is nie, maar steeds deur die Heilige Gees onder ons woon en werk.  Hy is en bly die Eerste Bedienaar van die Evangelie!

In die tweede deel van die boek kom hy dan by ons bediening – wat net behoorlik en betekenisvol gedoen kan word as ons dit in vereniging met Christus doen.  Die sentrale daad in elke deel van ons bediening is dat ons getuig van Christus en na Hom heenwys.  Ons kan nie regtig mense help nie. Dit is nie vir ons wat mense nodig het nie.  Hulle het vir Christus nodig en ons taak is om hulle te help om Hom en sy werk in hul lewens en in die wêreld buite ons raak te sien.

Purves skryf dan pragtig oor vier bedienings van die predikant:

  • Die bediening van God se Woord
  • Die bediening van God se genade
  •  Die bediening van God se Teenwoordigheid by ons
  •  En die bediening van God se heerskappy

Andrew Purves se boeke het my die laaste twee jaar baie gehelp in my eie denke oor die evangelie, oor die kerk en oor die bediening.  Hy het my gehelp

  1. om te verstaan dat dit in die kerk steeds oor Christus gaan en dan ons moet oppas dat ons die Christologiese kern van die evangelie nie verloën of verloor nie.
  2. om weer te verstaan dat Christus nie `n idee of `n voorbeeld of beginsel is nie, maar `n lewende, teenwoordige Persoon wat soek daarna om in `n verhouding met ons te leef.
  3. om weer te gaan kyk na die tweede deel van Jesus se lewe nl dit wat by die Hemelvaart en na die Hemelvaart gebeur.  Ons is geneig om hierdie tweede deel van Jesus se lewe gruwelik te verwaarloos – en dit is waar baie van ons probleme begin…
  4. om die wese van die bediening nuut te verstaan in die lig van die wesenlike insigte van die reformasie.  Ons kan nie in `n totaal nuwe situasie presies soos hulle dink en praat oor die bediening nie, maar ons kan oor die kernpunte van die evangelie, sy werking en die bediening steeds baie, baie by hulle leer
  5. om te verstaan dat `n groot deel van ons bediening daarin bestaan om mense te herinner aan die werklike Teenwoordigheid van Christus – wat by ons is, selfs in die deurmekaarste van situasies (sien die tweede deel van sy boek).

Purves se werk het my ook nuuskierig gemaak oor die Skotse gereformeerde tradisie en my genoop om weer te gaan kyk na mense soos Knox, en veral die Torrances.  Die Skotse gereformeerdes is natuurlik na aan ons, maar op sekere punte is daar tog interessante ander klemme.  My indruk is bv dat die Skotste tradisie sterker as Hollandse gereformeerdes klem lê op die priesterlike faset van Christus se werk en ook van ons bediening.  Hierdie klem het my die laaste tyd persoonlik baie gehelp.  Maar ek skryf op `n ander dag meer daaroor.

Ons is gelukkig om Dr Purves tans op besoek te hê in SA.  Elders op die webblad is daar `n lys van sy optredes.