Author Archive

Geluk: Deugde-in-Praktyk om te Floreer – VBO-kursus oor “happiness”

Written by Jannie le Roux on . Posted in Kursusse, VBO

 GELUK –

DIE 40%

WAT DIE VERSKIL MAAK 

 SMILEY NOT

GELUK is méér as vrolikheid, opgewonde buie en glimlag! Die bekende prof. Martin Seligman (vader van die positiewe sielkunde) voel sommer ontevrede as mense geluk verskraal tot wat hy “that awful smiley face” noem (vgl. Flourish – A new understanding of happiness and well-being).

As 50% van ons geluk volgens navorsing geneties bepaal is en 10% deur lewensomstandighede en situasies beïnvloed word, kan ons nog iets aan ons gemeentes en gemeenskappe se ervaring van vreugde doen? Of is hulle bestem tot negatiwiteit en ons land tot negatiewe groei? Kan ons onsself dan nog help gelukkiger wees?

Die goeie nuus is dat daar wel meer is wat ons kan doen om die vlak van lewensvreugde te lig. Navorsing wys dat geluk jou sukses bepaal, veel meer as andersom. Dit wys ook dat geld wel ’n rol speel in geluk – veral as jy dit weggee. O ja, daar is ten minste 40% van geluk waaroor jyself seggenskap het.

Geluk: Deugde-in-Praktyk om te Floreer
29–31 Julie 2014
Plek: Helderberg Gemeente

So hoe help ’n mens ander om gelukkiger te wees?
Ek leer hulle wat ek by die navorsing in positiewe sielkunde leer. Die wetenskap staaf wat Paulus lank terug reeds aanbeveel het onder leiding van die Gees: wees altyd dankbaar. Die ritueel om elke dag 3 goeie goed wat vir jou goed of reg verloop het neer te skryf, sowel as hoekom, verhoog die vlak van geluk en verlaag depressiewe simptome vir tot 6 maaande!

Begin ’n slag ‘n erediens of gesprek met die vraag: Noem iets waarvoor jy hierdie week dankbaar is? Laat die gemeente of gespreksgenote hardop antwoord. Volgende week vra jy weer, maar hulle moet ander goed noem. Dit skuif mense se fokus op wat reg verloop en maak hulle oop vir nuwe moontlikhede. Hulle word opnuut bewus dat God aan die werk is en nie geabdikeer het nie!

Onthou, jy het ten minste 40% van elkeen se geluksprofiel wat jy positief kan beïnvloed.
Dis intensionele leierskap.

Om in te skryf vir hierdie kursus kan jy hier kliek: VBO 19 Geluk (Happiness)

LW Doen dit vóór 25 Julie!

3 ANKERS OM JOU ANGSTIGHEID TE FOKUS

Written by Jannie le Roux on . Posted in Inspirasie

 Anker3  Anker2  Anker1

Angstigheid is deel van die leier se lewe.

Normaalweg is angstigheid die aansporing om gereed te maak vir gevaar. Dis die aanmoediging om jou posisie te skuif, te leer en verander. Ongelukkig loop sommige leiers met soveel angstigheid rond dat die lewe gewoon verbygaan sonder vervulling en vreugde.

Hoewel die kerk bekend is vir die boodskap van vrede en vreugde, steel hierdie vryvloeiende angstigheid leierskap in die kerk se vrede en vreugde. Dit hou die leier die heeltyd op sy of haar hoede teen kollegas en medegelowiges, en veroorsaak dat jy almal as vyande begin beleef. En jy begin verloor jou liefde vir almal. Jou taal verander van oorvloedstaal na gebrekstaal. Jy begin praat van “hulle” in plaas van “ons”.

In die PEAK Leadership kursus wat ons aanbied, is een van die meta-vaardighede “Embracing Anxiety”. Dis juis toe ons dit nou weer aanbied dat ek besef hoe angstigheid verhoudinge en vernuwing belemmer.

Hier is drie ankerspreuke om te help.

Gehoor by Leonard Sweet

Written by Jannie le Roux on . Posted in Inspirasie

Protestantisme groei nie.

Waarom nie? Dis die vraag waarmee Len Sweet Dinsdagoggend begin het. Genooi deur Ekerk, geïnspireer deur Jesus, gewild onder diegene wat probeer verstaan hoe moet ons hierdie tyd verstaan, het hy ons ingelei in die wêreld van NARRAPHOR.

Een van die probleme hoekom die protestantse kerke nie groei nie, as ek hom reg hoor, is omrede ons mense probeer oortuig met WOORDE. PUNTE. BEGINSELS. Terwyl die huidige wêreld ‘n klankbaan het wat jou intrek met storie-beelde wat indrukke op jou siel laat. Ervarings wat jou emosies aanraak. Stories verkoop wat jou in ‘n verhouding intrek. Identiteit wat in stories oorgedra word. Dis die wêreld van narratief en metafoor, vandaar sy nuwe woord as samevoeging van die twee “narraphor”.

Jesus preached for conversation and participation.

Your baptism is your inordination into ministry. Commissioning to the mission.

Ordination to be missionary.

Ministry to the body. Mission to the world.

Luister soos dirigente

Written by Jannie le Roux on . Posted in Inspirasie

Dit klink so vanselfsprekend, maar in die nadraai van die nywerheidsmodel het die heilige ontmoetings met God om sy sagte stil stem te hoor, ‘n verlore kuns geword. Ons dienskontrakte en prestasiebeoordelings en die verwagtinge wat ons van onsself het, wys nie veel van die tyd en openheid vir die “fluistering in die windstilte” (1 Konings 19:12) nie. Hoewel ons reeds in ‘n wysheidstydperk inbeweeg het, kry ons die gevoel dat dit ” onproduktief” gaan voel om ‘n seisoen te hê waarin die geestelike leier homself of haarself afsonder ” om God te hoor.” Om ‘n week van gebed te hou, laat almal voel daar gebeur iets. Om ‘n week IN gebed te verkeer, vereis ‘n nuwe paradigma. Wat sake bemoeilik, is dat so ‘n seisoen nie vooraf beplan kan word nie. God begin jou op ‘n stadium aanraak, en jy weet die tyd is nóú, maar hoe om die program so te skuif sonder om jou ander verpligtinge af te skeep?

Die goeie nuus is dat dit kan gebeur te midde van jou verpligtinge. Die slegte nuus is dat glad nie baie gerieflik is nie. Ek kan net getuig dat dit ‘n geseënde tyd is. By my het dit begin met die vraag of my seisoen in die gemeente verby is. Die proses het ‘n paar maande geduur.

Wat het ek geleer in hierdie tyd?

1.Jesus is lewendig! Die dieper vrae het my gehelp om regtig in my diepste kern te kyk. Om stil te word, heeltemal stil, en Gód te hoor. Om weer deur Jesus aangeraak te word en Sy krag te ervaar. Om weer by die punt te kom waarvan Paulus praat: “… en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20). Natuurlik het dit beteken dat ek my ego weer moes kruisig en my sondes bely. Dit het ook beteken dat ek God se vergifnis aanvaar. Natuurlik moes ek minder vol van myself en nederig word. Genadiglik het die Gees dit in my gedoen.

2.Eerlik wees in my motiewe. Ek moes meermale vir myself vra ” Hoekom?” om al dieper te gaan en al eerliker te wees. In die proses het ek ontdek dat God nie verby ons passie en gawes gaan nie. Maar ek moes hard hoor: ” Dit gaan nie oor jou nie!” Passie en gawes moet in harmonie met God se wil wees, en ek moes dit weer in harmonie bring.

3. God gebruik ander gelowiges om te help. Ek het weer die krag van die geloofsgemeenskap beleef wat saam streef om God se wil te doen. Ek is opnuut opgewonde oor mense wat Gód hoor in die nood van die verloregaande wêreld.

4. Geestelike leiers wat in ‘n reeds bestaande kerk is, werk met wie reeds teenwoordig is. Jy werk nie met die luukse van ‘n nuwe gemeente wat begin met mense wat inkoop by die roeping en visie van die nuwe nie. Daar is die heeltyd die organisatoriese spanning tussen die bekende en die nuwe, die nywerheidsmodel en die wysheidsmodel, die ou ekonomie en die nuwe, leierskap soos verstaan in die oue en leierskap van die derde millenium. In hierdie tyd word dit ‘n smeltkroes wat duidelik wys waarvoor die leierskap kans sien. Sulke tye wys hoe ver die verandering in die begrip en kultuur van die leierskap reeds gebeur het.

5. Bly laag voor die Here totdat jy sy vrede beleef. Dit sál gebeur. Dán kan jy opstaan.

 

 

 

WAAR IS ONS NOU?

Written by Jannie le Roux on . Posted in Leierskap

Terwyl ons in Europa ry, het die busbestuurder telkens voor ons vertrek vir my gevra wat ons volgende bestemming is (ek was die toerleier). Nadat hy dit in sy GPS ingesleutel het, het ‘n vroulike stem hom gereeld in Duits herinner wat hy volgende moes doen om die regte roete te vind.

Nico Nel, bekende grapjas, vertel ‘n tydjie gelede dat hy baie laat was vir ‘n afspraak, want toe hy moes afdraai, het die GPS-vrou aan die  hoes gegaan… en hulle ry toe die hele afdraai mis…

Die ongemak waarmee leierskap moet saamleef, is dat ons nie altyd heeltemal seker is van die roete nie. Ons het ‘n moontlike prentjie of idee of plan waarmee ons op pad is, maar die roete daarheen is uniek vir jou situasie. Dis hoekom leierskap nodig is, anders het almal vanself daarheen gegaan!

Wat wel seker is en bepaal kan word, en dis waarmee die GPS eintlik werk, is waar jy nou is. Net soos die GPS sekere koördinate gebruik om te bepaal waar jy tans is, is dit nodig dat jy en jou leierspan moet seker maak waar julle tans is. Moet asseblief nie verval in die verlamming van wag vir te veel detail nie. “Analysis-paralysis” noem die mense hierdie toestand. Leierskap is nie om te bly in die detail van waar jy is nie, maar te wéét waar jy is.

Max de Pree, invloedryke besigheidsleier, sê: “The first responsibility of a leader is to define reality.” Dis om eerlik die situasie waarin julle is in die oë te kyk, sonder om mekaar te ontmoedig, blameer, of te verontskuldig. Sê dit soos dit is. Natuurlik is dit ongemaklik, maar werk daardeur. Die sleutelwoorde is: Dis waar ons IN HIERDIE FASE is. Om vir mense aan te dui dis slegs ‘n fase, help om te verstaan leierskap is ‘n proses en reis.

Geestelike leiers kyk nie net na die realiteit van die omgewing nie. Hulle kyk dieper. Hulle kyk na hulle diepste verhoudings. Waar is ons nou in ons gesprek en verhouding met God? Vir ons opsoekende God is dit uiters belangrik (vgl Gen 3:9). Dit herinner my aan die familie wat ‘n wilde 5-jarige het, en sy ouers is bang dat hy per ongeluk sy nuwe bababoetie sal seermaak. Een aand loer hulle by die kamer in om seker te maak baba is veilig, net om te hoor hoe hulle oudste enetjie vir sy bababoetie vra: “Sal jy asseblief vir my vertel hoe God regtig is? Ek dink ek begin vergeet.”

MOONTLIKE AKSIE: Nooi die gemeente en belanghebbendes om saam te bid en te dink waar julle nou is. Skep ‘n “muur” waarteen mense papiertjies kan opplak waar hulle dink julle nou is.

WENK: Begin ‘n Facebook-bladsy waarop mense foto’s kan plaas van wat hulle waarneem waar julle nou is.

72 LEIERS TEEN SONDAG!

Written by Jannie le Roux on . Posted in Leierskap

Later het ons gekliek dat daardie groepe weer doodgeloop het omdat ons mense dit as ‘n termyn verstaan het. Nét 40 dae. Dis tog ook nie verkeerd nie. Daar kan sulke tye en groepe ook wees. Nog dieper het  ons verstaan dat daar nie werklik leiers na vore gekom het nie – net gashere/dames. Dis ook oraait, maar dit het nie die nuwe leierskap wat ons benodig, help groei nie.

Ons besef dat ‘n nuwe seisoen nuwe leierskap nodig het. Nie noodwendig nuwe mense nie, maar ‘n nuwe verstaan van leierskap. Vir ‘n sekere visie het jy sekere leierskap nodig. Ons het besef ons moet gelowiges help om te verstaan enigeen kan ‘n leier wees. Leierskap is invloed. Meer spesifiek: om God se koninkryk te help groei, om dissipels te maak. Wat ons nodig het, is meer leiers wat sê: Ja, ek is bereid – al weet ek nie alles nie. Dit hang saam met ‘n dieper beginsel wat ons al vir 18 jaar probeer vestig. Dis die beginsel dat die verantwoordelikheid vir jou verhouding met God en jou geestelike groei primêr by jouself berus. Geestelike volwassenheid is om self te kies en eienaarskap daarvoor te neem.

Nou ja, terug by 72 leiers. Jesus het 72 uitgestuur (vgl Luk 10). Vir lank tob ons hoe gaan ons meer leiers kry. En ons bid. Ons is ook besig met ‘n bouprojek om ‘n nuwe lofsentrum op te rig. So nooi ons vir ds Dirkie van der Spuy van bekende Moreletapark-faam om hulle geloofstorie met ons gemeente te kom deel. Na sy stilword met God sê hy dat hy oortuig is ons bouplan moet saam met ons groeiplan loop. Daarom preek hy daardie Sondag oor hoe die Here deur omgeegroepe hulle gemeente aangeraak het om die groot drome waar te maak. Ons is opnuut aangeraak deur die Gees se werking soos tydens Handelinge 2. Ds Dirkie gaan met die leierskap na die eredienste gesels.

Wie is die leierskap wat daar opdaag? Almal wat ‘n SMS gekry het – dienswerkers, omgeeleiers, kerkraadslede, Bybelstudieleiers, mense wat projekte hanteer ens. Baie het hulleself nooit gesien as leiers nie, maar ons het hulle so genoem en genooi, en hulle het daarop reageer! Ons het heelwat nuwe omgeeleiers daardie Sondag gekry. En uit ons bestaande groepe het heelwat lede na vore getree wat bereid is om leierskap op te neem.

Agterna besef ek: God het hulle klaar voorberei. Hulle is beskikbaar. Hulle wag net op die visie en die oproep.

Ek het nog nie getel nie. Ek dink daar is heelwat meer as 72 leiers. Ons moes hulle net so noem en aanwys en help verstaan hulle ís. Onswil graag ons gemeente help verstaan ons is 2600 leiers. Mense wat ‘n samelewing kan transformeer. Mense wat elke dag Jesus se invloed uitleef. Wat ander kan help dissipels word. Dís die leiers wat Jesus soek. Leiers wat Jesusdissipels maak.

MOONTLIKE AKSIE: Besluit saam vir watter nuwe visie soek julle leiers. SMS almal wat moontlik kan kom. En bemagtig hulle.

WENK: Hierdie reeks word onder die indeks van 52 geplaas sodat ons soos Nehemia die muur in 52 dae kan herbou. Voel vry om hierdie te dupliseer en uit te deel vir bespreking. Forward dit vir jou mense. Sit net ‘n skakel na hierdie bladsy by (ek behou die kopiereg). Stuur asb vrae sodat ek meer konkreet kan help bou.

 

MISSIONÊRE KLEINGROEPE – wat is fout met kleingroepe?

Written by Jannie le Roux on . Posted in Ontwikkeling

Ek wonder al ‘n paar jaar hoekom kleingroepe oftewel omgeegroepe nie in ons gemeente so lekker van die grond kom nie. Na die bekende 40-dae storie van Rick Warren se doelgerigte lewe, was die groepe vir daardie tydperk meer, maar krimp toe weer drasties. Ek troos myself soos Rick en die ander dat daar darem meer is as waarmee ons begin het.

Ons is deur die fase van die struktuurgedrewe model van “Die Selgemeente” wat ons daar by George geleer het, en ek moet bieg ek is nie so struktuurgedrewe nie. Toe volg die fase wat ons by die Jetro-model en die G-wat-ook-al geleer het, wat baie mooi op papier klink, maar my nog meer laat besef hoe vrot ek organisatories met hierdie goed is. Die goed laat net die skuldgevoelens vermeerder. Daarna het ons begin fokus op die 40-dae veldtog van Rick Warren se doelgerigte lewe. Vir daardie tyd was almal wonderlik doelgerig, om daarna aan te gaan met die res van hulle lewe. Vir daardie tydperk was die groepe baie meer, maar krimp toe weer drasties. Ek troos myself soos Rick en die ander dat daar darem meer is as waarmee ons begin het.

Regdeur het ons agtergekom dat vermenigvuldiging nie by ons mense so maklik is nie. Hulle hou nie van afskeid neem van mekaar nie. Uit elke drie groepe wat vermenigvuldig, bly een of hoogstens twee oor. Ook is die dilemme met Rick se “gasheer” gedagte dat niemand regtig leierskap neem waaruit dissipels kan ontwikkel nie. Niemand sê “Volg my” nie,  en ons leer al hoe meer by die mense wat die DVD’s maak, maar neem steeds nie eie verantwoordelikheid nie. Omdat ons as ‘n bestaande gemeente transformeer, is ons ook nie soos gemeentes waar mense van dag een af moet inskakel by kleingroepe nie. Ons is eintlik besig om die hele kultuur van ons gemeentewees te verander. En ek lees op die internet dat die bekende transformasiekundige prof John Kotter in sy onlangse boek A Sense of Urgency beweer 70% van die organisasies slaag nie met verandering nie. Wat ‘n soberende gedagte! Die goeie nuus is dat 10% wel slaag, en dan met verrassend goeie resultate. Blykbaar is dit die groep wat voortdurend sy eerste beginsel bly toepas, en dis om voortdurend ‘n besef van dringendheid in die hele organisasie te handhaaf.

PARADIGMASKUIF. Verlede jaar het ek begin om anders te begin dink oor ons kleingroepe. Ek dink steeds dis een van die beste maniere om saam te groei as dissipels, maar ek het begin dink aan die kleingroep as ‘n sturende groep. En gemotiveer dat elkeen van ons kleingroepe moet begin bid en vra dat een van hulle as ‘n “sendeling” afvaardig moet word om ‘n nuwe groep te begin. Wel, dit het in vanuit van ons groepe begin!

Ek dink nie dis net een metode of verstaan wat help nie, maar ‘n verskeidenheid. Vandag het ek nog ‘n tree verder geskuif. Dis om die kleingroepe as missionêre gemeenskappe te verstaan.

Omdat ons die gemeente in ‘n nuwe fase lei, het ek gewonder of daar nog mense soos ek is wat wonder oor die kleingroepe. Toe google ek. In Februarie skryf Geoff Surratt Why small groups don’t work. Sy argument in kort is dat baie beweer dit moet werk, maar sukkel daarmee WANT ONS MIS DIE PUNT. Die punt van kleingroepe is nie om relasioneel te wees, of dissipels te maak, of diens te lewer nie, dis alles ‘n effek daarvan. DIE PUNT IS:

The point of small groups should be to rally around a cause, a purpose, a mission and to change the world. Our normal expectations for small groups is tragically anemic. Your small group shouldn’t just change you, or change your friends; your small group should rock the world. “They have turned the world upside down, and now they have come to our town.”

Daarom dink ek: MISSIONÊRE KLEINGROEPE… Ons kleingroepe is missionêre gemeenskappe BINNE die gemeenskap wat lankal nie meer aan die kerk behoort nie. ONS GEMEENSKAPPE IS ONS SENDINGVELD. Lokaal. Rondom ons.

Hoe verander dit jou persepsie? En waarmee kan jy leiers help? Laat weet asb.