Author Archive

MISSIONÊRE KLEINGROEPE – wat is fout met kleingroepe?

Written by Jannie le Roux on . Posted in Kleingroepe

Ek wonder al ‘n paar jaar hoekom kleingroepe oftewel omgeegroepe nie in ons gemeente so lekker van die grond kom nie. Na die bekende 40-dae storie van Rick Warren se doelgerigte lewe, was die groepe vir daardie tydperk meer, maar krimp toe weer drasties. Ek troos myself soos Rick en die ander dat daar darem meer is as waarmee ons begin het.

Ons is deur die fase van die struktuurgedrewe model van “Die Selgemeente” wat ons daar by George geleer het, en ek moet bieg ek is nie so struktuurgedrewe nie. Toe volg die fase wat ons by die Jetro-model en die G-wat-ook-al geleer het, wat baie mooi op papier klink, maar my nog meer laat besef hoe vrot ek organisatories met hierdie goed is. Die goed laat net die skuldgevoelens vermeerder. Daarna het ons begin fokus op die 40-dae veldtog van Rick Warren se doelgerigte lewe. Vir daardie tyd was almal wonderlik doelgerig, om daarna aan te gaan met die res van hulle lewe. Vir daardie tydperk was die groepe baie meer, maar krimp toe weer drasties. Ek troos myself soos Rick en die ander dat daar darem meer is as waarmee ons begin het.

Regdeur het ons agtergekom dat vermenigvuldiging nie by ons mense so maklik is nie. Hulle hou nie van afskeid neem van mekaar nie. Uit elke drie groepe wat vermenigvuldig, bly een of hoogstens twee oor. Ook is die dilemme met Rick se “gasheer” gedagte dat niemand regtig leierskap neem waaruit dissipels kan ontwikkel nie. Niemand sê “Volg my” nie,  en ons leer al hoe meer by die mense wat die DVD’s maak, maar neem steeds nie eie verantwoordelikheid nie. Omdat ons as ‘n bestaande gemeente transformeer, is ons ook nie soos gemeentes waar mense van dag een af moet inskakel by kleingroepe nie. Ons is eintlik besig om die hele kultuur van ons gemeentewees te verander. En ek lees op die internet dat die bekende transformasiekundige prof John Kotter in sy onlangse boek A Sense of Urgency beweer 70% van die organisasies slaag nie met verandering nie. Wat ‘n soberende gedagte! Die goeie nuus is dat 10% wel slaag, en dan met verrassend goeie resultate. Blykbaar is dit die groep wat voortdurend sy eerste beginsel bly toepas, en dis om voortdurend ‘n besef van dringendheid in die hele organisasie te handhaaf.

PARADIGMASKUIF. Verlede jaar het ek begin om anders te begin dink oor ons kleingroepe. Ek dink steeds dis een van die beste maniere om saam te groei as dissipels, maar ek het begin dink aan die kleingroep as ‘n sturende groep. En gemotiveer dat elkeen van ons kleingroepe moet begin bid en vra dat een van hulle as ‘n “sendeling” afvaardig moet word om ‘n nuwe groep te begin. Wel, dit het in vanuit van ons groepe begin!

Ek dink nie dis net een metode of verstaan wat help nie, maar ‘n verskeidenheid. Vandag het ek nog ‘n tree verder geskuif. Dis om die kleingroepe as missionêre gemeenskappe te verstaan.

Omdat ons die gemeente in ‘n nuwe fase lei, het ek gewonder of daar nog mense soos ek is wat wonder oor die kleingroepe. Toe google ek. In Februarie skryf Geoff Surratt Why small groups don’t work. Sy argument in kort is dat baie beweer dit moet werk, maar sukkel daarmee WANT ONS MIS DIE PUNT. Die punt van kleingroepe is nie om relasioneel te wees, of dissipels te maak, of diens te lewer nie, dis alles ‘n effek daarvan. DIE PUNT IS:

The point of small groups should be to rally around a cause, a purpose, a mission and to change the world. Our normal expectations for small groups is tragically anemic. Your small group shouldn’t just change you, or change your friends; your small group should rock the world. “They have turned the world upside down, and now they have come to our town.”

Daarom dink ek: MISSIONÊRE KLEINGROEPE… Ons kleingroepe is missionêre gemeenskappe BINNE die gemeenskap wat lankal nie meer aan die kerk behoort nie. ONS GEMEENSKAPPE IS ONS SENDINGVELD. Lokaal. Rondom ons.

Hoe verander dit jou persepsie? En waarmee kan jy leiers help? Laat weet asb.

VEG VIR JOUSELF!

Written by Jannie le Roux on . Posted in Inspirasie

‘n Kollega vertel hoe hy sukkel om effektief af te vat. Dis nie ‘n nuwe storie nie. Dis alle geestelike leiers se storie.

Maar daar is ‘n verskil tussen ‘n dag of tydjie af hê waarin jy net rus, en hoe om jouself te verruim met nuwe energie en drome en passie.

As jy net die dinge doen wat jou help om jou moegheid te oorwin, is dit nog nie genoeg nie. Jy begin net weer waar jy gister was, en die week voor dit… Kort voor lank kruip daar ‘n anderste moegheid in jou wat jy nie oorwin kry met afvat nie. Dis die moegheid wat in jou siel en gees kom lê. By sommige wys dit die eerste in geïrriteerdheid, by ander in uitstel, by nog ander in minder liefde en gevoel en ‘n taakgerigtheid.

Om vervullend en verruim te leef, moet jy hierdie jaar vir jou tye inbou waarin jy jou pas, jou plek, jou posisie, jou plan en jou passie verander. Doen wat jóú gaan laat voel soos ‘n nuwe mens. Verander jou pas deur iets heel anders te beleef. Verander jou roetine sodat jy op ‘n ander manier leef. Verander jou plek deur op ‘n ander plek stiltetyd te hou en in jou joernaal te skryf. Verander jou posisie deur te kies om vanjaar sekere verwagtings nie te doen nie.  Sê jy sal dit in die volgende fase weer doen, maar vanjaar gaan jy dit of dat doen. Hou op om sekere dinge te doen.Trek jou grense ‘n slag duidelik. En as jy iemand teleurstel? Soos Bill Hybels eendag sê: Daar is so ‘n lang ry mense wat hy deur die jare teleurgestel het, dié persoon moet maar agter inval. Verander jou plan deur op die Here te wag en te luister… en in Jesus tree vir tree op die water te loop.

Verander jou passie. Ons het nie net een passie nie. Ons het ‘n portfolio van die goed. Dis vanjaar ‘n ander passie se beurt. Doen wat jy nog altyd wou doen, maar net bly uitstel vir eendag as die tyd ryp is. Vra jouself: En wat volgende? Doen dan net daardie een ding. Wat van Stephen Covey se “Begin with the end in mind”? Die “end in mind” is om weer passie vir Jesus op te vlam. Doen wat ook al jou passie sal nuut maak – woon VBO by, gaan bly vir ‘n week tussen armes, vas vir ‘n week, bid elke nag tussen 3 en 4…

Die punt is: veg vir jouself! Selfleierskap was nog altyd die kern van leierskap. Daarom het Jesus gereeld uit die skares onttrek om te bid.

‘N JAAR LATER…

Written by Jannie le Roux on . Posted in Gebed

So blaai ek terug na wat my aan die begin van verlede jaar aangeraak het:

9 Januarie net voor die inhuldiging van president Barack Obama:

Leiers moenie hulle poëtiese passie verloor nie. Poëtiese woorde is die seismograaf van die emosionele demografie. Dit sny diep in die menslike siel, en is die grype van die menslike gees na die Gees van ons Skepper. Woorde en Logos is die laserpunt wat die vlam van leierskap fokus.

11 Januarie

Vertroue en spanwerk: verlies aan vertroue is die grootste disfunksie van ‘n span

27 Januarie

John Maxwell wat praat oor al sy mislukkings en die toestemming om te mag misluk

29 Januarie

Bill Hybels se Popeye uitdrukking wat leiers motiveer: I can stands it no more!

Gaan kyk gerus by Leierskap onder die Blogs vir meer…

Wat sou jy graag vanjaar wou lees in hierdie blog?

 

 

 

 

Nuwe afgode: missionêr, organies…

Written by Jannie le Roux on . Posted in Ontwikkeling

In ‘n reaksie skryf Frank Viola (skrywer vano.a. Reimagining Church en Organic Church) oor die verstaan van “organies” en “beweging”.

I’ve been gathering in organic expressions of the church (as defined above) for the last 21 years. And from my observations, many of the people who are leaving the institutional form of church presently are leaving because they are following a spiritual instinct. They are saying and thinking, “There has got to be more to Jesus Christ and his body than this.” Or as Reggie McNeal once put it, “A growing number of people are leaving the institutional church for a new reason. They are not leaving because they have lost their faith. They are leaving the church to preserve their faith.”

Ek hou van sy slotparagraaf:

So many things can replace our Lord. But God’s eternal purpose—that which has been in his heart since before time—will never be fulfilled if our first rattle out of the box is a new way of doing church, a method for multiplying churches, or a technique to change the world. God’s purpose will only be restored if we blindly and singularly make Christ our pursuit, our life, and our motive. Everything else will flow out of that.

Jy kan die volledige artikel hier lees.

Hoe moet leiers al hierdie gestoeiery met terme verstaan?

Leiers moet poog om so helder en duidelik as moontlik hulle roeping en visie te verwoord. Soms gaan jy ‘n term soos missionêr of organies of wat ook al gebruik om die visie te aksentueer. Daar is tans wêreldwyd baie van hierdie woorde in omloop, wat die patroon skep dat ons in ‘n oorgangstydperk in die verstaan van die liggaam van Christus is. Ongelukkig stel baie van die geestelike leiers hulle kanonne op mekaar en verdedig elkeen sy eie term of visie ten koste van die ander. Dis dan wanneer ek wonder of ‘n term soos organies of missionêr nie ‘n afgod word nie…

Hoe skep leiers ‘n kultuur van vertroue?

Written by Jannie le Roux on . Posted in Ontwikkeling

In ‘n kultuur van vertroue gebeur alles vinniger. In ‘n kultuur van wantroue is daar agterdog, moet oor alles weer gepraat word, die verlede word kort-kort afgestof, en die toekoms is onseker.

As daar een aspek van leierskap is waaraan tans hard gewerk moet word, is dit die skep van vertroue. Dis dié een aspek wat die eenheid in die kerk kan maak of breek, en die integriteitspad en pas van ons land bepaal. As ons dit kan regkry om mekaar ten volle te vertrou, ontsluit dit ongekende potensiaal!

In die besigheidswêreld het die legendariese Jack Welch, vorige CEO van General Electric, vertroue eenvoudig opgesom: “Jy weet dit as jy dit voel.”

In ‘n organisasie waar vertroue heers, lees mense nie verborge agendas in mekaar se woorde nie. Mense vertrou dat elkeen die ander se beste belange sal dien. Bestuur is meer vloeiend en leiers hoef nie oor te gaan tot buitensporige beheer-en kontrolemaatreëls nie.

Hoe bring ons so ‘n kultuur?

Leef ‘n gedeelde roeping. Wanneer roeping en waardes die eerste en laaste woord spreek, word jou eie emosies nie die springplank vir chaos nie. Spreuke 28:26: Wie op homself vertrou, is ’n dwaas; wie hom deur wysheid (lees roeping) laat lei, is veilig.

Besluit om te vertrou. Besluit om te alle tye die beste van die ander persoon te glo. Mense word wat jy van hulle verwag. Mense  moet weet jy sal hulle rug toemaak.

As jy wil vermy, praat. Soms voel jy aan alles is nie pluis nie, maar jy het net nie die energie om dit te hanteer nie. Fout! Dit haal jou gewoonlik later soos ‘n tornado in. As jy daardie “gevoel” kry, praat. “Verbeel ek my, maar dit voel…?”

Praat reguit. Vra vir die feite. Sê hoe jy dit verwag. Sit dinge in perspektief. Vra om verskoning indien nodig. Praat die waarheid.

Luister. Probeer werklik verstaan, voordat jy probeer diagnoseer of voorskryf.

Bly respekvol. Moenie toelaat dat die gevoel van wantroue jou respek vir die ander persoon laat verloor nie. Wantroue is nie ‘n lisensie om in iemand se karakter te klim nie.

Lees meer

Seisoene in leierskap

Written by Jannie le Roux on . Posted in Inspirasie

Omdat geestelike leiers tans heelwat langer in hulle gemeenskappe bly, sien medegelowiges jou seisoene raak. Jy kan dit nie werklik wegsteek nie. Daniel Goleman het gesê dat ons emosies ons verklap. Selfs op onbewuste vlak tel mense jou emosionele seine op.

Die implikasie is dat mense gaan ervaar jy is “af” – en hoe langer jy “af’ voel, hoe meer val dit op. Kerkraadslede kom en gaan volgens hulle termyn, maar jy is daar vir ‘n langer termyn. Dit beteken gemeentes sal moet leer om saam te leef met die feit dat hulle geestelike leier dalk in ‘n herfs- of winterseisoen is.

Hier is ‘n paar gedagtes om jou seisoene te gebruik vir groei:

GEESTELIKE LEIERS… bely, beleef en bly in Jesus!

Written by Jannie le Roux on . Posted in Inspirasie

Waar roeping, spiritualiteit en leierskap van predikante en geestelike leiers ontmagtig word, is een van die hoofredes dat hulle verhouding met Jesus êrens langs die pad verflou. Verskillende redes kan hiervoor aangevoer word:
  • ek bestee nie genoeg tyd in my verhouding met Hom nie
  • die groeiende aansprake op my tyd omrede ek by te veel goed betrokke raak
  • onduidelike gemeenteroeping sodat ek vir alles moet “ja” sê
  • onduidelike persoonlike roeping sodat ek voel ek moet by alles uitkom
  • onduidelike identiteit as geestelike leier sodat ek in al hoe meer bestuursfunksies opgesuig word
  • onbehoorlike bestuur van my energie sodat ek nie krag het as ek die tyd het nie
  • onvoldoende refleksie-tyd sodat ek nie in wysheid optree nie

Onlangs sien ek Leonard Sweet en Frank Viola skryf dat ons as Christene die evangelie oor so baie goed gemaak het – behalwe Jesus. In hulle JESUS MANIFESTO for the 21st Century Church skryf hulle “Jesus Christ is the gravitational pull that brings everything together and gives them significance, reality and meaning.”

Lees meer in hierdie Magna Carta for Restoring the Supremacy of Jesus Christ