Author Archive

Gemeentelike Identiteitsvorming en Migrasie

Written by Jannie Swart on . Posted in Gemeentes

Dit was ‘n trots genoeg oomblik toe ek en my vrou besef dit is nou die eerste keer dat ons seun ‘n meisie fliek toe vat.  Dit was nog meer merkwaardig toe ons die viertal dophou met hul vertrek fliek toe:  ons seun en sy beste skoolvriend, wat Keniaans is, met twee Meksikaanse susters wat saam met hulle in die klas is.  As ‘n kind van apartheid het ek skielik met groot opgewondenheid besef die nuwe wereld is nie net ‘n globaliseringsteorie nie.

Migrasie is besig om die wereld op sy kop te keer, en opwindende nuwe moontlikhede te bied vir die Christelike beweging wereldwyd.  Kulturele antropoloe, soos die Indies gebore Arjun Appadurai in sy boek “Modernity at Large”, het al ‘n tyd terug begin wys hoe “migrationscapes” nuwe globale landskappe begin vorm wat nie alleen ou territoriale kategoriee omverwerp nie, maar ook nuwe “social imaginations” skep.  Nou het ‘n nuwe generasie sendingwetenskaplike, die Sierra Leone gebore Jehu Hanciles (tans by Fuller Seminary in LA hier in Amerika), ‘n boek uitgebring wat met oortuiging toon hoe migrasie omvangryke implikasies het vir die vloei van Christendom in vandag se wereld.  Die boek se titel is “Beyond Christendom: Globalization, African Migration, and the Transformation of the West.”  Wat veral treffend is van Hanciles se analise, is dat dit grotendeels Afrika immigrante is wat tans verantwoordelik is vir ‘n omgekeerde sendingbeweging wat nie meer ontken kan word in die sg. Weste vir die wyse waarop dit kulturele en kerklike transformasie meebring nie.

Hanciles toon oortuigend aan dat daar nog altyd ‘n sterk missiologiese konneksie met migrasiebewegings in die wereld was.  Ten spyte van die feit dat Christendom o.a. ‘n poging was om van die Christelike geloof ‘n “territorial and tribal faith” te maak, skryf Hanciles, was dit nog altyd in sy wese ‘n “migration faith.”  Om die Brief aan Diognetus aan te haal uit die vroee Christendom, vir Christene “any foreign country is a motherland, and any motherland is a foreign country.” Amerika byvoorbeeld (Europa het ‘n ietwat ander dinamika, waaroor ek later sal skryf in terme van die verhouding met Islam) is nou die primere bestemming van immigrante uit Afrika na westerse industriele lande, en dat by verre die grootste persentasie van hierdie immigrante Christene is.  Hanciles skryf dat dit tot gevolg het dat “African Christians form a significant component in the vast body of Christian immigrants whose arrival coincides with a decline in American Christianity.”  En dat “the new immigrant Christian communities are effectively ‘de-Europeanizing’ American Christianity.”

Ten spyte hiervan, is daar nog steeds die oorweldigende tendens onder gemeentes (insluitend immigrante gemeentes!) om solank as moontlik te probeer laaste territoriale en homogeen kulturele bastione in snel veranderende gemeenskappe te wees.  Dit is ‘n verskynsel wat natuurlik nie iets nuuts is vir die van ons wat sensitief is vir hoe NG gemeentes worstel met transformasie te midde van die mosaiek van diversiteit in SA nie.  Wat doen ons in gemeentes om gewoontes te kweek en praktyke te vestig wat hiermee help, sodat gemeentes nie die beweging van God in hierdie nuwe wereld totaal mis nie?

Gemeentelike Identiteitsvorming en die Self

Written by Jannie Swart on . Posted in Gemeentes

Iemand met ‘n passie vir “emergent” eerder as “tradisionele” gestaltes van kerk-wees (soos hy dit self stel) skryf die ander dag op my facebook dat hy gekies het om die kerk op te gee as sy self-opoffering in lydenstyd vanjaar.  Ek dag toe by myself hoe op aarde is dit moontlik om iets wat nie eens aan jouself behoort nie op te gee as ‘n self-erkende self-opoffering?!  Maar ek besef ook toe dadelik dat ek mos nou al goed uitgevind het die afgelope meer as twee jaar dat ek myself in ‘n kultuur bevind met ‘n amper onbeperkte geloof in die moontlikhede en keuses van die self.

Charles Taylor (in “A Secular Age”) vertel die verhaal van moderniteit as ‘n skuif weg van ‘n “enchanted” (pre-modern) na ‘n “disenchanted” wereldbeskouing waarin die “porous” self moes plek maak vir ‘n “buffered” self. ‘n Self vir wie realiteit opgesluit is in wat self ervaar, gedink, gekies, en gedoen kan word, is terselfdertyd afgesluit (“buffered”) van wat moontlik is in die openheid (“porous”) van gemeenskap met ander en die beweging van die Ander.

Jurgen Moltmann (in “The Trinity and the Kingdom”) waarsku teen ‘n dubbele gevaar in die moderne wereld se klem op die moontlikhede van die self.  Aan die een kant voed dit ‘n self-ervaring waarin selfs God beperk word tot “the narrow limits of a fore-given, individual self which makes the self its own prisoner and supplies it merely with self-repititions and self-confirmations.” En wat gewoonlik dan lei tot ‘n kultuur van vrees vir die ander.  Aan die ander kant voed dit ook ‘n self-aktivisme waarin die Ander gemarginaliseer word tot hoogstens ‘n motivering vir die prestasies van die self.  Moltmann skryf dat dit “quickly becomes debased into activism, falling a victim to the pragmatism of the modern meritocratic society which judges by performances.”  In so ‘n scenario is Jesus gewoonlik slegs die etiese voorbeeld vir die praktyk van die self, en verskaf geloof slegs die geestelike inspirasie vir die potensiaal van die self.

Hoe kan gemeentes ruimtes skep vir Christelike identiteitsvorming waarin die Drie-enige God primer die vormende en aktiewe Persoon is, terwyl die self gevorm word as ‘n self-in-gemeenskap met ander en die Ander?  Okechukwu Ogbonnaya (in “On Communitarian Divinity: An African Interpretation of the Trinity”) het my oortuig dat ons vanuit Afrika wereldbeskouings en kontekste unieke geleenthede het vir die moontlikheid om die self-in-gemeenskap eerder as in-sig-self te vorm.  Hierdie lydenstyd bied ons weereens die Christelike hoop van ‘n self-ontlediging (Filippense 2) wat moontlik is in Christus en in gemeenskap met ander.

 

Gemeentelike Identiteitsvorming en Liturgie

Written by Jannie Swart on . Posted in Gemeentes

Om in ‘n bitter koue, sneeu bedekte Minnesota deur Vusi Mahlasela met eg Suid-Afrikaanse township folk, blues en soul musiek getrakteer te word is al klaar genoeg om jou siek van verlange huis toe te maak.  Maar as iemand jou nog boonop tydens die agterna ontmoeting met die orkes met ‘n verontwaardigende “Het ek reg gehoor dat julle ook Suid-Afrikaners is?” in Afrikaans groet, dan kry jou hart ‘n ekstra stuiptrekking.

Sy het aan die anderkant van die apartheidskleurgrens grootgeword as ek, en is nou ‘n Humphrey fellow by die Universiteit van Minnesota a.g.v. haar werk in homeless shelters en met domestic violence slagoffers (vroue en kinders) in die Kaap.  Terwyl ons mekaar in Afrikaans leer ken, hoor ek my dogter in Zoeloe gesprek voer met Vusi, en skielik is ek buitengewoon sentimenteel oor die uniekheid van Tutu se reenboognasie.

En nou, ‘n paar weke later, op ‘n Woensdagaand in my tuisgemeente hier in Minnesota (‘n Episcopal gemeente), sit ek en my nuwe vriend uit die Kaap langs mekaar in ‘n Aswoensdag erediens.  Sy met haar nuwe wortels in die Anglikaanse gemeenskap in die Kaap vanuit ‘n Baptiste agtergrond, en ek as ‘n NG predikant in ‘n liturgiese moment in die kerkjaar wat vreemd is aan my gereformeerde tradisie.  En skielik ervaar ek en my nuwe vriend uit Woodstock in die Kaap ‘n dieper identiteit wat veel meer kosbaar is as ons Suid-Afrikaanse konneksie.  Ons kan langs mekaar staan om die as-kruis op ons voorkoppe te ontvang, mekaar omhels eerder as met die hand groet tydens die “sharing of the peace”, en na mekaar uit dieselfde beker drink tydens die eucharist bediening.

Ons vind ons eenheid in die begin van Lydenstyd met ‘n klem op verootmoediging, berou, en bekering.  Ons vind ons gesamentlike identiteit in die kruis van die doop.  En ons vind ons toekoms in die pynlike oorkoming van die 1857 oomblik van swakheid langs die nagmaalstafel.

Is ons gesukkel aan gemeentelike identiteitsvorming te wyte aan ‘n liturgiese verarming, wat ons nou probeer red met ‘n narcissistiese klem op self-ervaring en vermaak in ‘n pragmatiese kultuur van wat werk?