Author Archive

NG Kerk Porterville

Written by Mariette Steyn on . Posted in Nuus uit gemeentes, Vrouelidmate

port1

deur Marelise Treurnicht

PA & DOGTERBAL

port4

28 November 2014

November 2014 het die NG Kerk Porterville Vroue-bediening ‘n perd van ‘n ander kleur opgesaal. Daar is besluit om ‘n Pa-en-Dogter-BAL te hou. Vir ons plattelandse dorpie, ‘n vreemde gedagte, maar ons staan soos gewoonlik nie terug vir iets nuuts nie.

Die idee vir die geleentheid, was om juis ‘n tyd en ruimte te skep waar Pa en sy dogter/s sosiaal kon verkeer, maar dié keer formeel aangetrek en onder die bekwame leiding van Riekert Botha en sy span van Vredendal.

Die noodsaaklikheid van ‘n gesonde verhouding tussen Pa en Dogter en die geweldige impak wat hierdie verhouding op die lewe en lewensbeskouing van ‘n dogter het, was die “ma’s” se dryfveer vir die geleentheid. Ons nooi toe al die pa’s met dogters van 14 tot 44. Ma’s is opgewonde, hulle kom koop kaartjies, beplan aandrokke en bid. Ons bid saam en God kom in sy Grootheid en bederf ons met sy Goedheid. Ons staan verstom hoe dinge gebeur.

Die formaat was soos volg:
Die Vrydagaand gesels Riekert net met die pa’s. Hy daag hulle bietjie uit. Vertel van stukkende dogters – daar is verskillende redes – maar baie keer is dit omdat vaders nie besef die rol wat hulle speel om hulle dogters geestelik te begelei nie.  As ‘n pa nie fisies, emosioneel en geestelik deel van haar lewe is nie, hoe moet sy glo dat Vader God haar liefhet en haar aanvaar en na haar luister?

Riekert het ook gevra dat die pa’s nie met mekaar mag praat die Saterdagaand nie, hulle moet net aan hul dogters aandag gee en verkieslik net met hulle praat. ‘n Paar manne het bietjie ongemaklik rondgeskuif, veral toe Riekert sê dat daar ‘n paar knie-sessies gaan wees en dit het niks met rugby te doen nie. Dit is jy en jou dogter wat met julle knieë teen mekaar sit, in mekaar se oë kyk en julle harte deel.

Ma’s getuig opgewonde later hoedat die pa’s die Saterdagoggend Paarl toe gery het, aandpakke gaan huur het, juwele en blomme gekoop het. Die dogters self was baie opgewonde! Hare, grimering en skeppings is beplan. Hulle en hul moeders het geoefen met grimering, danspassies en afsprake gemaak by skoonheidplekkies en haarkappers. Die dorp het ook hulle hart oopgemaak en waar daar nood was, is gegee en voorsien.

En daar is gebid … en gewag … en Vader God het opgedaag!!

Die Saterdagaand se Bal het behels ‘n viergang-maaltyd, afgewissel met ‘n prettige ysbreker (ja – dit is darem nie ‘n alledaagse geleentheid nie), lag, dans-dans-dans, begeleide gespreksessies tussen pa en dogter en ‘n praatjie deur Riekert Botha.

Hyself is deur sy tienerdogter vergesel. En nee – Porterville se pa’s/mans is geensins anders as ander nie – by party het die idee maklik posgevat, maar by ander moes Ma (en dogter) maar bietjie meer aanmoedig … maar luister na die getuienis van ‘n pa: “BAIE BAIE DANKIE!!! Ek dink nie julle besef wat gisteraand vir my en baie ander pa’s beteken het nie. In een aand is baie meer gedoen as ‘n duisend preke!! Ek het gisteraand vreeslik geniet!! Baie dankie!!!”

Die Bal was ‘n reuse sukses en pa’s en dogters het stralend – en stokflou gedans – laataand met nuwe vuur en diepte in hul verhouding, huis toe gegaan … na uiters nuuskierige ma’s. En ja – ons gaan verseker weer so ‘n aand reel.

Sinodale byeenkoms

Written by Mariette Steyn on . Posted in Byeenkomste, Vrouelidmate

s1

 

deur  Mariette Steyn

Die Sinodale byeenkoms van 3 Junie is deur die vroue van ons streek werklik as ‘n geestelike wandeling beskou. Ons tema, “Regtig Begenadig?”, is spontaan aangevoel soos ons elkeen die geleentheid gehad het om introspeksie te doen deur in ons truspieëltjies te kyk na die pad agter ons en ook deur ons voorruite met ‘n bewustheid van “Ek is nou hier” en hoe nou vorentoe?

Christel Botes beskryf hierdie byeenkoms van ons kerk se vroue by Eensgezind, Durbanville as elkeen se beoordeling van haar lewenspaadjie wat volgens haar “glad geteer, grondpad of doodgewoon bergop” kon wees en dat hulle dit weereens d m v Luk 1:26-38 kon beoordeel.

Sy skryf verder: “Aan die hand van Eva se Gebed, is ons op ons eie reis gehelp om te kyk na waar ons onsself in ons verhouding met God  Drie-enig bevind en is ons gelei tot ‘n ‘soul-to-soul connection’ wat beteken dat jy moes identifiseer WAT in jou lewe jy moet laat gaan om ‘hier’, in sy teenwoordigheid, te wees. Die fisiese bewustheid van God se alomteenwoordigheid deur sy Heilige Gees, was tasbaar in die oomblikke waar vreemde vroue met mekaar iets van hul menswees en vrese kon deel deurdat ons met waardering na mekaar geluister het.”

Uit Rondebosch skryf Elizabeth Kluge dat hul vroue die hartlike ontvangs en heerlike ontbyt geniet het en “die sang ons gestem, rustig en ontvanklik gemaak het om te hoor wat God vir ons wou sê”. Volgens haar was die “hoogtepunt van die oggend die geestelike kontak wat ons kon maak met vreemdelinge. So het ons geleer hoe om uit te reik na ander. Ons kon na mekaar se seer luister en saam bid. Dit was ‘n ongelooflike oggend vir almal van ons wat daar was. Ons is jammer dat ons nie meer dames saamgeneem het nie. Ons sien uit daarna om weer by so ‘n wonderlike byeenkoms saam te kom tot eer van God.”

“By die heerlike sinodale byeenkoms is ons vroue regtig so bederf dat ons nie anders kon as om te besef dat ons REGTIG BEGENADIG is nie. Alles was so spesiaal mooi gemaak vir elkeen van ons en alles het so mooi en glad verloop. Dit was goed om saam met vroue van al die uithoeke van ons sinodale streek bymekaar te kon wees en te kon deel in almal se liefde en entoesiasme. Veral was dit goed om te kon stil word, te kon luister en te hoor dat die Here ons elkeen regtig begenadig en opnuut roep en om weer te sê: ‘Ek is tot beskikking van die Here’.  Ons het weer besef dat voor Maria se tyd en na haar tyd, voor ons tyd en na ons tyd, seën ons Vader die vrou met besondere gawes, roep en lei Hy ons op besondere maniere en gebruik Hy ons op sy besondere wyse om sy genade en liefde uit te leef.  Ons dank die Here dat Hy ons so wonderlik begenadig om sy kerk te wees,” skryf Louise Koch uit Sonstraal.

s3

Esther Goosen van Bellville-Wes sluit by Louise aan: “Dit was definitief nie wat ek verwag het nie. Gewoonlik het sulke vergaderings mos maar meer ‘n administratiewe ondertoon; ek is egter heerlik verras oor die diep geestelike voedsel wat ek so sagkuns ontvang het tussen die smaaklike happies deur. Dit was ‘body, spirit & mind’ – ‘n onvergeetlike ervaring wat my altyd sal bybly.”

s4

Uit Heidelberg laat weet Ronelle Uys: “Dit was asof Jesus self daar was in die gedaante van elkeen van die gelowige vroue teenwoordig. ‘n  Wonderlike  geseënde ervaring.”  Sy skryf verder dat die byeenkoms een groot bymekaar-kom van gelowige vroue was waarin hulle van die eerste oomblik af, bederf en baie spesiaal gevoel het. Sy gaan voort en sê: “Elkeen wat deel was van die program, het my geraak op maniere wat ek nie kon dink nie. Dit was geestelik vir my ‘n ervaring wat ek altyd saam met my sal dra en wat ek graag in ons gemeente en ook in ons ring wil versprei. Ek wil graag Vroue met vlerke toerus sodat hulle elkeen daardie vrede en selferkenning kan beleef en so Jesus se hande en voete kan wees.”

Victoria-Wes se Surika van der Merwe bevestig watter bewustheid Nico by hulle geskep het. Sy sê: “Die geestelike begeleiding deur dr Nico Simpson het opnuut ‘n bewustheid geskep dat daar redes is waarom ons vlerke soms swaar is, maar dat ons dit kan neersit en die hoogtes kan vlieg wat God vir ons in gedagte het. Die seën van die sangbediening daarmee saam het ook my hart aangeraak.”

Sy sluit af met ‘n bekentenis nl dat dit wonderlik is om te weet dat daar ‘n organisasie is wat die geestelike welsyn van ons vroue op die hart dra en dat ons op een of ander manier deel daarvan kan wees.

Die algemene gevoel onder die elf vroue uit Piketberg was dat hulle werklik “besield, verkwik en verryk” teruggekeer het huis toe. Hulle het die vars aanbieding en diep, boeiende introspeksie waarvoor genoeg tyd afgestaan is om met mekaar dieper gedagtes rondom die teks te deel en ook innige gesprekke met God te hê, waardeer. Marietha Goosen skryf namens dié vroue: “Die gedagte om die gaste saam ‘op reis’  te neem deur die proses waarmee die Vrouebediening die afgelope agt jaar besig was, was ‘n slim idee en het gehelp om perspektief te kry op die plek waar die Vrouebediening op die oomblik is. Dis ook bemoedigend om te hoor dat die uitslag van die ‘geloofsreis’- navorsing steeds toon dat vroue ruimtes soek waarin hulle mekaar kan ontmoet, hulle seer kan deel en kan heel word.”

s5
Deurgaans het verskeie groepe vir ons laat weet watter ongelooflike nuwe betekenis Eva se Gebed op hulle gehad het, veral soos wat Nico Simpson dit met die vyf bewegings – een langs elke paragraaf/strofe – naamlik PLEK VIND, HEEL WORD, VRIENDE INNOOI, KRAG ONTVANG en VRY LEEF prakties demonstreer en ingeoefen het.

Gerda van Schoor van Redelinghuys beskryf hoe die Gebed van Eva by soveel aspekte uitgekom het en so ‘n opgewondenheid tesame met bekommernis in haar hart gebring het. Sy sê dankie vir die belewenis dat ons iemand kosbaar aan die Here kon opdra by die doopvond met “U waak oor haar, U beskerm haar”.  Gerda het ook groot waardering vir die feit dat ons in ‘n atmosfeer was waar mens jouself kon oopmaak teenoor ‘n “vriendelike-vreemdeling en eerste-oogkontakpersoon, hartsake in ‘n oogwink oor gesels kon word en iemand kan hê vir wie ons voorbidding kan doen ”.

‘n Voorbeeld waarby ons almal kan leer, is die klein dorpie, Graafwater, vanwaar vyf dames die geleentheid bygewoon het –  drie vir ‘n eerste keer. Bieps Genis skryf dat sy en Claudie dit ‘n vorige keer reeds bygewoon het, maar hulle is dit eens dat dit in vele opsigte ‘n verrykende dag was. Behalwe vir die smaaklike, mooi voorgesitte kos, die verskeie sprekers wat almal in die saal betrek het, het hulle ook die geloofsreis as besonders ervaar in “’n intieme atmosfeer saam met ons mede-christenvroue” skryf hulle. “Oomblikke het daaruit voortgevloei. Om werklik ‘n ervaring met die Here te beleef, vat doelbewuste tyd en stilword, maar oor en oor die moeite werd, sluit sy af.”

Kinnie Britz uit Herbertsdale het met o a Anika Badenhorst van Swellendam en Johanna Honeyman van Plumstead ‘n tafel gedeel en skryf soos volg: “Die Sinodale Konferensie was vir my ‘n wonderlike, verrykende ervaring. Met my aankoms, het ek onmiddellik die egte warmte ondervind wat tuishoort by ‘familie’. Die pragtige omgewing het ‘n mens so aan die grootheid van ons Skepper herinner. Van daardie oomblik af totdat ek weer vertrek het, was ek so bewus van God wat teenwoordig was en dis asof ek letterlik iets daarvan kon saambring na Herbertsdale.”

s6

Sy beskryf hierdie geleentheid as “’n onbeskryflike geleentheid waar geen moeite ontsien was nie”.  Sy sekondeer ook die meeste ander terugvoere wat ons ontvang het, dat die hele benadering tot die Eva-gebed vir haar ‘n openbaring was en “dit sal selfsugtig wees as ons wat daar was, nie ook ‘n geleentheid skep waar ons dit met ons gemeentes deel nie”.

Verder beklemtoon Kinnie ook dat hulle gehoor het hoe belangrik die ruimte is wat ons saam met ander vrouens moet skep asook die rol wat ons as vrouens in ons gemeentes moet speel.  Sy stel aan ander, veral die kleiner gemeentes, voor dat hulle “baie meer kerkgerig moet funksioneer bloot oor die feit dat die jonger vroue asook mans, huidiglik uitgesluit is as gevolg van lewens-omstandighede”.

Uit Klawer skryf Helene Greig dat dit vir haar ‘n wonderlike ervaring was om saam met ander belydende, begeesterde vroue die oggend te kon luister wat God van hulle vra as vroue om sy Woord uit te dra elke dag waar jy geplant en besig is om jou lewe te leef. “Eva se Gebed begin ook vir my meer sin maak in my lewe, want versie vir versie word dit ‘n realiteit in die tyd waar ons nou beweeg. Ons het die opdrag gekry om, deur God se Gees, omgee, omarming, en met menswaardigheid ander om my te behandel en daardeur vir Hom uit te staan. Ek as vrou het hierdie karaktertrekke diep binne my en ek moet dit nou na vore bring, want dit is die tyd waarin ons nou beweeg. Daar is ook ‘n belofte aan my voorgehou dat as ek my beskikbaar sal stel vir dit, Hy my op ‘n pad sal vat wat ver bo my wildste drome sal wees en ons as vrouens kan mekaar beskerm, bemoedig en ook dit sal laat deurwerk na almal rondom my en ek glo ook later ons wêreld rondom ons.”

s7s9

Wat ‘n wonderlike reis wat voor ons lê …

Joanie Pretorius van Riviersonderend vertel hoe hul klompie Riviersonderenders al vroeg in die pikdonkerte op pad was en na ‘n “episode” van verbyry, tog by die pragtige Eensgezind gekom het en daar met warmte omvou is op dié nat en koue wintersdag. “Ons  groet weer ou bekendes, wie se name ons wou-wou ontglip, want ons sien mekaar te min.  Almal is te besig in hulle eie gemeentes. Hier kry ons weer ‘n kans om skouers te skuur en te ontvang in plaas van om te werk.

“Die mense om die tafel was spontaan en gretig om te deel wat hulle in hulle gemeentes doen en nuuskierig om te hoor wat ons alles doen.  Net daar kom ‘n mens toe weer tot die ontdekking dat gemeentes verskil en dat die Here jou plaas waar Hy jou die beste kan gebruik. Dankbaar vir geleenthede in eie geledere en heerlik om deel te voel van een kerk.”

s111

Soos die Piketbergers en heelwat ander wat ver moes ry, het hulle ook op ‘n praktiese manier die Here se beskerming ervaar aangesien alles daarop gedui het dat hulle in stormweer sou ry, maar die weer was toe nie so erg nie en tussen die reën, mistigheid en verkeer deur, kom hulle almal veilig by die bestemming aan.

Uit alle monde het daar net lofprysings en waardering gekom vir Eensgezind as pragtige venue en kos wat heerlik en keurig voorgesit is. Vroue was opgewonde oor die “Begenadigde” -woordjie en kersie wat wegneemgeskenkies was, oor entoesiasme van die vroue wat bereid is om op die taakspan te dien en die ongelooflike oggend.

Die program het ook vir Hedwig Moore van CLF ‘n paar woorde oor hul beskikbare literatuur laat deel en ds Gielie Loubser kon ‘n bietjie oor die geskiedenis van  die NGK se Vrouebediening vertel. Vroue het beter begin verstaan en kon gemotiveerd voel oor die huidige en nuwe rol van die Vrouebediening. “Ons is NIE meer ‘n struktuur parallel aan die kerkraad met dieselfde diensterreine en projekte nie, nee …  ons het ‘n eie identiteit en roeping en dit word steeds meer aan ons geopenbaar,” som Christel Botes dit op.

s13

 

 

 

 

 

 

Ons voorsitter gesels

Written by Mariette Steyn on . Posted in Interaksie, Vrouelidmate

voorsitter voeltjies

voorsitter

deur Ankia du Plooÿ

Dit voel asof ek moet begin met “Aangename kennis!”, dus “Aangename kennis, liewe Vroue!”.  Hierdie “aangenaam” is nie maar net ‘n afgesaagde frase vir my nie, maar dis werklik vir my heerlik “aangenaam” om vir julle hallo te sê en kennis te maak.

Ek en Dolf, my man, woon nou ‘n jaar in Stellenbosch. Hy is verlede jaar na Stellenbosch-Sentraal gemeente toe beroep. Voor dit was ons agt jaar in De Aar. Ons was altwee predikante in NGK De Aar en met ons koms hiereen het ‘n nuwe reis vir my ook aangebreek.

Ek het regtig intens vir God begin vra: “Waar is dit waar U my NOU wil hê?” Moet ek begin aansoek doen vir poste, moet ek eers net rustig by die huis wees of wat?

Met ons koms na Stellenbosch het daar ‘n heerlike geleentheid vir my oopgegaan in die vorm van navorsingsprojekte by die Eenheid vir Innovasie en Transformasie by Ekklesia. As ek nou daaraan terug-dink, is dit as gevolg van die navorsing dat my pad met dié van Antoinette gekruis het en ek deelgeword het van die Sinodale Taakspan vir Vroue.
 

Vroeër die jaar kuier ek en Dolf by ‘n vriendin in Alexanderbaai en sy vra my: “Ankia, as jy nou enigiets kan doen, wat sal dit wees?” Sonder om te dink, het ek dadelik geantwoord: “Ek sal graag tussen, saam en met vroue wil werk en wandel.”  Ek was self verbaas oor my antwoord, want tot op daardie stadium het ek hierdie groeiende gewaarwording nog nooit aan iemand genoem nie. 

En ‘n paar maande later bring God my by ‘n plek waar hierdie gewaarwording in my binneste ook in die strukture van die kerk ‘n werklikheid word. Natuurlik is ek bewus daarvan dat dit nie die enigste manier is nie, maar ek glo dat God my roep om NOU, veral saam met vroue, my geloofsreis aan te pak. 

Ek is opgewonde en opnuut verras deur die Lewende God wat mense roep. My roeping het ek nog altyd verstaan as iemand wat God se helende en genesende genade, oorvloedig moet en wil uitdeel aan gebrokenes.  In my eie lewe het ek al soveel keer beleef dat God my gebrokenheid heelmaak, en omdat ek hierin glo, WIL ek dit ook oor alle grense heen uitdeel. Op hierdie stadium van my reis beleef ek dat God my roep veral na vroue.

Ek is so dankbaar vir hierdie plek op my reis. Ek glo dis waar ek nou moet wees. Ek sien uit om dit saam met julle te reis. 

‘n Nuwe begin vir my en vir ons as taakspan, beteken egter ook ‘n afsluiting van ‘n hoofstuk vir Antoinette en Amanda. Ons sal julle mis, maar reis ook verder saam.  Dankie vir julle menswees, dit wat ons by julle geleer het en dit wat julle nalaat. Ons waardeer julle!

Teen hierdie tyd weet die meeste van julle seker ook dat Esther ons gaan verlaat. Ons verlies is beslis Durbanville Gemeente se wins. Baie sterkte vir hierdie nuwe hoofstuk van jou reis, Esther. Dankie dat jy vir 22½ jaar die vroue van ons kerk op jou besondere manier gedien het. Ons waardeer jou!

Dis werklik vir my ‘n “aangename” eerste ontmoeting. Ek sien uit na die reis saam met julle.
Ankia 

 

Ervarings … Die lewe … Ons storie …

Written by Mariette Steyn on . Posted in Interaksie, Vrouebediening, Vrouelidmate

deur Mariëtte Steyn

Elkeen van ons se lewe leef ons op ‘n unieke manier en skryf so dus ons eie storie. Elkeen se storielyn is uniek en ons hoofstukke verskil dikwels baie.

Soms is daar mooi dele: groen berge, branders wat inrol, kinders se lag, mense se omgee. Ander kere is daar gate in die pad, alleentye, seerkry-tye, te hoë berg- toppe … Onsekertye kom in almal se lewens, in veranderinge wat mens soms doelloos laat ronddobber, in nuwe uitdagings wat wag!

In ‘n mate is ons bediening ook nou, na die Sinodale Konferensie, by so ‘n onsekertyd. Die konferensie is verby en ons kan terugkyk na ‘n wonderlike dag waarin vroue verskillende ervarings gehad het. Vanaf p4 vertel ons vroue ‘n klompie stories en foto’s beskryf die verhaal van 3 Junie.

Maar nou lê ‘n nuwe pad vir ons voor met ‘n nuutverkose taakspan. Ankia, ons is opgewonde oor jou en sien uit na die pad saam met jou, Riana, Nelda en Liezl. Ons glo dat ons taakspan binnekort nog sal uitbrei. Uitdagings gaan daar beslis wees, want die ervare rolspelers se tyd het uitgeloop. Esther van ons kantoor groet ons ook aan die einde van Julie en soms wil-wil ek benoud raak as ek dink waar is al die ervaring ewe skielik heen.
Maar, dan onthou ek skielik die verhaal van die Emmaüsgangers wat moedeloos was oppad terug huis toe. Ja, hulle het geglo Hy was die Een wat sou kom, wat die dood sou kom oorwin en nou is Hy al drie dae “dood”. Maar dan stap Iemand skielik saam met hulle. Iemand wat hulle a g v hul hartseer, ongelukkigheid of wanhoop nie herken nie. Totdat Hy hul oë oopmaak.

Ek glo dus dat God ook saam met ons nuwe span gaan stap en vir ons sal help met die pad vir ons Vrouebediening.
Ons lees in hierdie Interaksie van ons nuwe voorsitter se entoesiasme en opgewondenheid vir die tyd wat voorlê. Ons lees die mooi verhale wat uit die sinodale byeenkoms kom en ons lees pragtige stories van wat in gemeentes en in ander afdelings van die kerk gedoen word waar veral vroue Jesus se hande en voete is.

Ja, dis winter in die Kaap en hier rondom ons in Durbanville is lanings bome kaal gesnoei. Lelik! Maar, hierdie “seerkry” van ons natuur gaan eersdaags ‘n metamorfose ondergaan. Die bome gaan weer bot en daar gaan weer nuwe “groei en lewe, bloeisels en blomme” voortspruit. So glo ons gaan daar ook baie nuwe dinge voortspruit uit ‘n nuutverkose taakspan en ons is opgewonde.

Ons dank ons Hemelvader vir seisoene in ons lewe – waar ons soos die natuur, moet rus sodat ons met nuwe ywer in die volgende lente kan ontwaak.

m sign

mariette foto