{ARGIEF}

Ek verwys na die brief “Geestelike leier moet weet oor gays en moenie vir my vrae bang wees nie” in By van 20 Februarie 2010.
Lidmaat van Vlaklaagte-Suid het in ‘n goeie brief gesê wat hy/sy van ‘n geestelike leier verwag. Dit is goed so, want dit help my baie. Ek het met die lees hiervan besef dat ek, en waarskynlik ander predikante ook, ons lidmate dikwels in die steek laat. Ek is jammer daaroor en sal alles moontlik doen om dit reg te stel.
Ek sal dit nastreef, en te midde hiervan steeds voortgaan om die gemeente te dien in die groot verskeidenheid ander rolle wat wissel:
–           van geestelike leier tot vrederegter,
–           van maatskaplike werker tot bouprojekleier,
–           van sieketrooster tot finansiële bestuurder,
–           van fondsinsamelaar tot voorbidder,
–           van huweliksberader tot sielkundige.
Ek sal aanhou probeer om in een asem iets te sê:
–                      wat die kindertjies opgewonde maak;
–                      wat vir die tieners “cool” klink;
–                      wat vir die grootmense moed gee
–                      en wat vir die bejaardes vertroos.
En ek sal hard werk om al die skape in een kraal te hou, naamlik:
–                      die oues en die jonges;
–                      die rykes en die armes;
–                      die afvalliges en die gehoorsames;
–                      die eensames en die sosiale randfigure.
Ek sal steeds poog om die een oomblik in opregtheid te vertroos en saam te huil en dan minute later vriendelik te groet en lekker saam te lag. Is dit wat Martin Luther bedoel het toe hy gesê het predikante is God se narre?
Verder onderneem ek ook om die Woord van die Here vreesloos te verkondig soos wat ek Hom hoor en verstaan. Dis nooit maklik nie, want immers, is die Here besig om ‘n steeds feilbare geestelike leier te vorm en sukkel ek ook maar om die boodskap van troos, bevryding, vergifnis en versoening behoorlik te internaliseer. Weens my eie gebreke faal ek dikwels om hierdie wonderlike boodskap sinvol na vandag se konteks te transponeer.
Aan die ander kant trap die Here se Woord ook soms op tone. Dit vlek oop en ontbloot en dring aan op verandering. En dis nie altyd maklik om hierdie twee pole konsekwent vas te hou nie. Daar’s ‘n verhaaltjie in omloop van  die kerkraad wat vir die nuwe dominee gesê het om tog nooit te preek oor: barmhartigheid, rassisme, sending, drankmisbruik en egbreuk nie, maar wel oor die Jode …….. want hier by ons is nie Jode nie.
Tog sal ek as geestelike leier wil aanhou om te sê wat ek by God hoor. Al maak dit ongewild. Al word ek dikwels verstoot of verjaag, beskinder of gekritiseer, bespot of uitgelag. Of nie altyd ernstig opgeneem nie.
John Goldingay beskryf dit so:  ‘n Profeet van God voel dikwels soos iemand wat van voor geskiet word deur die vyand en van agter deur sy eie regiment.
Dus, sal ek ter wille van jou en baie ander, die moeilike pad vol dorings en skerpioene loop. Want inderdaad: om hiermee aan te gaan is moeilik, maar om nié aan te gaan nie, is onmoontlik!
 
Dankie vir jou brief. Dit motiveer my. Ek vra jou opreg: bid vir my en kom vat my hand. Want as jy en God my nie hiermee help nie, is ek gedoem om te misluk.
Charl Stander – Parke Gemeente in Kraaifontein