Langverlof, kan dit beter benut word?

Written by Wilhelm Burger on . Posted in Begelei mekaar

Die vraag of langverlof vir predikante nie beter benut kan word in die vorm van ‘n sabbatsrus nie, het reeds tydens die Algemene Sinode in 2007 ter sprake gekom. Die SKP in Wes-Kaapland het ‘n klein studiegroepie gevorm om oor die saak te begin nadink. Dr. Jannie le Roux het die volgende stuk op die tafel gesit as ‘n besprekingsdokument. Ons sal graag kommentaar en voorstelle ontvang sodat die gesprek oor ‘n moontlike sabbatsrus vir predikante aan die gang kan kom. Dankie vir julle deelname!

Wilhelm Burger (namens SKP)

SABBATSRUS

INHOUD:

1. Agtergrond
2. Doel
3. Beleid
4. Proses
5. Aansoek

1. AGTERGROND

Gesonde, entoesiastiese gemeentes word gelei deur gesonde, vreugdevolle predikante.

Hierdie dokument is geïnspireer deur die volgende:

a. die versorging van predikante om hulle te help tot ’n vreugdevolle bediening
b. die herhaaldelike stemme wat opgaan teen die praktyk van die huidige langverlof
c. die praktyk van sabbatstyd wat al vir verskeie jare in ander geloofsgemeenskappe effektief werk.

Ons is bekend met die Bybelse ritme van “sabbat” (Latyn sabbaticus, Grieks sabbatikos, Hebreeus shabbathon). In die Bybel word op plekke soos Levitikus 25 deur die Here aangedui dat die Sabbatsrus selfs vir ’n jaar gehou moet word na ses jaar van bewerking. Jesus self het gereeld weggebreek vir tye van innerlike vernuwing. Of dit in ’n boot of teen ’n berg is, Hy het die kontakgeleenthede met sy Vader as uiters noodsaaklik vir sy bediening beskou.

In die moderne tyd het hierdie “sabbatical” in akademiese en ander kringe die betekenis gekry van ’n tyd weg vir navorsing of om ’n bepaalde doel te bereik. Bekend in Suid-Afrika is die Sabbatsjaar van Koos Bekker, CEO van die Naspers groep. Bekende atlete en persone in ander beroepe het reeds van so ’n tyd gebruik gemaak om met nuwe passie terug te keer.

In verskeie geloofsgemeenskappe is dit reeds ’n algemene gebruik. In die VSA het persone selfs die luukse van die sogenaamde Lilly Endowment wat aan hulle ’n bepaalde finansiële bedrag toeken om vir die tydperk se kostes in te staan. ’n Vinnige internet soektog dui aan dat die periodes wissel van een tot drie maande vir predikante na ses of meer jare diens. Almal is dit eens dat dit ten minste vir vier weke ononderbroke moet wees.

’n Bekommernis is dikwels hoe dit betaal gaan word, want die gebruik raak nie net die predikant wat met rus vertrek nie, maar ook die gemeente wat vir daardie diens moet instaan by wyse van ’n aflos of ander hulp. Dit blyk uit die navorsing dat dit nie onoorkomelik is nie, maar wel beplan moet word. Sabbatstyd is dikwels ’n tydperk waarin die passie en gawes van gemeentelede tot hulle reg kom in die aanvaarding van verantwoordelikhede en geestelike gawes. Dis ons hoop dat dit kan lei tot ’n nuwe dimensie in beide die predikant én die gemeente se lewe.

2. DOEL

‘n Sabbatsrus het ten doel om ons weer in pas te bring met die ritme van genade. Hoewel ons bely dat ons deur genade alleen gered word, verval ons met die verloop van jare en as gevolg van al die verskillende verwagtings in ’n soort werksgeregtigheid. Ons voel ons het net betekenis as ons oorbeskikbaar, oorwerk en oormoeg is. ’n Sabbatsrus moet ons help verstaan dat ons uit die genade van God alleen kan leef.

Dis die tyd vir die re-kreatiewe (her)ontdekking van ons roeping en visie, die vernuwing van ons passie, die herrangskikking van prioriteite en waardes, en die versorging van noodsaaklike verhoudings. Dis om met intensionele ontdekking en refleksie Gód te ontmoet en weer die kreatiwiteit en entoesiasme vir ons besondere roeping en lewe te herwin. Hierin ontdek ons dat God ons kom ontmoet op sy tyd, omdat ek ’n slag net ÍS. ’n Sabbatstyd bring die being-funksies weer in pas met die doing-funksies wat neig om ons menswees oor te neem in die mantra van produktiwiteit. Na so ’n tydperk weg, begin gewoonlik ’n nuwe hoofstuk in die gemeente se storie.

Sabbatstyd vervang nie die noodsaak van gereelde selfsorg en geestelike groei nie. Tog is dit ’n noodsaaklike bousteen in die handhawing van ’n volhoubare langtermyn bediening in die bepaalde gemeente en gemeenskap.

Hoewel ons nie weer wetties hieroor moet raak nie, sal ons dit móét struktureer om dit in te bou in die heilsame versorging van die predikant. Strukture bepaal gedrag. Om roepingsgedrewe te lewe as predikant, moet ons die strukture daarvoor skep. Ons moet tyd daarvoor struktureer (kronos), sodat ons die volheid van die oorvloed van Jesus en sy opgestande Teenwoordigheid kan beleef as vervulde tyd (kairos). Daarom is dit belangrik om hierdie Sabbatsrus te onderskei van gewone vakansie of ’n blote wegbreek.

Hierdie strukturering help ons om weer perspektief te kry deur
a. afstand te kry van ons daaglikse werk
b. tyd te gee vir noodsaaklike refleksie oor ons roeping en lewe
c. nuwe inligting om nuwe denkpatrone te vestig
d. nuwe gewoontes aan te leer om ’n vreugdevolle bediening mee te bring.

Dis nie net die predikant wat hierdie sabbatstyd nodig het nie. Die gemeente en personeel het ook hierdie tyd nodig. Die sabbatstyd is nie ‘n “beloning vir goeie werk” of net iets om die predikant gelukkig te hou nie. Dis ook nie gewone verlof nie. Dit is ’n belangrike komponent van die versorging en groei van die geestelike leier.

Roy M. Oswald (Why You Should Give Your Pastor a Sabbatical, Alban Institute), ‘n Lutheraanse pastor wat as senior konsultant by die Alban Institute werk, bied verskeie motiverings aan. Opsommend kan die volgende aangedui word:

‘n Pastorale Sabbatsrus:
•    Moedig langer bedieningstermyne aan. Gemeentes slaag nie met langtermyn doelstellings sonder langtermyn bedienings nie. Wanneer ‘n verandering in predikantspos is, kan meer as vyf jaar verloor word voor ontwikkeling en groei gebeur (insluitend ‘n paar jaar van uitbranding voor die predikant bedank, ‘n interim of oorgangspastoraat plaasvind, en ‘n paar jaar vir die nuwe predikant om die gemeente te leer ken en hulle te lei in ‘n strategiese rigting).
•    Dra by tot geestelike groei. Geestelike groei gebeur nie toevallig nie, maar deur doelbewuste opsysit van tyd vir lees, gebed, afsondering en refleksie. Vir sommige mag die groei ‘n studieprogram of ‘n retraite wees of om saam met ‘n mentor te werk of te reis na toepaslike plekke. Om doelbewus geestelik te groei is moeilik as daar meer as 45 uur per week gewerk word.
•    Herfokus bedieningsbenadering. Die pastor is nie net ‘n geestelike leier nie, maar is ‘n korporatiewe leier ook. Daarom het die predikant ‘n hele arsenaal van vaardighede nodig om effektief te wees. Bowendien verander die bediening deesdae vinnig, en nuwe maniere moet ontdek word om nuwe en jonger mense met die evangelie te bereik. ‘n Sabbatsrus bied dei geleentheid om van ander te leer, om vaardighede aan te leer, en terug te keer na die gemeente met nuwe idees en ‘n nuwe lewenskragtigheid vir leierskap.
•    Verhoed uitbranding. Mense in die helpende professies is geneig om die gouste aan uitbranding te lei, veral vanweë die konstante en intieme betrokkenheid by die emosionele lewe van ander.
•    Versterk gemeentelike leierskap. Hoewel sommige bedieningstake spesifieke opleiding en bemagtiging vereis, kan baie take deur die leierskap van gelowiges bedien word. ‘n Sabbatsrus gee die gemeente kans om rolle in die gemeente te ontwikkel wat die gawes uitoefen waarmee die lede deur God geseën word.

3. BELEID

Die Algemene Sinode sou kon besluit:
Om predikante te begelei tot ’n vreugdevolle bediening, moet predikante na elke ses jaar in dieselfde werkkring die daaropvolgende jaar vir sestig (60) dae ’n sabbatstyd neem.
a. Sabbatstyd word bereken teen tien (10) dae per jaar.
b. Met toestemming van die kerkraad kan sabbatstyd tot negentig (90) dae opgeloop word, met die verstandhouding dat dit geneem móét word na die negende jaar in dieselfde werkkring.
c. Sabbatstyd vervang die sisteem van langverlof.
d. Sabbatstyd is nie uitbetaalbaar nie.
e. Sabbatstyd geskied met volle behoud van traktement, toelaes en ander voordele.
f. Sabbatstyd moet ten minste een jaar voor die tyd met die kerkraad uitgeklaar word.
g. Gedurende Sabbatstyd mag die predikant geen van die gewone gemeenteverpligtinge geassosieer met predikantswerk (dus ook nie sendingwerk ens.) doen nie.
i. Hy/sy moet verkieslik nie in hierdie tyd in die gemeente bly nie.
j. Hy/sy mag nie ander werk doen waarvoor hy/sy vergoeding ontvang nie, tensy hierdie vergoeding aan die kerkraad van sy gemeente uitbetaal word.
k. Sabbatstyd is aaneenlopend.
l. Indien ’n predikant van standplaas verwissel of na ’n ander werkkring gaan en die sabbatstyd is nie geneem nie, verbeur hy/sy dit sonder enige kompensasie van geld of tyd.
m. ’n Afskrif van die aansoek asook die terugvoer moet binne ses weke na terugkeer aan die SKP asook VBO-kommissie voorsien word vir VBO akkreditering.

4. PROSES

Die predikant moet ’n sabbatstyd beplan wat pas by sy of haar unieke persoonlike behoeftes. ’n Geskrewe Sabbatsrus plan gee fokus, asook ’n ooreengekome doel vir die tydperk weg.
Geen spesifieke modelplan word voorgeskryf nie. ’n Moontlike program kan ’n ononderbroke tydperk vir lees, skryf, navorsing, studietoer na religieuse plekke, reis in die algemeen, stil tye vir rus en gebed, spesiale besoeke aan familie en vriende en nog baie meer insluit. Gewoonlik word verskeie van hierdie aspekte gekombineer vir ’n gebalanseerde program. Die SKP kan met die beplanning help. Daar moet gewaak word teen te veel items in te sluit op die agenda, en die noodsaaklike doel van rus en innerlike vernuwing verby te jaag.

Vyf fases is van belang:
1.    Vooraf nadenke en beplanning vir aansoek
2.    die aansoekproses
3.    die goedkeuring
4.    die sabbatsperiode self
5.    die terugkeerproses en opvolg

1. Vooraf nadenke en beplanning

Hoe beter die vooraf nadenke en beplanning gedoen word, des te makliker volg die res. Die hulp van SKP is beskikbaar in die beplanning van die Sabbatsrus.
In hierdie fase moet antwoorde op die volgende verkry word:

Gemeente:
Wanneer gaan die verlof geneem word?
Watter voorsiening vir eredienste gaan gemaak word?
Watter voorsiening word gemaak vir ander werksaamhede normaalweg deur predikant verrig?
Watter persone moet bemagtig word vir al die bedieninge/aksies wat moet plaasvind waarvoor die predikant altyd verantwoordelik is?
Watter finansiële reëlings moet die gemeente tref?
Wie gaan optree as koördineerder van die proses?
Wie gaan reël dat die predikant voortdurend in gebed opgedra word in hierdie tyd?
Hoe gaan aan die gemeente gekommunikeer word indien die predikant vir hierdie periode steeds binne die gemeente woonagtig is?

Predikant:
Watter inhoud sal ek graag aan die Sabbatsrus wil gee? (onthou om ook tyd om te rus in te bou!)
Idees:
•    Neem deel aan ’n pelgrimstog of retraite
•    Besoek ander gemeentes wat ‘n effektiewe bedieningstyl het
•    Reis na heilige plekke of plekke van kerkhistoriese belang
•    Woon konferensies vir geestelike sowel as leierskapsontwikkeling by
•    Besoek gereeld ’n mentor vir geestelike leiding
•    Volg ’n leesplan
•    Begin ’n studierigting
•    Hou daaglikse joernaal van jou geestelike reis

Bullock (Richard Bullock & Richard J. Bruesehoff, Clergy Renewal: The Alban Guide To Sabbatical Planning Alban, 2000)  suggereer dat jy jou sabbatstyd inrig volgens drie blokke:

o    Resting—sleeping late, exercise, recreational reading, visiting friends and family, hiking, engaging a counselor
o    Renewal—Focused study, retreats
o    Rebirth—Travel, focused reading, engaging a spiritual director

Moontlike vrae aan jouself vir hierdie tyd:
•    In watter areas van my lewe het ek weer inspirasie en hoop nodig?
•    Hoe kan ek my roeping en visie verdiep tydens hierdie tyd?
•    Wat sou ek graag wou ervaar en leer in my sabbatstyd?
•    Watter areas van my lewe en werk het tans die grootste stres?
•    Watter sterkpunte, vaardighede en gawes kan ek uitbou in hierdie tyd?
•    Waarop hoop ek op God in my gebede?
•    Wat sal ek eerste doen?
•    Hoe sal my huislike lewe anders uitsien in hierdie tyd?
Met wie sal ek wil gesels om meer uit te vind oor moontlikhede vir hierdie proses?
Wanneer gaan ek die verlof neem?
Hoe gaan die tydslyn binne die Sabbatsrus verloop?
Watter reëlings gaan ons as gesin tref om mekaar se belange in ag te neem?
Watter finansiële begroting het ek nodig vir die doel?
Koste van studie/boeke/reis/verblyf
Onthou: beplan meer “wees” as doen!

2. Die aansoekproses

Gemeente:
Is die predikant se voorstel vir die tydperk realisties?
Watter belangrike terugvoer sal ons aan ons predikant wil gee vir wat ons dink belangrik is vir hom/haar om te sien gebeur in hierdie tyd?

Predikant
Vul die nodige vorms vroegtydig in en besorg ’n jaar voor die tyd aan die kerkraad.

3. Die goedkeuring

Gemeente:
Is al die vorms deeglik ingevul?
Is goedkeuring by ’n kerkraadsvergadering verleen?
Indien daar leemtes is, wie word aangewys om dit te bespreek en af te handel met predikant?
Keur ten minste ses maande voor die tyd goed.

Predikant:
Is die nodige goedkeuring by die kerkraad verkry?

4. Die Sabbatsperiode self

Gemeente:
Is die interim-hulp in plek?
Is daar iemand geïdentifiseer wat in uitsonderlike krisisse navraag kan doen by die predikant?
Is die persone verantwoordelik vir die bedieninge/aksies in afwesigheid van die predikant in plek?

Predikant:
Hou ek by die plan?
Vrae aan jouself:
•    As ek terugkyk na aftrede, wat sou ek graag wou beleef het in die volgende paar jaar?
•    Wat moet ek laat los?
•    Wat is my roeping en kernwaardes, en hoe moet ek my bediening daar rondom struktureer?
•    Watter veranderinge sal ek graag wil maak in my lewe en werk?
•    Met wie gaan ek oor die veranderinge praat om my te help om dit deur te voer?
•    Watter aspekte van my Sabbatsrus sal ek graag mee wil volhou, en hoe gaan ek dit doen?

5. Die terugkeerproses en opvolg

Om terug te keer van ’n sabbatstyd moet daar rekening gehou word met ’n tyd van heroriëntasie en aanpassing. Moenie te veel dinge dadelik wil aanpak nie. Beplan ook die terugkeer.

Gemeente:
Reël vir terugvoer aan Kerkraad en gemeente van die hele proses.
Watter gesprek moet plaasvind rondom die rol van die predikant en die rolle van gemeentelede aan die hand van elkeen se gawes en passie?

Predikant:
Skryf ’n kort verslag vir terugvoer aan die Kerkraad en gemeente.
Vertel die Kerkraad en gemeente van die innerlike vernuwing wat plaasgevind het.
Stuur ’n afskrif van die aansoek asook terugvoer aan die SKP en VBO-kommissie vir VBO-akkreditasie.

5. AANSOEK

Naam en van:
Datum:
a. Skryf ‘n opsommende stelling wat die oorwegende doel en aard van die vernuwingsprogram is wat jy beoog. Aktiwiteite wat jy beoog, moet hieruit voortvloei.

b. Dui aan waarom jy dit essensieel in beide jou eie én die gemeente se verhaal beskou om juis hierdie tyd as toepaslik te beskou om die sabbatstyd aan te pak.

c. Beskryf watter voordele en uitkomste jy sien vir beide jouself en die gemeente deur die Sabbatsrus en die spesifieke aard daarvan.

d. Verduidelik jou plan vir die tydperk met ‘n tydslyn/indeling wat alle tyd en aktiwiteite vir vernuwing aandui. (Bv. Datum; Gebeure of aktiwiteite; Mense; Plekke)

e. Gee kontaknommers waar jy in die geval van ‘n uitsonderlike krisis gekontak kan word.

Trackback from your site.

Comments (3)

  • jecceinv

    |

    Jannie het goeie werk gedoen!

    Ek sou voorstel dat by punt 3 die Sinodebesluit eerder sal lui dat ‘n predikant ‘n Sabbatsrus BEHOORT te neem, instede van MOET neem.

    Verder wonder ek waarom elke 6e jaar? Is daar ‘n motivering voor? Sou elke 7e jaar nie meer “Bybels” wees nie?

    ‘n Derde gedagte is dat in die prosesse daar ‘n punt ingebring word dat die Kerkraad elke 6e/7e jaar die saak op die agenda moet plaas om met die predikant in gesprek te gaan oor die noodsaak al dan nie dat hy/sy ‘n sabbatsrus sal onderneem.

    Reply

  • Jannie

    |

    Dankie vir die opmerking en die wenke.
    Vraag: Hoe kan ons predikante sover kry om ‘n “behoort” as ‘n “moet” (noodsaaklikheid) te verstaan?
    Die 6 jaar is net ter wille van die rofweg twee maande oftewel 60 dae. Maar sewe jaar sal ook werk.
    Ek hou van die gesprek van die kerkrade wat dit met die dominee moet optel.

    Reply

  • jecceinv

    |

    Hi Jannie
    Ek dink gesien dat predikante nie altyd genoeg selfgeldend optree ten opsigte van hulself en hul behoeftes nie, die “moet” eintlik op die onus van die kerkraad geplaas moet word om die te verplig dat hulle die verantwoordelikheid dra om met die predikant oor die verlof in gesprek te gaan. Die “behoort” vd ds. en die “moet” vd kerkraad is dan 2 kante van dieselfde munt, met die hoofverantwoordelikheid by die kerkraad (as werkgewer)?

    Reply

Leave a comment