{ARGIEF}

Ek was onlangs by die Ringsitting van ‘n klompie plattelandse gemeentes. ‘n Paar dinge het my getref. Die eerste was die openheid en diep geestelik vlak van die sprekings om die tafel. Dit was duidelik dat die dominees en ouderlinge veilig bymekaar gevoel het. Die tweede wat my opgeval het was dat almal in afhanklikheid probeer luister het na wat ons Here van hulle vra in hul spesifieke kontekste. Die derde ding wat my verbly het was hul bereidheid om na mekaar te luister. Die vierde ding het niks met die mense om die tafel te make maar met die mense agter die tafel. Soveel van versorging en gasvryheid, van die kant van die gemeente waar die sitting plaasgevind het, teenoor die afgevaardigdes (en gas) het ek lanklaas beleef.
Die vyfde ding is eintlik die ding waarop ek ‘n woord of twee meer wil se. Dit het te make met ‘n opmerking wat die een dominee gemaak het ten opsigte van Angus Bucken se bediening in vergelyking met die bediening van die gemeente dominee.
Laat ek myself net eers hier onderbreek om dit baie duidelik te stel dat die dominee, of enige iemand anders om die tafel, geensins negatief oor Angus Bucken was nie. Trouens daar was groot dankbaarheid en erkenning vir sy bediening en verwondering vir hoe ons Here mense gebruik in Sy Koninkryk.
Die punt wat die dominee gemaak het, was dat dit een ding is om per geleentheid duisende mense voor jou te sien aan wie jy ‘n boodskap bring en om Sondag vir Sondag aan ‘n relatief klein groepie mense wat min of meer dieselfde mense ook is, te bring.
Ek het daar gesit en toe hy dit se besef dat dit werklik nie altyd so maklik en eenvoudig is om ‘n gemeente dominee te wees nie. Om elke keer as die klok lui (by wyse van spreke) na vore te moet kom en die boodskap van God se liefde en genade vars en duidelik en eerlik te moet bring, kan nie altyd so maklik wees nie. Om dan ook nog die boodskap elke ander dag waar te leef te midde van al die “daaglikse katastrofes” maak die taak van die dominee kompleks.
Daarom dominee, aan jou en al die ander dominees, wil ek ‘n glasie lig! Meer nog, wil ek saam met Paulus vir julle bid dat “julle liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom”.
Mag die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van ons God en die gemeenskap van die Heilge Gees altyd met julle wees.