{ARGIEF}

Die Evangelie, die Blye Boodskap, gaan mos onder andere oor Jesus Christus se lewe en werk hier op aarde.  Een van die aspekte wat duidelik na vore kom uit Jesus se lewe, is die van verrassing. 
Sy ouers was verras om Hom tussen die grysbaarde te sien staan en praat. Die skrifgeleerdes was verras oor Sy leer.  Die groep wat Sy naby ondersteuners was, is nie vernaam of hoog geleerd nie, maar alledaagse mense met alledaagse werke.  Hy vereenselwig Hom met die randfigure tot verrassing van baie.  Die inhoud en vorm van Sy preke kom telkens uit ‘n hoek wat niemand dit verwag nie.  Nog groter is die verrassing toe Hy Hom nie laat kroon nie, maar laat kruisig.  En nog groter as groot toe die dood Hom nie oorwin nie, maar Hy uit die dood opstaan! 
Verrassings maak baie emosies in ons wakker.  Ek wil maar twee noem.  Die een is blydskap en die ander is verwondering.
Mens is altyd bly oor ‘n verrassing.  Dit vul jou met vreugde.  Dit maak jou opgewonde en gee jou energie.  Dit maak jou sommer meer lewe- en mensliewend.  Jy voel sommer lus om ander te vertel en te laat deel in jou geluk.
Ons praat soms van ‘n slegte verrassing, maar dan bedoel ons eintlik ‘n ontnugtering of ‘n skok.  Sleg en verrassing gaan eintlik nie saam nie.  Opwinding, nuutheid, geleentheid, aangenaam is woorde wat veel beter pas by die bergrip verrassing.
Verwondering en verrassing gaan ook saam.  Daardie ongewone. onverwagte, oenskynlik onverklaarbare dinge in en van die lewe. Die een oomblik is die dit nog net ‘n kaal knoetserige wingerdstok.  Die volgende oomblik begin die groen blaartjies hul vrolike lentespel.  En kom die somerhitte, dan druk die bome wonderlike vrugte uit hul takke en stingels deur hul blare na buite vir ons om te geniet.  Om geboorte te aanskou maak ons stom-jubelend van verwondering. veral nog as ons ‘n aandeel daarin het.  Maar, om weer-geboorte te beleef, maak ons klein van verwondering.  So klein soos ‘n naald se oog. 
Klein genoeg om diensbaar te wees sodat die blye boodskap suiwer gepraat en gewys kan word.
Dit, is die groot verrassing. Dat Jesus Christus vir jou en my geroep het, om in ‘n spesiefieke tyd en plek ‘n betroubare getuie te wees van Sy lewe en werk op aarde.  Niks minder nie en niks meer nie.  Sekerlik nie altyd so maklik nie.  Beslis nie eenvoudig nie.  Maar, solank ons ons roeping geanker hou in die lewe en werk van Jesus Christus, en solank ons ons roeping kan vertaal vir die spesifieke behoeftes en konteks waarin ons ons bevind, sal ons verras wees oor die vreugde en verwondering wat ons daagliks sal beleef.