Vreugde meer as geluk

Written by webmeester on . Posted in Begelei mekaar

Thomas W Currie III in sy boek The Joy of Ministry maak die onderskeid tussen se en happiness.  Dit het my aan die dink gesit oor predikant wees en die bediening.

 

Wat is dit wat ons soek in die bediening.  Hoe beoordeel ek my roeping as predikant.  Soek ek vreugde of wil ek gelukkig wees.  Wanneer ons se dat ons gelukkig is in die bediening, bedoel ons dat ons tevrede is (so-so), of bedoel ons dat ons met vreugde-gevul tevrede is?

 

Dit lyk op ‘n manier verkeerd om die twee begrippe teen mekaar te stel.  Mens sou kon se dat as ek nie tevrede is nie, sal ek ook nie vreugde ervaar nie.  Of, as ek vreugde ervaar beteken dit outomaties dat ek ook gelukkig is.

 

Maar dit is juis Currie se punt.  Vreugde is nie afhanklik van iets wat ek najaag nie.  Gelukkig te wees,  wel.   Beide vreugde en geluk (-ig)  is  ‘n emosie, ‘n resultaat van iets wat gebeur het.  Wat geluk(-ig)  aan betref het ek dit laat gebeur, en wat vreugde aan betref het dit met my gebeur.   Juis dit maak ‘n baie groot verskil in my lewe en in die bediening.

 

Ek voel na alle waarskynlikheid baie gelukkig omdat Sondag se preek klaar is.  Maar wanneer ervaar ek vreugde?  Wanneer ek agterkom dat die Drie-enige God deur die preek met my gepraat het!

Neem ek dus geluk as die oriëntasiepunt vir my gediening, beteken dit (aan die hand van die preek voorbeeld) dat ek die preek nog vroeër moet klaarmaak – en miskien nog meer druk op myself plaas.  Meer, beter, gouer word dan die dryfveer.  Gou word die bediening gesien as iets wat ek self bereik en bestuur en verloor die bediening sy ‘spelerigheid’ en ‘misterie’ as die gawes van God.  Die gevaar is juis dat dit dan so ernstig raak dat dit my (predikant) kort voor lank platdruk.  Uitgebrand in plaas daarvan dat ek gloeiend bly vir die evangelie.

 

Vreugde is anders.  Vreugde is nie voorspelbaar nie, nie te beplan nie, nie na te jag nie.  Dit kom oor ‘n mens.  Dit gebeur – eensklaps.  Onvoorsiens en ongevraagd, maar so vullend en verrassend!   Ek kan my nie ‘n beter beeld voorstel van vreugde as die gesig van ‘n kind wat ‘n geskenk ontvang nie.  Dit is emosie, belewing, verwondering  uitdrukking, selfuitstorting in die opwinding van die ‘gryp’ van die geskenk.  ‘n Waagstuk om sonder voorbehoud of pretensie gretig te ontvang wat hy/sy self nie eens mooi weet wat dit is.

 

‘n Bediening wat deur vreugde gedryf word, is net so anders. 

Nie in die eerste plek ingestel op wat ek doen of vermag nie (so belangrik soos die rol wat ek speel ook al is) , maar op wat God aan die doen is.  Nie in die eerste plek my praat en preek nie (so groot soos my verantwoordelikheid ook al is) maar om God se stem hoor.  Nie my voorbeeld en leierskap nie (soos bemoedigend dit ook al is), maar om te sien hoe en waar God aan die werk is.

 

Is dit reg om geluk(-ig) en vreugde so teenoor mekaar te stel?  Miskien… ek weet nie.  Wat ek wel weet is dat geluk die manier het om soms so onder ‘n mens se hand uit te glip.  Terwyl ek verseker weet ek hoef Vreugde nie na te jaag nie, Hy het my gevind!

Trackback from your site.

Leave a comment