{ARGIEF}

Andrew Murray (9 Mei 1828 – 19 Jan. 1917) is die tweede van 16 kinders van Andrew Murray snr. (1794-1866). Sy vader, Andrew Murray snr. (van Skotland afkomstig) was  vir  44 jaar op Graaff-Reinet predikant.

In die herkoms van Andrew Murray se moeder is daar spore gevind van die Franse Hugenote, sowel as die Duits Lutherse kerk. Hy en sy ouer broer John is deur hulle Pa na Aberdeen (Skotland) vir skoolopleiding gestuur. Daar het hulle by hul oom Dr John Murray tuisgegaan. Hulle studeer later in Utrecht waar hulle lede van die herlewingsorganisasie “ Het Réveil” word. Die beweging het sy onstaan te danke aan die weerstand wat  mense destyds gehad het teen die eensydige rasionele teologiese rigting wat in Nederland deur die kerk gevolg is. In 1848 keer hulle terug na Kaapstad. Andrew se ouer broer John word in 1857 saam met NJ Hofmeyer as die eerste teologiese dosente op Stellenbosch benoem.

Andrew self word in 1849 predikant in Bloemfontein. Daarna het hy in Worcester, Kaapstad en Wellington gedien. Hy was 6 keer moderator van die Kaapse sinode en was onder andere instrumenteel in die stigting van die sendingopleiding op Wellington, asook die Hugenote seminarium en nog vele ander. Op 78 jarige ouderdom tree hy uit die aktiewe bediening sodat hy sy volle aandag aan sy skryfwerk kon gee. Hy was in die jare besonder produktief en het na homself verwys as rusteloos tot hy sy gedagtes op papier neergeskryf het. Hy was besonder opgewonde oor die destydse nuwe “paperback” manier van boeke uitgee, want so kan die goeie boodskap nog meer mense bereik. Hy sterf vier maande voor sy 89 ste verjaarsdag. Hy skryf in sy leeftyd omtrent 240 boeke en is vandag nog wêreldwyd bekend vir sy bydraes veral oor gebed en die innerlike geestelike lewe van die gelowige. ʼn Lys van sy boeke kan by verskeie internetskakels verkry word.

Vir Andrew Murray is gebed die basiese grondslag  van ons geloofslewe. Dit is vanuit ons gebedslewe dat ons hele geestelike lewe voortvloei. Jou gebedslewe is die vertrekpunt van jou praktiese geloofslewe. Vanuit jou gebedslewe word die openbare getuienis en diens aan jou naaste gevoed. Wat vir my baie interessant is, is dat sy beste bydraes oor gebed veral in sy latere lewe plaasvind. Dit is vir my opmerklik dat so baie geestelike skrywers, in die latere fase van hulle lewe, juis oor gebed skryf.

Willem Nicol skryf in sy boek “Gebed van die hart” die volgende oor Andrew Murray : “ In my laat tienerjare het Andrew Murray se boeke my meegesleur. As ek nou terugkyk besef ek dit was veral die mistieke element daarin, die innerlike uitnodiging tot ʼn lewe van vereniging met Christus, van onafgebroke gemeenskap met Hom, die uitnodiging om in die heiligdom van God se teenwoordigheid in te gaan”.
Andrew Murray het baie teenstanders uit die rasionele teologie van ons geskiedenis ontvang, veral omdat hy te naby aan die sogenaamde “second blessing” gekom het, maar soos Nicol hieroor opmerk:  Die rasionele benadering van ons vroeë kritiek op Murray het ons eie gebreke blootgelê.

Ek dink vernuwing in die kerk is soms niks anders as ‘n herondekking van jou geestelike wortels nie. Dit is om onder andere weer ons teologiese wortels van ons eie Gereformeerde Vaders te herbesoek. In ons nadenke oor gebed is dit goed om weer die diepe geestelike insigte van Andrew Murray te bestudeer.  Hy het ʼn baie definitiewe invloed op die NG Kerk se teologiese denke gehad. Dit is miskien sy invloed wat balans gebring het en gemaak het dat die transformasie proses in die NG Kerk vandag baie meer hoop het om te oorleef. Oral in die wêreld waar die rasionele teologie eensydig toegepas word, verklein en verdwyn kerke. Andrew Murray se geestelike insigte het ons voordurend daaraan herinner dat die Christelike godsdiens nie net rasioneel is nie.

Vir al die afstammelinge van Andrew Murray en sy broers en susters, wat in hierdie dae ʼn groot Murray familie fees vier, mag die Here julle in die tyd van feesvieringe baie dankbaar maak. Ons as lede van die NG Kerk (selfs die wie se teologiese aksente van Andrew Murray verskil) is geestelike afstammelinge van Andrew Murray. Ons is baie dankbaar teenoor die Here vir die geestelike nalatenskap van hierdie merkwaardige man.