{ARGIEF}

In die begin van die jaar is ons so besig met beplanning en denke waar die gemeente en lidmate hierdie jaar ʼn verskil kan maak, dat ons as leiers/predikante maklik verby die essensiële kyk om aandag te gee aan ons eie geestelike versorging.

Vanaf 16 jaar het Daniël saam met sy 3 vriende Sadrag, Mesag en Abednego toegewyd teenoor die Here geleef en hulle gebedslewe was deel daarvan. Ons lees in Daniël 6:10 dat Daniël 3 keer op ʼn dag gebid het. Daarvoor was hy tot die dood veroordeel en in die leeukuil gegooi. Steeds was Daniël getrou en bid dat die Here die bekke van die leeus sal sluit. Daniël was iemand wat soveel integriteit gehad het dat hy nooit van sy goeie gewoonte om gereeld te bid wou afsien nie. Al het hy in ʼn vreemde land gewoon. Sy gebedslewe was vir hom te belangrik. Hy het hom in ʼn vreemde land waar ander gode aanbid is nie laat intimideer nie. Hy het getrou bly bid, maak nie saak wat die gevolge sou wees nie. Dit was nie vir hom belangrik of mense hom gesien het of nie. Hy het altyd geweet – sy verhouding met God was essensieel.

Toe ek weer die gedeelte lees, toe dink ek aan gemeenteleiers en dominees. As hulle maar geweet het hoe belangrike rol hulle gebedsintegriteit in hulle bediening speel. Gebed gaan oor jou verhouding en toegewydheid aan God, en jou lewe na buite is die bewys of jy gebed ernstig opneem. Lidmate en mense weet(sien/ervaar) of jy ʼn toegewyde gebedslewe het. Dit wys – jy kan dit nie wegsteek nie!!!! Die vrug van ʼn mens se gebedslewe is sigbaar in jou gesindheid, prediking en prioriteite. Die Gees van die Christus het ʼn manier om ons hele lewe, ons verhoudinge met ander en ons ingesteldheid teenoor die lewe deur gebed te verander.

By Daniël het die vrugte van sy gebedslewe duidelik vertoon. Dit het hom aan die een kant geestelik sterk gemaak sodat hy die swaar oomblikke toe sy lewe selfs bedreig was kon bly vertrou. As Daniël in die leeukuil gegooi word kry hy nie ʼn paniekaanval of ʼn gevoel van onsekerheid nie. Hy doen wat so deel van sy lewe is. Hy bid! Hierdie gebedsdissipline van hom help hom om die krisis oor sy pad te hanteer.
Andersyds was daar ook ʼn direkte verband aan Daniël se gebedslewe en sy openbare lewe. Sy getrouheid in sy gebedslewe kon deur almal gesien word. Hy kon dit nie wegsteek nie. Sy integriteit om God te dien was sigbaar. Die eer van God was vir hom belangrikker as om die guns van sy nuwe koning te wen. Dis ironies dat dit juis sy integriteit- om getrou te wees aan God, en om respek te hê vir mense om hom, wat hom die guns van die heidense koning laat wen het.

Miskien moet ons as volgelinge van Christus, leiers van gemeentes en predikante nie verby die eenvoudige boodskap kyk nie. Ons preek, en praat baie met lidmate oor hulle geloofslewe, maar miskien is dit nou die tyd om oor jou eie geloofslewe te dink. Het jy integriteit in jou gebedslewe. Veral in ʼn tyd van die jaar waar alle organisatoriese dinge jou kan opslurp?
As jy aan God getrou is, sal jy ook ʼn mens wees op wie ander op elke terrein van die samelewing peil kan trek. ʼn Lewenswyse van integriteit begin by getrouheid aan God.

ʼn Voorspoedige en toegewyde 2010 vir elkeen!!

Quintus