{ARGIEF}

Die eerste is om te “Bedaar”.  Om tot bedaring te kom, is vir ons moderne leefwyse geen maklike taak nie.  Tien jaar terug het ons briewe binne ʼn week of twee beantwoord.  Vyf jaar terug het ons ’n antwoord binne ʼn dag of twee vir mense gefaks.  Vandag wil mense op dieselfde dag as die versoek ʼn antwoord per epos terug ontvang.  Dit is net nie maklik om tot rus te kom nie.  Gebed sê Yancey is om bewustelik tot bedaring te kom. Hy vertel van die skrywer Patricia Hampl.  Sy het in Assisi in Italië op ʼn pelgrimstog gegaan.  Daar het sy ʼn lys gemaak van antwoorde op die vraag: Wat is gebed?  Sy het ʼn paar woorde neergeskryf.  “ Lof; Dankbaarheid; Vra; Smeek; ʼn Tipe onderhandeling met God; Vrugtelose kerm; Fokus.  “ Toe het haar lys doodgeloop want sy het ontdek dit lyk bloot na ʼn taalhandeling.  Sy het verklaar: ” In wese is gebed ʼn posisie, ʼn plasing van jouself voor God.  Gebed as fokus is nie ʼn manier om perke te stel aan wat gesien kan word nie; dit is ʼn gewoonte om aandag te gee aan alles wat is” Hierdie “gewoonte om aandag te gee aan alles wat is” verg dat ons, soos die psalmdigter sê sal “ bedaar” en stil sal word.  In die fokus van gebed kom alle ander dinge in fokus.  In daardie onderbreking van my roetine val die heelal in lyn.

Yancey gaan verder en verklaar dat die “Stilte” ons voorberei vir die tweede opdrag in die Psalm naamlik: “Om te erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde” Slegs deur gebed kan ons daardie waarheid glo te midde van ʼn wêreld wat saamspan om God te onderdruk eerder as te verhef.

Die woord wat in die oorspronklike taal vir “bedaar” gebruik word, is ook die woord waarvan vakansie afgelei is.  God nooi ons om ʼn vakansie te beneem, om ʼn ruk lank op te hou om self God te probeer wees en God toe te laat om God te wees.  Om God, God te laat wees vereis van ons om af te sien van die wêreld wat ons so sorgvuldig in stand hou om ons eie saak te dien.  Dan gaan Yancey voort om te sê” As die erfsonde teruggevoer kan word tot mense wat probeer het om soos God te wees, is die eerste stap in gebed om te onthou en te erken dat God, God is – dit wil sê om die hoogste waarheid van die heelal te herstel -sodat die mens kan weet hy leef nie in ʼn selfgeskepte heelal nie(John Milton).

Vriende, gebed is om tot bedaring te kom voor God.  Ja stil te word voor Hom. Hom te erken as God en dan te wag en te luister na God.  Onthou dit is nie God wat ons gebede nodig het nie, maar ons wat gebed nodig het sodat ons weer na God kan luister.  Dit sal ons help om nie eie geestelike koninkryk uit te dink en te bou nie, maar aan God se koninkryk mee te werk.

Groete

Quintus