{ARGIEF}

In sy boekie “Signposts to Spirituality –towards a closer walk with God beskryf Trevor Hudson die belangrikheid van die familie van God. Hy sê vanaf die oomblik wat ons besluit het om Christus te volg, is dit duidelik dat ons dit nie alleen kan doen nie.

Die teelaarde vir geestelike groei is die gemeenskap van gelowiges. Dissipelskap en ’n verdieping in jou verhouding met God geskied byna altyd deur die gemeenskap van die gelowiges. Kortom – ons is nie gemaak om as Christene alleen te leef nie. Ons is ook nie gemaak om Satan alleen te beveg nie! Om te weet dat ons as gelowiges aan mekaar behoort is essensieel vir ‘n lewe voor God!

Oor hierdie helder boodskap van die Bybel kan daar min twyfel wees. Ons as gelowiges is gemaak om saam teenoor die wêreld te getuig! Ons kan nie vir God op ons eie probeer aanbid nie – daarom is die kerk so belangrik vir gelowiges!

Jy het ander gelowiges nodig. Dit is soos die kole by ‘n braaivleisvuur. As jy een kooltjie alleen eenkant toe skuif, gaan hy gou dood. Die ander kole wat bymekaar is bly baie lank saam warm en saam kan hulle die vleis gaarmaak. Saam is ons ons beter is die titel van Rick Warren se Veertig Dae(Deel 2). Ons is eenvoudig nie gemaak om God alleen te dien nie. Die wêreld het die gesamentlike getuienis van gelowiges nodig. In Joh 13:35 verklaar Jesus dat die grootste getuienis van gelowiges teenoor die wêreld geleë is in hulle openlike liefde wat hulle vir mekaar het! ’n Lewe voor God is dus ook ’n lewe saam met ander gelowiges.

’n Coram Deo lewe is ’n lewe waar gelowiges mekaar se hande vashou, dit styf vashou en mekaar nie los nie. Omdat hierdie gemeenskap van gelowiges so ontsettend belangrik is, is dit vanselfsprekend dat Satan dit gaan probeer breek, dat hy alles in sy vermoë gaan doen om die eenheid tussen Jesus se volgelinge te verbreek.

Die gebeure die week op kerklike front het my baie diep geraak!! Hoe is dit moontlik dat broers en susters van dieselfde Christelike familie, getuienis en belydenis – dit kan waag om ‘n ander se hand te laat los of toelaat dat jou hand deur die ander gelos word. In so proses is daar net een oorwinnaar en dit is die vyand van Christus! Ons gaan sukkel om as familie elkeen alleen voor God te probeer wandel. Broers en susters wat teen mekaar sondig en wat mekaar soms seermaak, het een troos. Hulle is familie en hulle weet: waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit. Ja, bloed is dikker as water. Die bloed van Jesus Christus bind sy familie aan mekaar. Dit behoort dikker as wêreldse bande en verskille soos kleur en tradisie te wees !

’n Coram Deo lewe voor God kan nie gebeur as broers en susters van dieselfde familie mekaar los en alleen probeer leef nie. Ek bid vandag dat Christus se bloed sy familie se sonde onder mekaar en teenoor mekaar, sal skoonwas. Ek bid dat Christus se familie meer begrip en deernis met mekaar sal hê – dat die broers en susters van Jesus se familie na mekaar sal luister en dat hulle in sy Naam mekaar nooit sal los nie, maar dat sy gekruisigde hande genesing en eenheid sal bring – waar die wêreld om verdeeldheid skree!

Kom ons pleit by ons Hemelse Vader dat Hy sy kerk – die gemeenskap van die gelowiges, bymekaar sal bring – sodat die wêreld kan glo !!

Quintus