{ARGIEF}

Toe ons na kweekskool as finalejaarklas van mekaar afskeid neem, het ons in ons laaste gesprekke onderneem om elke Vrydag vir die res van ons bediening vir mekaar te bid. Ek moet bely – daar was ’n tyd toe ek dit nie gedoen het nie. As ons dit gereeld gedoen het, wonder ek of baie van ons se paaie dalk anders sou loop – ons glo mos aan die Bybelse belofte dat gelowige gebede groot krag dra.

Onlangs , met die afsluiting van ons ringsitting, vertel een van die leraars wat op aftrede staan, dat hy vir baie jare elke Woensdag vir al die kollegas in die ring bid… Verstaan ons nog dat gebed ook ’n bediening van voorbidding is? Voorbidding is om priesterlik by God vir mekaar in te tree. Die woord wat deur baie gebruik word, is intersessie. Voorbidding is om as’t ware as tussenganger op te tree – vir iemand in die bres te tree. Jy kom pleit by God vir die ander persoon of saak.

Die Here Jesus se voorbidding het behels dat Hy homself gegee het om as Hoëpriester namens ons by God in te tree. Hy het Homself gegee. ’n Voorbidder gee homself as hy intree vir ‘n ander voor God. Hy tree in met liefde, empatie, solidariteit , integriteit . Jy kan nie vir iemand voorbidding doen as jy nie bereid is om hom/haar lief te hê en te aanvaar nie. Voorbidding het die Here Jesus se lewe gevra – Hy het die offer gebring. In 1 Pet 2:9 word die volk van die Here ’n koninklike priesterdom genoem . God se volk is ’n volk van priesters – wat vir ander intree en voorbidding doen.

Voorbidding kan met reg ’n bediening van omgee genoem word. As jy dus aan iemand verklaar dat jy vir hom/haar bid – wys dit dat jy omgee en bereid is om voor God namens die persoon ’n offer te bring. Dit gebeur te veel dat sommige mense soms leë beloftes van voorbidding maak , miskien omdat dit die sosiaal korrekte ding is om te doen. Ek sou om daardie rede versigtig wees om vir almal te vertel dat ek vir hulle bid. Om vir mekaar te bid is ’n baie intense en ernstige saak. Dit is ’n bediening van omgee en van intree! Jy mag daarom nie leë beloftes vir iemand of vir ’n saak maak nie.

Persoonlik probeer ek ’n dissipline in my bediening van voorbidding handhaaf. Ek het ’n gebedsjoernaal waar ek agterin ’n basiese raamwerk vir elke dag se voorbidding het. Dit is goed om ’n gereelde voorbiddingslys te hê.

Ook vir gemeentes is ‘n gereelde voorbiddingslys nuttig. Tog word baie voorbiddingslyste van gemeentes eerder ’n inligtingstuk van lief en leed. Hoewel dit reeds die begin van ons omgee-gebed is, sal ons erns moet maak om vir mekaar voor God in te tree. Dit is dalk die moeite werd om met mekaar in gesprek te tree hoe ernstig ons dit bedoel as ons die woorde gebruik .. Ek bid vir jou……

Met al my erns oor voorbidding , het ek egter ook ’n klippie in my kerkskoen. Dalk is ek enig in my worsteling en het ek nog baie om in heligmaking te groei – maar ek is eerlik as ek sê : ek sukkel om vir iemand te bid vir wie ek nie ken nie. Ek sukkel om die offer van liefde te maak en vir hulle te pleit by die Here. Ek sukkel om net vir ’n naam te bid en nie regtig te weet waarvoor nie. Ek sukkel om te reageer op ’n onpersoonlike SMS. Dalk is my liefde vir die wêreld nie groot genoeg nie en hoop ek die Here sal dit vir my leer. Of miskien sê dit vir my iets oor die belangrikheid van die gemeenskap van die gelowiges…..?

Quintus