{ARGIEF}

Hoe gemaak met mense wat saam met jou leef en wat hoop verloor het – wat hoop-loos is? Ek het al baie by mense gesit met ʼn volslae hooploosheid in hulle oë, net om te sien hoe daar na ʼn gebed lig in hulle oë verskyn. Is dit omdat gebed ʼn towerformule is? Wat is dit dan wat veroorsaak dat gebed so ʼn hoopvolle uitwerking op mense het?
Hoopvolle gebed is nie ʼn towerstaf wat alles regmaak as jy net glo nie. ʼn Hoopvolle gebed vir ʼn hooplose persoon maak ʼn deur oop dat hy/sy weer vir God raaksien. Dis God wat hoop gee. Net Hy kan mense wat sy stem nie hoor nie, weer laat hoor! Gebed is om jou weer bewus te maak van God se liefde en teenwoordigheid in jou lewe. Gebed bring mense in kontak met God. Dit is sy liefde, genade en versoening wat nuwe ʼn uitsig vir mense gee. As jy dus intree vir mense by God en vir hulle bid, weet dat jy slegs die instrument is wat God se lig duideliker in mense se lewens laat skyn.
As gelowiges is ons geroep om ander hoop te gee. Die kerk en sy lidmate is by uitstek ʼn instrument van hoop! In die meeste gevalle is hoopvolle gebed al wat mense nodig het om God weer in hulle lewens te sien. As draer van hoop het ek en jy die verantwoordelikheid om heeltyd ons oë oop te hou, sodat ons kan raaksien wie hoop nodig het.

Groete
Quintus