{ARGIEF}

Nadat hy iets gelees wat ek oor gebed geskryf het, kry ek so ruk gelede ‘n besoek van ‘n afgetrede predikant. Hy het my vertel – hoe die Here sy lewe na aftrede deur gebed verander het en hoe hy nou anders dink oor gebed as tydens sy hele bediening as predikant. Sy getuienis het my  tot nederigheid teenoor gebed gestem. Dit het my veral geraak toe hy vertel dat die Here hom deur sy gebedslewe, geleer het om lief te hê….

Emeritus predikant se getuienis oor sy gebedslewe na aftrede

Hierdie is my getuienis oor gebed én wat ek die oor afgelope ±6 jaar se gebedservaring beleef en ontdek het.

Dit het een Sondagmiddag in 2002 begin. ‘n Prediker het min of meer sy boodskap só begin: Wie van julle wat vandag hier sit, sal vir elke uur wat jy voor die TV sit, ‘n uur lank op jou knieë staan en bid?” Ek glo die Here het daardie dag met my gepraat. Ek het huis toe gegaan en begin om die geestelike dissipline van gebed te beoefen . Ek het my elke dag gedissiplineer en ten minste ‘n uur lank soggens gebid. Aan die begin (± 3 jaar lank) het ek geen geestelike boeke gelees nie: net my Bybel. Ek wou seker maak dat ek leer bid soos God ons deur die Bybel leer.

In die begin het dit bitter moeilik gegaan. Ek het uit eie ervaring geleer wat baie ervare skrywers (en bidders) oor gebed gesê het nl. The most difficult exercise for ‘n Christian is prayer (EM Bounds). Miskien is dít die rede waarom so min kinders van God – predikers en predikante ingesluit – regtig ernstig is oor gebed!

Dit was aan die begin baie moeilik. Die duiwel het my baie keer getoets en getart, maar ek het my gedissiplineer en volhard. Ek het die geseëndste tye in my lewe gehad, juis toe die duiwel my getoets het met: Sien jy enige verandering in jou lewe?” En al wat ek kon sê, was: Nee, maar ek het ‘n afspraak met God!”

En toe eendag – na máánde se gebed – ontdek ek die wonderlikste liefde in my lewe vir my vrou en kind. En vir die eerste keer in my lewe begin ek die Bybelse opdrag verstaan en beleef: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê…” (Ef. 5:25).

En daarmee saam het daar in my lewe ‘n liefde vir mede -Christene en ongereddes gekom ! Toe word Openbaring 2:4 vir my duidelik: “…..jy het jou eerste liefde verlaat…..” en deur gebed het Hy dit vir my teruggegee om dit te beleef!

In hierdie tyd het ek ook begin bid: Vul my met u Heilige Gees (Ef. 5:18). Elke dag. Elke oomblik. En leer my om te wandel deur die Gees.” (Gal. 5:16) En toe eendag gaan Rom. 6:14 vir my oop: “…..die sonde sal oor julle nie heers nie, want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade…..”

Die volgende ding wat die Here my deur gebed geleer het, was om sy “getuie” (gestuurde) te wees. Ek het einde September 2007 opgehou met die Bybelstudievertaalwerk a.g.v. my oë. Toe meen ek die Here wil hê ek moet meer preek. Terwyl ek eendag daaroor aan’t bid was, oortuig die Here my om (weer) Hand. 1:8 te lees. Toe ek by “julle sal my getuies wees” kom, toe oortuig Hy my baie duidelik: jou (en alle kinders van God se) se primêre taak is nie om te preek nie, maar om my getuie (gestuurde) te wees. Dit was vir my ‘n kosbare les.

Want selfs as predikant kon ek nie in die openbaar getuig teenoor vreemdelinge nie. O ja, ek kon sê en praat net wat ek wou tydens huisbesoek, maar in ‘n hysbak saam met iemand kon ek net nie my mond oopmaak en getuig nie. En nou: Ek kan nie ophou om teenoor ongereddes en Christene (veral t.o.v. die absolute belangrikheid van gebed) te getuig nie. Die beloofde “krag” van Hand. 1:8 het my soveel “vrymoedigheid” gegee om te getuig.

Nog ‘n ding wat die Here my nou onlangs deur gebed geleer het, was omtrent geloof. Eendag lees ek Lukas 18:1 – 8 en toe interesseer die woorde heel aan die einde van die gelykenis my: “…..maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Ek vra toe die Here om dit vir my te verduidelik, omdat daar heel aan die begin staan: “…..’n mens (moet) gedurig bid en nie moedeloos word nie…..” Hoe bring ‘n mens hierdie woorde by “geloof” uit? En duidelik openbaar Hy dit aan my: Iemand wat aanhou (“gedurig”) bid, beoefen geloof; iemand wat “moedeloos” word en ophou bid, openbaar ongeloof (twyfel). En net daar word dit vir my duidelik: gebed is geloof(-sbeoefening); geloof(-sbeoefening) is gebed.

In die eerste vier jaar of wat van hierdie nuwe ervarings en ontdekkings in my gebedslewe het daar in my binneste al meer die duidelike oortuiging gegroei nl. dat gebed (natuurlik ware, aanhoudende gebed; absoluut noodsaaklik is in/vir die kind van God se lewe, én in/vir die Koninkryk van God. En sowaar daar lees ek dit in “Andrew Murray on Prayer” (bl. 472) A fresh sight of what prayer is according to the will of God, of what our prayers can be, through the grace of God, will free us from those feeble, defective views in regard to the absolute necessity of contiual prayer which lie at the root of our failure.” My blydskap was ongekend; meer as ‘n 100 jaar gelede het die Here al aan Andrew Murray dieselfde waarheid gewys!

Van toe af het ek begin navorsing doen oor gebed en het ek meer en meer besef dat gebed absoluut noodsaaklik en onmisbaar in en vir ons geestelike lewe en vir die Koninkryk van God is .

Nog ‘n verstommende ding wat ek gaandeweg ontdek en beleef het vandat ek meer gereeld, langer en gedissiplineerd begin bid het, was: Ek maak nie meer verskonings om te bid nie! Excuses are not fabricated by those who live close to God (Eastman). Noudat ek van die absolute noodsaaklikheid van gebed oortuig is, wil ek daarom net meer en meer bid! Spurgeon bevestig dit as hy sê: He that prays much, will pray more Ek beleef vandat ek in 2002 regtig begin bid het, as’t ware ‘n persoonlike klein herlewenkie! Ek wag nie meer op ‘n herlewing wat eendag sal kom nie. Ek beleef dit regtig in my lewe!

Ek glo dat die Heilige Gees (wat die Gees van God, die Gees van Christus, die Gees van gebed is Rom. 8:26,27) het vir my in die afgelope ± 6 jaar hierdie insig en waarheid geleer. Die “missing link” van die meeste kinders van God, van baie kerke(van verskillende denominasies) en ‘n groot deel van die Christendom is: Gebed, volhardende gebed. Ja ‘n lewe van aanhoudende en ware gebed.

Gebed is absoluut, gebiedend noodsaaklik, onmisbaar! Dis die geheim/ sleutel /spilpunt /kern /hart van die totale spektrum van die individuele geestelike lewe en van die koninkryk van god. Dis die bepalende faktor van letterlik alles in die koninkryk van god en in die kind van god se lewe. Handelinge 6:4 gee vir ons die geheim hoe dinge in die kerk gedoen is. Dit was deur gebed én die woord. Nie die woord ten koste van gebed nie! Maar in die regte volgorde: gebed en dan die woord.

Jak. 4:2 sê in die oorspronklike grieks : Julle het nie, omdat julle nie self (middelvorm) aanhoudend (praesens) bid nie.” Hiervolgens lê die oorsaak by onsself – omdat, eerstens, ons nie bid nie en, tweedens, ons nie aanhou bid nie.

Ten slotte wil ek ‘n bekommernis met u deel: As die Bybel en buite Bybelse bronne duidelik is dat ware gebed deurslaggewend en bepalend is. Waarom heg Christene so verskriklik min waarde aan ware gebed en waarom word dit so min beoefen?

Frans Geldenhuys (Emeritus)