{ARGIEF}

Ek het so ruk terug ‘n uiteensetting van die verskillende spiritualiteite gegee (sien vorige blog). Jannie Hougaard het Corine Ware se vraelys in Afrikaans verwerk en aangepas.Hier is Jannie se vraelys:

Jou Spiritualiteitsstyl: Vraelys

ʼn Aanduiding van styl van geloofsbelewing. (Konsep ontwikkel deur dr. Corinne Ware Discovering your Spiritual Type. Bethesda: Alban Institute, 1995.
Instruksies:

Lees ʼn afdeling eers in geheel op ’n slag.  Maak seker dat jy elke stelling deeglik begryp.
Besluit watter stelling jy onder die meeste omstandighede die gemaklikste mee sou wees. Merk normaalweg  een stelling per afdeling MAAR – Jy mag in sekere gevalle meer as een merk, maar probeer om nie meer as twee per afdeling te merk nie.

Oor preke…

1.    Vir my is ’n preek goed wanneer dit goed gestruktureer is en ek werklik iets kan leer daaruit.
2.    Ek wil tydens  ʼn preek ervaar dat die Here my hartsnare geroer het en ek iets van die warmte van sy
liefde ervaar het.
3.    ʼn Preek moet my laat dink en nie alles in detail uitspel nie. God se teenwoordigheid is vir my baie
meer belangrik.
4.    ʼn Preek moet my motiveer om iets in die koninkryk van die Here te gaan doen!

Oor Bybelstudiegroepe…

5.    Wat ek hou van gesamentlike Bybelstudie, is om die planne te ontdek wat God vir die wêreld het – en      dat ons deel daarvan kan wees!
6.    Die lekkerte van saam Bybelstudie doen bly my langer by as die inhoud wat ons behandel. God se liefde in ons saamwees, is wonderlik.
7.    Ek hou daarvan om studie van die Bybel te doen en iets te leer. Die byeenkoms moet goed gestruktureer wees
8.    Die lekkerste van Bybelstudie doen lê in die verwondering oor die grootsheid van God wat in ons groep  teenwoordig is en met ons praat.

Oor vernuwing en verandering …

9.    Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ʼn gevoel van warmte inbring tussen mense en God.
10.   Nuwe dinge in die erediens moet daartoe bydra om die gemeente te laat besef dat ons die liggaam, die  stem, hande en voete van God in die wêreld is.
11.  Nuwe dinge in die erediens moet eers goed deurdink word voordat dit ingevoer word.  Ek wil ook graag      vooraf weet hoe dit gaan verloop.  Vreemde nuwe dinge maak my effens gespanne.
12.  Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ons onder die indruk bring van  God se heiligheid en   grootsheid.  Dit moet my op God help fokus.

Oor gebed…

13.  Wanneer ek bid is ek soms net stil voor God.  Ek hoef nie altyd so baie met Hom te praat nie.
14.  ʼn Mens praat respekvol en weldeurdag met God as jy bid.
15.  As ek bid, moet ek vóél ek praat met God.
16.  Wanneer ek bid doen ek graag voorbidding vir mense in nood en vir die heidene wat nog nie van God  gehoor het nie.

Oor God…

17.  Ek ken God veral as my Hemelse Vader. God sorg.
18.  Ek ken God veral as die Koning. Hy heers oor die hele aarde.
19.  Ek ken God veral as my Vriend.  God praat met my.
20.  Ek ken God veral as die Heilige. God is groot, groter as wat ek besef.

As ʼn klomp gelowiges bymekaar is…

21.  Die byeenkoms van gelowiges moet my motiveer om iets vir die Here te doen. Ons moet kan planne maak,  want ons is deur die Here gestuur.
22.   ʼn Byeenkoms van gelowiges moet soos ʼn fees wees, ek wil my uitleef in die byeenkoms.  Ek wil deel          voel van Jesus se mense.

23.    In ʼn byeenkoms van gelowiges het ek behoefte daaraan dat ons rustig saam die teenwoordigheid van die  God beleef.  Deur die rustigheid van musiek en simboliek praat God met ons en verkwik Hy ons.

24.    ʼn Byeenkoms van gelowiges moet nie uitrafel nie.  Ek wil nie voel ek word in ’n rigting gedruk nie. Ek wil graag meer van die Here leer.

Oor God se skepping…

25.    Ek wil graag verstaan hoe die Here die aarde geskep het.

26.    As ek na die mooi natuur om my kyk, is ek opnuut gemotiveerd om iets aan die bewaring van God se groot handewerk te doen.
27.    Dit maak nie veel saak hoe die aarde ontstaan het nie, maar dit laat my baie goed voel as ek sien hoe    wonderlik alles in die skepping is.
28.    Die grootsheid van die skepping laat my iets van die Skepper daarvan ken.

As ek ’n geestelike boek sou lees, dan…

29.    wil ek graag lees van die sukses van wat mense gedoen het en hoe mense se toewyding aan die Here hulle     lewens verander het.
30.    wil ek besef dat Jesus die mense baie liefhet en dat ek een van hulle is!
31.    moet dit my meer kennis van die Bybel gee wat ek vir my lewe kan gebruik.
32.    verstom dit my dikwels dat God, wat so wonderlik is, ook in my ook belangstel.

My gunsteling liedere is…

33.    liedere wat my laat voel ek is deel van die Here se kinders.’n Byeenkoms sonder sang voel koud.
34.    liedere wat jou help om ’n keuse vir die Here te maak. As ons dit sing motiveer dit ons en help dit        ons om ons weer aan die Here te wy.
35.    liedere wat my help om te besef dat ons in God se teenwoordigheid is.  ’n Lied is vir my eintlik ’n         gebed.
36.    liedere waarvan die lirieke se boodskap goed deurkom. Ek hou nie van ’n klomp herhalings sonder dat  dit betekenis het nie.

Oor tyd voel ek …

37.    Hou by die afgespreekte begin- en afsluitingstyd van ʼn erediens of byeenkoms.
38.    Dit is belangrik om die tyd van die byeenkoms te verleng as ʼn mens voel dat dit nodig is.
39.    Al die tyd behoort aan die Here.  ʼn Gevoel van tydloosheid is belangrik.
40.    Vergader wanneer nodig en so lank as wat nodig is om die taak van die byeenkoms af te handel.

Oor die klem in godsdiens …

41.    Dis belangrik dat ons God se wil heeltemal gehoorsaam.
42.    Dis belangrik dat ons leer wat ons roeping in die wêreld is en dit verstaan.
43.    Dis belangrik dat ons ʼn heilige lewe saam met die Here leer leef.
44.    Dis belangrik dat ons in ʼn eenheid met ons Skepper beleef.  Alles van my dag is eintlik godsdiens.

As ek kritiek oor my godsdiens kry …

45.    sê mense soms ek is te droog en op die verstand en kennis ingestel.

46.    sê mense soms ek is nie realisties nie en probeer van die werklikheid van die lewensomstandighede  deur  middel van godsdiens te ontvlug.
47.    sê mense soms ek is te emosioneel en net op gevoel en belewing ingestel.
48.    sê mense soms ek het tonnelvisie en is te gesteld net op wat mense doen.

Belangrike temas / onderwerpe in die godsdiens:
(As jy nie dadelik kan besluit wat om te kies nie, merk die woorde wat vir jou belangrik is en kies dan die nommer met die meeste gemerkte woorde)

49.    Liefde, bekering, getuienis, spontaniteit, heiligmaking.
50.    Onderskeidingsvermoë, dissipline, kennis, orde, genade, regverdigmaking.
51.    Eenvoud, suiwerheid van hart, aksie, gehoorsaamheid, om te ly vir die saak.
52.    Nie materialisties, nederigheid, wysheid, om jou denke vry te laat dwaal, om eenheid met ʼn hoër wese         te ervaar.

In verband met godsdienstige gebruike en seremonies …

53.    Godsdienstige gebruike help mens weet waar ons vandaan kom (ons geestelike wortels).  Dit help mens  die teenwoordigheid van God beleef en dit lê tradisies vas.

54.    Godsdienstige gebruike is ʼn manier om jou standpunt oor innerlike geloofsoortuigings te wys (demonstreer).
55.    Godsdienstige gebruike is maniere waarin ons God se teenwoordigheid ervaar.
56.    Godsdienstige gebruike is nie so belangrik nie.

Begrip van God

57.    God word deur die Bybel, in die sakramente (doop en nagmaal) en Jesus Christus en sy kruis geken.
58.    Ek kan voel dat God werklik bestaan en dat Christus in my hart lewe.
59.    God is ʼn misterie, ons kan na Hom uitreik in geloof, maar Hy is groter as wat ons kan ken.

60.    Wanneer ons “mede-skeppers” saam met God in die wêreld word en van die wêreld ʼn beter plek help maak, deel ons in die misterie/grootsheid van God.

Nasien sleutel:

Die vraagnommer is eerste en die stylnommer wat die antwoord verteenwoordig 2de bv 1=4 beteken : Indien jy vraag 1 geantwoord het verteenwoordig dit die 4de styl)

Omkring die stelling wat jy gemerk het by elke afdeling.

Preke:1= 1/ 2=2/3=3/4=4

Bybelstudie:5=4/6=2/7=1/8=3

Vernuwing:9=2/10=4/11=1/12=3

gebed : 13=3/14=1/15=2/16=4

God: 17=1/18=4/19=2/20=3

Gelowiges: 21=4/22=2/23=3/24=1

Skepping: 25=1/26=4/27=2/28=3

Geestelike boek: 29=4/30=2/31=1/32=3

Liedere: 33=2/34=4/35=3/36=1

Tyd: 37=1/38=2/39=3/40=4

Godsdiens: 41=4/42=1/43=2/44=3

Kritiek: 45=1/46=3/47=2/48=4

temas: 49=2/50=1/51=4/52=3

Seremonies: 53=1/54=4/55=3/56=2

Begrip van God: 57=1/58=2/59=3/60=4

(Tel nou al die no 1’s bymekaar , al die 2’s bymekaar , al die 3’s bymekaar en al die 4’s bymekaar. Die een wat jy die meeste van het is die spiritualuiteitstyl van jou keuse )- Onthou jy kan meer as een styl hê!

Styl 1 = Kop of Teologiese styl

Styl 2= Hart of gevoelstyl

Styl 3= Mistieke of Geestesoog styl

Styl 4= Aktiewe of koninkrykstyl (crusaders)

Vir verdere verduideliking van style – sien vorige blog oor spiritualiteitstyle.