{ARGIEF}

Iemand vra my vandag om  ‘n gebed vir Suid Afrika  te skryf.

In ‘n tyd waar emosies dreig om hand uit te ruk, het ons Christelike leiding nodig!  In ‘n land, waar mense nie meer na mekaar luister nie en waar emosionele opsweping hoogty vier –  Mag die Here ons met sy genade vul!

 

Here , Ek bid vir ons land!

 

O Here ek staan vandag voor U, omring deur ʼn veelheid van emosies. Heeltyd bewus van dit wat ek hoor en sien – wreedheid, uittarting, wraak en hartseer. Ek voel aan hoe mense rondom my bang, onseker en bedreig is. Saam met hulle het ek soveel vrae en so min antwoorde.

Terselfdertyd gaan my gedagtes terug na Goeie Vrydag waar ek daaraan herinner is dat U al my skuld betaal het. Daar het U my weer gedring om die sondekleed wat so aan my vasklou uit te trek en voor U neer te sit.

Ja Here – by die kruis het U my kaal gestroop van my eie pretensies en eie geregtigheid wat ek so graag in stand hou. U het my gestroop van gedagtes dat ek ʼn goeie mens is, van  gedagtes wat my tot hoogmoed teenoor misdadigers verhef.

U het my voor die kruis laat buig waar ek net kon uitroep – Here wees my genadig!

Dankie Here vir die derde dag – Opstandingdag.

U het my weer opgehef, klere aangetrek. Hierdie keer was dit Koningsklere, u klere – die klere van liefde, die klere van genade, sagte inklusiewe klere!

U het my ook nuwe oë gegee waarmee ek anders kan kyk.

U het my nuwe voete gegee waarmee ek nuwe paaie kan loop,

Nuwe gedagtes waarmee ek anders kan dink,

Nuwe ore waarmee ek anders kan hoor,

Nuwe oordeel waarmee ek nie meer veroordeel nie,

Nuwe vrede wat al my vrese verdryf.

O Heer – ek bid dat U ons in die moeilike emosionele tyd  so vol van u liefde sal maak, dat daar nie plek vir ons eie wraak is nie. Dat U ons vol van u vertroue sal maak dat ons nie sal vrees nie. Dat U so ons vol van u vrede sal maak dat ons in vrede met mekaar sal leef!

Dankie, Here, dat ons vandag selfs in die warboel van emosies u troos kan ervaar. Dankie dat ek my hande in u hande kan plaas.

Amen.

 

Vrede vir julle

Quintus