{ARGIEF}

Lydenstyd is ‘n tyd waneer ek meer as normaalweg bewus is van my eie broosheid en nietigheid. Dit is juis die bewustheid van my eie onvolmaaktheid dat ek die oorwinning van die opstanding na lydenstyd met soveel vreugde kan vier. Verskeie gebeure rondom my, het my die afgelope tyd meer intens bewus gemaak van die mens se feilbaarheid, dat ons menswees soms maar sinoniem is met nietigheid.

Daar het die afgelope tyd ‘n klomp goed gebeur waar ekself baie meer vrae as antwoorde voor God gehad het. Eers is ek intens teleurgestel met iemand se optrede teenoor die kerk van die Here en toe kry ek die slegte nuus dat my vriende se pa wreedaardig op ‘n plaas vermoor is. Ek was verward en het vrae gevra. Ook weer die eeu oue vraag :” Hoe kan God die mens toelaat om in sy eie onbeholpenheid  te struikel en ander ook laat seerkry? Dit is toe dat ek weer dink aan Jesus se gebed in Getsemane.

In hierdie volmaakte gebed het Jesus vir God gevra om Hom die lydensbeker te spaar. (Mat 26:39). Tog kry Hy ‘n teleurstellende antwoord. Prof Attie Barnard skryf  dat Jesus in hierdie gebed aan al die gebedsvereistes voldoen het! Dit was in alle opsigte ‘n volmaakte gebed. Let op na al die vereistes waaraan hierdie gebed voldoen:

*Jesus het God korrek aangespreek (Abba, Vader);
* Die omstandighede was die van afsondering (Hy was heeltemaal alleen);
*Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te
probeer draai);
*Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
*Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed;
*Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit( Vader alles is vir U moontlik);
*Met onwrikbare vertroue ( “ My Vader as dit moontlik is …”  )

* Uiterste konsentrasie en inspanning  (Sy sweetdruppels het in bloed verander);

* Hy het geweet dat sy eie swakheid en afhanklikheid net van God kan kom (‘n Engel het uit die hemel       gekom  en Hom versterk);
*Niemand het ook ‘n meer intieme verhouding met die Vader gehad as Hy nie.
* Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid !.)

Indien al die bogenoemde sake in ag geneem word, het Hy aan al die “vereistes” voldoen. Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed geweier! Ek dink as daar een gebed was waar God se eie hart swaar gekry het om Nee te sê-, was dit die een! Ek kan my voorstel dat sy hart stukkend was toe Hy toelaat dat al die lyding en vernedering oor sy Seun se pad kom.

Ek dink ons voel ook soms dat ons  net nie kan verstaan waarom God nie vir ons Ja sê nie. In ons eie oë voldoen ons gebede en lewenstyl dan aan al die voorwaardes wat die Woord vra. Verder verstaan ons nie waarom slegte dinge met godvresende mense gebeur nie. Dit hoort mos nie so nie. Ten spyte van al die dinge ervaar ons dat God soms vir ons “Nee” sê. Met ander woorde, die beantwoording van ons gebede hang nie af van hoe volmaak ons bid of lewe nie. Dit het eerder alles met God te maak!!

In sulke tye word ons gedwing om verder te kyk. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing  waar wou laat word. Al is dit vir ons moeilik,  moet ons  “onverhoorde gebede”  in die raamwerk van God se genade geplaas word en moet ons in ons eie lydenstyd ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie raak of sal ons dit ook nie raaksien nie. Dit is wat lydenstyd so intens maak. Dit is ‘n tyd om sonder antwoorde voor die gekruisigde Jesus te buig en ons lewe in sy hande te gee.

Miskien kan ons in die lydenstyd perspektief kry oor ons eie gebede in die woorde waarmee Jesus sy gebed afgesluit het

“ Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”

‘n Geseënde Paastyd vir almal!

Quintus