{ARGIEF}

As ek lees van die dood van ‘n predikant aan die hand van sy kind; as ek dink aan die seerkry van my vriende deur ‘n tragiese ongeluk;  as ek hoor van die skade wat  vriende ly, vanweë opstande en agitators – hoe hulle selfs vir hulle lewens vrees, dan sukkel ek vandag om u lied te hoor. Ek sukkel om u hoop raak te sien.  Ek vra saam met Ps 13 – Hoe lank nog Here? Hoe lank moet hierdie land nog ly? Hoe lank moet  mense wat arm is, sukkel om kos te kry? Hoe lank moet mense wat ‘n reguit pad stap, ly onder die sondige toestand van die samelewing?

Tog, as ek so stil word en met U praat, maak u Heilige Gees my rustig. Dan kalmeer u Gees my deur U Woord!  U Gees dring my om Ps 13 enduit te lees.  Dankie, Here, dat U my oplig en weer laat vlieg met geloof, vertroue en lof.  Ek hoor  by U dat  Ps 13 ‘n belydenis van vertroue is, ten spyte van dit wat ek sien en ervaar!    Ek sien hoe U die skrywer in sy geloof laat groei  van die begin van die Psalm tot die einde. Ek lees sy slotwoorde: ” Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart” (Ps 13:6) en dit word ook my belydenis.   Met stilte in my hart kan ek opstaan – met lof in my hart kan ek juig – met vreugde in my gemoed kan ek U vertrou! U gee uitkoms – U gee vrede – Ek sien weer uit!!!  Dankie Here – al het ek gesukkel om my gebed met lof te begin, dat ek dit tog met  lofprysing en dankbaarheid kan eindig!!

Amen