{ARGIEF}

Met die afgelope naweek se geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika, is dit  met onsekerheid  dat baie gelowiges vandag wonder oor,  die  toekomstige stabiliteit en vreedsaamheid  in ons land. Mense  is onseker oor wat op ons en op Suid-Afrika  wag ………

“Wat moet ons bid in tye soos die ?”  is die vraag wat iemand my gister vrae:

In 1952 het daar ’n gebedsboekie van dr. Ben Marais met die titel “Die Verre Horison” verskyn. In die voorwoord meld hy dat hierdie gebede  “ is langs die pelgrimspad geskryf deur een wat maar self leer om te bid

Ek deel graag sy gebed vir die die 30ste dag:

“ Skenk my vanmore opnuut,  Here die lig van U aangesig. Laat my hier aan die begin van die dag ’n geopende deur voor my hê waardeur ek kan ingaan in die lieflike land van U genade en U gemeenskap.

Ek wil vandag bid vir owerheid en onderdaan. Dink aan hulle wat die heerskappy in die hande het, wees hulle genadig en gee hulle U lig en U wysheid. Leer hulle om hul gesag te gebruik tot die eer van die Here. O Here, dink aan die leiers van ons eie volk. Laat hulle die mag waarmee hulle onder U hand beklee is, gebruik tot U verheerliking en tot die opbou van U koninkryk  in ons midde. Laat reg en geregtigheid hulle dade kenmerk, sodat ons rus en vrede  in ons land kan hê. Laat hulle steeds gedagtig wees aan die feit dat hulle ook Iemand het wat oor hulle gesag voer en aan Wie hulle verantwoording vir elke daad moet doen.

Dink aan hulle in wie se hande die regspraak van die land berus, aan onderwysers en geneeshere, aan almal wat die gees en die liggaam van die volk moet versorg. Laat hulle nie hulle werk probeer doen sonder gedagte aan Christus, die groot Regter, die groot Leermeester, die groot Geneesheer van krankes nie.

Lei my as burger vandag, dat ek ‘n voorbeeld sal wees van wetsbetragting, van my ywer en toewyding in my dagtaak en my burgerplig, sodat ek my getuienis vir Jesus Christus sal aflê.  Ek weet dat ek nie die lieflikheid en die wonder van Christus kan deurgrond nie en dat my beeld van Hom onvolmaak is. Ek weet ook dat ek nie eens daarin slaag om aan daardie onvolmaakte beeld van Christus getrou te wees nie. O onvergelykbare Christus, maak my vandag meer en meer u beeld gelyk!

Amen “

Kom ons bid vandag vir ons land en sy  leiers!!!!!!!