Is kerklik gemeentelike bediening uitgedien?

Written by Quintus Heine on . Posted in Gebed

Die vinnigste groeiende religieuse groep in die Verenigde State van Amerika is  die kategorie wat verklaar dat hulle geen denominasionele verbinding meer het nie. Is effektiewe kerklike bediening nog moontlik? 

Ek lees in die Time-Magazine van 12 Maart 2012 dat die Amerikaanse gelowiges  wat geen kerklike (denominasionele) verbintenis meer het nie, vanaf 1990 tot nou, verdubbel het. Hulle maak reeds 16% van die Amerikaanse Christelike bevolking uit.( “The rise of the None’s”  deur Amy Sullivan)
Die vinnigste groeiende religieuse groep in die Verenigde State van Amerika is  die kategorie wat verklaar dat hulle geen denominasionele verbinding meer het nie. Hulle word  in Amerika die sg.  “None’s” genoem. Dit is egter belangrik om raak te sien dat hierdie groep “None’s” nie hulle geloof nie, maar slegs georganiseerde godsdiensbeoefening verwerp het. Slegs 4% van die Amerikaanse bevolking identifiseer hulself as agnosties of ateïsties. Volgens die boek van Diana Butler, “Christianity After Religion” is die afgelope  tien jaar ‘n baie uitdagende tyd vir georganiseerde kerke. Die Rooms Katolieke word gekonfronteer met berigte van seksuele misbruik. Daar is net soveel voorbeelde van negatiewe ingesteldheid by feitlik alle georganiseerde denominasies.  Selfs  die  individuele Megakerke wat geweldige bemarkingsveldtogte geloods  het en ten koste van tradisionele kerke gegroei het, het begin sukkel en hul lidmate verloor belangstelling.

Tog is daar steeds by mense ‘n behoefte om spirituele belewing, asook die van gelowige koinonia.   In 2009 het  ‘n opname van “Pew Forum on Religion&Public life”  vir respondente gevra of hulle enigsins in God glo, of hulle nog gereeld bid en of hulle aan ‘n spesifieke denominasie behoort. Daar is bevind dat 40% van die mense wat nie meer aan ‘n kerk behoort nie (kerkloos) steeds baie religieus is. Baie van hulle verklaar ook dat hulle soekend is na ‘n religieuse tuiste. Mense verwerp nie vir Jesus nie, hulle verwerp dogmatiese organisering daarvan. Daarom ontstaan daar baie onafhanklike geloofsgemeenskappe.
In Amerika is daar deur die eeue baie kreatiewe geestelike leiers wat ‘n groot verskil gemaak het aan die kerklike landskap. Deesdae is die nuwe Amerikaanse geestelike leiers, die organiseerders van die “Emerging church movement”. Hulle is jong dinamiese  mense wat kleiner geloofsgemeenskappe skep.  Die oplossing wat die skrywer van die artikel  vir tradisionele kerke gee is om hierdie nuwe manier van kerkwees te omarm en nie te beveg nie. Die Presbiteriaanse Kerk in Amerika het daarom begin om weer evangeliste te orden (mense wat nie die volle predikantsopleiding het nie).  Die gebruik van leke- predikers het weer opgevlam, sodat kleiner geloofsgemeenskappe gevorm kan word.

Met die lees van die artikel het ek so aan ons eie situasie gedink.  Ek het besef dat tradisionele kerke nie net in Suid-Afrika onder skoot is nie. Dit is ‘n wêreldwye tendens. Die aanval wat op die tradisionele kerk in SA gemaak word vanweë hul politieke geskiedenis, hul gebruike en moontlik ook hul duidelik geformuleerde sekerhede, is nie uniek van die res van die wêreld nie. Ons moet dus nie in afsondering na die transformasie van ons geloofsgemeenskappe probeer kyk nie. Ons sal ook meer as bloot moet kennis neem van die “ermerging chuch beweging” se werkswyse. Ons sal moet kennis neem van gelowiges se behoefte om Jesus op ‘n ander manier te aanbid. Ons sal na ons jong opkomende kerkleiers moet luister en hulle ‘n kans gee om ons te lei!
Met die lees van die artikel het ek baie hoop gekry. Die feit dat mense nie vir Jesus verwerp nie, gee my moed. Dit gee my ook moed om te besef dat al groei hierdie tendens, die oorwegende meerderheid Christene steeds na die georganiseerde kerke gaan. Dit plaas ‘n ongelooflike verantwoordelikheid aan die deur van die kerk om te bly transformeer. Die kerk het dus nog tyd om te transformeer. Die vraag is : doen ons dit effektief genoeg?

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment