{ARGIEF}

Ons wil almal graag gemeentes se suksesverhale hoor om iets te leer. Daar is heelwat inligting (d.m.v. boeke en die internet beskikbaar) oor gemeentes wat baie aandag trek vanwee hulle nuwe manier van dinge doen, nuwe bedieningstrukture,ens.  “Gewone” gemeentes kyk soms met verlangende oë na al die oënskynlike “suksesvolle” gemeentes. As jy egter na die “suksesvolle” gemeentes se stories luister en met hulle predikante gesels kom jy gou agter dat hulle maar dieselfde probleme het as ander gemeentes ,dat daar maar dieselfde klakouse is en dat daar geestelik nie soveel verandering gekom het, soos wat hulle gehoop het nie. Verstaan asseblief –ek is ’n voorstander van verandering en vernuwing (van eredienste en bediening) en wil vir geen oomblik al die wonderlike nuwe uitdagings van gemeente verandering en-bestuur en alles wat daarmee saamgaan gering skat nie. Ek dink net sommige gemeentes begin by die verkeerde plek met gemeentevernuwing. Om slegs strukture te verander en konsultante in te kry – is in baie gevalle slegs ’n rondskuif van meubels en nie werklike vernuwing nie! Strukture waarborg nie regtig sukses nie!

Die regte barometer van ‘n gemeente se geestelike groei en funksionering is gelee is in die prioriteit wat die gemeente aan gebed gee. Die geestelike barometer van ’n gemeente is dus iets anders as waarmee die wêreld sukses meet. Die wêreld meet sukses aan getalle, finansiële sukses en projekte. Daarom hou ek nie van die term “suksesvolle gemeentes” nie – dit is ’n term wat te veel met wêreldse persepsies gelaai is.

So die vraag moet nie wees- Wanneer is die kerk suksesvol? nie. Ons moet eerder vra : Wanneer is ’n gemeente geseënd?

Anders gestel : Hoe weet die wêreld dat die kerk uniek is? As die kerk hom met sy unieke roeping besig hou.

Gebed is die unieke roeping van die kerk op aarde. Die openbaring van die die kerk geskied wanneer lidmate saamkom om te bid. 1 Tess 5:17 roep gelowiges op om in alle omstandighede te bid. Rom 12 :12 roep die kerk om nie op te hou daarmee nie. Martin Luther het gebed die Christen se werk en beroep genoem. Soos wat ’n tandarts met mense se tande besig is en die mielieboer met mielies besig is,so behoort die Christen met gebed besig te wees.

Die kerk se unieke taak begin by gebed. Hierdie gebed word dan omgesit in gebedsdade wat die lewenswandel met die Here in die gemeenskap demonstreer. Die kerk wat regtig sy unieke roeping uitleef, is besig om (as gestuurde wat in teenwoordigheid van God leef ) in die wêreld ’n verskil te maak. Gemeentes wat God se unieke roeping wil uitleef en wil groei, kan dit alleen doen as hulle die nodige prioriteit aan gebed en ’n lewenstyl in teenwoordigheid van God gee. ’n Biddende gemeente is ’n geseende gemeente wat sy unieke roeping in die samelewing uitleef !!

As ons dus ’n barometer vir seën wil aanlê, dink ek nie ons moet verder soek as gebed nie. As ons dus na modelgemeentes soek waarby ons iets kan leer: Soek dan na gemeentes wat ’n gebedskultuur het!

Attie Barnard stel dit so: “ Nêrens word die rypheid van ons geloof en die diepte van ons geestelike lewe en omvang van ons geestelike groei so duidelik sigbaar as in ons gebedslewe nie. Daar bestaan ook geen ander moontlikheid om in ons geloof te groei of voluit vir die Here te werk of sterker te leer liefhê, as langs die weg van ’n intensiewe gebedslewe nie”

Die Nederlandse teoloog H Veldkamp het dit so verwoord: –“Die geskiedenis van die koninkryk van God is die geskiedenis van gebed. Oorwinnings en neerslae wissel mekaar af, al namate daar baie of min gebid word. Die vraag hoe dit met die kerk gaan, hang af van hoe dit met die gebed staan

As jy vandag ’n antwoord wil hê op die vraag: Wanneer is ’n jou gemeente geseend? Kyk na jou gemeente se gebedskultuur – dan sal jy weet!!!!

Quintus