Angstigheid is deel van die leier se lewe.
Normaalweg is angstigheid die aansporing om gereed te maak vir gevaar. Dis die aanmoediging om jou posisie te skuif, te leer en verander. Ongelukkig loop sommige leiers met soveel angstigheid rond dat die lewe gewoon verbygaan sonder vervulling en vreugde.
Hoewel die kerk bekend is vir die boodskap van vrede en vreugde, steel hierdie vryvloeiende angstigheid leierskap in die kerk se vrede en vreugde. Dit hou die leier die heeltyd op sy of haar hoede teen kollegas en medegelowiges, en veroorsaak dat jy almal as vyande begin beleef. En jy begin verloor jou liefde vir almal. Jou taal verander van oorvloedstaal na gebrekstaal. Jy begin praat van “hulle” in plaas van “ons”.
In die PEAK Leadership kursus wat ons aanbied, is een van die meta-vaardighede “Embracing Anxiety”. Dis juis toe ons dit nou weer aanbied dat ek besef hoe angstigheid verhoudinge en vernuwing belemmer.
Hier is drie ankerspreuke om te help.
Ankerspreuke
- gee vir jou ‘n gevoel van vrede wanneer jy dit hardop sê.
- Dit laat jou voel alles gaan reg uitwerk.
- Dit verhoog die hoop dat jy saam met Jesus tog hierdie ding kan hanteer, en
- dit stel jou oop om die Heilige Gees se stem te hoor sodat jy kreatief kan optree.
Jy kan natuurlik tekste ook gebruik. Ankerspreuke is gebed-in-aksie…
- Die kerk is nie altyd die veiligste plek vir leierskap nie. In ‘n sisteem waarin elkeen die reg en vryheid het om te dink hy of sy weet die beste, hoor leiers gereeld van iemand wat ongelukkig is oor hoe dinge gedoen word. En is jy op ‘n lae energievlak, gaan sit die enkele e-pos met negatiewe opmerkings diep in jou lyf en skep angstigheid. Op ‘n romantiese vlak het jy gehoop die kerk se mense sal altyd met jou saamstem en nou gebeur dit nie. So jy voel wantrouig. Al weet jy dis nie die volle waarheid nie, volg angstigheid as die verdedingsmeganisme van jou oerbrein op moontlike gevaar. Jy stel jou in teen moontlike moeilikheid.
- Sosiale en ander vergelyking verhoog angstigheid. Professor Chris Barnard, die bekende hartsjirurg, het eendag voor sy dood gesê die televisie sit jou in kompetisie met die beste in die wêreld. Elke dag is daar nuwes teen wie jy kompeteer. Toe hy destyds in Beaufort-Wes grootgeword het, was die mense in die straat diegene met wie jy jou vergelyk het. Jy het geweet waarin elkeen goed is. Nou is daar net te veel met wie jy jou kan vergelyk. Dit maak jou voortdurend angstig as jy so vergelyk. Hoewel Facebook en die ander sosiale media konneksie kan verhoog, bring dit ook die moontlikheid om jou met ander te vergelyk. Jy hoor van ander se goeie nuus en jy wil dieselfde beleef, vandaar jou angstigheid wat verhoog. Veral as die gemeente ‘n bietjie deur ‘n moeilike finansiële of ander transformasie gaan, lyk die getalle en sukses van diegene soos Bill Hybels en Andy Stanley of wie ook al baie aantrekliker as jou eie situasie.
- Transformasie of oorgange hou ons in die angstigheid van gereedheid. Transformasie en oorgange is verandering van identiteit. Elke nuwe fase begin met angstigheid as die gereedmaak vir die onbekende. Angstigheid eskaleer as jy begin dink aan wat verkeerd kan gaan. Jou kreatiewe verbeelding werk ook hiperaktief met moontlikhede van wat kan skeefloop. Niemand was nog in die toekoms nie, daarom is dit onbekend. En die angstigheid hou jou veg-gereed vir die onbekende. Transformasie en oorgange gebeur nie oornag nie. Dis dikwels morsig en gaan met baie gevoelens van ongemak gepaard omdat die bekende verlaat word. Die Israeliete in die woestyn se voortdurende gekerm oor die vleispotte van Egipte vertel die verhaal. Die bekende aaklige verlede hou minder angstigheid in as die onbekende toekoms. Maar onthou mense soos Kaleb wat hulle angstigheid gebruik het as motivering om kans te sien vir die vyande voor die beloofde land.
# Laat weet hoe jy dink angstigheid hanteer moet word.