{ARGIEF}

 Anker3  Anker2  Anker1

Angstigheid is deel van die leier se lewe.
Normaalweg is angstigheid die aansporing om gereed te maak vir gevaar. Dis die aanmoediging om jou posisie te skuif, te leer en verander. Ongelukkig loop sommige leiers met soveel angstigheid rond dat die lewe gewoon verbygaan sonder vervulling en vreugde.
Hoewel die kerk bekend is vir die boodskap van vrede en vreugde, steel hierdie vryvloeiende angstigheid leierskap in die kerk se vrede en vreugde. Dit hou die leier die heeltyd op sy of haar hoede teen kollegas en medegelowiges, en veroorsaak dat jy almal as vyande begin beleef. En jy begin verloor jou liefde vir almal. Jou taal verander van oorvloedstaal na gebrekstaal. Jy begin praat van “hulle” in plaas van “ons”.
In die PEAK Leadership kursus wat ons aanbied, is een van die meta-vaardighede “Embracing Anxiety”. Dis juis toe ons dit nou weer aanbied dat ek besef hoe angstigheid verhoudinge en vernuwing belemmer.
Hier is drie ankerspreuke om te help.
Ankerspreuke

  • gee vir jou ‘n gevoel van vrede wanneer jy dit hardop sê.
  • Dit  laat jou voel alles gaan reg uitwerk.
  • Dit verhoog die hoop dat jy saam met Jesus tog hierdie ding kan hanteer, en
  • dit stel jou oop om die Heilige Gees se stem te hoor sodat jy kreatief kan optree.

Jy kan natuurlik tekste ook gebruik. Ankerspreuke is gebed-in-aksie…

  1. Die kerk is nie altyd die veiligste plek vir leierskap nie. In ‘n sisteem waarin elkeen die reg en vryheid het om te dink hy of sy weet die beste, hoor leiers gereeld van iemand wat ongelukkig is oor hoe dinge gedoen word. En is jy op ‘n lae energievlak, gaan sit die enkele e-pos met negatiewe opmerkings diep in jou lyf en skep angstigheid. Op ‘n romantiese vlak het jy gehoop die kerk se mense sal altyd met jou saamstem en nou gebeur dit nie. So jy voel wantrouig. Al weet jy dis nie die volle waarheid nie, volg angstigheid as die verdedingsmeganisme van jou oerbrein op moontlike gevaar. Jy stel jou in teen moontlike moeilikheid.
Ankerspreuk: Ek gee my beste vir Jesus. En as mense nie die volle visie verstaan nie, of sommer net die oggend met die verkeerde gevoel uit die bed opstaan, gaan jy in elk geval iemand teleurstel. Aanvaar die moontlike 1% waarheid uit die persoon se opmerkings, en sê vir jouself: Dis wonderlik dat iemand raaksien wat ek besig is om te doen – ek lei! Sit weer jou passie in plek deur te onthou jy doen alles van harte soos vir Jesus en nie vir mense nie (vgl Kol 3:23). Dus: Ek gee my beste vir Jesus!
  1. Sosiale en ander vergelyking verhoog angstigheid. Professor Chris Barnard, die bekende hartsjirurg, het eendag voor sy dood gesê die televisie sit jou in kompetisie met die beste in die wêreld. Elke dag is daar nuwes teen wie jy kompeteer. Toe hy destyds in Beaufort-Wes grootgeword het,  was die mense  in die straat diegene met wie jy jou vergelyk het. Jy het geweet waarin elkeen goed is. Nou is daar net te veel met wie jy jou kan vergelyk. Dit maak jou voortdurend angstig as jy so vergelyk. Hoewel Facebook en die ander sosiale media konneksie kan verhoog, bring dit ook die moontlikheid om jou met ander te vergelyk. Jy hoor van ander se goeie nuus en jy wil dieselfde beleef, vandaar jou angstigheid wat verhoog. Veral as die gemeente ‘n bietjie deur ‘n moeilike finansiële of ander transformasie gaan, lyk die getalle en sukses van diegene soos Bill Hybels en Andy Stanley of wie ook al baie aantrekliker as jou eie situasie.
Ankerspreuk: God is groot en ek is goed met …. Jy kan nie alles doen, hê, of alles vir almal wees nie. Jou seisoen is ook nie hulle s’n nie. Die goeie nuus is dat God besig is met jou en die geloofsgemeenskap waarin jy is. Jy kan inval by dit waarmee Hy besig is. Leer jouself ken en weet waarin jy goed is, want dis die unieke bydrae wat jy kan lewer tot die liggaam se groei (vgl 1 Kor 12:7). Jou aandeel aan die liggaam se groei en gesondheid is onontbeerlik. Jy kry juis jou unieke charismata wat jy as geskenk uitdeel. En in die deel word dit meer. As jy wil vergelyk, sê hardop waarin jy goed is. Bv. Ek is goed met luister en fasiliteer. Ek is goed met preek en konneksie.Die stemmetjie in jou kop wat jou wil degradeer? Sommige noem dit die “chatterbox”. Dis net ‘n oerbreinfunksie wat nie remme het nie. Moenie die stemmetjie probeer onderdruk nie, want dan hou dit juis aan. Erken dit en sê vir daardie stemmetjie: Dankie, ek hoor jou, maar God is groot en ek is goed met…
  1. Transformasie of oorgange hou ons in die angstigheid van gereedheid. Transformasie en oorgange is verandering van identiteit. Elke nuwe fase begin met angstigheid as die gereedmaak vir die onbekende. Angstigheid eskaleer as jy begin dink aan wat verkeerd kan gaan. Jou kreatiewe verbeelding werk ook hiperaktief met moontlikhede van wat kan skeefloop. Niemand was nog in die toekoms nie, daarom is dit onbekend. En die angstigheid hou jou veg-gereed vir die onbekende. Transformasie en oorgange gebeur nie oornag nie. Dis dikwels morsig en gaan met baie gevoelens van ongemak gepaard omdat die bekende verlaat word. Die Israeliete in die woestyn se voortdurende gekerm oor die vleispotte van Egipte vertel die verhaal. Die bekende aaklige verlede hou minder angstigheid in as die onbekende toekoms. Maar onthou mense soos Kaleb wat hulle angstigheid gebruik het as motivering om kans te sien vir die vyande voor die beloofde land.
Ankerspreuk: Halleluja! Hierdie angstige gevoel beteken ek is gereed om te groei. Wanneer jy angstigheid herken vir wat dit is en dit nuwe betekenis gee, laat dit jou in die nóú lewe sodat jy die nodige aanpassings kan maak. Ek hou van Teddy Roosevelt se beskrywing: “It is not the critic who counts, not the man who points out how the strong man stumbles or where the doer of deeds could have done better. The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood, who strives valiantly, who errs and comes up short again and again, because there is no effort without error or shortcoming, but who knows the great enthusiasms, the great devotions, who spends himself for a worthy cause; who, at the best, knows, in the end, the triumph of high achievement, and who, at the worst, if he fails, at least he fails while daring greatly, so that his place shall never be with those cold and timid souls who knew neither victory nor defeat.”

# Laat weet hoe jy dink angstigheid hanteer moet word.