{ARGIEF}

Besef jy dat ‘n dirigent van ‘n orkes geen klank maak nie?

Sy arms mag dramaties swaai en met die stokkie ‘n EKG patroon skets, die hare wildswaaiend en sy gesig meegevoer in die misterie van die bladmusiek wat in sy hart resoneer. Haar oë mag subtiel die speler van die kleinste instrument intrek in die simfoniese geheel. Maar self: geen geluid nie!

Geestelike leierskap is nie hoe hard jy praat of hoe baie jy praat nie. Dis dirigentwees vir ‘n nuwe werklikheid van hoop. Jou ware krag lê in die ontsluiting van die hoop wat God in ander gegee het. Dis nie hoe goed jyself is nie. Dis hoe effektief jy ander help verstaan hulle rol is onontbeerlik vir die simfonie van hoop wat ‘n wêreld kan meesleur in nuwe verwagtings van God se koms.

Dalk moet jy oor jou eie persepsie kom dat jy alleen die draer van hoop is. Ander wil dalk ook bydraers van hoop wees, en wag net op jou om hulle nader te wink om in te val.