{ARGIEF}

Hulle sê ‘n ekonomiese resessie is wanneer dit met jou buurman ekonomies sleg gaan. ‘n Ekonomiese depressie is wanneer dit met jóú gebeur!

Die ekonomiese resessie bring druk op meer as een vlak. In ‘n poging om werk te behou of ten minste die inkomstevloei te handhaaf, is daar al hoe meer druk om nog langer en meer te werk. Dit verander die patroon van gesinsverhoudings en persoonlike ontspanning, om net twee effekte hiervan te noem.

In die hart van selfleierskap lê die effektiewe hantering en gebruik van energie. Waarvoor mense tans moet waak, is ‘n energie resessie. Geestelike leiers was nog altyd hieraan blootgestel. Onder die druk van persoonlike verwagtinge rondom hulle roeping dryf geestelike leiers hulleself met ‘n uitmergelende pas. Nog erger is die druk nie van wat die gemeente of geloofsgemeenskap van jou verwag nie, maar wat jyself dínk hulle van jou verwag. Min geestelike leiers toets gereeld hierdie selfopgelegde aannames oor hulle rol en die verwagting daaroor.

Kom ons stel dit só: Uitbranding is ‘n laaste desperate poging tot selfverheerliking.

Dis om jouself in die afgrond in te werk sodat ander jou waarde kan bly bevestig. Jy bejammer jouself vir die posisie waarin jy jouself geplaas het en land in die spiraal om nog harder te werk om daar uit te kom. Maar meer van dieselfde werk nie. Jy word vasgevang in ‘n sisteem waarin jou werksverpligtinge meer bly as bevredigende verhoudinge. Die ergste is: dit slaag nie. Ek weet…

Mense het nou geestelike leiers nodig wat energie het om na hulle te luister en saam te hoor waarmee God in hulle lewe besig is.

Hoe bly jy aan die brand sonder om uit te brand?

Enkele gedagtes.

1. Bestuur jou energie effektief. As ek begin kortaf raak wanneer my vrou my vra wat ek nog moet doen voor ons saam kuier, weet ek dis tyd om eers te breek. Werk volgens jou liggaamsritme. Vroegoggend is ek beter met dinkwerk, dus doen ek my skryfwerk baie vroeg.

2. Beplan energie-boosters. Jy weet wat jou maak “tick”. As dit boeklees is, maak tyd om te lees. As dit ‘n koffiewinkel is, gaan sit gereeld daar en gesels met iemand. Humor en lag gee my energie. Ek kyk gereeld komedies of lag saam met vriende. As my lag min raak, weet ek dat ek moet rus. My doktorsvriend sê onlangs dis verbasend hoeveel mense se stres hy genees deur hulle net te help verstaan hulle moet genoeg slaap kry.

3. Elimineer energie-stelers. As ek begin verslaaf raak om al hoe meer goed op die internet te soek, weet ek dat ek eintlik moeg is. Ek doen veel beter as ek gewoon gaan slaap. O ja, daar is sekere mense wat my energie ook steel. Ek hanteer hulle in klein hoeveelhede, en ook net as dit moet.

4. Stel oordeelkundig uit. Voor jy my kruisig – die Engelse “procrastinate” is ‘n “pro”-aktiwiteit. Daar is goed wat regtig nie nou gedoen hoef te word nie. Stel dit uit en haal dit van jou onmiddelike te-doen-lysie af. As jy wil, skryf dit op ‘n papier en gooi dit in jou onderste laai om weer daarna te kyk as dit beter gaan.

5. Verander jou houding. Rick Warren praat van “relaxed concern”. Ons is mense van die geloofsgroep wat genade bely. Tog interessant hoe hard ons werk onder die vaandel van genade! Leer weer rus in die feit dat dit eintlik God is wat werk – ook as jy slaap. Jy hoef nie die heeltyd self in beheer te wees nie. (Ja, ek weet dis makliker gesê as gedoen, maar oefen daaraan. Jy sal verbaas wees hoe bevrydend dit is en hoeveel energie weer loskom in jou.)

6. Moenie verwag om heeltyd op topspoed te werk nie. Jy maak jouself en almal rondom jou gek as jy dink alles gaan die heeltyd op topspoed kan bly werk. Gee jouself en ander tyd vir integrasie. Eb en vloei. Somer en winter. Doen ‘n veldtog, maar nie elke kwartaal nie.

7. Geniet die krag van een. Ons koppe wil dadelik as ons iets beplan, dink hoeveel kere ons dit kan herhaal. Doen net een. As julle iets vir die jaar beplan, doen net één. Daarna kan jy weer werk aan nog een. Moenie die doelpale aanhoudend verskuif as jyself of ander naby dit kom nie.

Kan jy nog ‘n paar byvoeg wat vir jou werk?