{ARGIEF}

Skielik is ek moeg.

Moeg van al die “How to’s” oor dissipelskap wat in miljuisende op die internet beskikbaar is en mense net nog slegter laat voel oor hoekom hulle faal om Jesus te volg. Moeg gedink hoe om mense wat nie lus is nie saam te snoer in wat ons ’n kerk noem maar dikwels net ’n subskripsielys met baie name is. Moeg vir die mooi teologie wat ons uitdink om mense verskonend te oortuig ons is van hulle geld afhanklik om wonderlike dinge vir die Here te doen. Moeg om my irritasie weg te steek as nog iemand vir my sê: “Maar daardie tyd het dit so wonderlik gewerk, hoekom doen ons dit nie weer nie.” Of stil te bly vir die beterweterige “Jy moet net so en so maak volgens hierdie lysie dan gaan alles suksesvol wees.” Die lewe werk nie so nie.

Dit het tyd geword vir INSPIRASIE. Van die God-soort.

Ons het gekies om in die gemeente oor Esegiël te preek. En ek draf Sondag uit oor Hoofstuk 37. Hoe ironies. Esegiël is profeet in ’n vallei van droë bene. Die Here wat vra: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Esegiël a la Jannie antwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” En toe moet hy profeteer oor God se visie van lewe en hoop.

Wat is inspirasie?

Inspirasie kom van die Latynse “inspirare” wat letterlik beteken om “in te blaas/asem” [i].  Sedert die vroegste tye is inspirasie gekoppel aan die bewussyn dat God(gode) mense aanvuur om te doen wat hulle onder normale omstandighede nie in staat sou wees om te doen nie. Die Griekse weergawe is “theopneustos”wat letterlik beteken “God geasem” of “God geblaas”.

Hier volg ‘n aantal lense om ons te help om die Godgeïnspireerde leierskap te herken en te ontwikkel:

Inspirerende leierskap:

  • skilder ‘n hoopvolle prentjie van die toekoms

Inspirerende leiers is nie tevrede met die status quo nie, maar wil ‘n beter toekoms vir almal bewerk. Hulle werk met ‘n langtermyn visie wat weer en weer geartikuleer word. Napoleon Bonaparte het gesê: “’n Leier is ‘n handelaar in hoop.” Inspirasie is om nuwe betekenis te gee aan die omstandighede waarin ons is.

  • in helder en verbeeldingryke terme

Volgens Marcus Buckingham mors die mees effektiewe leiers nie tyd om nuwe en beter toesprake te maak nie. Hulle oefen en verfyn hulle toespraak, soek nuwe en groter gehore en gee dieselfde toespraak. Dr Martin Luther King jnr. is deur sy leierskorps gevra om ‘n ander toespraak te gee vir die twee miljoen mense wat saamgekom het om in ‘n optog te loop vir werk en vryheid. Maar hy het binne agt minute gesien hy is besig om hulle te verloor, en hy val toe terug op die woorde, die beelde en die frases wat hy gereeld gebruik het. Sy “I have a dream” toespraak het gewerk omdat dit die emosies en verbeelding aanspreek.

  • wat mense so saamsnoer in gemeenskaplike roeping

Die kuns van leierskap is om dit wat gemeenskaplik is, te identifiseer en helder uit te lig. Inspirerende leierskap bind die gemeenskaplike vrese en behoeftes saam, en verfyn hierdie belange en behoeftes tot ‘n gemeenskaplike roeping. Dit bring die oplossings en potensiaal wat rééds in mense skuil na vore.

  • dat hulle emosioneel aangevuur voel

Logika en rasionele beleid mag oortuig, maar dit bring nog nie in beweging nie. Inspirerende leierskap begin ‘n beweging. En bewegings begin wanneer mense in hulle hart of emosie geraak voel. Om nog ‘n Obama-sêding aan te haal: “Get involved in an issue that you’re passionate about. It almost doesn’t matter what it is … We give too much of our power away, to the professional politicians, to the lobbyists, to cynicism. And our democracy suffers as a result.” [ii] Inspirasie is nie net die denneboom wat hoog langs die kusstrook in gunstige reënval groei nie – dis die fyn blommetjie wat in die droë Karoo waag om oop te gaan. Inspirende leierskap weet: in elkeen lê die lente en wag…

  • om saam te praat en saam te werk in daardie rigting

Ons het ‘n saam-storie nodig. Inspirerende leierskap gee vir mense stories van hoop, en bly vertel die storie wat ons saambind. As mense dieselfde storie deel, werk hulle ook saam vir die groei van die storie. Mense wil deel wees van ‘n suksesverhaal en soek nie meer om slagoffers in ‘n tragedie te wees nie. Ons is almal bereid om hard te werk as ons weet dit gaan om ‘n beter toekoms vir ons almal. Inspirasie is nie net die vinger wat wys na die lig van hoop nie – dis ook die hande wat die gordyn van donker en depressie deur karaktervolle dade wegtrek om die lig binne te laat.

  • volgens hoër waardes.

Adolf Hitler het ook geïnspireer. Maar die sinlose dood van derduisende Jode het gewys dat dit eerder ‘n illusie was. Inspirasie wat nie gerugsteun word deur hoër waardes soos liefde, geregtigheid, billikheid, eerlikheid en betroubaarheid nie, is ‘n illusie. Inspirerende leierskap word dikwels geassosieer met ‘n roeping van God, omdat dit heenwys na wat groter as ons selfsug en eiebelang is. Daarom soek inspirerende leierskap voortdurend na wysheid.

Brug die inspirasie-gaping

Die inspirasie-gaping tussen wat mense tans by leiers waarneem (persoonlike ambisie, karakterskending, etiese wangedrag, onbetroubaarheid) en dit wat hulle hoop om by hulle waar te neem (visie, volhoubaarheid, betroubaarheid, nalatenskap), kan net gebrug word as elkeen begin kyk waar hy of sy self ‘n verskil kan maak.

My oortuiging is: Jy is die inspirerende leier vir die oomblik!

Inspirerende leierskap begin tussen ons. By die voorsitter van ‘n konstruksiegroep wat in ‘n droom beleef hy moet ‘n rugbystadion kry om mense aan te spoor tot ‘n verskil. Nou is dit ‘n wêreldwye aksie. By ‘n aartappelboer wat met ‘n visie vir mans klein begin en nou ruk 60 000 mans op na Greytown, en 70 000 mense na Loftus. By ‘n dame wat in ‘n gemeenskap vir straatkinders begin kosgee en nou het daar ‘n gemeenskapsprojek vir die opheffing van armes ontwikkel. Gewone mense wat met God-inspirasie die buitengewone begin. Inspirasie is om in die opbouprogram van ons land die ruwe diamant van diversiteit verder te sny en te poleer totdat die sprankelprentjie van ‘n beter toekoms waar is. Dis beeldhouwerk. Dis skilderkuns. Dis droomkuns. Dís inspirasie.

Droom saam:

  • Droom van ‘n nuwe kultuur van mense wat geïnspireerd lewe. Waar ons mekaar se andersheid respekteer en as onontbeerlik vir ons saamwees beskou.
  • Droom van ‘n land waarin ons nie meer ons deure en vensters met diefwering hoef te beskerm nie. Waar my kind en kleinkind veilig by jou is. Waar ons veilig van die taxi af huis toe kan loop. Waar warmte en omgee vir HIV/VIGS-lyers die lewe hoopvol maak. Waar elkeen veilig in sy eie vel en sy eie land voel.
  • Droom dat ons vir mekaar oorvloedig werksgeleenthede gee. Waar ons die passies en gawes in mekaar tot nuwe moontlikhede uitbou. Waar ons die ekologiese balans beskerm en die natuurlewe vir ons nageslag behou.
  • Droom van ‘n lewe waarin ons mekaar ons foute sal vergewe en sal help opstaan. Waar ons mekaar sal bemagtig en bemoedig. Om wat ek doen, vir God en my medemens te doen.

Inspirasie is die gees van ons samelewing wat ons as die vlam van hoop soos ‘n olimpiese fakkel van een generasie na die ander oordra. As óns ander inspireer, gee ons hulle die toestemming om dit ook te doen.

Inspirasie gee substansie aan leierskap!

Inspirasie is om weer God se hand op my te voel… en daarom in die vallei van dooie bene oor die visie van lewe en hoop te praat.

Vir myself het dit hierdie week beteken ek moes my irritasies, moegwees, fieterjasies en allerhande ander filters opsyskuif. En luister wat God wil hê. Omdat Gód dit sê!

Ek wonder net: hoe maak jy om geïnspireerd te bly?

Wil jy nie in ‘n sin of twee daaroor kommentaar gee nie?

[i] http://www.humanityquest.com/themes/inspiration/Etymology/
[ii] Barack Obama. Uit ‘n publisiteit onderhoud oor sy 2006 boek Audacity of Hope. http://www.businessballs.com/inspirational_motivational_quotes.htm