{ARGIEF}

Dit klink so vanselfsprekend, maar in die nadraai van die nywerheidsmodel het die heilige ontmoetings met God om sy sagte stil stem te hoor, ‘n verlore kuns geword. Ons dienskontrakte en prestasiebeoordelings en die verwagtinge wat ons van onsself het, wys nie veel van die tyd en openheid vir die “fluistering in die windstilte” (1 Konings 19:12) nie. Hoewel ons reeds in ‘n wysheidstydperk inbeweeg het, kry ons die gevoel dat dit ” onproduktief” gaan voel om ‘n seisoen te hê waarin die geestelike leier homself of haarself afsonder ” om God te hoor.” Om ‘n week van gebed te hou, laat almal voel daar gebeur iets. Om ‘n week IN gebed te verkeer, vereis ‘n nuwe paradigma. Wat sake bemoeilik, is dat so ‘n seisoen nie vooraf beplan kan word nie. God begin jou op ‘n stadium aanraak, en jy weet die tyd is nóú, maar hoe om die program so te skuif sonder om jou ander verpligtinge af te skeep?

Die goeie nuus is dat dit kan gebeur te midde van jou verpligtinge. Die slegte nuus is dat glad nie baie gerieflik is nie. Ek kan net getuig dat dit ‘n geseënde tyd is. By my het dit begin met die vraag of my seisoen in die gemeente verby is. Die proses het ‘n paar maande geduur.

Wat het ek geleer in hierdie tyd?

1.Jesus is lewendig! Die dieper vrae het my gehelp om regtig in my diepste kern te kyk. Om stil te word, heeltemal stil, en Gód te hoor. Om weer deur Jesus aangeraak te word en Sy krag te ervaar. Om weer by die punt te kom waarvan Paulus praat: “… en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20). Natuurlik het dit beteken dat ek my ego weer moes kruisig en my sondes bely. Dit het ook beteken dat ek God se vergifnis aanvaar. Natuurlik moes ek minder vol van myself en nederig word. Genadiglik het die Gees dit in my gedoen.

2.Eerlik wees in my motiewe. Ek moes meermale vir myself vra ” Hoekom?” om al dieper te gaan en al eerliker te wees. In die proses het ek ontdek dat God nie verby ons passie en gawes gaan nie. Maar ek moes hard hoor: ” Dit gaan nie oor jou nie!” Passie en gawes moet in harmonie met God se wil wees, en ek moes dit weer in harmonie bring.

3. God gebruik ander gelowiges om te help. Ek het weer die krag van die geloofsgemeenskap beleef wat saam streef om God se wil te doen. Ek is opnuut opgewonde oor mense wat Gód hoor in die nood van die verloregaande wêreld.

4. Geestelike leiers wat in ‘n reeds bestaande kerk is, werk met wie reeds teenwoordig is. Jy werk nie met die luukse van ‘n nuwe gemeente wat begin met mense wat inkoop by die roeping en visie van die nuwe nie. Daar is die heeltyd die organisatoriese spanning tussen die bekende en die nuwe, die nywerheidsmodel en die wysheidsmodel, die ou ekonomie en die nuwe, leierskap soos verstaan in die oue en leierskap van die derde millenium. In hierdie tyd word dit ‘n smeltkroes wat duidelik wys waarvoor die leierskap kans sien. Sulke tye wys hoe ver die verandering in die begrip en kultuur van die leierskap reeds gebeur het.

5. Bly laag voor die Here totdat jy sy vrede beleef. Dit sál gebeur. Dán kan jy opstaan.